mnr.muller

April 2, 2009

Life Skills #14 – is gay-wees sonde?

Filed under: Aspris, Life Skills — mnr.muller @ 12:21 nm
Tags: , , , , , , ,

lewensorientering-logoDikwels voel dit vir leerders asof die vak Lewensoriëntering (LO) slegs oor Apartheid, sokker en VIGS gaan, maar ek glo darem ons het hierso (onder Life Skills) al ’n paar ander onderwerpe ook gedek: van rook,  drink, vloek, vry, seks, tot werkgeloofintegriteit en ontspanning.

In vandag se blogpost werk ons met ‘n raakvlak tussen religieuse studie en seksvoorligting – soos dikwels die geval in alledaagse gesprekke.  Die besprekingsvraag is: Is gay-wees sonde? 

Hoe beantwoord ‘n mens so ‘n gelaaide vraag?

Op ‘n blogruimte, of in ‘n klaskamerbespreking, of om ‘n braaivleisvuur, is dit belangrik om seker te maak wat bedoel word met ‘n vraag.

Ons is gewoond daaraan om vinnig antwoorde te moet gee op vrae: “Ja!” of “Nee!” of “Dalk.” of “Whatever.”  Meeste vrae in klastyd toets slegs kennis, en vriendekring-vrae is selde bedoel om kritiese besprekings uit te lok; dit toets eerder of jy en jou pelle op dieselfde golflengte is.

Tog is dit sinvol om, as jy ‘n kritiese gesprek wil voer, eers seker te maak wat presies met ‘n vraag bedoel word. 

Breek ‘n vraag op in dele

In die vraag “Is gay-wees sonde?” is daar twee gelaaide terme: “gay-wees” en “sonde”. 

Los eers gay-wees uit die vraag, en vra: Wat bedoel ons met ”sonde”?  En los dan daarna die sonde-deel, en vra weer: Wat verstaan ons onder “gay-wees?”.

Problematisering van die konstruk “sonde”

Uiteraard, soos ons in ons vorige gesprek oor gelowe en siele gepraat het, is die meeste woorde wat te make het met godsdienste, ‘n bietjie vaag en moeilik om te definiëer.

Een van hierdie godsdiens-tameletjies is die idee van “sonde”, met sy gepaardgaande afleidings t.o.v. “hel” en “satan” en ‘n “veroordelende godheid”.

Dus, as jy ‘n vraag vra oor “Is … sonde?” dan moet jy eers seker maak wat met “sonde” bedoel word.  En as jy van die definisie verskil, dan moet jy eers dít uitklaar voordat jy die specifics van die vraag kan beantwoord.

Hoekom word die vraag gevra?

Gestel jy en jou maters praat oor sonde.  Waarom praat julle daaroor?  Is julle besig om te wonder of iets (gay-wees, voorhuwelikse seks, videospeletjies, ‘n wit leuen vertel, moord pleeg, pornografie kyk) reg/verkeerd is volgens jou religieuse tekste?

Of is julle besig om ‘n saak uit te maak om iemand anders te spot en/of te veroordeel/uitkryt as ‘n sondaar?  (Dalk wil jy dan jouself eerder uit die gesprek onttrek?)

Indien jy werklikwaar wonder oor die vraag vanuit ‘n geloofs- of morele oogpunt, dan maak dit waarskynlik sin om wat jy onder “sonde” verstaan, nog verder te verfyn.

Verfyning van die konstruk “sonde”

Probeer so duidelik en ondubbelsinnig uitklaar wat julle met “sonde” bedoel.  Vra jy eintlik of dit moreel regverdigbaar is, d.w.s. of daar iets “verkeerd” is met die aksie, of wil jy weet of dit spesifiek volgens die Torah of Qu’ran of Bybel en Veda verdoem word?

Wees ook duidelik ten opsigte van watter denominasionele beskouïnge jy as vertrekpunt gebruik al dan nie.  D.w.s. as julle almal Grieks Ortodoks Christelik is, dan kan julle vanuit daardie oogpunt die saak bespreek, maar as een outjie Rooms-Katoliek en die ander ou agnosties en die ander ene NGK is, dan sal julle waarskynlik met ‘n meer algemene (d.w.s. ‘n minder geloofspesifieke) definisie vorendag moet kom, sodat julle van dieselfde idee van ”sonde” kan praat.

Problematisering van die konstrukte “gay” vs “straight”

Daar is baie stereotipes oor gay mans wat met flappende handjies hare sny.  As jy wil praat oor gay-wees in die breë, moet jy seker wees hoe jy dié groep definiëer: sluit dit mans en vroue in?  Praat jy van anale penetrasie of bloot verlief wees op iemand van dieselfde geslag?

Beskou jy gay- en straight-wees as twee diskrete opsies wat jy t.o.v. seksualiteit het, of lê jou oriëntasie op ‘n kontinuum tussen twee uiterstes vanaf baie verfynd tot baie butch?

Beskou jy gay- en straight-wees as ‘n keuse of van genetiese oorsprong, of as ‘n kombinasie van die twee (genetiese predisposisie met ‘n mate van besluitneming)?

Verfyning van die konstrukte “gay” en “straight”

Voor jy kan debatteer of gay-wees sonde is of nie, moet jy eers kan ooreenkom t.o.v. van wat gay-wees is.

Weereens, as jy heelwat verskillende mense het wat deelneem aan die gesprek, sal jy dalk op ‘n meer algemene definisie ooreenkom, soos: mense wat dit verkies om in ‘n intieme verhouding met ‘n persoon van dieselfde geslag te wees.

Voor jy ‘n opinie waag, oorweeg eers die teenoorgestelde

Is gay-wees heilig?  Is straight-wees sonde?

Probeer om argumente vír en téén dié vrae te skep.  Ja, gay-wees is heilig, want in die Griekse tydperk het filosowe soos Plato en Sokrates mansliefde as die hoogste vorm van liefde aangeprys.  Verder is en was van ons mees beroemde kunstenaars gay, of dit nou Michelangelo of Leondardo da Vinci was, of Freddy Mercury en Elton John.

Nee, gay-wees is nie heilig nie – ‘n mens kan nie heiligheid aan seksualiteit koppel nie.  Inteendeel, in vele gelowe moet monnike selibaat bly – enige intimiteit, hetsy met ‘n man of ‘n vrou, is dus taboe as dit by heiligheid kom.

Ja, straight-wees is sonde: mans wat roekeloos by vroue slaap soos die media dit alledaags voorstel, veroorsaak ongewensde swangerskappe en versprei VIGS in Afrika en lei tot seksuele diskriminasie in die werksplek.  Die tipiese mans- en vrouerolle is barbaars en ongekultiveerd en boos.

Of nee, straight-wees is nie sonde nie: dit is die natuurlike wyse van voortplanting by die mens en dier.  Daarom kan jy hom/haar nie a.g.v. sy/haar straight-wees oriëntasie veroordeel nie.

seunssoen-teen-n-glasruit

Ná dié denkoefening, waag jou opinie – en dink aan ‘n voorbeeld, maar wees oop vir teenargumente

Dalk wil jy sê: Ja, gay-wees is onnatuurlik.  Die vagina en penis vul mekaar logies aan en kan lei tot die voortplanting van die mens.

Maar dan moet jy bereid wees om te luister na biologiese teenargumente.  ‘n Man het ‘n g-spot via sy anus.  In die diereryk het jy talryke voorbeelde van homoseksuele gedrag by diere.  Seks by die mens (en sekere ape, dolfyne) is nie net vir voortplanting nie.

Jy kan slegs ‘n religie-spesifieke standpunt aanvoer as almal daarop ooreengekom het, bv. dalk voel jy: Die Bybel sê homoseksualiteit is ‘n sonde.

Omdat julle dan vooraf bepaal het dat die Bybel ‘n geloofwaardige bron is, sal iemand anders miskien die betrokke verwysings kontekstualiseer: Destyds is vroue se rol t.o.v. voortplanting anders gesien as vandag.  Tóé het hulle aanvaar ‘n kind word gebore uit die “saad” van die vader, geplant in die “vrugbare grond” van die moeder.  Enige semen wat dus vermors is, is as ‘n vermorsing van lewe gesien, en dus as sonde.  Ook, wanneer daar van homoseksualiteit gepraat is, het dit gepaardgegaan met sodomie en promiskuïteit.  Nêrens word ‘n liefdevolle selfde-geslag verhouding soos vandag algemeen voorkom, in die Bybel verdoem nie.

Identifiseer tekorte aan kennis/inligting/begrip

Net omdat almal in ‘n groep saamstem oor iets, beteken nie dis waar nie.  Dis goed om te debatteer, maar wees altyd bedag daarop dat jou konstruk van iets (sê-nou-maar gay-wees) bloot nog nie breed genoeg uitgebrei is nie.

As jy byvoorbeeld geen doktors of prokureurs ken wat gay is nie, maar net hair dressers en waitors in die Kaap, dan kan jy onmoontlik nie tot ‘n baie wyse gevolgtrekking kom van wie en wat en hoe gay-mense is nie.  Want dan het jy geen betroubare ervaring van of insig in gay-wees nie.

Netso kan jy vind dat jy dalk te min weet van wat sielkundiges, teoloë of bioloë hieroor te sê het, en agterkom dat jy dalk eers ‘n bietjie leeswerk moet gaan doen.

Die Grondwet en antwoorde op moeilike vrae

Die wêreld is vol stereotipies en vooroordele.  Veral organisasies wat voorgee om te weet wat “Reg” en “Verkeerd” is, sal dikwels stereotipes bevorder en sekere mense verwerp.

In die era van demokrasie, waar vryheid en die reg op lewe as fundamentele regte in grondwette wêreldwyd vasgepen is, beantwoord ons dikwels moeilike vrae deur aan die individu die vryheid te gee om self oor die uitleef van sy/haar seksuele oriëntasie/geloof/kultuur te besluit.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet skryf derhalwe nie vir ons voor watter geloof ”waar” is, of watter seksuele oriëntasie ”reg” is nie.  Ook is een ras of kultuur nie “beter” as ‘n ander nie.

Regte kom met verantwoordelikhede.  Jou vryheid om te sê gay-wees is reg en Boeddhisme is goed en Heiligabend moet gevier word, is afhanklik van medemense wat jou dié keuses onverhinderd gun.  (Mag jy ook die nodige respek, verdraagsaamheid en empatie hê om dié verantwoordelikheid na te kom.)

13 Kommentaar »

  1. Goeie prentjie!

    Comment deur RF — April 3, 2009 @ 10:15 vm | Reply

  2. @RF: Hehe, is so ja! Ek het darem die skakel ingesit na jou blog-post, so ek hoop nie jy beskou dit as kopiéregskending nie? ;)

    Kyk ‘n bietjie deur van die ander Life Skills posts. Is daar ‘n belangrike / belaglike onderwerp waaroor jy graag sou wou debatteer?

    Of is jy al klaargepraat oor en moeg van die LO-vak?

    Comment deur mnr.muller — April 3, 2009 @ 11:21 vm | Reply

  3. Uitstekende post!

    Comment deur Sonkind — April 3, 2009 @ 11:22 vm | Reply

  4. Gits, toe ek ‘n jongeling was het LO nog liggaamsoefening beteken!

    ‘n Onderskeid behoort getref te word tussen homoseksualiteit, aan die een kant, en gay-wees, aan die ander kant. Die een is ‘n pure fisies, seksuele drang; die ander is ‘n relatiewe, sosiale konstruk. Eersgenoemde kyk na kaal mans op die internet wyl sy vrou brei in die sitkamer; laasgenoemde mars saam met sy maters by Gay Pride.

    Comment deur lodewyknz — April 4, 2009 @ 10:41 vm | Reply

  5. Ek stem saam dat dit ‘n uiters oulike en leersame (spirituele) post is!

    Comment deur estelleke — April 5, 2009 @ 10:11 vm | Reply

  6. Soos ‘n ware filosoof aangepak!

    Wysbegeerte troef muisbegeerte! sê ek

    Comment deur Die piesangverkoper — April 6, 2009 @ 10:53 vm | Reply

  7. ‘n Debat omtrent homoseksualiteit gaan nêrens kom nie, aangesien niemand ooit oortuig gaan word van die ander standpunt nie. Dit is, saam met ander issues soos die doodstraf en aborsie, net iets waaroor almal al vooraf besluit het wat hulle standpunte daaromtrent is. Of jy gaan blindelings godsdiens volg, of jy gaan nie. Die probleem lê daarin dat die een kant se argumente nie relevant is vir die ander nie.

    P1: Die bybel sê so.
    P2: Dit maak nie saak nie, dis ‘n mensereg.
    P1: Maar die bybel sê so.

    Comment deur Hendrik — April 12, 2009 @ 9:49 nm | Reply

  8. En ja, ek is bewus van die ironie daarvan om te sê dat almal wat nie met my saam stem nie small-minded is.

    Comment deur Hendrik — April 12, 2009 @ 9:52 nm | Reply

  9. @Hendrik: Ek dink tog dat mense, ongeag of hulle godsdienstig is of nie, in gesprek moet kan tree oor die tipe onderwerpe wat jy noem. ‘n Mens moet net die “reëls” van sodanige gesprekke vasmaak en die debat wat volg behoorlik fasiliteer.

    Die argumente wat jy noem, loop inderdaad op ‘n dooie punt uit, maar ek dink nie die gesprekvoerders/debatteerers hoef noodwendig alles in die stryd te werp om ander te oortuig nie; die uitruil van idees en lug van opinies is belangriker – en die aanleer van ‘n vaardigheid om elegant en genuanseerd van ander te kan verskil. En om iemand anders se standpunt in te sien.

    Comment deur mnr.muller — April 14, 2009 @ 1:32 nm | Reply

  10. @lodewyknz: Dis interessant dat jy die seksuele drang van die sosiale konstruk skei. So ‘n onderskeid kan sinvol wees as jy dit belangrik ag. Maar hoe voel jy? Is jou internet-man méér/minder sondig as jou optog-man?

    Comment deur mnr.muller — April 14, 2009 @ 1:44 nm | Reply

  11. Okay dis my eerste kuier hier en ek gaan defnitief weer kom …… baie interesting inskrywing … ek lees graag weer.

    Tot weersiens

    Comment deur lanaba — April 17, 2009 @ 1:48 nm | Reply

  12. ***Klap hande***

    Man, dat n hetro man so objektief kan wees, ek haal my hoed af vir jou. Ek het onlangs om my blog ‘n post geplaas oor God en gaywees, ek kan vandag getuig dat die wat my toe gegooi het met veroordelings en haatspraak, het hulle self deur die Bybel probeer staaf. Een het my aangeraai om ‘n Buddhist te word, kan jy nou meer?

    Ek hoop die dag sal kom wat die kerke besef hulle vervreem ons as gay mense van God. Van ons kan regtig net nie verander nie.

    Ek verstaan in elke geval nie hoekom mense so sukkel om dit te aanvaar nie, ons is mens, en voel net soos jy, ons huil, ons lag, ons kry lief, ons harte breek.

    Ons is soveel meer as net ‘n “moffie”. Dis onaangenaam om te weet dat sodra iemand uitvind jy is gay, moet jy of hardloop (ek is ernstig), of jy moet konsert hou.

    Soos enige iets in jou lewe, is seksualteit tog net een “departement” van wie jy is. Jy is baie meer as ‘n ou wat saam met ouens slaap. Ons het ‘n behoefte aanvaarding, maar glo my, ons gaan nie weg gaan indien dit nie kom nie, en ek weier om te glo, dat my God my nie kan lief hê nie.

    Baie van die predikers en pastore is ook maar in ‘n moeilike posisie, hulle kerke het sindodes, en die het reels. Hulle moet seker onderdanig wees in ‘n mate. Nogtans hoop ek dat hulle sal kan begin getuig daarvan dat meer en meer van ons (gay mense) na hulle toe kom met ‘n soeke na God. Dis aaklig om weg gewys te word in so geval. Ons almal leer tog van kindsbeen af van Jesus wat net vol liefde is, en nooit oordeel nie. Dis hartseer dat daar aan ons gesê word ons is nie welkom voor die kruis nie.

    Daar is ± 5 verse in die Bybel wat reguit praat oor gays, maar honderde wat praat oor om nie te oordeel nie, van liefde, van “almal is een in Christus”. Kom aan ouens, God onderskei nie tussen groot en klein sondes nie. Ons almal het sonde.

    Comment deur flintstoned — November 17, 2009 @ 11:07 nm | Reply

  13. Hey, flintstoned: ek reken jy sal ds Laurie Gaum-hulle se blog http://vuurkairos.wordpress.com/ geniet!

    Comment deur mnr.muller — November 18, 2009 @ 9:01 vm | Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.