om só te wil val deur die wal van die wil | Synaptic dance

Standard

Van welke weergawe hou jy die meeste: die oorspronklike Engels of verwerkte Afrikaans?

Mag ’n mens werklik in beide tale dig? Of verraai jy jou onvermoë om te vertaal én te tolk?

Verwater jy jou woorde of duik jy dieper die donker dieptes in?

>>

om só te wil val deur die wal van die wil


langs die meer breek die water en

reflekteer in skerwe

die landskap van my kop

’n aardige drif dié om só te wil val deur die wal van die wil in skerwe

die landskap van my kop die berg word ’n beer word ’n berg in ’n boot

om só te wil val deur die wal van die wil bloots die broosheid van god

die berg word ’n beer word ’n berg in ’n boot ’n aardige drif dié

bloots die broosheid

van god langs die meer

breek die water en

reflekteer


twin lakes

Synaptic dance


next to the lake the waters shimmer; reflect

a kaleidoscopic landscape off into our mind’s eye

it’s a curious, wanting thing, see

stepping into the image of a mirrored surface


a kaleidoscopic landscape off into our mind’s eye

against the backdrop of a mountain a bear a bare mountain barely there, a boat

stepping into the image of a mirrored surface

the thin veneer of life, the idea of god a final obstacle


against the backdrop of a mountain a bear a bare mountain barely there, a boat

it’s a curious, wanting thing, see

the thin veneer of life, the idea of god a final obstacle

next to the lake the waters shimmer; reflect

verganklikheid (ii)

Standard

madogter

Mamma se huldeblyk

My ma se arm is warm en ruik na die son. Dit kom van haar regterarm rus teen die Golf se venster as ons Beau Soleil toe ry (vroegmiddag direk ná skool om die verkeer te mis; met die radio stil sodat sy kan konsentreer op die pad én luister na haar kinders se dag). Dit is ’n pad wat sy tot driemaal per week vir ’n dekade-en-’n-half Wynberg toe ry vir vier kinders wat viool-, dwarsfluit- en perkussie-lesse neem en in stryk-, blaas- en simfonie-ensembles speel.

Ek ruik die son op my Ma se arm as ek my langs haar inwurm op die bed (met my “klipkop” in die kussing van haar skouer) terwyl sy boeklees of TV kyk. “Die storielyne is maar laf, ja, maar die akteurs se spel is knap; hulle laat die mees vergesogte gebeure amper geloofwaardig lyk,” verdedig sy die één sepie wat sy jarelank kyk en waaroor ons haar graag terg. En óm die beurt word Tim en Karen, Ludi en ek elk geleer om (effens teësinnig) ’n kannetjie tee te maak omstreeks dié tyd – en met die koppie met-die-dun-lippie, op ’n ronde skinkbord met ’n lappie, en die klein bekertjie melk – versigtig aan te dra: die één pamperlang wat sy haarself gun vir vier kinders se goed-grootmaak. (Ook eintlik ’n slinkse etiket-les: want ’n seun moet leer hoe om eendag as man vir sy vrou ’n koppie tee te maak.)

My mother was born in 1946 on hér mother’s birthday, the 29th of January. She was born in South-West Africa (what we now call “Namibia”) and was christened as Gisela Ingrid von Moltke, the elder of two daughters who did many things together: If one wanted to do ballet, both were sent for lessons! Swimming? Throw them in the pool! Tonsils? Take them all out two-by-two! She was not very fond of her first name “Gisela” (recently pronounced as “Dji-zella” by the nursing staff – making me think twice whether I was in the right ward) and was known only by her second name “Ingríd” to her family and friends (not to be pronounced “Ingrìd” as many Afrikaans people do). My ma was die dogter van Dirk Gebhardt von Moltke (of “Gebbie” soos my Oma hom genoem het) en Evamarie Grosskopf (of “Mauzie” soos my Opa háár genoem het). Diep-Duits dus van albei kante af: ’n Von Moltke gravin verwant aan verskeie grootkoppe in die onlangse geskiedenis: van ’n lojale militêre strateeg in die Ottoman empire tot ’n anti-Nazi bomplanter teen die Hitler-regime; van ’n Grosskopf sendeling-kerkvader tot die alombekende skrywer van Patrys-hulle.

(“Ag nee, haal eerder dié deel uit,” sou my ma seker sê as sy die huldeblyk sou proeflees. Aanvanklik, ná my pa se gedenkdiens was dit júís wat sy wou doen, en het sy my aangemaan om tóg hare solank te beginne skryf. Nou-ja…)

My ma-hulle word groot in Suid-Afrika, sy woon die Deutsche Schule Kapstadt by en begin haar hoërskooljare by Jan van Riebeeck, hierso in die einste Kloofstraat (waar háár pa ook skoolgegaan het); sy is na standerd ses nétmooi in die jaar toe my pa daarso met sy matriekjaar begin het. Sy studeer by die Universiteit Stellenbosch op ’n onderwysbeurs, met hoofvakke Engels, Duits en Frans, gevolg deur ’n Senior Onderwysdiploma waarmee sy by ’n paar skole gaan skoolhou, onder ondere op Robertson, by De Kuilen en ook weer híér by Hoërskool Jan van Riebeeck. Láter, toe ons oud genoeg was om toebroodjies vir onsself te maak in die middag, het sy ook halfdag by die Onderwysbiblioteek gaan werk.

Op skool en universiteit is my ma ’n toppresteerder. Sy verwerf WP-kleure in swem, speel trekklavier in ’n klein groepie wat gou bekendheid verwerf; word verkies tot Heemstede se eerste Huiskomitee en aangestel – aanvanklik sonder dat sy dit besef het – as Greylock (’n privaatkoshuis) se hoofstudent (of primaria). Van haar hegste vriendskappe vorm sy op skool en universiteit, maar vir my pa ontmoet sy eers jare later en trou met hom op 31 Maart 1973, die dag vóór Aprilgekdag. Net meer as ’n jaar later skenk sy die lewe aan Tim in Julie 1974, Karen in Julie 1976, Ludi in Oktober 1978 en aan my in Augustus 1980. Dít is nou Duitse presisie vir jou (nie soos Tim se kaboedel nie)! Om die geboorte van elke kind presies twéé jaar uit mekaar te beplan!

Met ’n groterwordende gesin verkoop my ma en pa hulle eerste huis wat hulle “Bali Hai” noem en trek na ’n tweede ene wat hulle “Little Orkney” doop, albei in Seepunt (naby die SAUK waar my pa gewerk het). Met my in doeke, soek en vind hulle ’n huis aan hierdie kant van die berg “Oppiehoek” waarnatoe ons sak-en-pak trek en nou herinneringe al vir meer as dertig jaar lank het.

In many families it happens that you gravitate either more to your father’s family or to your mother’s side, depending on who you are nearer to and the ages of the different families’ children. In our case we were geographically closer to my mother’s side of the family and we grew up with Tannie Heidi and Uncle Bob and their two children, our dear cousins Sandi and James. We spent most of our Easters and Christmases and many birthdays together – the German heritage of Opa and Oma infusing our childhood with rich, magical celebrations of Easter and Christmas Eve (Heiligabend) at my grandparents’ place. Wandering into a nursery filled with yellow, light-pink and white orchids to search for Easter eggs; the big opulent reveal of a Christmas tree flickering with lights and Weihnachten treats, -decorations and -music…

Dit is juis in hierdie tyd van die jaar wat ons, husse met lang ore, in die gang wag en probeer ontsyfer wát my ma in Duits oor die foon vir Oma of Tannie Heidi sê. Want ons weet sy het ’n kis by die voetenent van haar bed (waarvan ons belet is om te mag inloer) waarin sy allerlei geskenke heeljaar al vir ons versamel het. En heel moontlik namens Opa en Oma ook alreeds vir ons toegedraai het. Selfs wanneer ons veel ouer is, kan ons leëhand vir ’n partytjie opdaag en my ma sal iets vir ons daarin vind om sáám vir die een wat verjaar, te gee. Even in the hospital, Brian, my mother could instruct me where I would find the gift that I should take to Karen to wrap and give to Tim to give to you on your 70th. Not that we were ever showered with gifts from a bottomless chest; on the contrary, my mother would be the one to make sure that we all received a total number of gifts of equal value – and that it should be a modest amount; not too much.

My ma en pa skep vir ons ’n stabiele kindertyd wat kwalik gelukkiger kon wees: ’n stoep wat uitkyk oor die stad (én op die berg) met ’n tafeltennistafelblad en ’n groen mat waarop ons karretjies kon speel en met blokkies bou, en ruimteskepe uit Lego: Ludi s’n die vegvlieëniers; myne die posmanne. Ons sit kruisbeen in Kloofstraat se biblioteek en kies boeke uit vir die week: Tim verslind Isaac Asimov en Terry Pratchett, en ek hou my by my Asterix en Tintin, maar moet vir elke vyf van hulle ook één “regte” boek uitneem. Só verwissel ons weekliks stapels boeke, die meeste daarvan my ma s’n.

Sy behou haar liefde vir tale, reis en lees en toe ál haar kinders uit die huis uit is en my pa gesond, maar moeg vir rondrits, beplan my ma vir maande lank haar ideale oorsese reis met haar vriendin Tannie Marietjie oor die foon. Nes die deposito’s inbetaal is, word my ma met borskanker (ag jaar terug) gediagnoseer, en dit neem toe ’n hele ruk se chemo en gesondword voordat hulle uiteindelik wél oorsee vertrek. Dáár vaar hulle af met die Ryn-rivier, praat Duits en Frans met die locals en bekyk weer die gróén van Europa se gras. Dit was ons Opa wat destyds vir my ma, toe sy pas afgestudeer het, die geld sou voorskiet om met haar vriendinne die eerste keer oorsee te gaan; ’n ervaring wat sy met groot vreugde van vertel het – en ’n geleentheid wat sy vir elk van haar kinders ook beplan (en daarvoor voorsien) het.

Want vir óns het sy ’n breë opvoeding voorsien, méér as net ’n skoolopleiding of die geleentheid om Universiteit toe te gaan. Dit is nie net musiek nie, maar ook rekenaars wat ons buitemuurs neem; ons almal skryf in vir wiskunde- en programmering-olimpiades; onderlings neem ons deel aan musiek-, kuns-, mimiek-, sang- en drama-eisteddfods; wetenskap- en tegnologie-olimpiades; taalbondeksamens en debat; ons almal speel skaak, Tim speel tennis, Karen pluimbal en ek en Ludi krieket in die oprit tot ons die ghong vir aandete hoor slaan. Ons gaan na kleedrepetisies van operettas toe in die Nico Malan (die Artscape); Tim sing in Tosca … My ma het ons slím opgevoed: kleiner stukkies lap van díé wat ek oor my viool span as ek dit in die kis bêre, vind ek in my karretjies-koffer, sodat ek moet onthou om viool te oefen vóór ek begin om my karretjies op die mat uit te pak.

A wide, well-balanced range of interests is what my mother instilled in us. That is perhaps why Tim studies Journalism after his BCom in Statistics and Maths; Karen does a short massaging course after her MSc in Computer Science; Ludi chooses to work with school learners even though he could setup and maintain a computer network anywhere, and I do sketches and read Dutch poetry even though I work at a large burocratic institution. Ons is, glo ek, ’n interessante gesin. Mense frons oor ons gewoontes: dat ons vroeg wil aftree, uiters spaarsamig is, te ver vooruit dink, skepties is oor die nut van kwalifikasies; dat ons verjaarsdae kan uitstel; dat ons slegs gaan fliek vroegoggend in die vakansie as dit halfprys is, sonder spandabelrige uitgawes op opgepofte springmielies of ysverdunde gaskoeldrank.

Die narkotiseur vertel ons: nog nooit het hy ’n pasiënt ontmoet wat só ingelig was en met soveel presiese detail tred kon hou met wátter behandeling sy wáár ontvang het en wíé die doktors was wat wát voorgeskryf het nie. In die Medi-Clinic Kaapstad, Vincent Pallotti en die Medi-Clinic Stellenbosch moes die verpleegpersoneel bontstaan met wátter medikasie sy wánneer moes kry. My ma merk dit op ’n snesiesboks af as sy nie papier byderhand het nie – and woe the nurse that tries to give her a Panado when she feels it is not warranted yet. Bracing herself strategically for the pain and discomfort that she knows may yet be lying ahead for her; the cancer having already spread to her bones…

Vandag groet ons my liewe ma… Ons doen dit teësinnig en voel gekul, want as iemand dit verdien het om nog vir twintig jaar rustig langs die kus te kon wandel en haar kleinkinders met glimlagte sien grootword, dan was dit sy.

Less than a year ago we were sitting here in this very same, quaint, little church, with my mother stoically bidding my father, her husband of 40 years, farewell. She cared for him … when he had colon cancer, she drove him to hospital, making him food that he could chew easily, giving him his pills, helping him cope with all the side-effects of chemo. With her right arm weakened after her mastectomy she tried to maintain a big house, saving my father the effort of having to move away from his beloved Cape Town and close circle of friends. She absorbed all of the stress of his illness, lessening the load on all of us.

To a large extent this is what my mother has been doing for most of her life – taking care of us. When our grandparents needed assistance, whether it was with moving to a retirement home, buying them groceries, sorting out their finances, assisting them in the big decisions of one’s later life… My mother was the backbone of our family. Strong and resilient; always listening with keen interest to our stories; knowing who our friends were, and planning ahead on our behalf… Whether it was by knowing all the study options available, cutting out bursary application advertisements ahead of time, or planning possible indoor design layouts for future flats. All she required from us was to take good care of the parquet flooring!

My ma se arm was warm en gesond van die son. Ek kan my oë toemaak en steeds langs haar lê op die plek waaroor ons gewedywer het, knus teen haar lyf met my kop swaar op haar arm. Ek kan voel hoe my nek links draai as sy ’n bladsy blaai. Ek ruik haar in ’n botteltjie Vicks wat sy op my borskas smeer as kind. Ek onthou hoe sy met ’n sambreel en handdoek oor ’n ketel met my sit en stoom inasem vir my asma; hoe sy haar oor Ludi ontferm met sy kinderrumatiekkoors. Ek verwag ’n missed call op my foon; ’n SMS wat vra hoe dit gaan; my aanmaan om weer ’n slaggie te bel.

Laas Sondag het ek my ma se hand vir die laaste keer vasgehou. Haar arm was swak en slap, haar vel koud en bleek soos die maan. Die son het uit haar lyf ontsnap. Maar as my gedagtes dwaal na waar sy roggel of moeilik asemhaal, dan sal ek my oë knip en die aand vóór haar dood onthou. Die dankbaarheid op haar gesig vir ’n happie melktert… Hoe heerlik die blokkies papaja vir haar was…

Hiermee dan ’n huldeblyk aan my ma. Die rots van ons gesin. Kenner van matte en kelims… Natleier van binnenshuise plante. Sy sê dankie dat ek die skottelgoed was, maar wys tog uit hoe ek die oppervlak netjieser kan droogvryf ná die tyd. Ek ruik weer haar parfuum as sy en my pa uitgaan na ’n landbouskrywersverenigingsdinee waar hy seremoniemeester moes wees… Ek sit in haar stoel by die huis en sien die foto’s van haar kleinkinders op háár ooghoogte uitgestal. Vanuit haar ánder stoel kyk ’n mens vas in ál ons kindertydfoto’s: dít wil sy hê moet ons nét só inpak vir haar oor-trek Strand toe. In my geestesoog sien ek haar opgekrul sit agter my pa se rug op die laaste aand voor sy dood, waar sy hom regop druk sodat hy kan asem kry.

Ek lê weer op haar arm.

In ’n A4-koevert langs my ma se bed is etlike blaaie van dinge wat ons (haar kinders) oor die jare geskryf het: ’n rubriek vir ’n skoolkoerant, ’n opstel vir ’n taak op universiteit, ’n aansoekbrief vir ’n beurs of ’n werk; die huldeblyk vir my pa… Ek sal hierdie bladsye ook daarby sit.

verganklikheid

Image

pa en seun

Pappa se huldeblyk

Dit is ’n voorreg om ’n huldeblyk aan my pa, Tinus (Marthinus Carel) Müller te lewer.

Dit is ’n voorreg én dit is intimiderend, omdat (i) ons trane maar vlak lê vandag, (ii) ons almal hom slegs ten dele geken het; ek slegs vir 32 van sy 70 jaar, en (iii) my pa se woord- en taalgebruik só verdomp knap was dat ons hom dit kwalik kan nadoen.

My Pá het die kuns onder die knie gekry om die kern van ’n bonkige storie bondig te verpak met die nodige krag en kwinkslag om deernis daarvoor te wek. Of dit nou ’n nuusberig was in afgemete Afrikaans of ’n kamma-nederlandsche verjaarsdaglimerick vir van zijn vrienden. Of ’n roerende huldeblyk aan sy skoonpa; ons Opa.

Toe ons rondgevra het wat vir julle van ons Pa uitstaan, het amper almal sy gul taalvernuf onthou. Hoe lief was hy nie daarvoor om ’n nuwe woord in ’n blokkiesraaisel te ontdek of ’n ou woord opnuut in te span nie! Só vertel hy ’n maand of wat gelede van medikasie wat sy tydelike konstipasie sou verlig: “Ons hoop op volmaak-gevormde, wollerige kuttels.” sê hy.

Soos dit ’n huldeblyk betaam, moet ek iets kwytraak oor my Pa se kindertyd, sy beroep- en gesinslewe en tussendeur dalk ’n paar grappighede laat val wat nie almal van hom af geweet het nie. Ná hierdie huldeblyk vra ons sy vriend, Mnr. Tobie Barnard, om meer van my Pa se Bybelstudie- en vriendekring te vertel.

Kindertyd en studentedae

My pa is gebore as die oudste van vier kinders uit ’n groottotaal van sewe. Van sy grootword op Tulbagh het hy luisterryk vertel. Van plase genaamd “Tierkloof” en “Mooiplaas”. Van Chevvies, Buicks, Pontiacs en allerlei motors wat my broer Tim op twee jaar al kon uitken. Matrasse wat uitgedra is op die stoep, my ouma se kastaaiingbrood; sy broers en susters in die vrugteboord en almal op ’n streep in handgemaakte klere van streepsakke; sy pa as boer, prokureur en burgemeester wat sy slim seun Kaapstad toe gestuur het vir sy hoërskool-opleiding. Hoe my Pa as regsstudent ál die pad van Stellenbosch tot Tulbagh fietsgetrap het. En die keer toe hy deur die ganse kampus om hulp genader is nadat hy met ’n mosie van wantroue van sy koshuis se inwonende hoof ontslae geraak het.

My pa is gedoop Marthinus, hy is Tinus genoem deur sy ouers, Tienie deur sy vriende en Timmie deur sy halfbroer, George, wat as jongman oorlede is. My Pa het as skoolkind op die Tuine rugbyveld vir die laer spanne haker gespeel … en vandaar af die huis raakgesien waarin ons nou al vir meer as dertig jaar woon. Alhoewel my Pa vir ’n kort tydjie in Johannesburg gewerk het, het hy hom in Seepunt en toe hier in Oranjezicht gevestig, en ter wille van ons gesinstabiliteit, bevorderings-geleenthede wat elders was, oorgesien.

Ek wonder wie van julle weet dat my Pa Kuns as skoolvak geneem het? Op Universiteit die Fotografieklub gestig het? Dat hy Pontius Pilates hoogs verkoue op die verhoogplanke vertolk het in matriek? Op ons stoep hang ’n verdofte poeierverfskildery van sy skooldae af – en ek en Ludi het selfgemaakte speelkaarte ontdek met gesigte van cops ’n’ robbers daarop, en die motors wat hulle sou ry, heel-realisties, in ink geskets. Miskien het my Pa julle vertel van die keer toe hy sy kamermaat voor die Studentehof moes verdedig oor die staatspresident se dogter wie se hare hulle in die kleure van die landsvlag gekleur het?

My Pa het graag en gemaklik stories uit sy kindertyd vertel, veral as iemand nuuts by die geselskap aangesluit het. Of soms het dit net Karen se klavierklanke uit die kamer langsaan gevat om hom vir ’n oomblik terug te neem Tulbagh toe.

Beroepslewe

As beroepsman, kan ek onobjektief sê, was my pa briljant. Hy het vasgenael Springbokradio se stories geluister as kind en of dit nou koerantberigte was of TV-nuus; my pa was ingelig. Ek onthou die krap van sy baard as ons hom goeienag kom soen het … waar hy die vroegaand nuus kyk met amper ’n heilige ontsag daarvoor – maar as een van ons inkom, draai hy na ons met sy oë wat glinster. Ek hoor nog hoe rasper sy baard onder my lippe teen sy wang.

My Pa was tevrede daarmee om nuusstories te dek wat die ander nie eintlik wou nie. Waar hofsake te vervelig was, het my Pa dit so lewendig beskryf, dat die verslaggewers ná hom daarvoor gewedywer het. Die landbou-berriggewing het hy so kranig gedoen dat hy vir lank die seremoniemeester by die landbou-skrywersvereniging se jaarlikse dinee moes wees. Sy algemene kennis en taalvernuf was knap; sy humorsin skerp – vir ’n tyd lank het hy sy eie radiovasvraspan gehad wat aan die gewilde Span-Saam program deelgeneem het.

Hy het lang ure gewerk om onderhoude presies te redigeer. Hy het gekry dat apartheidstryders in Afrikaans met hom sou praat en dan elke “uhm” en “aah” geknip en die lint gelas terwyl sy aandete by die huis in die lou-oond wag. In seker die moeilikste oorgangsjare van ons land was my Pa ’n politieke verslaggewer; hy het FW de Klerk se 1992 toespraak onder oë gehad kort voordat dit gelewer is. Hy het onderhoude met Biskop Tutu, Mandela, Boesak en vele ander gevoer en hulle het hom jare later nog gegroet as hulle hom in die Parlement of elders raakgeloop het.

En dan was my pa boonop lief vir Aprilgekgrappe – en die fyn-fyn kuns om ’n storie te skryf wat gelyktydig belaglik en geloofwaardig is. Daar is gemoedelike poetse wat hy gebak het waarvoor mense hom nog steeds moet vergewe.

My Pa was ook ’n kleinsakeman-entrepreneur: Toe die snoepie by die SAUK toegemaak het, het my pa die geleentheid aangegryp en proviand in grootmaat by Makro aangekoop en by sy werkslessenaar gesmous. Mense kon sommer vat wat hulle wou en die nodige kleingeld los. Só het ons as gesin ook altyd ’n voorraad van blikkieskoeldrank gehad wat hy netjies, op die nippertjie, in ’n koelboks gepak het voordat ons ’n langpad iewers heen aangedurf het (of al het ons net twee blokke boontoe gery na my Oma en Opa-hulle toe).

Gesinslewe

As my pa ’n kranige joernalis was, was ons (sy gesin) sy top-nuusstories van die dag. Hy het ons hele kindertyd in film vasgevang; of dit nou met sy kamera was of met sy mikrofoon en bandopnemer wat hy opgestel het om ons musiek- en ander uitvoerings op radiokasetbande op te neem. Selfs gesinskonserte op Ou-Kersaand. Eenkeer toe ons vir hom by die SAUK gaan kuier het, het hy ons besoek in ’n kort nuusberigstyl opgeskryf en vertel dat dit nasionaal uitgesaai is.

Ek onthou my pa wat sorgvuldig in die studeerkamer foamalite– en karton-vliegtuigies uitsny … as my Ma my stuur om hom te roep vir ete, halfpad af by die wenteltrap. Hy het fyn voortgewerk aan die ontwerpe wat destyds op eierboksies gedruk was en het dit nougeset verbeter, met ’n skuifspeld hier-en-daar vir ’n meer vaartbelyne verspreiding van gewig – sodat ons almal saam met hom ’n reeks eksperimentele vlugte vanaf die skuinste op die Tuine-rugbyveld kon gaan toetsgooi op ‘n Saterdag sonder wind.

My Ma het hom sowat veertig jaar gelede ontmoet. Sy het hom gevind in ’n karig-gemeubileerde woonstel met los planke op opgestapelde bakstene as boekrakke; hom getrou en gesweer sy sal nooit een van haar kinders sonder meubels by ’n woonstel laat intrek nie. Só het my Pa elke keer wat een van sy vier kinders koshuis toe moes gaan of na ’n nuwe huis of woonstel moes trek, gedweë met sy kombi of Caravel uitgehelp. Hy kon ’n kar pak dat jy tweekeer meer daarin kon pas as wat jy vooraf veronderstel het.

My Pa se plig by die huis was om wasgoed te was. Hiervan het hy ’n geliefde ritueel gemaak, met sy radio aan, by die trappe af – die een balie na die ander, met sekere klere wat geweek word; ’n wit en ’n donker was, en sokkies-saam-met-handdoeke. Ons klere was so goed versorg dat ek dít wat afgewentel is vanaf Tim na Karen na Ludi, nog soos nuut kon dra. Hy het vrolike deuntjies gefluit terwyl hy die wasgoed aan die draad ophang.

My Pa se ander groot taak was om die weeklikse inkopies te doen. Hy het voortdurend pryse vergelyk, langsaam deur die winkelrye gevleg en die rooiste tamaties en varsste vrugte uitgesoek. Dit is miskien nou ’n in-ding om omgewingsbewus te wees, maar my Pa het lank vóór die Groen-beweging inkopiesakke opgevou en hergebruik; koeldrank- en melkhouers geknip vir tregters en nuttige bakkies-en-deksels, en uitgespoelde blikkies en opgestapelde koerante herwin. Hy het met ’n snoeiskêr in die kombi se kattebak rondgery en by parkeerterreine die lae-hangende takke (wat andersins motors se dakke sou krap) namens die munisipaliteit geknip.

Die winkelpersoneel in die Tuinesentrum gaan hom verseker mis. Hy was nooit te haastig om met ’n kassiere ’n kort gesprek aan te knoop nie; hy het terwyl hy die inkopies op die toonbank pak, stil bereken hoeveel dit als gaan kos en kon die geskatte bedrag in kontant betaal nog voordat als verreken is. Kassiere het hom herken as die oom met plastieksakke wat dateer uit die tagtigs, miskien gelap met maskeerband, maar netjies opgerol en reg vir hergebruik. My Ma vertel van ’n werknemer van Pick ’n’ Pay wat hierdie week huis toe gebel het om te hoor hoe dit met my Pa gaan … en in trane uitgebars het toe sy die nuus hoor.

When asking our English-speaking friends, their foremost comment was that my father was a “strong” man: morally strong and physically independent. Someone who would work in the garden by himself – even though it looked a bit like a forest – and systematically cut down a tree whose roots were causing cracks in the wall; single-handedly, or perhaps with some reluctant help from his kids. He was loyal: loyal to his employer for more than thirty years, loyal to his neighbourhood, church and friends, and loyal to his wife and family.

Hy was sterk en moedig in sy siekbed, met ’n aftakelende kanker wat vanaf sy kolon vesprei het na sy longe, ribbes en brein. My pa se gesig was in die laaste maand aan die linkerkant verlam, maar hy het sy Wyn-van-die-Maand rooiwyn in kleiner botteltjies gegooi waarin hy ’n rooi strooitjie kon balanseer en sy pille een-een daarmee afsluk.

Die chemo van die afgelope agt jaar het hom fisies uitgeteer, sy voetsole en vingerpunte rou gelaat en hom vinnig moeg laat word. Maar hy het nie gekla nie; ’n week voor sy dood het hy gesê: “Wat kan ’n mens dan doen? Elke mens wil aanhou lewe.”

Ons Pa is laasweek dood, maar hy leef nog in ons voort. Wanneer Tim vier kinders se doeke omruil, Karen ’n boom eiehandig in haar tuin afsaag, Ludi sy graankosse lustig meng of ek karikature skets om wakker te bly tydens vergaderings … Ons sal sekerlik nie sy tikmasjien-handskrif kan namaak nie; of blokkiesraaisels voltooi onder sy geliefdes se name sodat hulle verras kan word as hulle onverwags pryse wen nie. Maar ons hou elkeen sorgvuldig tred van ons motors se petrolverbruik … en wanneer ons stad toe gaan, doen ons dit een keer per maand, vroeg in die oggend, parkeer waar die parkering gratis is, stap ’n ver ent en gaan eet dan eers ’n stewige ontbyt, lees die Cape Times en bestel ’n Wimpy-koffie met die dik lagie skuim bo-op.

My Pa het laasweek in die ou Volkshospitaal (Medi-Clinic) gesterf – rustig, met die vredige klanke van sy geliefdes om hom: sy vrou, kinders en kleinkinders. Ons weet nie hoe baie hy kon inneem of hoor – waarvan hy als bewus was – nie … maar dalk het die vrolike kindergeskal hom vlugtig teruggevoer na sy eie kinderdae (tussen sy oorle broers en susters); of dalk was hy vir ’n wyle weer ’n trotse, jong pa met die woelige klomp rondom hom.

Ek is hartseer dat my Pa nie ’n langer tyd met sy kleinkinders – en hulle met hulle Oupa – kon beleef nie.