Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.
So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree. Hy probeer sy bes. Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.
Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.
Ek kyk en besluit hier moet ek help!
* * *
Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.
Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!
Die dogtertjie lag!
Ek frons en loer wantrouig die brander agterna. Sy kyk hom ook, stip.
Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…
Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe. Sjoe!
Die dogtertjie skater!
Reg, ek het geconnect. Nou vir die les.
Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie. Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in. Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken. Dawerend die noodlot trompop tegemoet! Basta met bangwees!
Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.
Haar pa hou sy asem op.
Sy kyk my na.
Selfs omstanders staan stil.
En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug. (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek - met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!
Sy is verstom!
En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water. Haai, haai, joegaai! Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak.
Sy is oorstelp! In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie. Maar die punt is, sy glo die leuen. Sy glo die les. Van oor-tot-oor glo sy my. As hierdie snaakse omie kan…
Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.
* * *
En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:
Die krulletjieskopkind los haar pa se hand… beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!
Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!
Hy skud sy kop.
Sy lag.
En ek stap rustig aan.