mnr.muller

Januarie 8, 2008

Xhosa #1

Filed under: Xhosa — mnr.muller @ 1:26 nm
Tags: ,

Om ‘n nuwe taal te leer, is ‘n uitdaging.  Dit is nie noodwendig moeilik nie, maar dit verg ’n bietjie wilskrag en deursettingsvermoë.

Elke taal het ‘n

  1. woordeskat en
  2. taalreëls

As jy genoeg woorde ken en ’n paar van die taalreëls begryp, behoort jy vinnig genoeg die taal te kan baasraak.

Dan is daar ook 3. uitspraak.  Maar moenie worry nie, alhoewel van die klanke helemal vreemd klink, is die uitspraak in Xhosa oor die algemeen baie maklik: amper elke tweede letter is ‘n klinker, en die paar klapklanke sal jy binnekort aanleer.  Waar daar twyfel is oor hoe ‘n woord uitgespreek word, sal ek tussen krulhakies: {} ’n kort verduideliking gee.

TAAL #1 

Naamwoorde vs werkwoorde

In Afrikaans en Engels is ons van kleins af geleer dat elke sin ‘n werkwoord moet hê.  Vir ‘n sin om ‘n sin te wees, moet daar ‘n doen-woord wees, ‘n aksie: “Hardloop!” of “Ek skop die bal.”  In Xhosa is dit ook die geval, maar ‘n interessante kenmerk is dat die naamwoorde (die dinge) eintlik ‘n meer bepalende rol in elke sin speel.  Daarom, wanneer ons woordeskat aanleer, wil ek graag hê dat jy elke keer ’n onderskeid moet tref tussen die naamwoorde wat jy leer, en die werkwoorde.

WOORDE #1

Leer vandag die volgende werkwoorde (jy sal binnekort leer hoekom elke werkwoord met ‘n weglatingstreep “-” vooraf geskryf word):

  1. -funda  leer of lees  {die “u” klink soos “oe”, d.w.s. foen-da}
  2. -hamba  loop, stap
  3. -baleka  hardloop
  4. -khaba  skop  {ignoreer vir eers die “h” t.o.v. die uitspraak.  Kaa-ba}
  5. -phila  leef  {die “ph” word soos ‘n “p” uitgespreek.  Dit klink dus soos pie-la}
  6. -qhuba  bestuur, soos om ‘n motor te bestuur  {die “q” is ‘n kenmerkende Xhosa klapklank.  Plaas jou tong teen jou verhemelte en laat hom pop soos ‘n vonkelwynprop klink wat uitskiet.  k!oe-ba}

Naamwoorde:

  1. umfundi  leerder of leser
  2. umhambi  loper, stapper of reisiger
  3. uhambo  reis, uitstappie
  4. umbaleki  atleet (oftewel hardloper)
  5. ukukhaba  om te skop  (“to kick” of “kicking”)
  6. impilo  gesondheid  [LW: die "h" van "phila" val weg a.g.v. die "m"]
  7. umqhubi  bestuurder
  8. ukuqhuba  om te bestuur

Leer ook die volgende voornaamwoorde:

  1. ndi-  ek
  2. u-  jy
  3. u-  hy/sy
  4. si-  ons
  5. ni-  julle
  6. ba-  hulle

Ons is amper gereed om sinne te maak, maar hokaai vir eers.  Hierdie is jou eerste les, sorg eers dat jy die woorde hierbo mooi onthou.  Probeer om dadelik assosiasies te maak, bv. -phila {pie-la} behoort jou aan iets te laat dink wat jy maklik met “leef” kan assosiëer ;)

7 Kommentaar »

  1. Ek wonder… miskien moet ons Maandagaand-whiskey en Xhosa klasse kombineer? Dit kan mos werk.

    Nog ‘n taal is hoeka op my lysie van dinge om hierdie jaar te doen.

    Comment deur Ke — Januarie 9, 2008 @ 3:04 nm | Reply

  2. “Ukukhaba” en “ukuqhuba” is ‘n interessante “naamwoorde”!

    Comment deur Stefan — Januarie 10, 2008 @ 12:31 nm | Reply

  3. Aha, well spotted!

    In Xhosa is die ubu-, ulu- en uku- klasse moeilik om te benoem, almal bevat tot ‘n mate abstrakte konsepte:

    UBUntu is byvoorbeeld medemenslikheid, afgelei van umntu wat “mens” beteken.

    In Afrikaans kan ons al die woorde in die uku- klas beskou as infinitiewe en dit vertaal as “om te …”, bv ukukhaba = “om te skop”

    ‘n mens sou dit egter ook as ‘n ding (oftewel ‘n naamwoord) kon beskou soos “‘n skop”.

    As ‘n mens in Afrikaans sê: “Joel Stransky se skop was tussen die pale deur.” dan is “skop” inderdaad NIE ‘n werkwoord nie, maar ‘n ding, d.w.s. ‘n naamwoord.

    :)

    Comment deur André — Januarie 10, 2008 @ 12:47 nm | Reply

  4. Ek dink ek los my Sweeds en probeer die Xhosa.

    Comment deur Justjane — Januarie 12, 2008 @ 5:35 nm | Reply

  5. Haai moenie die Sweeds los nie, dis regtig nie so moeilik nie…

    Hierdie Xhosa lyk interessant, maar moeilik! Is daar ‘n raming van hoe veeer dit van Germaniese tale familie is? Of is dit te verlangs om te bereken? Of is dit glad nie verwant nie?

    Comment deur jaans — Julie 12, 2008 @ 11:36 vm | Reply

  6. @jaans: …eish, nee, Xhosa en die ander Afrikatale is glad nie verwant aan die Germaanse of Romaanse taalfamilies nie; daar’s ongelukkig geen gemeenskaplike oorsprong nie.

    a.g.v. taalvermenging, is daar wel heelwat Afrikaanse en Engelse leenwoorde, maar die grammatika en kernwoordeskat is heel uniek.

    dis dalk ‘n goeie idee dat ek in ‘n latere les die oorsprong van en taalverwantskappe binne die Afrika-taalfamilies uiteensit – herinner my as ek vergeet! :P

    Comment deur mnr.muller — Julie 13, 2008 @ 7:51 nm | Reply

  7. Hey André! I discovered your site when I saw you linked to mine (thanks!)….and one of my goals that I am about to actively engage in is learning Xhosa. Seems like a good fit! Although I am not too sure about learning a 3rd language in a 2nd language…

    Comment deur Duncan Drennan — Oktober 16, 2008 @ 6:38 vm | Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.