As deel van die Kreatiewe Skryfonderrig-kursus wat ek ongereeld help onderrig, woon ek en Estelleke een keer per maand, saam met sowat agt ander pelgrims, ‘n kreatiewe skryf-kring onder leiding van oudprofessor, dr Dorian Haarhoff, by.
Hy fasiliteer die skryfproses-proses waar die eindproduk nie soseer die belangrikste is nie, maar die wegmymering van jou gedagtes na ‘n onderbewuste skeppendheid wat jy ontsluit. In laas Woensdag se oefening het hy ons twee-twee mekaar laat skets, linkshandig, terwyl hy agtergrondpoësie lees; waarná ons oorgegaan het in onredigerende skryfwerk.
Hierso is my resultaat van daardie aand:
>>
Digterwordende skets
vir Mariëtte
met my dom hand
genetwerk aan my lomp verstand
skets ek jou –
per ongeluk ’n aanklag –
met elke lyn:
wat spits was, word krom; wat glad is, verplooi
en hoe meer ek probeer keer, hoe meer ver-
weer jou gesig onlewendig.
…en nou,
nou ná die skets
skryf ek jou ’n houtskool-gedig
maar ai, met die rugkant van my hand
genetwerk aan die ánder verstand wat –
per ongeluk soos ek skryf – stilsta-
dig die lyf van die gedig weg-
vryf:
die woorde hang in die lug ’n poeierige nagedagtenis
’n asem wat uiteindelik en heel geleidelik sagswart verdamp.
>>
Sjoe, wel gedaan sou ek sê. Daardie laaste twee reels!!
Dankie @demoerin: met hierdie kreatiewe skryf-oefeninge kry ‘n mens nie soseer volledige, afgewerkte gedigte nie, maar wel ‘n vloei en ritme, ‘n eie stem, en soms ‘n goeie versreël of twee – idees waarop later uitbrei kan word.
Ai, is ons nie maar altyd ons eie grootste kritici nie. Gedigte gaan vir my baie meer oor die eie stem as die pragtige, perfekte litirêre afwerking.
baie goed! Ek hou baie hiervan!
Wow!
Ek hoop ons kry ook die linkerhandskets te siene… asb?
Ek het my oorspronklike skets en gedig vir Mariëtte gegee direk ná die oefening. Sy het toe die woorde vir my versend per e-pos, maar nog nie die skets inskandeer nie.
Pingback: Mariette se digterwordende gesig « mnr.muller
Pingback: heelbreindenke « mnr.muller