…van Victoria tot Kloof

Standaard

‘n Metro (eersteklas) treinkaartjie vanaf Stellenbosch tot Kaapstad kos R12.  Vergelyk dit met die petrolpryskoste per motor: R12 is goedkoop.

‘n Trein is gerieflik: jy hoef nie te konsentreer op die verkeer op die pad nie, jy kan rustig lees, lekker gesels, aangaan met werk of bloot ontspan en die mense rondom jou dophou.

Baie mense is bang vir treinry in Suid-Afrika.  Dit is kwansuis gevaarlik.

Maar ek daag julle graag uit – klim een Saterdag saam met my op die trein – ons ry in die oggend deur Kaapstad toe, gaan fliek in die stad of drentel rond in Groentemarkplein, by die Adderleystraat blommeverkopers, of in die kunsgalery in die Tuine.  Ons stap tot in Kloofstraat en dan wys ek vir jou Arnold’s waar ‘n mens ‘n English breakfast vir R8 kan bestel.

Of as jy in Kaapstad is, klim saam met my op die trein en ry deur tot by die Bolandse berge; kom saam op ‘n wyntoer of drink koffie vir veels te lank in ‘n Sondagkraal-restaurantjie se binnehof, of kom kyk ‘n musiekuitvoering in die Endlersaal en draal op in Victoriastraat onder die laning bladverwisselende plataanbome.

(Kom op ‘n reëndag – kom drink bossietee en steel die stoom se asem.)

Baie Suid-Afrikaanse kinders word so beskermend groot agter hoë mure en elektriese heinings dat hulle nooit die goeie, decent working class mense van Suid-Afrika sien of opreg beleef nie.

Kom ry saam met my trein; klim uit op die stasie, vat saam met my ‘n taxi en pass jou kleingeld vorentoe.

Ek guarantee jou – jy sal nie gou weer kar wil ry nie.

* in antwoord op Karl se uitdaging.

Advertisements

16 responses »

  1. Maggies, so mens kan vir R20 van Stellenbosch af gaan brekvis eet in die Kaap. Ja, dis lekker, mens kan sit en lees, jy kan vir die mense kyk en jou aan hulle verwonder of by die venster uitkyk. Ek het vir ‘n paar maande daagliks van Bellville af gery na die Kaapse Technicon toe. Net jammer hier loop nie ‘n trein van my huis af werk toe nie.

  2. Dit klink bitter belowend. Ek het ‘n graphic-design vriendin wat ook so lief is vir treinry – sy verromantiseer dit altyd so. Dalk het julle al saam gery en dit nie geweet nie…

  3. Wees net versigtig dat hulle jou nie met ‘n mes in die maag steek en dan met jou selfoon weghardloop soos met my een keer 5 uur die middag op Kaapstad se stasie ten aanskoue van ‘n skaremense gebeur het nie.

  4. Ag toggie, ja, dis ‘n avontuur. Het dit self al ook gedoen, die laaste keer in die jaar 2000 dink ek. Dis net vir my jammer dat daai kans daar is om beroof (of erger) te word. Goed, dis klein. Gestel jy ry elke dag trein vir die res van jou lewe, met die wete dat daar ‘n 1/10 kans is dat iets slegs (bv mes is maag) met jou gaan gebeur. Jy en 9 van jou vriende doen dit. 9 van julle gaan ‘n lewe van lekker treinry hê. Een van julle ‘n halwe lewe van lekker treinry. Is dit aanvaarbaar? Vir my dalk nie – nie as ek dit weet nie. Ons wil maar almal ook veilig voel, behalwe wanneer ons betaal om van brûe af te spring met ‘n rek aan ons voete.

  5. Francois M, jy onthou heeltemal reg: Daai trein- en taksirit destyds was in 2000. Dit was ‘n goeie ondervinding, maar ek dink ons almal was bietjie skrikkerig (ekself meer vir die taksi as die trein). Gelukkig was ons ‘n groot groep. Ek sal dit tog weer waag om trein te ry. Ek sal probeer om die waarkynlikheid om iets oor te kom te verlaag, deur nie alleen en op vreemde tye trein te ry nie. Ek het ook al ‘n treinrit al met die kuslyn van Valsbaai langs (Muizenberg, Kalkbaai, Simonstad) geneem, maar dit was baie lank gelede en die moeite werd.

  6. Hmmm… hier’s vir jou ‘n interessante stukkie wiskunde:

    Ek kan met my motor tussen Stellenbosch / Somerset-Wes / Strand en Kloofstraat ry met ‘n brandstofverbruik van 6.8 liter per 100 km (soms ‘n bietjie beter). Die afstand is ‘n rapsie minder as 50 km. Dus, gebruik ek omtrent 3.4 liter vir so ‘n one-way trippie. Vermenigvuldig met die petrolprys en jy kry 3.4 * 8.6 = R29.24.

    Hoeveel kan ‘n mens byreken vir slytasie / instandhouding? Seker gemiddeld R1500 per jaar teen ongeveer 15000km per jaar, wat jou dan bring by 10c per km. Dit gee dus R5 vir die 50km trippie, wat ons bring by ‘n totaal van ongeveer R35.

    So, jy is baie reg om te noem dat R12 goedkoop is (is dit ook net een-rigting?). Die rede hoekom dit goedkoper is, is normaalweg a.g.v. die ekonomie van getalle (sover ek bewus is). Jy kan meer mense in ‘n trein vervoer teen ‘n gegewe koste oor die selfde afstand as wat jy met ‘n motor kan doen. Die ekonomie van die situasie verbeter natuurlik hoe voller die trein gepak kan word.

    Nou, as die treinmaatskappy dit besef en die treinkaartjie se prys opstoot na R20 sodat die ekstra R8 per kaartjie kan betaal vir verbeterde sekuriteit en dienslewering, dan is dit nogsteeds meer ekonomies as motorvervoer en hulle sal die treine voller kan pak, a.g.v. verhoogde publieke vertroue.

    Natuurlik is daar ‘n probleem met die idee om die kaartjie se prys te verhoog, want die mense wat tipies trein ry kan nie noodwendig hoër pryse bekostig nie. So wat nou? Miskien verskillende klasse kaartjies vir verskillende kompartemente? Hoër pryse vir kompartemente met beter sekuriteit? Kan jy werklik so iets regverdig?

    Interessant.

  7. Eersteklas kos R12. Daar’s altyd sekerheidspersoneel wat saamry en mekaar aflos by die verskillende stasies.

    Toegegee, dit kan nog veiliger gemaak word, maar Suid-Afrika is maar ‘n onveilige plek in die algemeen. Dieselfde komododraak wat jou met ‘n mes in die maag steek, kan jou by die verkeerslig hijack. (Of kyk na die getal padongelukke.)

    Ek vermoed egter dis nie die veiligheid wat mense afskrik van treinry nie, ek dink dis ons beheptheid met outonomiteit. Om self oral te moet kan uitkom, al kos dit ‘n irriterende GPS-stem.

    Francois C: werkersklas kaartjies kos R6. En as jy ‘n maand se pendelkaartjie koop, is dit nog goedkoper per rit.

    Ook wat jy agterkom, is dat al die goeie, decent mede-Suid-Afrikaners happy is en smaakvol geklee, al verdien hulle tien tot dertig keer minder as die outonome motor-bestuurders.

    Poegies is ook ‘n goeie idee, maar daaroor meer ‘n ander keer.

  8. Bravo Mnr Muller

    Ek het vir jare trein gery in Kaapstad. Het in Kalkbaai gebly. En taxi is die beste manier om in Kaapstad oor die weg te kom. Geen parkering probleem nie en jy kom net waar jy wil wees.

    Ek het hier in PTA dit ook probeer en niemand wou my oplaai nie. Toe laai een my op en vertel my dat whities nie opgelaai word nie, want hulle soek nie moeilkheid op hul taxis nie. So dan is dit nou dit.

    Ek ry Saterdag aand 11 uur deur die strate van Pretoria – nie ‘n kar of ‘n mens in sig nie. Paranoia hou almal in hul huise en agter duur veiligheids gemors wat elkeen glo hy moet hê. Gebreinwas deur die veiligheids maatskappye en media.

    Kry maar stuipe oor my uitlatings, maar dis ons eie skuld dat crime so buitensporig geraak het. Die wit mense se inhirente vrees vir swartes het ons gedryf om ons waardevolle besittings toe te sluit. Duidelike aanduiding vir boewe dat waarde agter daai erge sekeruteit skuil.

    Bewe maar voort.

    Karl

  9. Ja Karl, meestal daardie waardevolle besittings wat ook bekend staan as kinders. Die boewe se waardestelsel is egter gewoonlik meer materiaal van aard. Een aaklige misverstand?

  10. Hm – Karl. Ek dink dis ook die witman se “inherente” selfgesentreerdheid wat hom laat dink dat hy die enigste slagoffer van misdaad is. Daar is baie misdaad in ons land, en dit gaan nie weggaan deur die mure en alarmstelsels weg te gooi nie. Ja, die rykes word besteel vir hul rykdom, maar op die ou end is ‘n komododraak nou maar ‘n komododraak, en waar menselewens nie gerespekteer word nie word almal slagoffers.

    Francois C – jou wiskunde het nie jou motor se waardevermindering of versekeringskoste ingesluit nie, wat jou modus transportandi se prys nog ‘n hele entjie opstoot. Treinry is egter nie net ‘n ekonomiese oorweging nie, maar ‘n ander lewensstyl op verskeie vlakke. En binnekort gaan hierdie makker dit eerstehands beleef. (siende dat hy alreeds sonder sy geliefde vierwiellige lewensgenoot sit).

    Interessant vir my was die waarneming dat ons waarskynlik binnekort motors gaan hê wat hulself veiliger kan bestuur as met mense agter die stuur. En dan, kan ons seker verwag dat dit dalk selfs onwettig sal raak om self te bestuur. En gaan motors dan nog dieselfde aanloklikheid hê, wanneer dit nie meer ‘n simbool van onafhanklikheid en geassosieerde viriliteit is nie?

  11. Ek het in 2006 trein gery. Dit was lekker. Toe ek afklim, sit die een wat my moes kom haal in die verkeer vas. Ek kyk toe die taxis uit, en klim in. Ek pass my kleingeld vorentoe, en ‘n bier word agtertoe gepass, want iemand het verjaar en ‘n kas bier saam met hom op die taxi gelaai om uit te deel. LOL!

  12. Damn…ek en my meisie gaan môre (err…wel, nou binnekort) Kaapstad toe vir ‘n reeksdate(tm). As ek hiervan geweet het, het ons verseker per trein gegaan. Dit sou dit soveel cooler gemaak het 🙂

  13. Terug pieng: lê die leë spasies nou verlore « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s