Forever young / who wants to live forever?

Standard

Gestel die nuutste mediese deurbraak keer actually dat ‘n mens verouder.  Jou selle verinneweer bloot nie, maar herstel hulleself perfek.

Ek praat nou nie van velroom wat ouderdom verbloem nie; dink eerder in terme van ‘n reeks behandelings wat jou selle se mutasies verminder, kanker voorkom, lewerversaking keer, ens.

Sal die staat die behandelings aan almal toestaan – as roetine-doktorsbesoeke, of sal dit net aan enkelinge beskore wees?

Gestel dit stoot die mens se lewensverwagting drasties op, soos wat die ontwikkeling van sanitasie destyds gemaak het.  Mettertyd sal almal seker toegang daartoe hê…  Hoe sal dit die mensdom beinvloed?

  1. Sal dit mense wyser maak… of onverskilliger?  Tog sekerlik het jy meer tyd om jouself met kennis en lewenservaring te verryk; of sal die “onsterflikheid” jou meer hedonisties (plesiersoekend) en roekeloos laat optree?
  2. Sal dit die bevolkingsyfer drasties opstoot of sal daar streng geboorteregulasies ingestel word?
  3. Is dit ‘n menslike behoefte om dood te gaan/verganklikheid te ervaar (om sin te gee aan die lewe), of is daar slegs ‘n lewensdrang by mense?
  4. Op watter ouderdom sal jy voel jy het genoeg ervaar en jou lewe afstaan vir ‘n nuwe geboorte (om jou plek in te neem)?

Gestel die medikasie en/of behandelings is besonder duur – hoe maak ‘n mens dan?  Word net die Nobelpryswenners se lewens verleng, of Oprah s’n of wie dink jy behoort ‘n langer lewe gegun te word?

Wat sal jy doen om jou 200ste verjaardag te vier?

10 responses »

  1. Mense vrees die dood tog so — en met goeie rede, dis mos finaal, die einde (alhoewel nie almal so dink nie). Het ons die waagmoed om oor te gee wanneer ons tyd kom? Ek glo nie so nie. Ek vermoed (en ek kan maar net bespiegel) dat ons gaan sit met ‘n klomp moeë mense, wat wens dat hulle lewens nooit verleng was nie. Aan die ander kant sal veel meer mense The Wheel of Time klaarlees (en dalk sal Robert Jordan dit dan ook klaar skryf), maar die doel en die betekenis van die lewe sal ons maar steeds ontwyk. Hoe vaag en verdun sal die stories van ons nou onuitputbare reis nie word nie — want sonder ‘n einde is daar straks vandag maar min om voor te leef.

  2. Hier is ‘n skakel vir enigiemand wat wil lees hoe ander mense reeds oor van hierdie vrae besin het:

    http://www.methuselahfoundation.org/index.php?pagename=concerns

    Ek kan saamstem dat ons seker sal “sit met ‘n klomp moeë mense” – heng, ek is nog nie eens 30 nie, en ek voel al reeds lekker moeg met tye. Maar sal dit ons nie dalk inspireer om uiteindelik weg te breek van die gejaagde rotresies waarmee ons onself elke dag so uitput, en eerder plekke soek en gewoontes kweek waar ons sielsvrede sal vind nie? Sal dit ons dan nie juis leer om die lewe meer te waardeer nie? Die vrees dat ons binnekort sal ophou bestaan sal geruil word vir die idee dat: nou sit ons opgeskeep met die lewe, so ons moet seker maar die beste daarvan maak.

    En sal dit nie heerlik wees om so nou en dan van voor af te begin en iets anders te probeer waarvoor jy nooit andersins kans sou gehad het nie? Dan, eerder as om dit te sien as een lewe sonder einde, sal dit ‘n reeks lewens wees met elk sy eie verrassings en opwinding (en gepaardgaande risiko vir doodgaan).

  3. Ek dink nie dit sal ‘n massiewe verskil maak nie. Aan die begin sal mense nie lekker weet wat om met ‘n tweehonderdjarige te doen nie, maar na so ‘n paar honderd jaar sal almal honderde jaar lewe en sal dit die norm raak. Wette sal aangepas word, geskiedenisboeke sal geskryf word…life will continue as normal.

    Van wie presies praat jy? Dis nie asof ‘n huursoldaat met perfekte gene tweehonderd jaar oud gaan raak as ‘n bom op hom val nie😉

  4. Ek dink meer mense gaan dood aan onnatuurlike oorsake as aan ouderdom en siekte, so dit sal net ‘n tydjie neem om gewoond te raak aan die 100de jare, soos Johan tereg hierbo skryf.

    Op my 200de verjaarsdag sal ek heelwaarskynlik gaan bungijump by Tsitsikama!😉

  5. hey, Stefan:
    1. Freud het gesê mense het ook ‘n doodsdrang – stem jy saam? Is ons lewens nie juis gerig daarop om te sterwe nie?
    2. Hoe sal ‘n langer leeftyd die ouderdomstadia van die mens beinvloed? (Het ons die oud-wees stadium nodig om ons voor te berei op die dood?)

    Fran:
    1. Thanks vir die idee van die post. Jou link bridge die gap tussen feit en fiksie.
    2. Dink jy regtig TYD is die grootste faktor waarom mense nie maslow se selfaktualiseringsvlak bereik nie?

    Johan:
    1. Dink jy nie die mensdom sal “wyser” word as ons langer leeftye het nie – daar sal meer kontinuiteit wees met opheffingsprojekte, en ouer garde sal nog vir langer insae kan hê in wêreldpolitiek, nie waar nie? Dink net hoeveel skole sal Oprah nie kan bou in Afrika nie!
    2. Of sal ‘n mens maar net laaaaaanger moet werk voor mens mag aftree?

    Sonkind:
    1. Ja, veral in Afrika het ons die groot probleem dat mense jonk doodgaan a.g.v. malaria, TB, vigs, ens. Maar tog sekerlik sal die mediese wetenskap met oplossings vorendag kan kom as navorsers langer leeftye het? Of dink jy daar sal juis nog ‘n groter gap ontstaan tussen die have’s en have not’s?
    2. Dit sal great wees as ‘n mens inderdaad nog in top physical health is teen 200. Hoe dink jy sal dit die konsep van “die lewe is kosbaar” beinvloed? Gaan mense minder waaghaalsig (en gesonder) lewe omdat hulle vir ‘n langer aftrede moet beplan, haha, of gaan hulle juis meer roekeloos raak?

  6. Ek sien jou punt oor die moontlikheid van meer wysheid in. Die ding is egter, so wys as wat jy as 200-jarige gaan raak, hardnekkige twintigjariges sal steeds hardnekkige twintigjariges bly, terroriste sal steeds terroriste bly, gierigheid sal steeds gierigheid bly ensomeer.

    As iemand moordlustig is en 100de jare lank lewe, gaan hy baie meer mense vermoor. As ‘n filantroop 100de jare lank lewe, gaan hy seker baie meer mense se lewensomstandighede probeer verbeter. As ‘n politikus so lank lewe, sal hy dit probably regkry om mense so lank te bullshit ook.

    Ek reken die verskillendes sal mekaar uitkanselleer.

  7. Tog, die kanse dat ‘n gewoontemisdadiger voor sy 100ste verjaarsdag vasgetrek word, sal maak dat die filantroop seëvier?

    ‘n Dramatiese styging in lewensverwagting, glo ek, sal mos ‘n groot impak maak op die social polity van die wêreld?

    Hm, is dit nie juis “ouderdom” wat ‘n matigende invloed op die samelewing het nie?

  8. Inderdaad. Maar dit gaan nie die aantal misdrywe van die gewoontemisdadiger voor sy vastrekking minder maak nie.

    Dit sal inderdaad ‘n groot impak hê, hehe…imagine hoeveel versekeringsmaatskappye en begrafnisondernemers gaan broke gaan…

  9. Net om te antwoord op jou vraag, Mnr Muller: nee, ek dink glad nie dat selfaktualisering enigsins gebonde is aan tyd nie (meskien geld, hehe – grappie), behalwe natuurlik vir die tyd wat dit neem om sekere stadia van ontwikkeling te bereik (of dink iemand dat ‘n baba by ‘n punt van selfaktualisering sal kan kom?). Ek het egter nie van selfaktualisering gepraat nie, maar wel van sielsvrede, wat na my mening ‘n bietjie anders is.

    Hierdie gepraat van gewoontemisdadigers het my nou skielik laat dink: in ‘n samelewing waar niemand meer doodgaan van ouderdom nie, gaan lewenslange tronkstraf nogal ‘n creepy idee wees – veral as die tronkbewoners nie die lewensverlengende medikasie geweier mag word nie, want dan sal dit eintlik verander in doodstraf, wat weer sekere belangegroepe se morele sintuie sal kielie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s