Die BBoem(Straatveekunde) presedent

Standaard

Ek vermoed ‘n mens moet al van jonks af dink oor die lewenskwaliteit wat jy wil najaag; die lewensstandaard wat jy wil handhaaf en die algemene werksbevrediging wat jy soek.

En ‘n mens moet die vaardigheid aanleer om dié konsepte te kan kwantifiseer – te meet met en op te weeg teenoor mekaar.

Jy moet besluit of jy ‘n boemelaar of ‘n president wil wees.

Of jy min wil werk (lae risiko, minimum effort) vir ‘n lae (of geen!) salaris, maar meer vrye tyd, en of jy hard wil werk (meer stres, langer ure) vir ‘n hoër inkomste en meer luukshede, maar minder ontspanning.

Uiteraard probeer baie BRek-studente ‘n middeweg vind deur hard te werk vir die eerste klompie jaar, met ‘n hoop op vinnige bevordering en vroeë aftrede.  So ‘n middeweg probeer ons almal seker vind…

Die keeping up with the Joneses mentaliteit pla egter – dit verleen die nodige stu-krag tot die verbruikersamelewing: jy swoeg hard om tog net nie in ‘n laer inkomsteklas as jou tydgenote te verval nie, maar om by te bly by hulle lewensstandaard.

Soms kompeteer ouers ook so met hulle kinders: hulle kyk binne onmiddellike suburbia of hulle kinders tog net die meeste vryheid en luukses gegun kan word; of hulle die coolste kinders kan grootmaak.

Hm.

Die enigste manier om te ontsnap van die rat race is seker om glad nie daaraan deel te neem nie.  Om nie beinvloed te word deur jou maat se motor of kleredrag of selfoon nie.  Om nie jou selfwaarde te meet aan wat jy als (op skuld) kan koop nie.

Dalk moet ons die parameters verander van die kapitalistiese verbruikerswêreld en sê bogger dit.  Koop jou t-shirts by PEP en ry trein en taxi en stap.  Volg ‘n bedremmelde Boeddhistiese bestaan.  Moenie kyk wat jy uit die lewe kan kry nie, maar wat jy kan toevoeg.

(Maar pasop, dit beteken dalk netmooi ‘n BBoem(Straatveekunde) bestaan.)

En vanselfsprekend is daar ook nie hier sprake van ‘n dualisme nie – daar is nie twee tipes mense: selfbehepte ouens wat net rykdom uit die lewe probeer kry, en altruiste wat net hulleself opoffer vir ander nie.  Altwee hierdie neigings is binne elke individu.

Hoe meet jy die waarde/kwaliteit/tevredenheid/geluksaligheid van jou beroepslewe en algemene bestaan?

Advertisements

16 responses »

  1. Dalk is ons maar almal hier ondermaans besig om op verskillende maniere en in verskillende dimensies (getaltes) grade te verwerf en honorêr (*sien HAT-verwysing hieronder) te leef:
    B.E(rg); B.A(sta); B.A(r); B.A(naal); B.A(Lling); B.E(del)
    M.E(del); M.O(eg); M.U(gu); M.A(g)
    D.W(erg); DR(uk-groep); DR(uil)
    Die akademie het nog net nie genoeg grade uitgedink vir ons almal nie, en daar is nie genoeg bewyse nie…

    Volgens die HAT is
    honneurs die hoogste kaarte in brug, vergelyk ook Skoppensboer (Eugène Marais)
    (*)honorêr = wat geen geldelike vergoeding meebring nie, maar gewoonlik as onderskeid geld(!).

    Dus D.G. (dei gratia)

  2. Thomas Hobbes skryf dat die natuurlike toestand van die wêreld (sonder enige reëls en regulasies) een is wat:
    “inevitably leads to conflict, a ‘war of all against all’, and thus lives that are ‘solitary, poor, nasty, brutish, and short’.” Om van hierdie oorlog te ontsnap gaan ons elkeen ‘n sosiale kontrak met die sameleweing aan. Volgens Hobbes gee elkeen in samelewing sy “natuurlike” regte tot ‘n mate op in ruil vir beskerming.

    In daardie opsig het die B.Rek ouens dit genail. Hulle gee hul reg tot “doen wat hul wil” op in ruil vir die sekuriteit wat geld jou gee.

    Daar is egter vir my nog ‘n aspek: Geluk bestaan nie net uit sekuriteit nie. Abraham Maslow sê die hoogste menslike behoefte is self-verwesentliking, en B.Rek gaan nie noodwendig dit vir jou gee nie. Maar gaan BBoem jou gelukkig maak? In my ondervinding ook nie.

    As jy lewenskwaliteit definieer as “gelukkig wees”, en jy reeds sekuriteit het, dan stem ek saam met die opinie dat ‘n mens fundamenteel 3 dinge nodig het om gelukkig te wees:
    * iets om te doen
    * iemand om lief te hê
    * iets om voor te hoop.

    Jou werk (of jou stokperdjies) gee vir jou die eerste, jou vrye tyd hopelik die tweede, en jou Kerk of persoonlike drome / illusies die derde.

    Stem?

  3. Kommentaar by Francois M:
    Klink nogal soos ‘n variasie van Descartes(*): Ek doen, daarom is ek (my vertaling in Latyn: “Do it, ergo sum”)

    Aha, mnr. Müller, jy het ‘n gesprek aan die gang!

  4. Laat ek eers noem dat ek jou blog regtig geniet. Dankie vir jou moeite.

    Werksbevrediging vs rat race.

    Ek kyk die wêreld so en ek sien dat daar twee soorte mense op die planeet is:
    Die kosblikdraers en die wat eet wanneer hulle wil.

    Die oorgrote meerderheid vat elke dag sy kosblikkie, gaan doen wat van hom verwag word en met sy vergoeding voer hy die monster – wêreld ekonomie. Hulle is gelukkig en tevrede en werk doelgerig na hul einddoel – salige aftrede tussen al die aardse besittings wat hy/sy so hard voor gewerk het.

    In die proses hou hul die mediese ouens aan die gang met stress, depressie, hartaanvalle ens ens. Dan kom aftrede en hul sit en wag vir daai gevoel van bliss om in te skop, maar dit kom nooit. Hul hele lewe was een van oorwin en vorder – hoe kan hulle nou gaan sit en net wees?

    Die ouens wat eet wanneer hulle wil, maak van die begin af ‘n ander besluit en vat nooit die hele aardse bestaan as hul eerste doelwit nie. Met die besluit kom die meegaande afskaling in bling en luukses, maar hul lewens verloop heelwat rustiger. In die ongeveer 80 jaar wat hulle op aarde rondhang, leer hulle meer, ervaar meer en deel meer as enige van hul grysbaaidjie vriende.

    Tot op die einde is hul lewens een avontuur van oorlewing.

    Ek het albei gedoen – kosblikkie gepak, wit jas gestryk en werk toe. Nou eet ek wanneer ek wil en daar is geen vergelyk tussen die twee nie.

    Karl

  5. Dankie vir die kommentaar. Julle dryf ‘n goeie filosofiese gesprek – dit terwyl ek my probleem heel prakties ervaar, haha.

    @François: jy versoen die filosofie/sielkunde met die praktyk: vanaf dink na doen. Dankie! Hobbes klink na ‘n prettige kêrel!

    @Estelleke: ek’s mal oor jou grade en jou Latynse vertalings! Haha, Nike was reg, ja. Just do it!

    @Karl: soos vantevore is dit ‘n vreugde om te hoor dat jy my blog geniet; vir my voel dit egter ek bedel nog maar vir kos.

    Karl, ek weet jy sal sê elke pot het sy deksel (jy beleef te veel troues om anders te kan glo?), maar wat gebeur, François, as die “iemand om te doen” bloot uit my lewe ontbreek? As die een graad (of lewenspad), Estelleke, net so (ir)relevant soos die ander is, dat die “iets” om te doen nie daar is nie; wat gebeur, Karl, François en Estelleke, as die hoop dan nou wel beskaam…?

    Ek wandel/wankel konstant op die rant van die afgrond, voel dit soms. Die om-te-ewenheid van als vind ek moeilik om van te ontsnap.

    Dit veroorsaak, vermoed ek, dat ek soos ‘n doellose graad 1 kindjie op die speelgrond stap, broodjie in die hand, onbewus van die graad 7 seun wat binnekort, rugbybal onder die arm, my per ongeluk (vasgevang in sy eie spel) my doertoe gaan stamp.

    Ek kyk met teer in my knie hoe lê my broodjie vertrap en hoe druk die graad 7 senior ‘n drie. En ek bloei.

    Maar ek huil nie.

  6. My eie variasie van Descartes waarna ek deesdae streef – na al die bloed, gehuil, kos wat ek wel het maar my naar maak, bang wees – is om te wees en die vreugde (of dalk betekenis?) daarin te vind. Dus;

    ek is, daarom is ek

    Nie meer ‘n Calvinisties-gedrewe konsensieuse, konserwatiewe, verantwoordelike keusemaker nie. Nie meer “human doing” nie, maar “human being”. En dalk is ook dit ‘n illusie…

  7. Aha die wese-wees! Die be-lewing van lewe. Die in-en-uit-en-in-aseming. Sonder voor(t)behoud.

    Hm.

    Ek besef daar is nie ‘n (universele) “sin” van die lewe nie. Dat ‘n mens moet lewe, en dan sin self toedig.

    En dat ‘n mens eers vry is as jy die waarde-oordeel-normes en -dogmas van jou jeug afgeskud het, as ek nou reg verstaan.

    Dit probeer ek doen.

    Ek besef die rat race en “sukses” van die Joneses is ‘n gejaag na wind.

    So laat ek sit in die wind, kruisbeen, met die briesie koel teen my gesig! Sela!

    (Salig kom van silly hoor ek nou die dag… So, laat ek sit in die lotus-posisie en ligsiellig lag.)

    Maar van dag tot dag, wanneer die wêreld voortjaag na die wind en die reënboog en die sterre, en ek voortgeknoop sit, salig onbetrokke, wat dan? Vanwaar die mindfucking vreugde wat ek moet ompsalm? Hoe verheug ek my in die ongeluk van die mensdom?

    Hoe moeg ek voort?

  8. Soos jy speel…
    – as dit tafeltennis is, weer die houe af en leer die medespeler ken
    – as dit skaak is, maak strategiese planne en wen
    – as dit viool is, omdat jy wil
    – as dit monopoly is, bly op die stasies en weg van go to jail en kyk hoe die ander wen en die wind jaag!

  9. Ai Mnr Muller, ek dink nie jy voel werklik dat alles so om-te-ewe is as wat jy noem nie – anders sou jy waarskynlik nie oor hierdie onderwerp ge-blog het nie. Dit kom vir my voor of daar tog iets in jou is wat voel dat sekere dinge/houdings/persepsies/gedrag beter is om voor te streef as ander.

    Ek stem saam dat daar nie “sprake van ‘n dualisme” tussen “ouens wat net rykdom uit die lewe probeer kry” en “altruiste” is nie. Ek dink daar is ‘n balans tussen die twee wat vir elke persoon anders is. Ek probeer die lewe so benader dat ek my lewe opoffer ter wille van ander, maar ook ter wille van my self / my toekoms. M.a.w. ek probeer dinge doen wat ander mense sal help, maar wat ter selfde tyd vir my ook voordelig is / ‘n inkomste verskaf. Ek glo juis dat my eie ekonomiese vooruitgang my sal in staat stel om ander mense beter te kan help. En dit gun my natuurlik ook die geleentheid om sekere van my eie behoeftes te vervul.

    So, vir nou is ek ook maar ‘n outjie wat ‘n kosblik werk toe vat. Maar, dit keer my nie om te leef soos iemand wat eet wanneer hy wil nie. Ek is seker een van die min mense wat bevoorreg genoeg is om te werk met die dinge wat ek “wil doen”. Selfs as ek by die huis is doen ek dieselfde dinge, net met ander toepassings – dis vir my ‘n stokpertjie. En, ek sorg ook dat ek genoeg ontspanning van ander vorme kry – ‘n mens moet regtig oplet daarna. Met ‘n goeie balans wat vir jou werk hoef jy dus nie heeltyd te swoeg en sweet vir groter rykdom nie en ook nie sit en kripeer van armoede ter wille van jou sielsgeluk nie.

  10. Balans! Ga! Ek is die superhero genaamd Man van Wanbalans.

    Ek sal op my kosblik spring en dit stukkend trap! Die plastiekstukkies opveeg en insluk dat dit my derms krap.

    Wee die metafoor van daelikse brood. Geef my tog.

    Wanneer selfs speel verveel en spel vervel, sal ek op die s(i)t(u)asies wag en in ‘n diepe slaap in transito waak oor die donker skag.

    “Vrese vrese vrese met deurweekte kleurlose koppe”

    Oftewel, haha, ek stem saam met julle raad 😉 dankie, dit word gewaardeer!

  11. Mnr Muller

    Die ding van doelloos stap deur die lewe is, net soos jy tereg opmerk, dat jy in die pad van ander doelgerigte mense kom en hulle gewoonlik jou uit die pad moet kry. Stamp,vra,beveel of selfs verder saamsleep, maar stop nooit.

    Die mens is a reaktiewe wese wat altyd teruggee wat hy ontvang. So, gee uit wat jy wil ontvang en kyk wat gebeur.
    Uitdaging: Mnr Muller, doen hierdie naweek iets buite jou karakter, maar doelgerig met ‘n besliste uitkoms in die oë. Kyk watse reaksie jy kry en deel dit met ons.

    Dalk leer almal ietsie van randeiers wees by jou.
    Groetnis
    Karl

  12. Julle is besig met ‘n in diepte ondersoek van menswees maar aan die einde van die dag dink ek jy kan jou lewensgehalte of standaard bepaal deur dit eerstens; – aan jou sielsvrede/vreugde en tweedens; – aan die toestand waarin jou kinders is, te meet. Eenvoudig: Maak dit wat jy doen vir jou en jou gesin gelukkig? As jou antwoord ja is, is dit om’t ewe of jy kosblik dra of eet wanneer jy wil. Dan is dit nie ‘n kwessie van randeier wees of nie, dis ‘n kwessie van gehalte menswees.

  13. Hier is ‘n digterlike raaklyn aan wat almal hierbo geskryf het, vanuit een van my gunstelinggedigte:

    -=-=-=-
    (Vanuit “London Rain” deur Louis MacNeice)

    The argument was wilful,
    The alternatives untrue,
    We need no metaphysics
    To sanction what we do
    Or to muffle us in comfort
    From what we did not do.

    Whether the living river
    Began in bog or lake,
    The world is what was given,
    The world is what we make
    And only we can discover
    Life in the life we make.

    So let the water sizzle
    Upon the gleaming slates,
    There will be sunshine after
    When the rain abates
    And rain returning duly
    When the sun abates.

  14. Nog ‘n aanhaling, hierdie een uit Breytenbach se bekroonde Die windvanger-bundel (2007,p.16):

    in buur Jan se visdam
    het paddas mekaar luidkeels
    probeer bekeer
    van mismoedigheid

  15. Terug pieng: …van Victoria tot Kloof « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s