Monthly Archives: Mei 2008

Pietertjie volstoom pannekoek toe!

Standaard

Tannie Martha en oom Javel is getroue OOV-ouers van die Laerskool Kleinkammieskloof; seker omdat hulle huis reg oorkant die skoolhek is én hulle so baie kinders (vier seuns) vir dié skool, met sy trotse rugbyspannetjies, opgelewer het.

So moet tannie Martha pannekoek bak langs die atletiekveld vir die laerskool se kleuresport, juis op die tydstip dat haar jongste, Pietertjie (blouspan), sy eerste wedloop in graad 1 moet hardloop.  (Pa Javel staan duskant met sy kamera, reg by die eindstreep; hy het al vir Pieterman gesien hol; hy hardloop glad vir Diederik (ouer boetie) weg.)

Die jong atletiekkindertjies word opgelyn, en Oom Javel miss call sy vrou sodat sy moet opkyk van haar stalletjie af – die wegspring gaan begin.

“Op julle merke…  Gereed…”

So moet die pannekoekkopers maar wag, want tannie Martha hou die afsetter dop.  En toe die geweerskoot klap, gil mamma Martha en swaai die pannekoekpan soos Pietertjie hol.

Pietertjie doen sy genetiese afkoms gestand (al die boeties het lang bene) en trek vinnig weg.  By die draai is Pietertjie  loshande voor, met ‘n trop kindertjies op ‘n bondel agterna wat dit uitspook om tweede plek.

“Hol, Pietertjieeee, hol!  Hardloooooop!” jil mamma Martha.

Maar die son blink so op dié pannekoekpan, en sy ma skree so hard, dat Pietertjie skoon die draai in die atletiekbaan mis en reguit na mamma toe voorthardloop.  Pa Javel swaai sy arms verwoed by die eindstreep, maar tevergeefs.  Daar skiet Pietertjie, met intense konsentrasie en volwang asemhaling, pylreguit op Mamma af!  …én die hele kaboedel mede-wedlopers volg hom kiertsreguit agterna!

* * *

Die volgende jaar is tannie Martha gevra om eerder by die koeldrankstalletjie – duskant die eindstreep – diens te doen.

Advertisements

Jaarblad #6 – matrieks ‘007

Standaard

Die Jaarblad wat ek uitgelê het, is onder sensuur geplaas.  Dalk kan jy uitpluis hoekom?  Hierso is die tweede-laaste seksie in die Jaarblad, die bladsye wat die matrieks se laaste skooljaar herdenk:

     

Regdeur die Jaarblad 2007 sal jy vind dat daar nie net die mooiste foto’s geplaas is nie, maar ook die mees betekenisvolle en inligtingdraende foto’s wat die jaar se verloop toelig.  Bladsy 33 se foto is van 40 days toe die matrieks (matrieks ‘007) almal hulle gesigte swart geverf het.

In 2006 se Jaarblad (wat welliswaar nie onder sensuur geplaas is nie!) het ek ‘n individuele eksamenskryf-foto van elke matriekleerder ingesit, maar in hierdie publikasie het ek besluit om eerder die registerklasse af te neem en die alfabetiese klasregisters as naamlyste te gebruik.

Witrokdag (bladsy 36) is die laaste skooldag van die matrieks, en sluit ‘n tranetrekker-seremonie in, met ‘n onthaal en blomme vir onderwysers, en ‘n erewag, ens.  (Die voorbladfoto is ook van daardie spesifieke dag.)

Die grootgroep-inhaakfoto is by die interskole geneem, ná die matrieks se victory lap om die atletiekbaan – ‘n mooi huldeblyk aan ‘n jaar se matrieks.

Miskien sou ‘n mens kon kritiek lewer en méér verslagdoening by hierdie deel (en oor die koshuise) eis, maar ek het gevoel die jaarverslag aan die begin van die Jaarboek 2007 is voldoende, tesame met die leerderraad se verslag ook vroeër in die publikasie.  Belangriker vir my was om die “gees” van die jaargroep in relevante foto’s vas te vang.

Jaarblad #5 – kultuur, koshuise en ‘n grapsoen

Standaard

Ek raak self nou al heel moeg vir hierdie Jaarblad-posts.  Maar ons is darem amper klaar.  In die vorige inskrywing het julle van die kultuurbladsye gesien – hier is nog ‘n laaste een en dan ‘n paar fotobladsye van die twee koshuise: die Rog en die Sop. 

  

Ai, dalk is dit die oordrewe soen van die twee koshuis-grapjasse wat die koeël deur die kerk laat spat het?  Hierso is die deel uitgelig van bladsy 31:

Sou jy ‘n Jaarblad verban a.g.v. hierdie sameflansing van koshuisfoto’s?

 

Jaarblad #4 – where is Wally?

Standaard

Om welke rede ook al, is die Jaarblad 2007-skoolpublikasie wat ek einde laasjaar uitgelê het, geproeflees en vanjaar laat druk, maar toe dit klaar gedruk is, in die skoolkluis toegesluit en onder sensuur geplaas.

Ná heelwat versoeke van my kant af om die rede(s) hiervoor uit te vind (ek is nie meer by die skool nie, maar werk nou elders), het ek nog steeds geen lysie van klagtes vanaf die skoolbestuur ontvang nie (ek het die publikasie einde laasjaar ingegee, uitgedruk op harde kopié, en gesave in ‘n redigeerbare elektroniese formaat).

Ek het selfs aangebied om in te ry Kaapstad toe en enige/alle tekortkominge  reg te stel sodat die Jaarblad 2007 ten minste elektronies versprei kan word.

Maar nou ja, geen foute is/word aan aan my gekommunikeer nie, so ek weet regtig nie watter gruwelike flater(s) ek begaan het nie.  Ek kan net spekuleer.  Help my dus asseblief om die foute te vind: save die jpg-files en maak dit groter oop as jy nie mooi kan sien nie, en laat weet dan in die comments as jy iets opmerk wat jy voel onvanpas vir ‘n jaarblad is.  Of laat weet as hierdie klompie bladsye vir jou heel aanvaarbaar is.

Sou jy sensuur hierop toepas (die bladsye wat volg beeld die leerareas Gasvryheidstudie, Toerisme en Kuns uit, en is die eerste bladsye van die Kultuur-afdeling)?

     

Ai ai ai, dalk hou ons grappige Gasvryheidstudie-juffrou die gemashde ertjies-bakkies te verleidelik vas?

Life Skills #11 – Beroepe, vakkeuses en 40 jaar

Standaard

In my vorige blog-les wat ook oor die Lewensoriëntering-tema, Beroepsvoorligting, gehandel het, het ek ses vrae uitgelig wat handig is om jouself voortdurend af te vra wanneer jy met beroepsoek besig is:

  1. Wat is jou pokèmon specialities?
  2. Wat is die meeste fun?
  3. Wat gee vir jou geld/status/mag?
  4. Wat bied jou die meeste sekerheid?
  5. Waar beteken jy die meeste vir ander?
  6. Wat gee jou die meeste vryheid?

Dit is nogals heavy vrae, én daar is heelwat van hulle.  Hoe nou gemaak as jy in graad 9 is en alreeds moet vakke kies?  Of nou in graad 11 is en moet begin dink aan naskool?

Verlengde tydskale van grootmenswees

Miskien solank eers ‘n gerusstelling – jy hoef nie onmiddellik in graad 9 alreeds al die antwoorde te hê op die vrae wat hierbo gevra word nie.  Inteendeel, jy as mens is nog aan die groei en ontwikkel – jy sal nog baie kere die vrae oor-beantwoord, en waarskynlik selfs nuwe vrae uitdink ook.

As jy nog jonger as twintig is, dan het jy eintlik maar nog vrek kort geleef.  Jy was kind tot so dertien of veertien, en het eers nou onlangs begin selfstandig dink en reëls en waardes begin bevraagteken.  Noudat jy as jongmens grootmens word, sal jy besef dat jy met heeltemal ander tydskale begin werk as waaraan jy tevore gewoond was.

Voorskool was ses jare.  Laerskool sewe.  Hoërskool vyf.  ‘n Graad of grade naskool is drie tot nege jaar.  Dan is jy nog steeds bloedjonk t.o.v. die werksmark – vroeg twintigs.  As jy eers in jou twintigerjare begin werk, sal jy jouself nog vir sowat veertig jaar in die beroepswêreld bevind!

Veertig jaar lank werk – dis moeilik om jouself dit in te dink!

Maar moenie bang wees nie – stel jouself gerus; jy het veertig jaar om jouself so goed as moontlik op te lei en verskillende vaardighede aan te leer om so ‘n sinvolle, pret, goed-betaalde beroep te beoefen as wat vir jou moontlik is.

Baie jongmense laai onnodige stres op hulleself deur hulself te vergelyk met die kitsroem-jongmense op TV.  En dink dan dat hulle die absolute kortste pad tot “sukses” moet vind.  En dat hulle keuse in graad 9 dus alreeds alles bepaal.

Dit is nie so nie.

Jy kan sleg doen in skool, “verkeerde” vakke kies, horrible goed aanvang en nog steeds genoeg tyd hê om te recover en te werk aan ‘n pensioenfonds vir die dag dat jy oud is.  Hiermee probeer ek nie sê jy moet onverskillig wees nie: kies nog steeds die mees sinvolle vakke; beredeneer logies oor jou verskillende opsies, maar moenie aanvaar dat daar ‘n “korste” pad na rykdom en roem en lewensvervulling is nie.  En moenie jou gesondheid met sigarette en drank permanente skade aandoen nie.

Vakkeuses vir graad 10

Tans moet alle leerders een Huistaal neem, Lewensoriëntering, Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid, en ‘n Eerste Addisionele Taal of nog ‘n Huistaal.

Daarna het jy verskeie opsies: Xhosa, Duits, Frans, Kuns, Drama, Musiek, Aardrykskunde, Geskiedenis, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Ingenieursgrafika en -ontwerp, Inligtingstegnologie, Rekenaartoepassing, Gasvryheidstudie, Toerisme, Rekeningkunde, Ekonomie, Bedryfsekonomie, en moontlik nog heelwat meer, afhangende van die skool waarin jy is.

Wanneer jy in graad 9 is – probeer om solank die ses vrae hierbo so ver as moontlik te beantwoord.  Begin ‘n idee ontwikkel van wat jy eendag wil doen, en/of wat jy eendag beslis nie wil doen nie.  En maak dan seker oor die volgende, dat jy vakke kies waarmee jy:

  1. matriek sal kan deurkom, en
  2. toelating tot so veel as moontlik verdere studie-opsies sal kry

Daarom, indien jy kan, probeer om Wiskunde te doen (en as jy hard probeer het in grade 10 en 11, maar sukkel, kan jy oorskakel na Wiskundige Geletterdheid voordat jy vir jou matriekvakke inskryf), en oorweeg om jou addisionele taal ook op Huistaal-vlak te neem.

Verder, as jy seker is dat jy 1. matriek sal deurkom, moenie net vakke kies wat soos min leer-werk of “maklike” vakke lyk nie; kies vakke wat vir jou 2. toelating tot so veel as moontlik verdere studie-opsies sal kry.

Kies Fisiese Wetenskappe as jy enigsins oorweeg om ‘n wetenskaplike rigting of ingenieurswese te volg.  Kies Lewenswetenskappe as jy in ‘n biologiese (plante/diere) of mediese rigting wil beweeg.  Kies Kuns/Drama/Musiek as jy regtig die talent het.  Dit is alles voorvereistes vir sekere nagraadse studierigtings.  (Daarteenoor het instellings amper nooit Geskiedenis of Ekonomie of Rekeningkunde as voorvereistes vir enige studierigting nie.)

Kies die res van die vakke om jou bloot te stel aan verskillende belangstellingsvelde wat jy dalk mag hê – en nie bloot op grond van wie die onderwyser van die vak is nie.

Studierigtings ná matriek, gap year of dadelik begin werk

Ná matriek sal jy jouself jaar op jaar nog verder moet verryk met kennis en vaardighede, sodat jy makliker jou ideale kan verwesenlik.  ‘n Mens leer lewenslank, so get used to it.

As akademiese leerwerk een van jou pokèmon specialities is, dan moet jy oorweeg om ‘n universiteitsgraad te doen – baie beroepe wat vir jou geld/mag/status én vryheid gee, vereis ‘n professionele kwalifikasie.  As jy nie studiegeld het nie, dan kan jy vir beurse aansoek doen, of eers werk en later deeltyds swot, of ‘n studielening uitneem.  (Moenie moed opgee as jy nie dadelik die nodige geld het nie; daar is hulp beskikbaar by die meeste instellings.)

As akademiese leerwerk nie jou pokèmon speciality is nie, dan moet jy nogsteeds kyk of jy opgelei kan word om iets meer gespesialiseerds te doen in ‘n rigting wat vir jou vreugde en geld sal inbring; miskien opleiding waar jy nie werk hoef te memoriseer en toets te skryf nie, maar opleiding nietemin.

Om ‘n gap year te vang, is ook goed – maar skryf solank in vir moontlike studierigtings by die verskillende moontlike instellings.  Gebruik jou gap jaar nie as ‘n totale vakansie-aftyd-jaar nie, maar gebruik dit om actually êrens te werk en te toer en jouself aan soveel as moontlik beroepsopsies bloot te stel.  ‘n Gap year kan great wees as jy onseker is oor ‘n beroepsrigting, want as jy die vyfhonderste burger-patty geflip het, of ‘n snotneuskind in Taiwan leer Engels praat het, of outannies in Londen se doeke omgeruil het, sal jy gemotiveerd wees om doelgerig vir iets meer vervullends te kom studeer.

Maar daar is baie tyd.

Dalk besef jy eendag jy wil eintlik ‘n skilder word.

Sorg dan net dat jy vir jouself finansieel die opsie gegun het om dit dan te kan uitprobeer.

ADT, Brakkies en dapper Pietertjie onder die boks

Standaard

Johan moes mos vir Pietertjie oppas, maar dié vergeet skoon van sy slapende boetie (5), gryp die voordeursleutel en switch die huisalarm aan terwyl hy nog sms, trek die deur toe en klim op sy bromponie na Michelle toe.  (Hormone = sy verstand is elders.)

(Die res van die gesin is mall toe en gaan kuier dan by ouma: Pietertjie is snotneus en slaap, en Johan moet swot vir matriek en is vol nukke; so dié twee moes na mekaar omsien terwyl die ander vier weg is.)

Ai.

So word klein Pieter toe alleen wakker in die groot, leë huis.  En moet toilet toe.  Hy klim stil-stil uit sy vicks-bedjie en wonder hoe laat dit is; als is donker en niemand maak ‘n geluid nie, maar ‘n flou sonstrepie loer tog tussen sy Batman gordyne deur.

Brakkies (maltesertjie) volg hom uit sy kamer, gang-af badkamer toe.

Maat gits!  Skielik is dit net sirenes en ‘n geraas, want die beweegmetertjie tel die wandeling in die gang af, op.  Die alarm skree verwoed.

En Pietertjie vries.  Doodbang in die gang.

Na ‘n kort rukkie stop die alarm.  Maar nes Pietertjie wil nael badkamer toe, loei dit weer!

Hy knyp, en gryp vir Brakkies vas en klouter onder die kombuistoonbank in.  Hy loer oor ‘n leë mikrogolfoondboks onder die toonbank uit en sien skaduwees van mans buite die huis.  Hy trek vir Brakkies tot teenaan sy bors op, dop die boks oor sy kop en fluister saggies-saggies vir Brakkies dat hy nie moet bang wees nie, die boewe sal nou-nou weg wees.

Intussen stap die ADT-mans om die huis, vroetel-vroetel aan die ruite, klop aan die deur, forseer ‘n venster oop en deursoek die hele huis, maar sien niks.

* * *

Later die aand, toe Ma vir Pietertjie bed toe vat, praat Mamma mooi saggies met hom, want sy probeer hom troos omdat hy sekerlik bang was.

“Nee,” ontken Pieterman egter, “hy was ginniks bang nie.”

O.  En Brakkies, wil Ma weet, wat het Brakkies oor dié hele wegkruip-petalje gedink?

“Nee,” antwoord Pietertjie… “Brakkies het heeltyd so ‘n bietjie gehuil,” sê hy.

* * *