Life skills #8 – integriteit, wat’s dit?

Standaard

In die vorige Lewensoriëntering blog-les toe ek oor vryery gesels het, het ek vlugtig na die woord “integriteit” verwys.

So, voor ons aangaan, wil ek kortliks verduidelik wat ek met “integriteit” bedoel, want dikwels word dié woord losweg gebruik, sonder enige behoorlike definisie.

Wat is integriteit? 

‘n Goeie vriend het my eenkeer vertel dat ‘n persoon wat integriteit het, vir hom iemand is wat uit een grein hout gesny is.

Dit is ‘n baie mooi beeld, daarom herhaal ek dit hierso.  Maar ek besef dis nie juis ‘n definisie nie; ‘n woord soos “integriteit” moet ‘n mens in eenvoudige, konkrete woorde uitpak, sodat dit nie net ‘n figuratiewe betekenis het nie.  Om dit te doen, kom ons probeer eers die teenoorgestelde vraag beantwoord: hoe is dit om integriteitloos te wees, oftewel:

Hoe tree iemand op wat NIE integriteit het NIE?

‘n Persoon wat nie integriteit het nie doen, volgens my, die volgende:

Afhangende van die situasie of geselskap waarin die persoon hom/haarself bevind, is die persoon bereid om voor te gee om iemand anders te wees/ander standpunte in te neem as wat hy/sy tussen ander mense gehuldig het, mits hy/sy voel dat dit hom/haar in daardie situasie sal bevoordeel.  Die persoon sal bereid wees om sy/haar beeld aan te pas ten koste van ander, solank dit ‘n voordeel vir hom/haar inhou.

Of kortom:

As jy nie integriteit het nie, is jy bereid om in elke situasie ‘n ander beeld van jouself voor te hou, ten koste van ander, ten voordeel van jouself.

Dit klink nogals soos die persoonlikheidstipe van ‘n glibberige politikus, nè?

As ‘n mens nou elke deel van hierdie bogenoemde definisie inverteer (omkeer), dan behoort ons die volgende vraag te kan beantwoord:

Hoe tree iemand op wat wel integriteit het?

‘n Persoon wat wel integriteit het doen, volgens my, die volgende:

Ongeag die situasie en/of geselskap waarin die persoon hom/haarself bevind, is die persoon bereid om hom/haarself (ten volle) te wees en dieselfde standpunte in te neem as wat hy/sy tussen ander mense huldig, ongeag of dit hom/haar in daardie situasie kan benadeel.  Die persoon hou nooit ‘n beeld van hom/haarself aan ander voor nie en sal nie oor ander loop om hom/haarself te bevoordeel nie.

Of kortom:

As jy integriteit het, is jy bereid om jouself te wees, ten spyte van jouself, ter wille van ander, ongeag die situasie.

Om jouself te wees

Dis moeilik om altyd lekker te weet wie jy nou self regtig is.  Onder die tema Persoonlike Welsyn in die vak Lewensoriëntering sal jy gereeld met die sielkunde-terme hiervan te doen kry: selfkonsep, identiteit, geslagsrolidentiteit, ens.

Deel van jou ontwikkelingstaak as tiener/jongmens is om die nuanses (die fine print) van jouselfwees te ontdek.

Integriteit ongeag die situasie

Integriteit is omvattender as net “eerlikheid” – jy moet ‘n ruggraat ook hê.  Jy moet uit een grein hout gesny wees, ongeag of jy besig is om te kuier, tussen vriende te chat, of op die internet te surf.  Jy moet probeer …om jouself te wees, ten spyte van jouself, ter wille van ander, ongeag die situasie.

Miskien makliker gesê as gedaan, of hoe?

Advertisements

7 responses »

  1. Definitief “makliker gesê as gedaan”. Dis geensins maklik vir iemand om so ‘n uitkyk op die lewe te hê nie – veral vir jongmense, wat in die algemeen nog nie hul eie identiteit vind voor 21 nie.

    Aangesien hierdie lesse gemik is op skoolgangers, moet iemand dalk ook net vir hulle noem dat integriteit, soos jy dit hier beskryf, nie dieselfde is as onbuigsaamheid (of hardkoppigheid) nie. Dit is heeltemal moontlik om integriteit te hê maar ook jou mening te kan verander na gelang van nuwe inligting wat jy ontdek. Ek het al baie male gevind dat mense my herinner aan dinge wat ek in die verlede kwyt geraak het, maar wat ek geensins kan onthou nie (te danke aan my slegte geheue), en waaroor ek intussen selfs al van mening verander het.

  2. Terug pieng: Leierskap #4 - om te té te wees « mnr.muller

  3. Terug pieng: Life Skills #14 - is gay-wees sonde? « mnr.muller

  4. Terug pieng: Oor Integriteit | Waardes by Jim Fouché H/S

  5. ek voel dat die wereld het glad geensins meer integriteit nie..kyk na politici of selfs laer tieners oor die algemeen..dit maak my skaam omte se ek is i tiener ek glo vas dat ek niks sal se agter jou rug wat ek nie voor jou sal se nie..en dan na drie jaar van strooi opvreet en op die regte padjie help bly dan steek al jou “friende” jou in die rug.. maar mnr. muller jy stel dit baie goed en ek is baie bly om te sien daar is mense wat dieselfde voel oor hierdie teer saakies voel.geniet jou dag week jaar of lewe. groete Milandrie Oberholzer.xoxo

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s