Aspris #4 – sinloos vs sinneloos

Standaard

“sinloos” = sonder sin/betekenis.  “sinneloos” = sonder jou sinne/denke.

D.w.s. “sinlose bestaan” = ‘n bestaan sonder betekenis; ‘n doellose bestaan vs. “sinnelose bestaan” = ‘n bestaan sonder denke; ‘n waansinnige bestaan.

In alledaagse gepratery verwar ons soms dié twee woorde/begrippe met mekaar.  Ons sal praat van ‘n “sinnelose gesprek” wanneer ons eintlik ‘n “sinlose gesprek” bedoel.  In werklikheid sal ons dus sê iets was mallerig terwyl ons eintlik bedoel iets was nutteloos.

Sin sonder sinne? 

Vantevore (pre-postmodernisme) het mense aangevoer dat daar “sin” in die lewe is – ‘n universele doel vir mense se bestaan oftewel sin wat aan ons wese-wees gekoppel kan word. 

Deesdae (post-postmodernisme) is daar meer die geneigdheid om ‘n universele “sin” of doel te negeer (te verwerp), maar wel te sê dat elke mens ‘n eie, unieke doel/sin vir sy lewe moet skep.  Volgens ‘n postmodernistiese beskouing (en help my asseblief reg as ek dit te losweg interpreteer) is “sin” ‘n persoonlike konstruk – iets wat sin en waarde aan een mens se bestaan verleen, kan dus nie gecopy en paste word tot ‘n ander individu s’n nie.

(Altemit, dis wat fundamentele kerke met hulle onderskeie dogmas probeer doen?)

In die afwesigheid van ‘n samebindende godsdiens/geloof kan daar egter met moeite na ‘n sinvolle lewe verwys word soos in die ou dae…

D.w.s. die lewe is by verstek sinloos.  Dis ons (lewens)taak om sin tot die lewe te voeg. 

Hm.  Is die verlies aan ‘n duidelike doel nie hartseer nie?  (Al was dit arrogant om dit te wou hê?)

So my vrae vandag is: Is dit sinnevol om sin te soek?  Of is dit geheel en al sinneloos?  Is dit sinvol om jou sinne te gebruik om sin te skep?

Advertisements

3 responses »

  1. Nee, dis sinloos om sin te soek. En, dis geheel-en-al sinneloos. Ja, dis sinvol om sin te skep. En, dis juis wat dit nie hartseer maak nie. Daar is nie noodwendig ‘n verlies aan ‘n duidelike doel nie, want die doel was in elk geval nie besonders duidelik nie. Maar, wanneer jy jou eie sin skep, kan jy jou eie doel kies en dit baie duideliker definieer en visualiseer as wat jy kan vir ‘n vae soeke na ‘n onbereikbaar-abstrakte sin van die lewe.

  2. Francois C – is dit nie sinneloos om jou eie definisie van sin na te jaag nie? Waarteen meet jy of jou sin sinvol is?

    Waarop ek in die vorafgaande sin sinspeel is dat sommige mense se difinisies van sin erg bots met die res van samelewing s’n. (dink bv. aan Al Qaeda.) Maar volgens die postmodernistiese siening voeg hulle wel sin by hul bestaan, en is dit die enigste sin waarvoor enigiemand kan hoop.

    Maar aan die ander kant moet jy liefs ook nie altyd jou eie skepping van sin bevraagteken soos die Pet Shop Boys waaneer hulle sing:

    “Everything I’ve ever done
    Everything I ever do
    Every place I’ve ever been
    Everywhere I’m going to
    It’s a sin”

  3. En dan het ons nog nie eens begin praat van die kliniese sindelikheid van ‘n modernistiese wêreldsiening nie. Wat moet ‘n mens doen as ons en alles maar net sin-kroniese ratjies in ‘n universêle horlosie is? Op die ou end wil ‘n mens net die soeke na sin prysgee en fokus op die sin-tuiglike.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s