mnr.muller

November 2, 2009

Die pa wys na my en sê: “Kyk die snaakse oom! Kyk, hy is ook bang vir die water.”

Filed under: Klasgee, Lewendood, Woordkuns — mnr.muller @ 4:06 nm
Tags: , , , , , ,

Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.

So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree.  Hy probeer sy bes.  Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.

Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.

Ek kyk en besluit hier moet ek help!

* * *

Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.

Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!

Die dogtertjie lag!

Ek frons en loer wantrouig die brander agterna.  Sy kyk hom ook, stip.

Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…

Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe.  Sjoe!

Die dogtertjie skater!

Reg, ek het geconnect.  Nou vir die les.

Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie.  Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in.  Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken.  Dawerend die noodlot trompop tegemoet!  Basta met bangwees!

Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.

Haar pa hou sy asem op.

Sy kyk my na.

Selfs omstanders staan stil.

En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug.  (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek - met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!

Sy is verstom!

En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water.  Haai, haai, joegaai!  Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak. 

Sy is oorstelp!  In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie.  Maar die punt is, sy glo die leuen.  Sy glo die les.  Van oor-tot-oor glo sy my.  As hierdie snaakse omie kan…

Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.

* * *

En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:

Die krulletjieskopkind los haar pa se hand…  beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!

Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!

Hy skud sy kop.

Sy lag.

En ek stap rustig aan.

Oktober 28, 2009

Sewe eksamenwenke aan ‘n matriekleerder wat sy eerste naweek omgelê het op Clifton se strand.

Nou die dag geselstik ek met ‘n matriekleerder via gmail se chatfunksie.  Hulle eksamens begin nou.

Toe gee ek hom sewe tips:

  1. Leer jou inhoudsopgawes. Dit sal jou ‘n goeie struktuur in jou kop gee waarby jy feite kan aanhaak. Blaai ook vinnig-vinnig deur ‘n ou vraestel om ‘n goeie idee te kry van wát tipies getoets word.
  2. Werk vinnig: Moenie jou handboek soos ‘n storieboek lees nie – vluglees dit soos ‘n ensiklopedie: soek die feite wat nodig is op die vrae wat jy vermoed hulle gaan vra.
  3. Figure vooraf uit wat jy alreeds weet en wat jy nog nie weet nie. Dit kan baie verleidelik wees om herhaaldelik weer-en-weer te lees wat jy alreeds ken en die “moeilike” goed uit te stel tot later. Moenie. Werk vinnig, sorg dat jy weet wáár in jou inhoudsopgawe die werk wat jy ken, inpas, en weet waar die gaps in jou verstaan nog is.
  4. Maak leer fun. As jy feite moet memoriseer, omdat jy weet hulle gaan vra om die 10 watookals te lys, dan kry shortcuts om die lys te kan onthou. Gebruik al jou sintuie; teken prentjies in jou kop, ens. Maar maak dit pret.
  5. Wanneer jou tyd uithardloop, kyk weer vir oulaas na jou inhoudsopgawe en maak weer ‘n mental opgawe van wat jy weet en watter dele fuzzy is. Tydens die eksamen sal jy dan ook weet watter vrae om eers te skip en later na terug te kom.
  6. Geniet die vraestel! Onthou, ‘n vraestel is ook maar net ‘n vraestel. Hulle gaan jou nie probeer vasvra nie; hulle toets maar net stelselmatig die inhoud van jou vak. Geniet die challenge en werk so vinnig as wat jy kan – nie omdat jy hoef haastig te wees nie, maar omdat hulle meestal nie die complicated antwoord soek nie, maar die obvious ene.
  7. Leer in kort spurts en gee vir jouself elke nou en dan ‘n lekker, kort break.  Sien uit na die lang vakansie wat voorlê en ontspan vir ‘n uur ná ‘n vraestel voor jy nog ‘n leersessie aanpak.

Hm, het my blogvriende enige ander raad vir die eksamenskrywendes?

Hehe, I pity the poor fools.

Oktober 3, 2009

Onderwys en die aanflans/vlambaarheid van wyshede

Filed under: Klasgee — mnr.muller @ 8:01 nm
Tags: ,

“Education is not the filling of a bucket, but the lighting of a fire.” – W.B. Yeats

“I have never let my schooling interfere with my education.” – Mark Twain

“Education is what remains after one has forgotten everything he learned in school.” … “It is, in fact, nothing short of a miracle that the modern methods of instruction have not entirely strangled the holy curiosity of inquiry.” – Albert Einstein

“It takes a village to raise a child.” – Nigeriese gesegde (“Ora na azu nwa”)

“Education, therefore, is a process of living and not a preparation for future living.” – John Dewey

“The first problem for all of us, men and women, is not to learn, but to unlearn.” – Gloria Steinem

“The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn, and relearn.” – Alvin Toffler

“In large states public education will always be mediocre, for the same reason that in large kitchens the cooking is usually bad.” – Friedrich Nietzsche

“Children require guidance and sympathy far more than instruction.” – Annie Sullivan

“If we value independence, if we are disturbed by the growing conformity of knowledge, of values, of attitudes, which our present system induces, then we may wish to set up conditions of learning which make for uniqueness, for self-direction, and for self-initiated learning.” – Carl Rogers

“The best teacher is the one who suggests rather than dogmatizes, and inspires his listener with the wish to teach himself.”  – Edward Bulwer-Lytton

“Treat people as if they were what they ought to be and you help them to become what they are capable of being.” – Goethe

“The whole art of teaching is only the art of awakening the natural curiosity of young minds for the purpose of satisfying it afterwards.” – Anatole France

“The experience of the race shows that we get our most important education not through books but through our work. We are developed by our daily task, or else demoralized by it, as by nothing else.”  – Anna Garlin Spencer

“Creativity is a type of learning process where the teacher and pupil are located in the same individual.” – Arthur Koestler

“Education’s purpose is to replace an empty mind with an open one.” – Malcolm Forbes

“I may have said the same thing before… But my explanation, I am sure, will always be different.” – Oscar Wilde

“Education is the kindling of a flame, not the filling of a vessel” – Socrates

September 23, 2009

Closing the student learning loop (after an IR conference in PE)

I have just returned from the annual Southern African Association for Institutional Research (SAAIR) conference.  It was held in The Friendly – as well as The Windy - City of Port Elizabeth, at the Nelson Mandela Metropolitan University (NMMU) campus.

As conferences go, it followed the typical pattern: a keynote speaker opening the day, followed by speakers from different institutions (universities) delivering papers on their recent research findings, followed by tea, more speakers, lunch, some more speakers, tea, and an evening excursion, (Monday evening a boat ride in the harbour; yesterday a game drive in the Kragga Kamma Game park), followed by dinners.

The theme of the conference was Closing the Loop.

Even as a novice in the field I really enjoyed the variety of topics ranging from closing the quality assurance loops (departmental evaluations and programme reviews) to measuring graduate employability as an indicator of institutional effectiveness.

Yeah, I know – it might sound a bit boring, but you really do get insight into the Southern African Higher Education sector if a representative from Umalusi presents A comparative evaluation of the Senior Certificate curricula.  I especially enjoyed my colleague, dr Gert Steyn’s presentation on Measuring student participation in higher education with special repeference to South Africa.  (I will put the links in when the powerpoints are uploaded to the SAAIR website.)

What was most interesting to me was that, at the end of the conference when the keynote speakers and chair led a panel discussion, they came to the conclusion that institutional research (IR) actually cuts across the borders of institutions and could indeed in a sense be referred to as connectivity research.

This made me think.  Since recently becoming aware of a learning theory called connectivism, I now like the idea of connectivity and creating connections/promoting lateral thinking.  It provides a construct for the way in which we learn: through neuron connections we create/construct within our brains.  It also provides us with a construct for the way in which we should teach/act as knowledge partners.

Thinking of IR divisions at universities which convert knowledge (raw data e.g. student enrolment figures) into meaningful information (business intelligence) to inform action (insight for decision-making)… made me realise that IR personnel are in fact teachers who need to strategically facilitate learning to all managers and decision-makers at universities (academic and administrative colleagues).

Connectivism therefore, I think, may provide a useful paradigm for assessing the effectiveness of the business intelligence reports we produce.

* * *

According to constructivist and connectivist learning theories, lecture formats (such as the way in which the papers were presented) are not the most effective teaching methods for promoting student learning.  If you go to a conference, sit passively and dose off every second powerpoint slide, you will be none the wiser afterwards. Students (conference goers) need to talk too, share ideas, integrate diverse opinions and reflect on the learning that takes place. 

For me this happened in the evenings when we debriefed in our guest house and chatted informally over coffee, tea and a decanter filled with sherry.  I really only learned something - or realised what I had learnt – after a couple of sherries with our American guests, Rick and Alice Voorhees of the Voorhees Group.  (Read his blog at http://voorheesgroup.org/wordpress/)

And according to constructivist and connectivist learning theories one needs to reflect about one’s learning for learning to truly take place.

Thus, by writing this blog, I am closing my IR learning loop (…or maybe rather, swinging my learning lasso).

* * *

Connectivism also explains the mistakes we make: the connections we incorrectly create between unrelated matters.  Haha, that may just be the case with this post!  Do you think IR and learning theories are in any way connected?

September 16, 2009

Om sekretaris te wees | Being the secretariat

260_secretaryIn my hoedanigheid as administratiewe beampte by ‘n groot burokratiese instansie, word ek gereeld met die sekretariaatfunksie van komitees belas.  Ek moet agendas opstel en notule hou.

Notules van gehaltekomitees, eksterne evalueringsgesprekke, benchmarking konferensies, programadvieskomitee-, onderrigbestuurspan- en studentehuisvestingskomiteevergaderings.

Male sonder tal moet ek met die nodige takt en noulettendheid dinge notuleer wat nie altyd met die nodige takt of noulettendheid gesê is/word nie.  In een saaklike sin saamvat wat ‘n slordige debat verswyg.

Aanbevelingsrapporte, mededelingsrapporte, bosberaadnotules, beplanningsessie-opsommings, forumbesprekings, de lot.

En so val dit my ook nou die dag te beurt om dié vaardigheid aan nuutverkose studenteleiers te moet verduidelik.

Sug.

What a mission.

article_photo1Hoe maak jy nou seker dat ‘n skare studente nie op hulle arms aan die slaap raak van wurgende verveling nie?  Hoe maak jy ‘n onprikkelende onderwerp soos sekretaris-wees sexy?

Toe gebruik ek maar vir Hillary Clinton: Sekretarisopleiding_Training for Secretariat

* * *

Omdat ek min tyd gehad het om vir die aanbieding voor te berei, het dit maar sukkel-sukkel gegaan om groepbesprekings aan die gang te kry.

Volgende jaar sal ek minder moeite in ‘n powerpoint sit, van meer mede-fasiliteerders gebruik maak en spesifieke opdragte uitdink waarmee die studente kan engage.  Dis rêrig lastig om in ‘n lesingformaat leer te probeer bewerkstellig.

Nietemin, dit weet ons mos.  Maar “Herhaling kweek vaslegging” het ‘n onderwyser tweekeer vir my gesê.

“Herhaling kweek vaslegging.”

Julie 21, 2009

Handskrif en shorthand

Ons leer vir skoolkinders hoe om te skryf.  Ons leer hulle hoe om te teken.  Maar selde leer ons hulle hoe om met prentjies en skrif saam-saam nota’s te maak en/of probleme uit te werk.

handskrif_1  handskrif_2

Hierbo is voorbeelde van shorthand wat ek tydens vergaderings gebruik.  En nee, dis nie uit verveling dat ek hoenders of vlagskepe teken nie – dit het telkens te make met die spesifieke uitdrukkings of sêgoed wat mense tydens die vergadering gebruik.

Deur prentjies met woorde en getalle op te mix, vind ek, kan ek makliker die spesifieke gesprekvoering en lines of argumentation herroep as ek lateraan weer deur my nota’s blaai.

* * *

Miskien moet hulle, behalwe vir skrif, leerders ook onderrig om scrapbooking te doen.  Die mix en match van kleure en teksture en foto’s, herinneringe, gedigte, tale, opsommings, resepte, ens. is ‘n heerlike meersintuiglike ervaring.  En leer jou om te reflekteer en dít wat jy als beleef, te waardeer.

Julie 11, 2009

Skeinat in die kombuis en ‘n foolproof resep

Ek het onlangs begin bak.

Sover het ek drie volgraanbrode en een joghurt-en-kondensmelk-tert in my dinky-toy oondjie gebak, en een minder-suksesvolle malvapoeding in my mikrogolf.

Dis pret.

Vir die malvapoeding-resep moes ek asyn by koeksoda voeg.  Bruisend.

Dit was heerlike vermaak terwyl ek snotneus by die huis moes sit en griepmedisyne drink.

* * *

Joghurt-en-kondensmelk-tert

Die maklikste van die drie resepte wat ek tot dusver probeer het, is die joghurt-en-kondensmelk-tert wat ek gemaak het.  Dit gaan tjoef-tjaf: jy meng een liter joghurt met een blikkie kondensmelk, sit dit in die oond vir 20 minute, haal uit, koel af, en smul.  Vir mede-beginners volg die resep stapsgewys:

Wat jy in jou kombuis nodig het:

  1. ‘n eetlepel
  2. ‘n oond waarin jy jou tert kan sit
  3. ‘n mengbak (groot genoeg vir ‘n liter-en-’n-half se bestanddele)
  4. ‘n tertbak (ook groot genoeg vir ‘n liter-en-’n-half se bestanddele)
  5. ‘n horlosie of alarm sodat jy kan sien dat die tert slegs vir 20 minute in die oond bak
  6. ‘n vadoek (of oondhandskoene) om die warm tertbak uit die oond te haal

Bestanddele:

  1. een liter joghurt (jou gunsteling soort) wat as vulsel dien
  2. een blikkie kondensmelk (die standaardblikkie, 375 ml) - die hitte gaan die suiker laat karameliseer en só jou vulsel stol (…as jy nie ‘n blik-oopmaker het nie, koop ‘n met-die-vinger-ooptrek blikkie)
  3. een pakkie tennisbeskuitjies om te verkrummel en te plak teen die rant van die tertbak as kors, en ‘n paar los krummels om te strooi as versiering bo-op jou tert
  4. sowat twee eetlepels gesmelte botter om met die beskuitjiekrummels te meng sodat dit klam raak, aan mekaar vassit en teen die rant van die tertbak kan plak om die kors te vorm

Hoe lank dit neem:

  1. 5 minute voorbereidingstyd; 20 minute baktyd; heelnag wag-dat-dit-afkoel tyd.

Stap-vir-stap resep:

  1. Loer in jou oond en sorg dat dit, behalwe vir die oondrak, leeg is.  Maak die oondflap digtoe.  Draai jou oondknop na 180°C.  Die liggie gloei totdat die oond klaar opgewarm het.
  2. Smelt solank jou twee eetlepels botter op welke manier ook al.  Ek het myne in ‘n mikrogolfbakkie op laag vir ‘n paar sekondes gesit.
  3. Verkrummel amper al jou tennisbeskuitjies in jou mengbak (sit so twee of drie opsy).  Druk die beskuitjies een-vir-een fyn met jou hande en voeg die gesmelte botter so bietjies-bietjies by sodat die krummeltjies aan mekaar vassit.  Smeer dié sticky krummels teen die bodem van jou tertbak.  As jou botter opraak, smelt nog ‘n bietjie en voeg dit by die tennisbeskuitjiekrummels, en plak verder.
  4. Lek jou vingers af en vee jou krummelbak skoon.  Was jou hande vlugtig.  En droog af met jou vadoek.
  5. Maak die joghurthouer oop en gooi al die joghurt in jou krummelskoon mengbak.  Krap die laaste bietjie uit die joghurthouer met jou eetlepel.
  6. Maak die kondensmelkblikkie oop en gooi alles in die mengbak by die joghurt.
  7. Roer die joghurt-en-kondensmelk mengsel met jou eetlepel om en gooi dit dan uit in die tertbak op jou tennisbeskuitjiebotter-krummelkors.
  8. Breek nog ‘n laaste tennisbeskuitjie of twee (sonder botter) met jou vingers en sprinkel dit plek-plek bo-op jou joghurt-kondensmelk vulsel.
  9. Loer of die oond se warmteliggie al af is; maak die oond oop en sit jou tertbak vinnig daarbinne.  Flap die oonddeur toe en kyk op jou horlosie (of stel ’n alarm) – dit moet net vir 20 minute bak.
  10. Ruim solank op: skep al die orige joghurt en kondensmelk uit en lek dit af, en pik tennisbeskuitjiekrummels vanaf jou werksoppervlakte met jou vinger op.  Spoel jou lepel af en mengbak uit, gooi die leë kondensmelkblikkie, joghurthouer en tennisbeskuitjiepakkie-plastiek weg.
  11. Ná twintig minute in die oond, maak die oondflap oop en haal, met jou vadoek om jou hande, die tertbak uit.  Sit dit op jou oond se plaat en laat dit oornag afkoel.  Moenie bekommerd wees as dit nog loperig is nie, die tert stol vinnig-vinnig soos dit afkoel.
  12. As die tert afgekoel het, kan jy dit in die yskas bêre as jy wil.  Sny jou tert met ‘n koekskepper en smul aan jou heerlike baksel.  Bedien met varsgemaalde koffie of jou gunsteling tee.

* * *

Terug by die onderwys:

As jy die resep hierbo stapsgewys navolg en ‘n heerlike joghurt-en-kondensmelk tert bak, die resep memoriseer en herhaaldelik foutloos uitvoer – het jy dan iets geléér?

Hm.

Ja, jy het tog nuwe kennis opgedoen wat jy kan toepas (instrumentele kennis), maar verstáán jy wát kondensmelk is, waar dit vandaan kom, hoekom dit saam met die joghurt stol as jy dit verhit/verkoel?

Kan jy afwyk van die resep en nuwe terte skep met appelliefies en eierwit-opgeklits bo-op?  Kan jy die resep vergelyk met ander en analiseer hoe dit van mekaar verskil en hoe om dit te verbeter?  Verstaan jy die chemie agter die karamelisering van suikerstroop?

Hm.

Uiteraard kan ‘n mens nie álles weet of onderrig nie, maar wat jy wel by hoërskoolleerders – en jouself - moet probeer kweek, is die nuuskierigheid om ‘n indiepte relasionele verstaan van vakinhoude te kry: om die raakpunte van huishoudkunde en natuurwetenskap/chemie te kan insien.

Te dikwels dualiseer ons ons werklikheidsbestaan van ons skoollewens; ons kook in die kombuis en doen chemie in die klaskamer – maar ons bring nooit die kloutjie by die oor nie.  Leerders slaag matriek sonder om te besef dat die twee iets met mekaar te doen het.

Onderwysers fokus ook só op hul vakinhoud dat hulle nie die leerders op hulle leef-en-begripsvlak ontmoet nie.  Huiswerk word eksamenvraagbeantwoording-resepte wat slaafs nagevolg en herhaaldelik ingeoefen word…  Op die ou end kry jy perfekte tertjies waaraan jy heerlik kan smul.  Maar jy wakker nie die eksperimenteringslus, die skeppingsdrang by leerders aan nie.

Wat ons eintlik wil hê, is leerders wat nuwe baksels kan skep en rondspeel en mors.

* * *

Daar is plek vir beide instrumentele (resep-) leer en relasionele (verstaan-) leer in die klaskamer.  Soms moet leerders flink en effektief ‘n balansstaat kan balanseer binne ‘n gegewe tydperk.  Maar kom ons gun leerders die geleentheid om na hartelus te kan bak en brou en skep en eksperimenteer in klaskamers, ingerig soos ‘n goed-toegeruste kombuis.

‘n Ruimte waar hulle kan leer deur fisies iets te dóén.  Waar hulle hulle eerstehandse ervaringsvelde kan laat strook met die nuwe kennis wat aan hulle onderrig word.  ‘n Klaskamer as ‘n wetenskapslaboratorium/kombuis.  Waar die les nie net as resep voorgehou word nie, maar waar die hoekom-vrae gevra word sodat leerders wíl wikipedia.

* * *

In ‘n kombuis het jy ‘n beperkte aantal veranderlikes (bestanddele, mengery, oondhitte, tyd) waarmee jy ‘n gewensde produk probeer verkry.  Die léér lê nie in die navolg van ‘n resep nie – dit lê in die rondspeel en flops, oplees en uitvra, en die weer probeer daarna.

Die assesseringsvraag is nie “Skryf die gememoriseerde resep stapsgewys neer” nie, maar “Bespreek watter resepte jy alles uitprobeer het en vertel hoekom dit gewerk/geflop het”.

Met die eerste vraag toets jy kennis; met die tweede vraag insig.

Junie 25, 2009

free writing as slinkse strategie op weg na kreatiewe wasdom

Leerders raak gou gewoond aan klasloop, een periode ná die ander:

  1. Tel tas op.
  2. Stap klas binne.
  3. Sit op bank.
  4. Haal boeke uit.
  5. Luister na les.
  6. Neem nota’s.
  7. Wag vir klok.

Met ’n kreatiewe skryf-les moet ons dié patroon ten alle koste breek – dit help nie jou leerders sit passief en (ver)wag om nota’s neem nie.  You must involve them.  Engage me or enrage me.

Breek die patroon. Sê vir hulle:

  1. Los tas.
  2. Staan buite.
  3. Sit elders.
  4. Vat skryfgoed.
  5. Skryf.
  6. Vir sewe minute.

Jy kan byvoorbeeld hulle buite die klaskamer kry, vra dat hulle hul tasse buite los, vir elkeen ‘n klein skryfboekie met ‘n deurslagpapiertjie en ‘n stomp potlood gee, die klasbanke rondskuif en hulle op ander plekke laat sit, musiek in die agtergrond speel, vir hulle ‘n kort, irrelevante scenario skets (dagboek op vliegtuig), en hulle dan ‘n opdrag gee om vir sowat sewe minute onophoudelik te skryf.  (Jy kan hulle rekenaarlokaal toe neem en die fontkleur wit stel.)  As hulle niks het om oor te skryf nie, moet hulle skryf dat hulle niks het om oor te skryf nie.  Daar sal wel nog ‘n sin daarop volg.

Die idee van free writing is om hulle te laat skryf skryf skryf sonder om spelling of sinsorde te check.  Aaneenlopend.  Vir sewe minute.  Hulle moenie gepla wees deur sintaks of lyntjies of netheid nie.  Hulle kan netsowel skryf met invisible ink.

Wat free writing doen, is dit verander jou breingolflengte, amper soos die opsê van ‘n trans-induserende mantra.  En dit skep vir leerders ‘n breather om rou emosies en opgekropte skoolgedagtes uit hulle sisteem uit weg te skryf.  Dit laat idees loskom.

En dan het jy ‘n tabula rasa.  ‘n Clean slate.

Dán kan jy begin met ‘n kreatiewe skryf-les.

Junie 24, 2009

onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent

onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent

span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf
waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf

waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief

glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief
span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf

* * *

Seinde ek in my vorige pantoen te veel leestekens gebruik het, het ek bogenoemde ene kaalgestroop.

Dis nogals tricky – maar belangrik, vermoed ek - om die enjambement (die oorloop van een versreël na ‘n ander, oftewel die vloei van twee versreëls in mekaar) in ‘n pantoen reg te kry (seinde die herhaling van versreëls die volgorde waarin hulle voorkom teenoor die ander reëls, verfomfaai).

Ek het die begin/eindreël aanvanklik vanaf  ”onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent span ‘n gloed om jou lyf” verander na ‘n tipe stelsin “‘n sagte songloed span oor jou naakte lyf onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent” en uiteindelik na die opdrag (in die eerste versreël) wat vervorm tot ‘n stelsin (aan die einde) a.g.v. die enjambement/samevloei van die voorlaaste versreël.  Ook het ek die “onder die…voetenent” uit die gedig gesny en tot die titel verhef.  Ek’s onseker of wat ek gedoen het die beste opsie was, maar nou ja, lewer gerus kommentaar.

Let op dat daar geen beperking op die lengte/vorm van pantoene se versreëls geplaas word nie; dit sou dus – soos ook in my insomnia-pantoen (met die leestekens) – ‘n interessante besprekingspunt kon wees: Hoe dra die lengte van die versreëls (of die gebruik van welke leestekens ook al) by tot die tematiek/atmosfeer van die gedig?

Of ‘n gunsteling vraag: Hoe verskil die funksies van die dubbelpunt aan die einde van die eerste versreël met dié van die laaste versreël van die pantoen-gedig Langafstrand?  Haha – onthou, jy het nie ‘n grootmeester se gedigte nodig om poësie te onderrig nie.  Gebruik eerder die leerders se eie outentieke tekste, hulle eie pantoen-probeerslae, om oor enjambement en klankrym, ens. te gesels.

Die slagspreuk lui mos: Tell me and I will forget; Show me and I will remember; Involve me and I will understand.

Anyway, alle voorstelle en kritiek is welkom; ek beskou hierdie pantoene as ‘n lekker skryfoefening.  Probeer gerus ook ene!

Junie 23, 2009

Om die lande van Afrika weg te gooi

Filed under: Klasgee — mnr.muller @ 10:59 vm
Tags: , , , , , , , ,

africa-mapNou die dag gooi ek amper ‘n pamflet weg waarop ‘n uitgewersmaatskappy ‘n kaart van Afrika het.  (Op die kaart is hulle logo oral waar hulle ‘n verspreidingstak het; amper in elke Afrikaland).  Sommer ‘n simpel pamflet.

Met die dromflap oop bekyk ek vlugtig my kontinent en wáár elke Afrikaland lê:  Togo, Benin, Burkina Faso.

Vreemd, dink ek, dat Aardrykskunde op skool atlyd vir my so ‘n onbenullige vak was.  Ek moes met moeite memoriseer dat hulle in die Vrystaat met mielies boer – ‘n feit wat vir ‘n stadskind in die Kaap nie veel beteken nie.

En daar waar ek toe staan, vooroorgebuk – gereed om Afrika weg te gooi - vang die nuuskierigheid my opeens: ek wil wéét waar elke land van Afrika is.

Ek hou die pamflet; gooi ander goed weg en besluit om die kaart te probeer memoriseer.

Die kaart laat dink my aan ‘n Aardrykskunde-eksamenvraag: tipies sou jy genommerde lande moes identifiseer. En die laerskoolonderwyser sou jou waarsku dat jy die kaart op bladsy 57 moet leer vir die toets.

Hmf.  Om te memoriseer is nie meer maklik nie.

Ek lees die rondom-die-Sahara lande se name, bekyk die grense en probeer dan die name herroep sonder om te kroek.  Ek herhaal die proses, tel later die dag weer die pamflet op en besef dat ek eintlik net my korttermyngeheue gebruik…

En toe tref dit my: ek is ‘n totale idiot.

Ek is só gekondisioneer om Aardrykskunde te memoriseer soos vir ‘n eksamenvraag, dat ek nie besig was om enigiets te leer nie.  Want om al die lande tydelik te kan uitken, leer my niks méér van enige van die Afrikalande nie.  Ek verwyl my tyd met ‘n sinlose memory game en nie met ‘n heelbrein leerervaring nie.

Ek onderrig myself verkeerd.

Hoe leer ‘n mens?  Ek wéét mos.  Ek wéét hoe leer werk:  Jy moet neuronverbindings skep; jy moet ‘n netwerk van kennis voortbou op bestaande kennis; jy moet jou meervoudige intelligensies inspan.

In plaas daarvan om die hele kaart deur te lees sodat ek dit ná ‘n ruk foutloos kan herroep, moet ek eerder land-vir-land ‘n bietjie gaan oplees op Wikipedia.  Síén hoe lyk die land se mense, wat hulle issues is, wat elke land uniek maak; eie assosiasies vorm met die nuwe kennis, sodat Togo nie net ‘n naam op ‘n kaart vir my is wat ek soms aan verkeerde grense koppel nie, maar dat ek die landsgrense kan inkleur met ‘n volle prentjie van ‘n volwaardige nasie.

So dikwels onderrig ons leerders bloot om feite te herroep in toetssituasies.  Ons moedig dit derhalwe aan.  Maar om dooie landsgrense te memoriseer, is nie lekker nie – dis vervelig; ons maak kinders se natuurlike fassinasie met die wêreld om hulle dood.

* * *

Eers nadat ek saam met ‘n vriend deur die nege provinsies van Suid-Afrika getoer het – en ek die veranderende landskap eerstehands kon ervaar – verstáán ek mynbou en mielies – én gee ek actually om.

Stadig maar seker, is ek besig om my passie vir aardrykskunde te herwin.  Net soos my pamflet van Afrika.

Volgende Blad »

Blog at WordPress.com.