mnr.muller

September 16, 2009

Om sekretaris te wees | Being the secretariat

260_secretaryIn my hoedanigheid as administratiewe beampte by ‘n groot burokratiese instansie, word ek gereeld met die sekretariaatfunksie van komitees belas.  Ek moet agendas opstel en notule hou.

Notules van gehaltekomitees, eksterne evalueringsgesprekke, benchmarking konferensies, programadvieskomitee-, onderrigbestuurspan- en studentehuisvestingskomiteevergaderings.

Male sonder tal moet ek met die nodige takt en noulettendheid dinge notuleer wat nie altyd met die nodige takt of noulettendheid gesê is/word nie.  In een saaklike sin saamvat wat ‘n slordige debat verswyg.

Aanbevelingsrapporte, mededelingsrapporte, bosberaadnotules, beplanningsessie-opsommings, forumbesprekings, de lot.

En so val dit my ook nou die dag te beurt om dié vaardigheid aan nuutverkose studenteleiers te moet verduidelik.

Sug.

What a mission.

article_photo1Hoe maak jy nou seker dat ‘n skare studente nie op hulle arms aan die slaap raak van wurgende verveling nie?  Hoe maak jy ‘n onprikkelende onderwerp soos sekretaris-wees sexy?

Toe gebruik ek maar vir Hillary Clinton: Sekretarisopleiding_Training for Secretariat

* * *

Omdat ek min tyd gehad het om vir die aanbieding voor te berei, het dit maar sukkel-sukkel gegaan om groepbesprekings aan die gang te kry.

Volgende jaar sal ek minder moeite in ‘n powerpoint sit, van meer mede-fasiliteerders gebruik maak en spesifieke opdragte uitdink waarmee die studente kan engage.  Dis rêrig lastig om in ‘n lesingformaat leer te probeer bewerkstellig.

Nietemin, dit weet ons mos.  Maar “Herhaling kweek vaslegging” het ‘n onderwyser tweekeer vir my gesê.

“Herhaling kweek vaslegging.”

Augustus 19, 2009

Kriteria vir studenteleierskapsontwikkelingsprogramme

As deel van lastige werkgroep waarin ek is, moet ons kriteria ontwikkel vir die evaluering van bestaande studenteleierskapsontwikkelingsprogramme.  Help my asseblief om hieroor te dink.

Dis moeilik om kriteria daar te stel, omdat daar:

  1. verskillende opvattinge oor (die vorme van) leierskap (-style) en leierskapsontwikkeling bestaan;
  2. unieke behoeftes ten opsigte van studenteleierskap by ’n universiteit van Afrika-, Suid-Afrika en Stellenbosch is;
  3. verskillende verwagtinge is t.o.v. onderrigmetodiek en –beginsels;
  4. dikwels ‘n tekort aan kontinuïteit is wat veroorsaak dat programme eenmalig en ongekoördineerd aangebied word;
  5. ‘n diskripansie is tussen studenteleierskapsaktiwiteite en die akademiese omgewing waarin studente hulleself bevind.

Hierso is die vertrekpunte waaraan ek sover gedink het:

T.o.v. leierskap (en -vorme/-style) , voorsien die werkgroep dat onwikkelingsprogramme daarop gemik moet wees om:

  1. Waardegedrewe (teenoor reëlgedrewe) stelsels uit te bou,
  2. Intellektuele, refleksiewe (teenoor operasionele) leierskapsdenke uit te bou,
  3. Transformasionele, vernuwingsingestelde (teenoor behoudende, tradisievaste) denke te bevorder,
  4. Deelnemende, verteenwoordigende demokratiese (teenoor outokratiese) leierskap daar te stel, m.d.v. dat daar gefokus moet word op kiesersopleiding, en die op- en afwenteling van idees en gesprek;
  5. Diversiteit (insluitend gender) as ’n bate te ag en te integreer in leierskapstrukture (Eenheid deur diversiteit teenoor Eendrag maak mag),
  6. Ondanks big picture denke (soos visie/missie) ook praktiese, operasionele vaardighede te ontwikkel,
  7. Strategiese probleemoplossingsvaardighede, kreatiwiteit en laterale denke, tydsbestuur, vergaderingsprosedures, en takt deurlopend te ontwikkel, nie net in posisionele leierskapskontekste nie,
  8. Volhoubaarheid en “groen”-praktyke te bevorder,
  9. Etiese norme en standaarde daar te stel,
  10. Gesonde studentepret te bevorder;

T.o.v. die Stellenbosch en die groter Afrika-konteks, voorsien die werkgroep dat ontwikkelingsprogramme daarop gemik moet wees om:

  1. Aansluiting te vind by die huidige universiteitsdoelwitte (Oorhoofse Strategiese Plan), asook diversiteitsmikpunte en uitdagings rondom taal en fasiliteite, en cluster-inisiatiewe en mikpunte rondom akademiese sukseskoerse,
  2. Studente te bemagtig om verteenwoordigend deel te neem aan gesprekke op verskillende vlakke (universiteits-, munisipale- (bv polisiegemeenskapsforum), nasionale- en internasionale komitees),
  3. Leiers toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes om uit te bou op die huidige (unieke) sterkpunte van Universiteit Stellenbosch (soos Sêr en Vensters) en dit as voertuig te gebruik om die Universiteit mee te bemark,
  4. Studente bloot te stel aan ander leierskapstelsels buite Stellenbosch, nasionaal en internasionaal;

T.o.v. onderrigmetodiek en –beginsels, ondersteun die werkgroep die huidige wetenskaplik-aanvaarde pedagogie van:

  1. Sosiaal-konstruktivistiese en konnektivistiese leerteorieë  (Learning is seen as the process by which individuals are introduced to a culture by more skilled members”(Driver et al., 1994).  The teacher acts as a facilitator who encourages students to discover principles for themselves and to construct knowledge by working to solve realistic problems. Aspects of constructivism can be found in self-directed learning, transformational learning,experiential learning, situated cognition, and reflective practice.),
  2. Die formulering van kritieke en spesifieke uitkomste,
  3. Ervaring- en taakgerigte leer, refleksie en fasilitering van gesprekke tussen eweknieë (teenoor die magskennis wat by een lektor gesetel is wat in lesingformaat inligting oordra aan die minderwetende studente),
  4. ’n  Fokus op die volle spektrum van “leer”, by name – volgens Bloom se taksonomie: Kennis, Begrip, Toepassing, Analise, Sintese en Evaluering, en volgens die uitkomste-formulerings van kennis, vaardighede en waardes (teenoor slegs die oordrag van kennis),
  5. Heelbrein onderrig (wat meervoudige intelligensies, persoonlikheidstipes, unieke behoeftes (bv. gesig- of gehoorgestremdheid) e.d.m.) in ag neem met die opstel van (’n verskeidenheid van) leermateriaal,
  6. Modulêre aanbieding van leierskapsinhoud, hoofsaaklik in kleingroep-besprekings, met verdure inligting beskikbaar op ’n web 2.0 platform;

T.o.v. gehalteversekering, is dit nodig dat:

  1. Stelsels vir selfevaluering en benchmarking in plek gestel is/word om te verseker dat ontwikkelingsprogramme volhoubaar, gekoördineerd en aanvullend aangebied word;
  2. Voortdurende vernuwing en navorsing oor die onderwerp gedoen word, t.o.v. die leerprogram as losstaande entiteit, maar ook in samehang met ander bestaande programme om vas te stel of die spesifieke en generiese uitkomstes bereik word,
  3. Studente- en Fasiliteerder-terugvoer ingewin en verwerk word vir elke formele opleidingsgeleentheid,
  4. Wetenskaplike verslagdoening oor allerlei leierskapsaktiwiteite gedoen word, sowel as ’n evaluering/nabetragting van die effek van die leierskapsprogramme, maar ook die leiding wat geneem is, posisioneel en nie-posisioneel,
  5. Deelnemers aan die leierskapsontwikkelingsprogramme getrack word ná hulle universiteitstudies, enersyds om latere terugvoer in te win, en/of andersyds om hulle in te span as fasiliteerders in die toekoms,
  6. Volhoubaarheid, kontinuïteit en wetenskaplike verslagdoening aktief ingebou word in elke leierskapsontwikkelingprogram op só ’n manier dat dit oop en deursigtig is vir befondsers,  fasiliteerders en deelnemers,
  7. Finansiële volhoubaarheid en begrotingsmodelle duidelik uiteengesit word, sowel as die personeel om dit te monitor en te bestuur,
  8. Leierskapsontwikkelingsprogramme sover as moontlik gesertifiseerd moet wees.

* * *

Help my asseblief deur verder hieroor na te dink.  Watter kriteria sou jy daarstel om die sukses/tekort aan sukses van bestaande studenteleierskapsprogramme mee te evalueer?

April 6, 2009

Leierskap #5 – om leiers op te lei

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 2:29 nm
Tags: ,

Studenteleierskap is ‘n tawwe toffie.  Veral op ‘n kampus met weinig kontinuïteit.

Nietemin, gestel dit is moontlik om opleiding aan voornemende of pasverkose leiers, te verskaf – watter generiese- en spesifieke vaardighede het studenteleiers nodig?

Studentegesentreerde inhoud en aanbieding

Vantevore het die Studentesake-omgewings wel opleidingslesings aangebied oor onder meer alkohol- en studietydbeleide in koshuise.  Maar sulke fokusse is ver verwyderd van studentleiers se alledaagse organisatoriese uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Dit sou goed wees as ‘n mens, as vertrekpunt, kan vasstel wat die uitkomstes van ‘n leierskapsopleidingprogram moet wees.  Help my asseblief met só ‘n lys.

Hierso is my lys tot dusver:

Generiese leiersvaardighede

Studenteleiers moet:

  • die pligte en verantwoordelikhede van die verskillende kampus-leierskapstrukture begryp en weet waar hulle, binne hulle onmiddellike komitees/strukture, inpas
  • die oorhoofse uitdagings en fokusareas van die Universiteit kan identifiseer en relativeer tot hul eie omgewings
  • algemene kommunikasievaardighede, -metodes en -tegnieke kan inspan om idees op- en af te wentel binne hulle omgewings
  • ‘n komitee(s) uit verteenwoordigende lede kan saamstel, hulle motiveer en die werk sinvol delegeer
  • tipiese risiko’s kan identifiseer en krisisbestuur in verskillende nood-scenario’s toepas
  • gesprek binne hul omgewings fasiliteer en konflik oplos
  • dagboek kan hou van gebeure, datums, afsprake, tydlyne, en genoeg tyd inruim vir persoonlike welsyn en akademie
  • hulle aktiwiteite/projekte/prosesse krities kan evalueer en verslag kan doen daarvan
  • met die nodige etiket en takt e-posse beantwoord en vergaderings bywoon

Spesifieke leiersvaardighede

In die verskillende portefeuljes wat studenteleiers beklee, is daar onder meer die volgende spesifieke vaardighede wat hulle moet bemeester.

Studenteleiers moet:

  • omsien na alumni-behoeftes (oud-studente, argief, reünies en kommunikasie aan oud-studente)
  • beleide interpreteer, skryf en herformuleer
  • borge inwin, met die nodige vooraf- en agterna-dokumentasie (borg en dankbriewe)
  • omsien na die welwees van medestudente (wat akademie en leef-en-leer omgewings betref, maar ook aktuele kwessies rondom middele-misbruik, ens.)
  • gemeenskapsinteraksie bevorder, hetsy deur opheffingsprojekte te reël of deelname aan gemeenskapsbou-aktiwiteite aan te moedig
  • funksies (soos danse en prysuitdelingseremonies) met die nodige omsigtigheid - aandag aan detail – kan reël
  • ontspanningsaktiwiteite fasiliteer wat verskillende tipe mense in kontak met mekaar kan bring, ten einde ‘n gemoedelike atmosfeer van wedersydse respek te skep
  • verhoudings met verskillende instansies (koshuise/wyke/verenigings) opbou om gesamentlike (multikulturele) aktiwiteite aan te pak
  • kreatiewe idees kan genereer, kommunikeer en fasiliteer
  • notule kan hou, agenda’s opstel en begrotings kan bestuur
  • sportspanne se wedstryde en -afrigting koördineer
  • verwagte items en publikasies betyds kan uitbring

As jy ‘n studenteleier was, of ene wil wees – kyk bietjie krities of daar nie nog tot hierdie lysie gevoeg kan word nie.

En, as jy nie soseer ‘n leier was nie, maar wel verskillende termyne sien kom- en gaan het, watter vaardighede kan jy identifiseer wat tipies nodig is op studentevlak?

Oktober 8, 2008

Doop op ‘n surf-kamp

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 7:50 nm
Tags: , , ,

Seniors dwing nog steeds gesag op juniors af; ongeag die Handves van Menseregte. Dopery van graadaggies (standerd sesse) is dalk afgeskaf, maar die praktyke steek oral kop uit.  Kyk af!

   

Hulle word verneder, hulle hare word geskeer en hul kaal lywe word met afval besmeer.  Geluk!  Jy het WP-kleure in surfing!  Ouboet is trots op jou!

Maart 25, 2008

Leierskap #4 – om te té te wees

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 9:31 vm
Tags: , ,

Normaalweg sal mense jou aanraai om gebalanseerd te lewe; om nie te té te wees nie.  Hulle sal sê: moenie te veel praat nie, maar moet ook nie te min praat nie; moenie te min kerk toe gaan nie, maar ook nie te veel nie; moenie te veel leeglê nie, maar moet ook nie te veel werk nie, ens.  Streef na ‘n balans.

Ek sê bogger dit.

As ‘n mens met integriteit lewe en jouself probeer wees, ten spyte van jouself, ter wille van ander, ongeag die situasie, dan moet jy soms te té wees.

Jy moet soms te min drink.  Glad nie rook nie.  Te knaend kerm oor iets wat jy sien wat verkeerd is.  Te min leer vir ‘n toets.  Te lief wees vir iemand.  Te eerlik wees.  Te kwaad wees.

‘n Gebalanseerde lewe is nie vir almal nie.

Om ingrypend leiding te neem, moet jy moet jy bereid wees om te staan vir iets en te veel te glo dat dat dit belangrik is.

Onthou, leierskap het min te doen met gewildheid.  As jy oormatig en ongebalanseerd is, gaan minder mense moontlik van jou hou, maar as ‘n mens praat van situasionele leierskap (om te doen wat ‘n situasie vereis), dan behoort gewildheid en populariteit tweede viool te speel tot dit wat gedoen moet word.

Leef soms té intens.

Maart 11, 2008

Leierskap #3 – die illusie van superman

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 9:03 vm
Tags: , ,

Daar is baie definisies van en baie opinies oor leierskap.  Dink gou vir ‘n oomblik: wie is jou ideale leier?

Miskien het Obama of Clinton by jou opgekom, Madiba of Ghandi, Tutu of Hitler.  Dalk het jy outomaties aan die hoofseun van jou graad 8 (standerd 6) jaar gedink, of die prim van jou koshuis.  Dalk dink jy aan ‘n skoolhoof, ‘n familielid of ‘n predikant?

Dis natuurlik van die mens om – sodra jy gekonfronteer is/word met so ‘n wye verskeidenheid van mense wat “leiers” genoem word - te probeer sif en onderskei wat dié mense se ooreenkomste en verskille is.

Baie skrywers en pop psychologists het juis dit al probeer doen en na vele onderhoude en studies ‘n klompie algemene karaktertrekke vanuit almal probeer aflei.

Ek dink nie dit kan soseer gedoen word nie.

In my betreklike kort blootstelling aan verskillende leierskapskringe, is dit vir my duidelik dat jy geheel en al verskillende tipe mense in die samelewing kry wat in verskillende situasies die voortou neem.

Dink aan Bill Gates en Oprah Winfrey, Thabo Mbeki en Jacob Zuma – dié persone verskil heeltemal van mekaar in geaardheid, gewildheid en geloofwaardigheid.

As jy in ‘n Madame Tussauds wax museum instap en rondstap, sal jy agterkom dat al die politieke leiersfigure verskil t.o.v. liggaamsbou en -grootte.  Tog, as ek aan ‘n formidabele leier dink, kom die image van ‘n groot, sterk superman-tipe ou op (of die beeld van Margaret Thatcher) by jou op.  Iemand wat – in sy teenwoordigheid – fisies ‘n statuur het wat jy nie kan miskyk nie.  Wat enige tyd sy Clark Kent-brilletjie kan afhaal en wondere kan verrig.

Tog is dit nie die geval nie.

Eers wanneer die massas dit besef, en die illusie van strokiesprent-helde uit die kollektiewe konstruk van leierskap verwyder, sal ons kan stem vir ware leierskandidate – mense wat minder hard hoef te werk aan ‘n superhero image, en meer partygeld kan spandeer op volhoubare ontwikkelingsprogramme.

O Captain! my Captain!

February 28, 2008

Kovsies, humor en ‘n pot vol pis

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 4:07 nm
Tags: , , ,

My blog is nie juis ingestel op die sake van die dag nie.  Maar ‘n greep van die volgende video: http://www.dieburger.com/files/Universiteitsvideo.wmv het die afgelope twee dae opslae gemaak.  Slegs die laaste vier minute van die 10 minute is oor die internet en wêreldwyd oor televisienuus versprei.

Wat is jou opinie hierrondom?

As ‘n mens die hele 10 minute deurkyk, kom jy agter dat die vier minute-uittreksel nie ‘n juiste refleksie is van die gees waarin die hele video verfilm is nie.

Daarmee praat ek geensins die gedrag, onderliggende rassisme of sin van humor (of keuse van onderwerp) van die Kovsies se Reitz-koshuisinwoners goed nie.

Maar hoe moet studente wat ongewoond is aan integrasie (by Kovsies het die studente die afgelope paar jare aangedring om te bly in aparte koshuise vir wit en swart studente), oor die verpligte integrasie praat as hulle nie daarmee die spot kan dryf en dit verironiseer nie?

Hm.  Almal soek nou bloed.  Die ouens wat die video gemaak het se koppe moet rol.

Intussen woed chaos: http://www.dieburger.com/Stories/News/17.0.164694496.aspx

(Is dit nie ‘n sqweegy-bottel wat die ou links-onder sy t-hemp uitgehaal het nie?)

February 14, 2008

Leierskap #2 – pubs! en impetus!

Ek het gistraand ‘n baie aangename ervaring gehad toe ek uitgenooi is na ‘n pub-opening by my universiteitskoshuis van jare terug.

Nie net was die whisky besonder goedkoop nie, maar die koshuis se kuierplek is vergroot tot ‘n huge lokaal, met badkamers binne, groot kroeg-toonbanke en selfs ‘n verhoog.

Die aangename ervaring was dat dié droom van donkiejare terug uiteindelik (sistematies) kon realiseer het, omdat die projek suksesvol oorgegee is vanaf die aanvanklike inisiëerders tot ‘n ywerige kuierkroegman, en uiteindelik tot ‘n hardwerkende huiskomiteelid wat al die katte se sterte geknoop het ( in samewerking met oud-inwoners).

Gewoonlik sukkel studenteleierskap met sulke langertermyn projekte, juis omdat daar min kontinuiteit vanaf die een jaar na die volgende is.  Die grootste les wat ek in my “goeie ou dae” geleer het, was dat ‘n mens se grootste verantwoordelikheid binne ‘n vlugtige leierskapsisteem, nie net is om die idee/visie te formuleer en hard te werk om dit te verwesenlik nie, maar om die impetus (die ywer) oor te gee aan die generasies wat na jou kom.

Op skoolvlak dink ek ook ‘n leier se taak is nie bloot om ‘n goeie Valentynsbal te reël nie, maar om seker te maak dat daar ‘n verbeterde rigting is waarin die dans “beweeg” en dat daar met wetenskaplike verslagdoening (kriteria waaraan jy die sukses kan meet) ‘n “idee” oorgegee kan word aan ‘n komitee wat bestaan uit verskillende jaargroepe.

Daar is heelwat modelle waarvolgens leierskap gedefiniëer kan word.  Dikwels verwys mense na ‘n persoon as ‘n leier weens sy fisiese kwaliteite (grootte, praatvermoë, statuur).  Soms is ‘n persoon outomaties ‘n leier weens sy/haar posisie (hoofmeisie, primarius, afdelingshoof).  Ek verkies die breër beskouing dat enigiemand ‘n leier kan wees as hy/sy doen wat die situasie vereis.

Die pub het nie gerealiseer omdat die ouens wat dit gedryf het imposante rugbymanne was nie; ook nie omdat hulle almal in leiersposisies was nie, maar omdat hulle op die regte tyd en plek die regte hoeveelheid effort ingesit het om ‘n visie te realiseer.

As jy dus kort is en hakkel, nie deel is van die VRL nie, maar steeds sien dat die situasie ‘n sekere klomp effort vereis, dan kan jy leiding neem, ongeag.  As jy ‘n normale landsburger is en sien daar kort recycling bins in julle omgewing… dan kan jy leiding neem.

Vantevore, veral in Afrikaanse kringe, is leierskap “uitgekontrakteer” aan verkose kandidate.  Mense het gestaan vir posisies van leierskap, omdat dit status aan hulle verleen het in die vorm van ‘n wynrooi baadjie (of ‘n prefek-balkie).  In ruil daarvoor moes hulle dan sekere operasionele take verrig: die valentynsbal reël en die graad 8’s (of eerstejaarstudente) inlyf/doop/oriënteer, of hopelik deesdae: verwelkom.

Binne ‘n demokratiese bestel word alledaagse mense egter juis bemagtig om leiding te neem waar die situasie dit vereis, en moet die verkose amptenare eerder ‘n fasilitering- en verteenwoordigingsrol vervul.

So, watter projek gaan jy aanpak om van die onmiddellike wêreld om jou ‘n beter plek te maak?  Hm?

Januarie 11, 2008

Leierskap #1 – Stop leerlingrade nou!

Filed under: Studenteleierskap — mnr.muller @ 9:29 vm
Tags: , , , , , , ,

Heelwat skole glo nog in Leerlingrade, in die tradisie dat daar hoof- en onderhoofseuns en/of -meisies moet wees.  Daar is ook ‘n Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL), maar dié funksioneer selde as ‘n verteenwoordigende liggaam, en ploeter meestal voort op die ou klasleierstelsel van toeka se dae af.

Eintlik is die idee van verteenwoordigende leierskap, soos wat ek dit verstaan, dat leerderkwessies moet opwentel tot by die Skoolbeheerliggaam (SBL) en SBL-sake weer afwentel tot op die leerders se vlak.  Daarom kan ’n mens die funksie van ‘n VRL goed verstaan.  As jy sake vanuit die verskillende klasgroepe wil kry of terug aan hulle wil kommunikeer, dan help dit mos om twee leerders uit elke klas in een plek bymekaar te kry.  Dan kan mense met mekaar gesels.

Maar wat is die doel/funksie van ’n Leerlingraad/Prefekte/Kabinet/Matriekraad? 

  • 15% van één graadgroep (matrieks) is nie verteenwoordigend van ’n hele skool nie.  Dus kan ‘n Leerlingraad nie die op- en afwentelingsfunksie wat nodig is by die SBL, vervul nie. 
  • Matrieks se skooljaar is ingekort, omdat hulle al vroeg begin met mock exams en matriekeindeksamens.  Hulle word daarom selde belas met die verantwoordelikheid om sosiale funksies (valentynsbal, ens.) te reël – dit ressorteer gewoonlik onder ‘n graad 11 “matriekafskeidskomitee”.  Hulle het dus niks om te “doen” nie.
  • By die meeste skole moet prefekte ’n toonbeeld wees van netheid en goeie gedrag, en ander leerders aanspreek wat reëls of gedragskodes oortree.  Hulle beklee dus die amp van “polisieman”.
  • Die Leerlingrade by die meeste skole word wel ingespan om die graad 8’s te “oriënteer” t.o.v. die skool – om trots en respek by hulle te “kweek” in die eerste week.

Ek vermoed die idee van Leerlingrade is uitgedien.

  • Die Wet op Hoër Onderwys vereis verteenwoordiging op die SBL d.m.v. die VRL.
  • Om van leerders te verwag om ander leerders te dissiplineer, skep ontsaglike hoeveelheid (moontlike) probleme t.o.v. menseregteskendings.
  • Die ongesonde hiërargie binne ‘n skool wat matrieks mag gee oor die res van die leerders (veral graad 8’s), word met ‘n matriekraad-stelsel versterk.
  • ‘n Graad 8 verwelkomingskamp kan, myns insiens, netso effektief deur die VRL (saam met ‘n paar onderwysers) gelei word.  Die VRL-leerders kom uit verskillende grade en kan die graad 8’s moontlik makliker op hulle gemak laat voel (as groot matrieks wat hulle met hulle houding en diep stemme intimideer).
  • Die voor- en ondervoorsitters van die VRL kan die seremoniële pligte van ‘n tradisionele hoof- en onderhoofmeisie oorneem.

Ek vermoed die meeste skole besef al lankal dat Leerlingraadstelsels nie werk nie.  Hulle weet daar is geen uitkomste wat hulle moet bereik nie, en dat daar nooit tyd vir nabetragting van of refleksie oor ‘n termyn is nie, of vir wetenskaplike verslagdoening oor jou jaar as “leier” nie.

Leerlingrade lewer nie noodwendig leiers op nie; inteendeel, dikwels word bloot die gewildste (grootste) vriendekring tot feitlik die hele Leerlingraad verkies.  (En vandaar ontstaan daar oneindige probleme, want jou gewildste leerders kuier mos maar ‘n bietjie, drink ‘n bietjie, rook ‘n bietjie – en is dan juis nie die geskikste persone om ander leerders vir rook-op-die-speelgronde te bust nie.)

Leerlingrade, Prefekstelsels, Matriekrade, Kabinette…  Al hierdie liggame, vermoed ek, doen meer skade vir leerders – en hulle skole – as goed.  Dit word ‘n balkie wat nagejaag word omdat dit jou gewildheid – as tiener – bevestig (op ‘n tyd in jou lewe wanneer jy baie kwesbaar is vir verwerping of uitsluiting), en as jy dit maak, word jy nie bemagtig om enige leiding in die skool te neem nie.

Wat in praktyk gebeur, is dat elke Leerlingraad die Kabinetskamertjie elke jaar net oorverf.

Blog at WordPress.com.