Studenteleierskap is ‘n tawwe toffie. Veral op ‘n kampus met weinig kontinuïteit.
Nietemin, gestel dit is moontlik om opleiding aan voornemende of pasverkose leiers, te verskaf – watter generiese- en spesifieke vaardighede het studenteleiers nodig?
Studentegesentreerde inhoud en aanbieding
Vantevore het die Studentesake-omgewings wel opleidingslesings aangebied oor onder meer alkohol- en studietydbeleide in koshuise. Maar sulke fokusse is ver verwyderd van studentleiers se alledaagse organisatoriese uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Dit sou goed wees as ‘n mens, as vertrekpunt, kan vasstel wat die uitkomstes van ‘n leierskapsopleidingprogram moet wees. Help my asseblief met só ‘n lys.
Hierso is my lys tot dusver:
Generiese leiersvaardighede
Studenteleiers moet:
- die pligte en verantwoordelikhede van die verskillende kampus-leierskapstrukture begryp en weet waar hulle, binne hulle onmiddellike komitees/strukture, inpas
- die oorhoofse uitdagings en fokusareas van die Universiteit kan identifiseer en relativeer tot hul eie omgewings
- algemene kommunikasievaardighede, -metodes en -tegnieke kan inspan om idees op- en af te wentel binne hulle omgewings
- ‘n komitee(s) uit verteenwoordigende lede kan saamstel, hulle motiveer en die werk sinvol delegeer
- tipiese risiko’s kan identifiseer en krisisbestuur in verskillende nood-scenario’s toepas
- gesprek binne hul omgewings fasiliteer en konflik oplos
- dagboek kan hou van gebeure, datums, afsprake, tydlyne, en genoeg tyd inruim vir persoonlike welsyn en akademie
- hulle aktiwiteite/projekte/prosesse krities kan evalueer en verslag kan doen daarvan
- met die nodige etiket en takt e-posse beantwoord en vergaderings bywoon
Spesifieke leiersvaardighede
In die verskillende portefeuljes wat studenteleiers beklee, is daar onder meer die volgende spesifieke vaardighede wat hulle moet bemeester.
Studenteleiers moet:
- omsien na alumni-behoeftes (oud-studente, argief, reünies en kommunikasie aan oud-studente)
- beleide interpreteer, skryf en herformuleer
- borge inwin, met die nodige vooraf- en agterna-dokumentasie (borg en dankbriewe)
- omsien na die welwees van medestudente (wat akademie en leef-en-leer omgewings betref, maar ook aktuele kwessies rondom middele-misbruik, ens.)
- gemeenskapsinteraksie bevorder, hetsy deur opheffingsprojekte te reël of deelname aan gemeenskapsbou-aktiwiteite aan te moedig
- funksies (soos danse en prysuitdelingseremonies) met die nodige omsigtigheid - aandag aan detail – kan reël
- ontspanningsaktiwiteite fasiliteer wat verskillende tipe mense in kontak met mekaar kan bring, ten einde ‘n gemoedelike atmosfeer van wedersydse respek te skep
- verhoudings met verskillende instansies (koshuise/wyke/verenigings) opbou om gesamentlike (multikulturele) aktiwiteite aan te pak
- kreatiewe idees kan genereer, kommunikeer en fasiliteer
- notule kan hou, agenda’s opstel en begrotings kan bestuur
- sportspanne se wedstryde en -afrigting koördineer
- verwagte items en publikasies betyds kan uitbring
As jy ‘n studenteleier was, of ene wil wees – kyk bietjie krities of daar nie nog tot hierdie lysie gevoeg kan word nie.
En, as jy nie soseer ‘n leier was nie, maar wel verskillende termyne sien kom- en gaan het, watter vaardighede kan jy identifiseer wat tipies nodig is op studentevlak?
Studenteleiers sal sinvol na hulleself moet kan kyk. Weet hoe om bietjie introspeksie van tyd tot tyd te doen, en hulleself in sinvolle mentorverhoudings te kan plaas.
Comment deur Cobus — April 6, 2009 @ 2:49 nm |
Aha, dankie, Cobus! Ek hou van die idee dat studenteleiers hulleself moet kan afpaar met ‘n mentor. As jy leiding moet verskaf, is dit immers belangrik om begeleiding te kan ontvang ook.
Sjoe. Dis eintlik nogals ‘n radikale gedagte. Hierso het ons veel eerder die patroon dat nuwe leiers heeltemal afstand doen van voriges, waarskynlik omdat studentelewe so vlugtig is. (Hierso wroeg ouens dikwels alleen met die sukkeldinge wat leierskapsposisies veroorsaak.)
So, wie sou jy voorstel as mentors?
Ook hou ek van jou voorstel dat studenteleiers reflekterend moet omgaan met hulle take.
Comment deur mnr.muller — April 6, 2009 @ 3:06 nm |
Studenteleiers moet oor breinselle beskik.
Comment deur Johan Swarts — April 25, 2009 @ 8:32 vm |
@Johan: Hehe, lekker sinies. Maar ek stem nogals saam; die hele “idee” waarvoor ‘n leier staan, moet verander. Dit help nie ons kry rugbyspelers wat dien in die Raad i.p.v. kritiese denkers nie.
Natuurlik hoef ons egter nie van leierskap net in terme van “posisie” te praat nie. Selfs ‘n blogger kan leiding neem en rigtinggewend wees; leierskap gaan altemit nie net oor die baadjie wat jy dra nie, maar die wyse wat jy ander tot aksie dwing met die (beperkte) mag wat jy het.
Comment deur mnr.muller — April 28, 2009 @ 8:53 vm |