Konstruktivisme #1 – die ding van -ismes

Standard

In die volgende semester gaan ek ‘n bietjie oor konstruktivisme blog.  Dit spruit uit ‘n versoek wat ek ontvang het om met onderwysstudente daaroor te praat.

Wat is ‘n -isme? 

Soms deins ons terug vir woorde wat ons nie ken nie, veral wetenskapstaal en woorde wat eindig op ‘n -isme : sekssisme, rassisme, pessimisme, (post)modernisme….

Ons weet egter wat dit beteken: rassisme is ‘n manier van kyk na die wêreld op grond van ‘n (stupid) teorie oor ras, feminisme is ‘n teorie vanuit die invalshoek van vroue (femina) op allerande dinge, behaviourisme is ‘n paradigma (manier van kyk) wat spruit uit ‘n teorie oor gedrag (behaviour). 

Dit wil sê: ‘n -isme dui op ‘n manier waarop ons na die wêreld kyk; jy kan daaraan dink as ‘n invalshoek, of ‘n paradigma, of ‘n teorie waarmee jy dit wat rondom jou aangaan, probeer verklaar/beoordeel.  Dit is ‘n bril wat jy opsit om na die wêreld te kyk.

(Daar is mos die grappie van die pessimis en die optimis wie se pa vir die een ‘n perd en vir die ander een ‘n perdestal vol mis gegee het: die pessimis het sy kop geskud, gesug en gekla oor hoeveel geld die perd hom tog gaan kos om dit te onderhou, terwyl die optimis met ‘n glimlag deur al die perdemis gegrou het, omdat so baie mis mos beteken dat daar êrens ook ‘n perd vir hom sal wees.  Dis die verskil tussen die twee paradigmas van pessimisme en optimisme.)

Hoeveel -ismes is daar? 

Daar is baie -ismes/paradigmas/teorieë.

Die lastige ding van verskillende -ismes, is dat geeneen ooit “waar” kan wees nie – daar is nie soseer ‘n “regte” bril wat jy kan opsit om alle gedrag (of gebeure) te verklaar nie.  Iemand wat vanuit ‘n anderste paradigma as jy na dieselfde aspek kyk, kan die verskynsels op ‘n heeltemal anderste manier verklaar.  (Iemand met ‘n rassistiese bril op, sal maklik sy/haar mening lug oor Eskom se load shedding; dit maak nie sy/haar verklaring “waar” of “reg” nie.)

In verskillende velde van die wetenskap ontwikkel verskillende maniere om na die wêreld te kyk.

In die harde wetenskappe (chemie, fisika) sal daar meer op die empirisisme – om na die wêreld vanuit ‘n empiriese (meet- en bewysbare) hoek te kyk – gesteun word.

In die sagte wetenskappe (sielkunde, sosiologie, leerteorieë) word daar meer vertrou op die relativisme – om na die wêreld vanuit ‘n relativistiese paradigma te beskou (waar meet- en bewysbare dinge relatief tot (afhanklik van) bv. kulturele of historiese faktore is).

Wanneer is watter paradigma/-isme “reg”?

Geen paradigma of -isme of teorie is ooit “reg” nie.

Jy gebruik maar wat jy kan om die spesifieke gedrag/gebeure wat jy wil ondersoek, op die mees effektiewe manier te probeer verklaar/bespreek.  (Jy kies vir jou ‘n paradigma/teorie/-isme en sê vir die mense hoekom jy dit doen – oftewel watter epistemologie jy volg).

Wanneer jy oor ‘n aspek van die werklikheid met iemand praat of debatteer, help dit as julle op dieselfde tyd binne dieselfde teoretiese raamwerk (-isme) met mekaar gesels.

Wanneer ek in die volgende semester vir die onderwysstudente gaan doseer, gaan die gesprek begin by die drie hoof-ismes in die wetenskapsveld van leerteorieë: die behaviourisme, kognitivisme en konstruktivisme.

Eerder as wat ek een paradigma as “reg” gaan voorhou, gaan ons bloot probeer om konstruktivisme van die ander twee paradigmas te onderskei en te kyk hoe ons hierdie teoretiese raamwerk kan gebruik om kinders meer effektief te onderrig in real world klaskamersituasies.

Wat is konstruktivisme?

Aha, wel daarvoor sal julle nog so ‘n bietjie moet wag tot my volgende blog-les hieroor, Konstruktivisme #2.  Onthou om ‘n -isme te verduidelik, moet ‘n mens ‘n hele beskouing verduidelik…

Nietemin, in kort is die konstruktivisme ‘n teoretiese raamwerk wat sê dat alle mense die heeltyd self kennis skep (construct). 

Volgens dié paradigma kan kennis/begrip/waardes nie klakkeloos oorgedra word van een persoon na ‘n ander nie; kinders is nie leë blikke wat deur onderwysers gevul (moet) word nie, en onderwysers wat net die heeltyd in lesingformaat (een-rigting kommunikasie) klasgee, sit die pot mis.

Kinders moet begelei word om self kennis te skep, en hulle moet aangemoedig word om hulle konstrukte met die ander leerders s’n te vergelyk.  Die onderwyser se taak is om die kenniskonstruksieproses te fasiliteer sodat leerders kreatief en lateraal kan dink, hulle konstrukte krities kan bevraagteken, en hulle wanpersepsies kan ontbloot.

Maar konstruktivisme is nie soseer “reg” nie.😉

6 responses »

  1. Aha, klink wonderlik maar idealisties.
    Hoe is dit moontlik vir een onnie om 30 (om nie te praat van 50 nie) leerders in ‘n klas elkeen hul eie konstruksie te laat maak sonder dat chaos ontstaan?
    Wees bietjie prakties vir ‘n duiwelsadvokaterige taalonnie…

  2. Konstruktivisme gaan tog sekerlik oor meer as net die konstrueer van “kennis”. Bowenal is dit ‘n allesingrypende Weltaanschauung wat die stof van bestaan (sigself) as ‘n konstrueerbare stel. Ons skep nie bloot wat ons weet nie, maar oor wat (en dat) ons is.

  3. Pingback: Lesse uit ‘n klompie outentieke opsommings « mnr.muller

  4. Pingback: Parodie in drie dele: redigeer (3) « mnr.muller

  5. Pingback: Konnektivisme: ‘n nuwe leerteorie « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s