mnr.muller

November 2, 2009

Die pa wys na my en sê: “Kyk die snaakse oom! Kyk, hy is ook bang vir die water.”

Filed under: Klasgee, Lewendood, Woordkuns — mnr.muller @ 4:06 nm
Tags: , , , , , ,

Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.

So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree.  Hy probeer sy bes.  Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.

Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.

Ek kyk en besluit hier moet ek help!

* * *

Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.

Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!

Die dogtertjie lag!

Ek frons en loer wantrouig die brander agterna.  Sy kyk hom ook, stip.

Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…

Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe.  Sjoe!

Die dogtertjie skater!

Reg, ek het geconnect.  Nou vir die les.

Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie.  Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in.  Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken.  Dawerend die noodlot trompop tegemoet!  Basta met bangwees!

Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.

Haar pa hou sy asem op.

Sy kyk my na.

Selfs omstanders staan stil.

En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug.  (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek - met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!

Sy is verstom!

En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water.  Haai, haai, joegaai!  Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak. 

Sy is oorstelp!  In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie.  Maar die punt is, sy glo die leuen.  Sy glo die les.  Van oor-tot-oor glo sy my.  As hierdie snaakse omie kan…

Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.

* * *

En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:

Die krulletjieskopkind los haar pa se hand…  beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!

Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!

Hy skud sy kop.

Sy lag.

En ek stap rustig aan.

12 Kommentaar »

  1. Nice one!

    Comment deur kaneelsuiker — November 2, 2009 @ 4:28 nm | Reply

  2. Yip, verstaan en vereenselwig verskil hemelsbreed van mekaar.

    Comment deur demoerin — November 3, 2009 @ 5:15 vm | Reply

  3. Jinne ek wonder of jy ook ‘n les hier geleer het… Maar die een het nie leuens nie… Glo maar net dat jy haar hele wereld verander het en sy sal dit vir altyd onthou!

    :lol: Wens ek kon nie petalje aanskou… moes nogal snaaks gewees het!

    Comment deur Girl van die Suburbs — November 3, 2009 @ 10:00 vm | Reply

    • …. en die pa is heel moontlik ook jou ewig dankbaar.

      Comment deur demoerin — November 3, 2009 @ 11:26 vm | Reply

  4. Hoe lekker warm klop my hart nou. Ek is bly daar is mense soos jy, want al sou ek graag ook sulke dinge vir ander mense wou doen, het ek geen benul hoe om dit te doen nie, en selfs as ek geweet het, sou ek nie braaf genoeg gewees het om tot aksie oor te gaan nie. Vir die branders is ek egter glad nie bang nie.

    Terloops: ek is mal oor jou beeldspraak. Die prentjies word kristalhelder hier voor my oë opgetoor terwyl ek jou stories lees. Dalk bietjie meer helder as vir ander, omdat ek jou ken.

    Comment deur Francois C — November 3, 2009 @ 12:33 nm | Reply

  5. Jy spandeer darem baie tyd op die strand as ek so lees hier. Mens moet maar versigtig wees hier in Europa. As jy so met die kinders speel, sluit hulle jou toe!

    Comment deur Rustig — November 3, 2009 @ 6:51 nm | Reply

  6. Aha :0 5x b-r-i-l-j-a-n-t! (Vorm en inhoud, styl, tema en tegniek knap gedaan).

    Hoe het ek gewéét die nar gaan nie net die keiser en sy hof nie, maar ook die kind se oë oopmaak vir háár waarheid.

    Skoenmaker, lyk of jy jou lees gekry het – overgezetzynde: surfer, lyk of jy jou golf gekry het om te ry!

    Die storieboek (en ons, jou toeskouers op die strand en in die keiser se hof) wág om deur jou geskryf én geïllustreer te word.

    Comment deur estelleke — November 3, 2009 @ 8:37 nm | Reply

  7. :) thx, julle.
    …dis lekker dat wat ek skryf, aanklank vind.

    Comment deur mnr.muller — November 4, 2009 @ 6:54 vm | Reply

  8. Mmmm, miskien kan die eks-onderwyser vir ons ‘n inset daar by Emil kom lewer?

    Comment deur demoerin — November 11, 2009 @ 5:24 vm | Reply

  9. Sjoe…

    Dit was ‘n wonderlike lees gewees die. Die krulkoppie sal verseker die les onthou, alhoewel die onderwyser dalk sal vervaag oor tyd. Nogtans, ek hou van die warm gevoel wat ek nou het na ek die gelees het

    Comment deur flintstoned — November 16, 2009 @ 6:02 nm | Reply

  10. hmmmm nog 100 sulke treffende stories en ek’s seker jy kan uitgewers begin lastig val…

    …het jy darem jou reputasie gestand gedoen en gesorg dat paar van die LitNet celebs jou sal onthou en oornooi vir ete?

    “pabloems! – kaalvoet op die strand” klink na ‘n moontlike titel
    of dalk “seesand tussen my tone”

    @ Francois C – ja mnr.muller is ‘n spesiale tipe mal – ek is soms onseker of ek beïndruk is, of myself so bietjie skaam vir hom as hy sulke goed doen, maar waagmoed het hy gewis in oorvloed :-P

    ook moet ek bieg, ek het die storie voor my gesien soos ek dit lees, die skryfstyl en beskrywings was vir my visueel baie effektief en meesleurend…

    die ’scary’ deel is nou net dat ek so half ‘n Dejavu gevoel het – waarom voel dit vir my asof ek teenwoordig was tydens hierdie insident?
    (moet seker maar wees omdat ek oor die jare al te veel sulke soortgelyke insidente reeds aanskou het)

    Welgedaan en mooi geskryf!
    (oh ja, en ^5 vir jou goeie daad teenoor die toekomstige olimpiese waterakrobaat)
    [ek aanvaar hierdie storie is waar en nie fiktief nie]

    Comment deur R/L — November 17, 2009 @ 4:46 vm | Reply

  11. haha, thx R/L!

    Comment deur mnr.muller — November 17, 2009 @ 8:21 vm | Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.