Life Skills #9 – (on)afhanklik wees

Standard

Jouself wees ten spyte van cool Blouberg ouers

Hierdie blog-les sluit aan by die kurrikulum van die nuwe matriekvak, Lewensoriëntering en sluit aan by die tema van Persoonlike welsyn

Wie jy is, hang af van drie (dalk meer) dinge:

  1. Jou gene (die eienskappe wat jy van jou ouers geërf het met geboorte)
  2. Jou omgewing (huis, skool, werk, vriende)
  3. Jou denke (jou idees van jy-wees)

Jy sou nog elemente tot die bostaande lysie kon voeg, soos 4. God of 5. Die noodlot, maar kom ons fokus op die drie wat ek hierbo noem.

Jy kan nie veel doen aan 1. Jou gene nie.  Jy is nou maar gebore met ‘n lang neus en ‘n sproetgesig.  Dit help nie jy blameer jou voorgeslagte daarvoor nie, want dis nou maar ‘n lucky packet wat jy kry as ‘n spermsel en ovum saamsmelt; ten minste is jy uniek.

Jy kan ook nie, as kind, veel doen aan die omgewings waarin jy jouself elke dag bevind nie.  Jou huislike omstandighede, die skool waarnatoe jy gaan, dagtakies wat jy moet verrig en die mense rondom jou, is nie noodwendig veranderlikes waaraan jy iets kan doen nie.

Jy kan jou denke wel wysig en jouself in ‘n positiewe of ‘n negatiewe lig beskou.

Die invloed van jou ouers

As jongmens besef ‘n mens dat jou ouers ook net mense is.  Hulle het foute, sterkpunte en swakpunte, menslike emosies en als wat met menswees gepaardgaan.  Maar iets wat jy nie kan ontken nie, is dat hulle ‘n groot invloed op jou lewe het.

Jou ouers het bepaal wat jou genetiese samestelling (1. jou gene) is; hulle bepaal in watter gemeenskap (2. jou omgewing) jy jouself bevind – of jou ouers geskei is, of jy in ‘n crappy skool is, of julle welgesteld of arm is, en hulle bepaal nogals hoe jy oor jouself dink (3. jou denke).

‘n Groot deel van wie jy is, word dus deur jou ouers bepaal, of jy nou daarvan hou of nie.

Die dinge wat ouers doen

Om kinders groot te maak, is ‘n ontsaglike moeilike lewenstaak.  Dit is alreeds moeilik om net in die grootmenswêreld kop bo water te hou wat werk en inkopies doen, kook, klerestryk, rekeninge betaal en vriendskappe in stand hou, betref.

Dis moeilik om ‘n liefdesverhouding met iemand te hê en aan albei se behoeftes te voldoen. 

Om bo- en behalwe dit, ‘n baba groot te maak wat heelnag huil en kerm, doeke vuilmaak, ‘n kind word en vreemde goed aanvang, en dan ‘n tiener word met nukke en emosies en aggressiewe gedrag, is moeilik.

Ouers kan oral verkeerd gaan.

Die dinge wat ouers verkeerd doen

Neem as voorbeeld die geval van die cool Bloubergstrand ouers.  In Blouberg het daar ‘n rykmanskind suburbia ontstaan vir Afrikaanse gesinne.  Die meeste van die gesinne het middelklas grootgeword, maar met effense sakevernuf skielik ryk begin word.  Klein gesinne, groot huise, mooi uitsig, cool surfspots.

‘n Mens sou dink dat kinders wat uit so ‘n gemaklike, homogene gemeenskap (samelewing wat eenders is) kom, min probleme sal hê, want duidelik het hulle cool ouers – ouers wat hulle kinders laat surf, poegies vir hulle koop en aparte leefareas vir hulle skep.  Privaat tutors betaal om met sukkelvakke te help, en fizzy alkoholdrankies en bier te verskaf vir kuieraandjies by iemand se huis in die omtrek.

Tog is alles nie perfek nie. 

Dalk is jy ‘n leerder wat sien dat ander kinders dit net soveel makliker as jy het – hulle dra cooler klere en word meer vryhede gegun; hulle het nuwer selfone en onbeperkte internet en DSTV, soos die Bloubergstrand-kinders.

Maar wat jy nie onder die oppervlak sien nie, is dat die ouers hulle kinders as pionne gebruik om by te bly by die ander families.  Die druk vir die ouers om cool te wees is groot en die mees byderwetse gesinne is dié wat die meeste vryhede vir hul kinders gun.  So is daar dominees se kinders wat vrylik seks het, drank wat by org-partytjies in groot volumes opgegooi word, en dagga en sterkter dwelms wat in oorvloed gebruik word.

Die kinders is so cool dat hulle geensins besef wat die nut van harde werk of deursettingsvermoë is nie; hulle leer hoe om hulle ouers te manipuleer om ‘n nuwer rekenaar vir facebook en selfoon vir MXit te kry.

All is not well in Paris and Rome.

Om groot te word 

Soos ‘n mens die einde van hoërskool nader, word ‘n mens meer onafhanklik.  Jy dink vir jouself.  Jy doen vir jouself.  Jy skep die omgewings waarin jy wil wees en kies die vriende met wie jy wil uithang.

Jou gene speel nog steeds ‘n rol t.o.v. watter hartsiektes en kanker jy sal ontwikkel, maar teen einde hoërskool moes jy al ‘n redelike idee kon kry van waarmee jy goed is en waarin jy sleg is, sodat jy die bepalende invloed wat gene op jou het, kan minimeer.

Jy sal altyd verskuldig bly aan jou ouers – vir hulle foute (wat jy dalk makliker raaksien) én vir hulle opofferings; vir hulle menswees wat hulle met jou deel/gedeel het.

Die groot lewenstaak wat jy moet deurmaak tydens hoërskool is nie om onafhanklik te word in die sin dat jy wegvlug uit die huis nie, maar om onafhanklik te wees in jou denke, jou vriende en jou identiteit.

En hopelik nie afhanklik te geraak het van rook, drink, vloek of vryery nie.

Sterkte!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s