Die disguise van Simeon Wollenberg

Standaard

In ‘n ry in die winkel staan ek.  Brood en kaas in die hand.  Ek kyk links en regs; wonder of die ander rye korter is.

Voor my staan ‘n mama met ‘n mandjie vol bulkbuy hoender en Sasco Sam en KOO-blikkieskos.

Agter my staan ‘n lang man met dikraambrille en ‘n uitlandse snor, met ‘n buisie tandepasta en ‘n Oral B tandeborsel in die hand.  Op sy hempsak is ‘n plakker: Simeon Wollenberg, geskryf in dikswart letters.

Vreemde man; vreemde naam.

Ek draai vorentoe en vorm dit met my lippe.  Toets of sy laerskoolmeneer maklik genoeg op hom kon skree.  Simeon Wollenberg, as jy nie nou stilbly nie!  Haha.  Hy het ‘n vreemde woltrui aan.  En ‘n outydse hoed.

Die cash register tannie se liggie bokant flikker.  Ons staan stil.  Die manager kom nader.  ‘n Botteltjie sjampoe word eenkant gesit.  Die linker- en regterrye vorder.  Gmpf.

Ek kyk na die tydskrifte se voorblaaie.

Ek kyk na die chocolates.

Ek kyk na die blonde meisie met die sonbril op haar kop, twee rye regs.

Ek kyk na die man in die overalls links voor.

Ek kyk weer na die blonde meisie met die sonbril op haar kop, twee rye regs.

En dan na haar bene.

Vlugtig voel dit asof iemand aan my gat vat, maar ek besef die mama beweeg vorentoe en dus beur ek ook maar ‘n halwe tree.  Agter my stap Simeon Wollenberg seker ook.  En ek hoor ‘n selfoonpraat-Xhosastem agter hom.

Die liggie flikker weer – iets sukkel om te scan.  Netmooi my luck.  Ek kies altyd die stadigste ry.  Links en regs s’n stap vorentoe; ek draai om en sien verbaas my vriend, Simeon Wollenberg is weg.  Gmpf, vreemd.  Ek soek hom so tussen die skare en sien hy deins weg drie rye links.  Vreemd.  Vir ‘n uitlandse konferensieganger swenk hy nogals vinnig na ‘n effektiewer ry.  Die selfoonman praat self(oon)voldaan voort.  Ek knik hallo met my kop.  Hy nie.

Ek kyk na die tydskrifte.  En dan na die verskeidenheid chocolates.  Snaaks, daar lê ‘n tandeborsel en Colgate tussen die bar ones.

Dan soek ek hom weer.  Dalk kan ek iets leer by die uitlander.  Dalk is daar ‘n buitelandse tegniek van optimale winkelry-seleksie waaroor hy juis ‘n referaat gelewer het, haha.  Hy kyk my kant toe.  En dan weer vinnig weg; sy hand spring na sy bril en hy draai sy rug op my.  Gmpf, vreemd.  Seker menssku, dink ek.  Die bril lyk koddig; ai, hierdie akademici darem.  Ek wou nog beduie na sy bors sodat hy besef van die plakkertjie, maar nou ja.  Ek kyk regs hoe die bene van die blonde meisie met die sonbril twee elegante tree vorentoe neem.

Die overall-man sit sy brood op die rolband neer en ‘n mollige tante versper die pad tussen my en Wollenberg.  Nou ja, so much vir lewenslange leer, haha.

Toe my mama uiteindelik haar mandjie begin uitpak, sien ek Simeon vleg verbasend flink tussen die gewarboel by die winkel uit.  Hy het seker ‘n nood, haha.  Ek glimlag vir die mollige tante links wat haar rok vies regruk; sy dink seker ek kyk vir haar.

Ek knik vir die cash register tannie wat lyk asof sy ‘n goor dag het.

“Plastic bag?” vra sy.  Sy scan die kaas: R14.85.  (Gmpf, R58 per kilogram is duur!)

“No thanks,” sê ek, gewoond aan die gewig van die goed in my hande.  Ek sit die brood ook neer en voel vir my beursie in my gatsak.

Sy scan die brood: R6.50.  Die prys is op.

“Uhm, sorry,” sê ek.  Ek klap en vroetel in my ander sakke ook.  Gits, waar’s my beursie dan?  Die selfoon-man hou my hande dop.  Hy is swart, maar hy sou nie my besteel nie, sou hy?  En ek kyk agter op die grond en orals agterdogtig rond.  Ek kon tog nie winkel toe gekom het sonder geld nie, kon ek?  Dis ‘n goeie disguise, die selfoon, die netjiese werkersklere…

“Uhm, sorry,” sê ek weer.  Die cash register tannie lyk unimpressed.  Ai, die liggie brand bo.  Haha, nou’s ek die sucker wat die ry ophou.

Gmpf, dink ek.  En stap sonder brood of kaas, kop omlaag by die winkel uit.  Ek kyk om my rond, vies dat ek so onoplettend was.  Die selfoon-ou, ek trust hom nie.  Stadig sloer ek agter die mama aan wat ook deur die jare geleer het langsaam stap.  Ek dink terug, by my woonstel – ek het sweerlik my beursie in my broeksak gesit.

Die wêreld om my lyk vaag soos ek in my geheue probeer terugdelf.  Waar was ek wanneer?  Het ek dit op die tafel by Marlien-hulle vergeet?  Ek merk op hoe breed die koerantseun glimlag en sukkel om sy tweede arm deur die mou van ‘n oorgroot woltrui te trek.  Vreemde roeskleur.  Hy knyp ‘n koerantverkoperskeps tussen sy knieë vas.

By die drom lê ‘n grapsnor en -bril op die grond.  Ai, waar kon ek my beursie laat lê het?  Of is daai swart selfoon-ou ‘n laelak-dief?  Gmpf!  Ek kyk rond of ek hom sien.

Wat ‘n goor dag!

Die aand, na ‘n gesukkel by die bank om my kaart te stop, en ‘n heeldag gesoekery na my missing beursie, toe ek uiteindelik moeg op my bed se rant sit en skoene uittrek, sien ek iets wits plak teen my linker skoensool vas.

Gmpf.

Simeon Wollenberg lees dit, in dik, swart letters.  Vasgeplak.

Simeon Wollenberg.

Advertisements

4 responses »

  1. Haha!

    Ai André, jammer om te hoor van Simpel Simeon. Ek het die staaltjie (egter) vreeslik baie geniet. Jammer dat dit ten koste van jou beurs moes wees.

    (En fenks vir die publicity op jou blogroll!)
    Cheers!
    SuperJaco

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s