Ek sien ek pryk op ‘n foto by LitNet: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=68462&cat_id=254
Kyk of jy my kan vind tussen al die hooggeplaasdes en edele profete!
Ek sien ek pryk op ‘n foto by LitNet: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=68462&cat_id=254
Kyk of jy my kan vind tussen al die hooggeplaasdes en edele profete!
Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.
So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree. Hy probeer sy bes. Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.
Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.
Ek kyk en besluit hier moet ek help!
* * *
Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.
Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!
Die dogtertjie lag!
Ek frons en loer wantrouig die brander agterna. Sy kyk hom ook, stip.
Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…
Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe. Sjoe!
Die dogtertjie skater!
Reg, ek het geconnect. Nou vir die les.
Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie. Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in. Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken. Dawerend die noodlot trompop tegemoet! Basta met bangwees!
Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.
Haar pa hou sy asem op.
Sy kyk my na.
Selfs omstanders staan stil.
En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug. (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek - met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!
Sy is verstom!
En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water. Haai, haai, joegaai! Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak.
Sy is oorstelp! In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie. Maar die punt is, sy glo die leuen. Sy glo die les. Van oor-tot-oor glo sy my. As hierdie snaakse omie kan…
Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.
* * *
En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:
Die krulletjieskopkind los haar pa se hand… beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!
Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!
Hy skud sy kop.
Sy lag.
En ek stap rustig aan.
Sondag in die natsand wandel ek toe voetsoolvlak langs die see. Alleen tussen skares strandsambreel-baaikostuum mense.
Begin somer.
Ek mis ‘n tennisbal in my hand en my ouer broers en suster hardlopend op die strand. Só sou ons balgooi en -vang en aspris-aspris mekaar injaag met tergende gooie kniedieper die see in. Destyds.
Sug. En dis hoeka laaggety: Hardloopspasie so wyd soos ‘n kind se bravade.
* * *
Maar toe, terwyl ek nog terugverlang, en asof in ‘n droom, stap ek wragtig verby ‘n kind met wicket keeping gloves aan en twee dieprooi krieketballe! EN niemand om dit vir hom te gooi nie!
Die kind is raadop, maar ek is voorop en skimp-wink vir ‘n bal; hy gee albei. Ek draai na sy ma en hou ‘n bal vraend in die lug; sy knik, al te verlig. (Sy speel met twee jonger kinders in die vlak water. Pa dobber in die diepsee.)
En só begin dit toe!
Ek beduie bietjie terug; hy draf agtertoe. Ek wys opwaarts; hy knak sy knieë. Ek slinger die bal met ‘n boog in die lug, en hy steier flink en doelgerig terug.
So hoog het hy waarskynlik nog nooit ‘n bal moes vang nie – onthou, ek het ‘n goed-geoefende rocket launch aksie. Die rooi spikkel verdwyn oor ‘n seemeeu se rug bokant die son en val soos ‘n meteoriet vuurwarm uit die hemellug.
Sy oë op die bal; my oë op sy hande. Vasgenael. Kaplaks!
Ek klap my hande gelukwensend; hy glimlag breed en rol die bal terug. Skud sy hande.
Heen en weer hardloop hy; sy ma loer soms om en cheer hom aan as hy naby kom. Dán ’n paar vinnige inskieters wat – ek weet – selfs deur die handskoene brand, gevolg deur ‘n paar hoë catches, en ene waarvoor jy moet omdraai, hardloop en oor jou kop moet vang; dan op die sagte sand sodat jy kan duik.
Uiteindelik groet ons; albei glimlaggend moeg.
En sonder ‘n enkele woord gewissel, sê ons totsiens.
In ‘n vorige post vat my lesers mekaar aan oor hulle woordgebruik. Die een sê die woord “woer” moet in sy moer in vlieg.
Self voel ek ambivalent oor al die vertalings wat Jan Internet aanpak: Oornag het my Facebook in ‘n boer verander en vandag praat my WordPress ook Afrikaans.
Die ding is vertaalkuns is maar moeilik.
Elke Jan Rap en sy google kan nie sonder meer frases oorplaas in ‘n ander taal deur net losstaande woorde te wil vertaal nie; jy verg ‘n vaardige fundi wat ‘n idee soomloos kan vertolk.
* * *
Ook in die akademie sukkel mense met die skep van behoorlike vaktaal-terminologie. Computer jargon klink weird en fake in Afrikaans: Dubbel-klik met jou regtermuisknoppie op die Vensters-ikoon. Ugh.
So, hoe gemaak met internetjoernalistiekterminologie? Skep jy nuwes of copy en paste jy die Engelse woord? Tik jy dit in italics? Hm. My voorkeur is dat jy ‘n nuwe post pos op jou blog.
* * *
Wanneer ek langs die Strand se kuslyn wandel, grief dit my telkens as ek die nuwe woonstelblokke se name lees: Topaz, Hibernian Towers, ens. Ek sou die groot blou-gebou so graag wou Bloublasie noem en die groene Khula Khaya (khula = groei/vry wees en khaya = huis/tuiste). Tsk.
* * *
Ek dink die truuk is om ‘n bietjie nederlands te gaan oplees om waarlik briljante neologismes te kan skep. Oerwoorde wat ons al vaagweg verloor het, opdiep en heraanwend.
* * *
Uiteraard is ek ‘n voorstaander van die T-opsie: ek glo meertaligheid bevorder begrip.
Die winde van Stellenbosch waai selfs jou sinne deurmekaar.
deur sinne waai Stellenwinde selfs jou vanbosch Diemekaar.
mekaar deur sinne waai selfs jou Stellenbosch van Die winde.
deur windenbosch jou Stellewaai selfs Die sinne vanmekaar.
sinmejoukaar Diewaai selfsStellen deurvan boschwinde ne.
DieStellen van sinnewaai deur windebosch selfs joumekaar.
Stellenjou van deurwaaimekaarwinde selfs Die boschsinne.
Vanselfs waaisinne deurbosch jou Stellenwinde Die mekaar.
Die sinne van Stellenbosch waai selfs jou winde deurmekaar.
onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent
span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf
waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf
waar ons op die leer rusbank mekaar helder oordag ontklee
glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
en in ons nabyheid klink musiek, af in die straat raas kinders en die bure se worshond blaf
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief
glimlag ons vir mekaar en my hand streel oor jou bors en langs jou heup
jou gesig distort telkens as jy inkom vir ’n soen
terwyl ons ons onderlywe reëlmatig wieg, my lief
span ‘n sagte songloed oor jou naakte lyf
* * *
Seinde ek in my vorige pantoen te veel leestekens gebruik het, het ek bogenoemde ene kaalgestroop.
Dis nogals tricky – maar belangrik, vermoed ek - om die enjambement (die oorloop van een versreël na ‘n ander, oftewel die vloei van twee versreëls in mekaar) in ‘n pantoen reg te kry (seinde die herhaling van versreëls die volgorde waarin hulle voorkom teenoor die ander reëls, verfomfaai).
Ek het die begin/eindreël aanvanklik vanaf ”onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent span ‘n gloed om jou lyf” verander na ‘n tipe stelsin “‘n sagte songloed span oor jou naakte lyf onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent” en uiteindelik na die opdrag (in die eerste versreël) wat vervorm tot ‘n stelsin (aan die einde) a.g.v. die enjambement/samevloei van die voorlaaste versreël. Ook het ek die “onder die…voetenent” uit die gedig gesny en tot die titel verhef. Ek’s onseker of wat ek gedoen het die beste opsie was, maar nou ja, lewer gerus kommentaar.
Let op dat daar geen beperking op die lengte/vorm van pantoene se versreëls geplaas word nie; dit sou dus – soos ook in my insomnia-pantoen (met die leestekens) – ‘n interessante besprekingspunt kon wees: Hoe dra die lengte van die versreëls (of die gebruik van welke leestekens ook al) by tot die tematiek/atmosfeer van die gedig?
Of ‘n gunsteling vraag: Hoe verskil die funksies van die dubbelpunt aan die einde van die eerste versreël met dié van die laaste versreël van die pantoen-gedig Langafstrand? Haha – onthou, jy het nie ‘n grootmeester se gedigte nodig om poësie te onderrig nie. Gebruik eerder die leerders se eie outentieke tekste, hulle eie pantoen-probeerslae, om oor enjambement en klankrym, ens. te gesels.
Die slagspreuk lui mos: Tell me and I will forget; Show me and I will remember; Involve me and I will understand.
Anyway, alle voorstelle en kritiek is welkom; ek beskou hierdie pantoene as ‘n lekker skryfoefening. Probeer gerus ook ene!
Pantoen vir ‘n moeë liggaam | Ontgaping van die moeë siel
…die wydtes van die slaap ontgaan my
| klam ingebed onder die dun kombers |
…tik…die…tyd…deur…my…kop…
~ my gedagtes dwaal deur die dag se gedane dinge ~
| klam ingebed onder die dun kombers |
- dan rol ek om en knies my voosgevoude kussing!
~ my gedagtes dwaal deur die dag se gedane dinge ~
En ek bid vir die rus om te kom… maar:
- dan rol ek om en knies my voosgevoude kussing!
…tik…die…tyd…deur…my…kop…
En ek bid vir die rus om te kom… maar:
…die wydtes van die slaap ontgaan my
* * *
Haha, ja-ja, ek weet ek het dit oordoen met die leestekens, maar nietemin – ek hou van die pantoen-digvorm. Jy sal sien dat daar hierbo eintlik net ses unieke versreëls is wat elke keer volgens die patroon elders in die vers herhaal.
Die herhalende reëls vorm – anders as waaraan ons gewoond is – ‘n rustige, sikliese ritme. Die digvorm het dit derhalwe nie ten doel om, soos miskien met ‘n sonnet, ‘n gedagteprogressie op die spits te dryf nie; eerder om juis die eb en vloei van ‘n gedagte/gevoel/emosie voor te stel. Amper soos ‘n wiegende mantra.
Probeer gerus self!
Hoe meer ek met pantoene en cinquiane rondspeel, hoe meer wonder ek of digkuns ‘n ambag is wat aangeleer en ingeoefen moet word, of nie. Kan jy dit aanleer of is dit ‘n ingebore talent wat slegs aan enkelinge beskore is?
Op skool word poësie dikwels as ‘n mistieke entiteit aangebied. Ons word agterstevoor onderrig: eers die meesterstuk, dan definisies en voorbeelde van die elemente van goeie poësie (rym, ritme, ens.). En dan, eers nadat als bespreek en opgesom is, moet jy ‘n gedig oor ‘n lukrake onderwerp produseer as huiswerk vir die volgende dag.
Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hoe om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is.
Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hóé om ‘n cliché te herken of rymwoorde só in te span dat dit nie soos ‘n Kurt Darren song klink nie.
Die tricky ding is, goeie digters flans verskeie emosionele assosiasies saam in nuwe beelde, logies-georden met ‘n klankrykheid en -ritme. Hulle span hulle kreatiewe en logiese denke afwisselend in. Onderwysers moet dus éérstens ‘n emosionele respons by leerders wek, tweedens vir hulle begelei om dit kreatief te verwoord en derdens krities te verfyn.
Ongelukkig is daar nog ‘n bykomende stap: leerders moet eers hulle vrees vir foute-maak verleer. Poësie moet dalk nét formatief (met opbouende kommentaar) geassesseer word, en nie vir ‘n rapportpunt gemerk word nie.
Leerders moet die vrymoedigheid hê om onklaar gedigte klas toe te bring en saam-saam mekaar te kritiseer en raad te gee. Hulle moet gesels oor wát hulle wou bereik, sê hoe hulle dit probeer doen het, en vertel waarmee hulle nog sukkel. Só ontmoet die onderwyser hulle op hulle vlak.
Wat die onderwyser wél kan bepunt, is leerders se refleksies oor die skryfproses. As jy kan agterkom dat ‘n leerder gewroeg het met aspekte van sy/haar gedig(te), dan is dit goed.
Bogenoemde is ‘n heel anderste proses as wat ons tans in skole pleeg. In skole ontleed ons poësie van die meesters en bepunt die rymelary van die leerders. Die illusie word geskep dat digters ‘n ander spesie is; gebore met ‘n goue pen in die hand - nêrens op skool sien ons dat selfs die groot name met woorde wroeg/gewroeg het nie.
Beide die cinquian en die pantoen is nuttige digvorme om leerders te begelei om te waag, speel, probeer, kritiseer, aanpas en weer te probeer.
Maar eers moet jy die gevoel/emosie aanwakker – dit is die eerste stap.
Die digkuns is, volgens my, nie so gehul in die mistiek as wat ons dikwels dink dit is nie. Almal kan dig; dis bloot ‘n vaardigheid wat jy moet slyp. Of hoe?
Om gedigte makliker te skep, gebruik digters al eeue lank vaste digvorme om struktuur en vorm aan hulle gedagtes te gee.
Op skool leer ons van Engelse en Italiaanse sonnette, maar in Afrikaans is daar handiger digvorme, veral ontleen aan Oosterse digkuns, om ons woorde in te giet. Prettige voorbeelde is die Haiku, Tanka en Pantoen, maar met hierdie inskrywing wil ek jou uitdaag om ‘n Cinquian te probeer skryf.
Speel ‘n bietjie rond; hierso is die patroon:
‘n Cinquian het vyf rymlose reëls, met altesaam sowat 11 woorde of 22 lettergrepe in die hele vers, wat soos volg in die reëls gegiet word:
Hier volg my probeerslae – dis ‘n work in progress, so enige en alle kritiek is welkom!
SEWE SEE CINQUIANS
Lewensredder
Sonbruin kurwes;
Jy tuur deur skuimbrandings…
…langs lense wat jou lie(f)s beloer:
Lokaas-lyf
Vlieërs
Bont sterte
Wat swieg deur die winde –
Ons kyk oopmond na helder lig
Spieëlings
Kasteel
Hoë torings
Opgestapel met sorg
En trots versier met wier en skulp –
Spoelsand
Kanoe
Rooi roeispane
Oor golwe deur bamboes
Roei ons rustig, ontspanne by
Onrus
Lyfplankryer
Jou lyf lenig
Teen die plank gedruk
In afwagting op die deining
Waaghalsseun
Visterman
Gehard en fris
Sirrrrrrits jy in ’n boog
Jou Weskushoek in die gety
Hardebaard
Nuwejaar
Lywe oral
’n gewoel en gelag
2008 vergaan in
Vuurwerke
Probeer gerus jou eie cinquian skryf, of help my met myne.
Wat lekker aan dié digvorm is, is dat die cinquian jou help/forseer om jou woorde elegant onder mekaar te orden.
Probeer gerus om ‘n pantoen te skryf. Dis ‘n digvorm waar versreëls in die daaropvolgende strofes herhaal. In Afrikaans help dit jou veral om iets meesleurends te skep.
Die digvorm verg slegs ses oorspronklike reëls wat dan volgens die patroon verdubbel en gerangskik word om oor twaalf reëls te strek. Die laaste strofe skryf heeltemal homself! En rym is opsioneel.
Strofe 1
Reël 1
Reël 2
Reël 3
Reël 4
Strofe 2
Herhaal reël 2 (strofe 1)
Reël 5
Herhaal reël 4 (strofe 1)
Reël 6
Strofe 3
Herhaal tweede versreël van strofe 2 (reël 5)
Herhaal reël 3 (strofe 1)
Herhaal vierde versreël van strofe 2 (reël 6)
Herhaal reël 1 (die heel eerste versreël van die gedig)
In die gedig hieronder het ek my verbeel ek staan op my oorle ouma se woonstelbalkon en staar na die see, die verte in.
Langafstrand
Anderkant die horison:
Waar die see die strand ontmoet,
Trek die gety nou terug;
En in rotspoele krioel die lewe
Waar die see die strand ontmoet,
Daar spoel die seeslakkies uit –
En in rotspoele krioel die lewe
Soggens en saans teen ’n verre kus
Daar spoel die seeslakkies uit –
Trek die gety nou terug;
Soggens en saans teen ’n verre kus
Anderkant die horison:
Lees nog pantoene op Estelleke se blog en speel-skryf saam. Dit hoef nie meesterlike digkuns te wees nie; slegs ses reëls – ek is seker jy kan!