Leierskap #1 – Stop leerlingrade nou!

Standard

Heelwat skole glo nog in Leerlingrade, in die tradisie dat daar hoof- en onderhoofseuns en/of -meisies moet wees.  Daar is ook ‘n Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL), maar dié funksioneer selde as ‘n verteenwoordigende liggaam, en ploeter meestal voort op die ou klasleierstelsel van toeka se dae af.

Eintlik is die idee van verteenwoordigende leierskap, soos wat ek dit verstaan, dat leerderkwessies moet opwentel tot by die Skoolbeheerliggaam (SBL) en SBL-sake weer afwentel tot op die leerders se vlak.  Daarom kan ‘n mens die funksie van ‘n VRL goed verstaan.  As jy sake vanuit die verskillende klasgroepe wil kry of terug aan hulle wil kommunikeer, dan help dit mos om twee leerders uit elke klas in een plek bymekaar te kry.  Dan kan mense met mekaar gesels.

Maar wat is die doel/funksie van ‘n Leerlingraad/Prefekte/Kabinet/Matriekraad? 

  • 15% van één graadgroep (matrieks) is nie verteenwoordigend van ‘n hele skool nie.  Dus kan ‘n Leerlingraad nie die op- en afwentelingsfunksie wat nodig is by die SBL, vervul nie. 
  • Matrieks se skooljaar is ingekort, omdat hulle al vroeg begin met mock exams en matriekeindeksamens.  Hulle word daarom selde belas met die verantwoordelikheid om sosiale funksies (valentynsbal, ens.) te reël – dit ressorteer gewoonlik onder ‘n graad 11 “matriekafskeidskomitee”.  Hulle het dus niks om te “doen” nie.
  • By die meeste skole moet prefekte ‘n toonbeeld wees van netheid en goeie gedrag, en ander leerders aanspreek wat reëls of gedragskodes oortree.  Hulle beklee dus die amp van “polisieman”.
  • Die Leerlingrade by die meeste skole word wel ingespan om die graad 8’s te “oriënteer” t.o.v. die skool – om trots en respek by hulle te “kweek” in die eerste week.

Ek vermoed die idee van Leerlingrade is uitgedien.

  • Die Wet op Hoër Onderwys vereis verteenwoordiging op die SBL d.m.v. die VRL.
  • Om van leerders te verwag om ander leerders te dissiplineer, skep ontsaglike hoeveelheid (moontlike) probleme t.o.v. menseregteskendings.
  • Die ongesonde hiërargie binne ‘n skool wat matrieks mag gee oor die res van die leerders (veral graad 8’s), word met ‘n matriekraad-stelsel versterk.
  • ‘n Graad 8 verwelkomingskamp kan, myns insiens, netso effektief deur die VRL (saam met ‘n paar onderwysers) gelei word.  Die VRL-leerders kom uit verskillende grade en kan die graad 8’s moontlik makliker op hulle gemak laat voel (as groot matrieks wat hulle met hulle houding en diep stemme intimideer).
  • Die voor- en ondervoorsitters van die VRL kan die seremoniële pligte van ‘n tradisionele hoof- en onderhoofmeisie oorneem.

Ek vermoed die meeste skole besef al lankal dat Leerlingraadstelsels nie werk nie.  Hulle weet daar is geen uitkomste wat hulle moet bereik nie, en dat daar nooit tyd vir nabetragting van of refleksie oor ‘n termyn is nie, of vir wetenskaplike verslagdoening oor jou jaar as “leier” nie.

Leerlingrade lewer nie noodwendig leiers op nie; inteendeel, dikwels word bloot die gewildste (grootste) vriendekring tot feitlik die hele Leerlingraad verkies.  (En vandaar ontstaan daar oneindige probleme, want jou gewildste leerders kuier mos maar ‘n bietjie, drink ‘n bietjie, rook ‘n bietjie – en is dan juis nie die geskikste persone om ander leerders vir rook-op-die-speelgronde te bust nie.)

Leerlingrade, Prefekstelsels, Matriekrade, Kabinette…  Al hierdie liggame, vermoed ek, doen meer skade vir leerders – en hulle skole – as goed.  Dit word ‘n balkie wat nagejaag word omdat dit jou gewildheid – as tiener – bevestig (op ‘n tyd in jou lewe wanneer jy baie kwesbaar is vir verwerping of uitsluiting), en as jy dit maak, word jy nie bemagtig om enige leiding in die skool te neem nie.

Wat in praktyk gebeur, is dat elke Leerlingraad die Kabinetskamertjie elke jaar net oorverf.

7 responses »

  1. hey Kobus

    …hiermee probeer ek natuurlik nie sê dat daar nooit goeie leiers deur leerlingrade opgelewer word nie.
    …of dat leerlingraadskap nie vir leerders “waardevol” is/kan wees nie.

    maar, dink jy nie ‘n mens kan dieselfde met ‘n VRL bereik, tesame met ‘n goeie komitee-stelsel nie?

    ek vermoed tans verhinder die gevestigde matriekraad-stelsels ‘n sinvolle benutting van die VRL as leierskapstruktuur.

    ook… dink jy nie ‘n mens sal baie meer kennisoordrag, kontinuiteit en volhoubaarheid met ‘n VRL kan bereik nie? …dan het jy tog leerders wat in die struktuur “agterbly” en op inisiatiewe kan voortbou…?

    hm? of is “bog” jou volle antwoord?😉

  2. Ek het nog altyd gedog prefekte is daar om dronk leerders te help om in die ry te bly staan, of te herhinner om stil te bly en mooi te luister wanneer die skoolhoof sy weeklikse toespraak in die saal lewer, of om allerhande klein administratiewe takies te doen waarvoor onderwysers nie tyd het nie, soos die vlag hys. Dis seker een van die redes hoekom skole so deurmekaar is deesdae – of is dit?

    En wat is so ongesond aan ‘n hierargie tussen leerders? Ek kan nie onthou dat dit al ooit enige skade berokken het nie.

    Soos ek dit onthou is ‘n VRL ook nie ‘n besonderse goeie voertuig om kennis oor te dra tussen leerlinge en beheerliggame nie, want eerstens is daar nie amptelike geleenthede waartydens kwessies vanaf leerlinge versamel of kennis aan hulle oorgedra kan word nie (tensy dit al verander het in die afgelope 10 jaar), en tweedens vereis dit ook ‘n sekere leierspersoonlikheid om kennis oor te dra aan mede leerders – iets wat nie noodwendig in elke klas verteenwoordiger se broek sit nie (ek mag verkeerd wees).

  3. mmmm…

    Ek dink passiewe leerlingrade is orals in ons miste – en ek voel sterk daar kort verandering. Sonder om enige doekies om te draai – vir vier jaar het ek die op die parlement gedien (klink heel polities), maar basies as verteenwoordiger vir die registerklas. Dit het my geweldig gefrustreer om so passief te wees in daardie posisie – en ek wil myself skop omdat ek nie iets daaroor gese het nie! ‘n Parlementslid se verantwoordelikhede was minimaal: register in die oggende, die klas help stil hou tydens klas tye en die balkie dra, wat my geweldig geirreteer het. Nou, al vyf jaar in hoerskool, is dit my missie hierdie jaar om dit te verander. Daarom stem ek nie saam dat die VRL afgeskaf moet word nie – maar eerder anders benader en benut moet word. Ek verstaan dat almal nie dieselfde is nie, en jy kan gou sien of iemand die drive het of nie. Die VRL bestaan ook uit leerders wat voorheen nie so ‘n posisie beklee het nie, en nou elke dag ‘n mens surprise. ‘n Groot ding vir my is as iemand iets reggerky/volhou het, daardie persoon erkenning moet kry. Dis waar die drive ook in kom.

    Ja, ek stem saam, dit mag dalk die leier in ‘n ongemaklike posise sit, veral as jy vir een van jou vriende moet vra om hul hemde in te steek of in hul rye te hou. Niemand hou daarvan om sonder respek gehanteer te word nie, selfs die kids wat op skool rook luister na jou kant van die saak as jy hulle voice hoor en hulle met respek hanteer. Tried and tested. En dit werk. So ook die graad 8’s. ‘n Mens verloor ook respek vir iemand as hulle die standaarde so ‘n paar keer hou, en daarna laat val. Dis waar die leerlingraad hulself so bietjie kan ondermyn.

    Maar dis alles deel van die dinge – ek kan eintlik nie begin beskryf eerstens, hoe onrealisties dit voel om in matriek te wees nie, en tweedens hoeveel jy daaruit leer nie. Ek dink ook ‘n huge ding vir kabinette, ens. is om van mekaar te leer, vorige wat-het-gewerk-en-wat-nie’s. Dis nog een van die dinge wat ons tackle. Om al die dokumentasie/papier werk te hou, kan dit aan die volgende kabinet oorgedra word (baie geluk…hier’s julle presentjie) om van daar af te werk, sodat hulle nie van voor af hoef te begin nie. Dit laat hengse baie meer tyd oor vir verbeteringe.

    Nog ‘n idee is om die jaar te strek van junie-junie. Die nuwe kabinet word dus in Junie van 2008 (of watter jaar ookal) gekies en hulle werk dan saam met die huidige kabinet van die jaar vir die 3de kwartaal. Hul word ook in portefeuljes verdeel, maar die dagbestuur word eers aan die einde van die 3de kwartaal gekies. Ten daardie tyd behoort hulle mekaar ook beter leer ken het. Die laaste kwartaal is die matrieks heeltemal in ‘n eksamen zone, so die nuwe kabinet kan dan al ver vaar van daar af, al is hulle in graad 11. Wanneer gaan die jaar wees wat hulle dit gaan verander? Tussen die kabinet het ons ‘n ‘opname’ gedoen, en almal is vir die idee dat die kabinet in junie gekies word.

    Die cliche (met die akkuut skies ek moet nog my broer vra hoe op hierdie skootrekenaar (hoor daardie afrikaans) ) van “Jou matriekjaar gaan so vinnig verby vlieg!” weet ek is waar, so my motto – DO IT NOW!

    Wat het ek nou eintlik als gese in die warboel van woorde? Die VRL kan bly, solank dit net effektief en aktief hardloop..

    Die leierstelsel het oor die jare verander, en gelukkig is dit nie in sement gegiet nie, dinge kan verander vir die beter.

  4. Ek voel dat ‘n leerlingraad reg deur die skool bestuur moet word. Beide die kinders en die onderwysers moet insae hiertoe he. Daar is sekere kinders wat duidelik met leierskap gebore word en die wat dit kan ontwikkel.
    Deur op laerskool te begin kan die skool sekere vereistes en take aan die leiers koppel wat gaan beteken dat die wat slegs hulle balkie wil dra om gewild te wees, dalk dit nie meer gaan wil dra nie, omdat dit werk gaan beteken. Hoe vroeer kinders bewus word van wat leierskap beteken hoe beter. Kinders kan altyd iets doen by ‘n skool en help met iets.

    Ons land het reeds te min goeie leiers.

    Amanda

    • @Amanda: Dit is vir my interessant dat jy op dié ou inskrywing afgekom het!

      Soos ek my destydse argument lees, is ek nie téén leierskapsontwikkeling gekant nie – ek bevraagteken slegs die nut van matriek/leerlingrade op hoërskool, veral in die lig van die VRL-struktuur wat óók in skole teenwoordig is.

      Dalk ploeter ons onnodig voort met ‘n magshiërargiese beskouïng (en tradisie) van leierskap, terwyl ons eintlik leerders veel beter vir ‘n demokratiese werklikheid kan voorberei as ons eerder ons volle aandag aan ‘n verteenwoordigende model van leierskap sou wy?

      Ek weet nie of ‘n verteenwoordigende struktuur ewe lekker sal werk op laerskool nie; ek hou van jou idee om bemagtigende take aan daardie leerder-leiers te stel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s