Jaarblad #3 – okay, okay, ek is nie heeltemal onskuldig nie

Standard

Hierdie inskrywing moet saam met Jaarblad #1 en Jaarblad #2 gelees word om die konteks te verstaan.

Dalk is die sensuur geregverdig?

Ja wel, ek pleit nie hééltemal onskuldig nie.  In my eerste inskrywing oor hierdie onderwerp het ek gebieg dat ek die Jaarblad 2007 opgedra het aan al die onderwysers wat vir die matrieks tydens hulle skoolloopbaan klasgegee het.  Maar toe lys ek ook die 30 onderwysers wat in die loop van vyf jaar bedank het.  Dit sou ‘n skoolhoof kon ontstel…  Dalk is dit die sensuur werd?  Ek het die volgende geskryf:

Opdrag

HIERDIE Jan van Riebeecker word opgedra aan al die oud- en huidige JvR-onderwysers van die afgelope vyf jaar.

Alhoewel die bestuur, ondersteunende personeel, ouers, leerders en breër gemeenskap ’n belangrike rol speel in die bestaan van die Hoërskool Jan van Riebeeck, kan die integriteit, harde werk, ekstra tyd en liefde wat elke JvR-onderwyser insit, nie gering geskat word nie.  Hulle direkte, vormende invloed op leerders maak van die skool ’n besonderse belewenis vir ieder en elk.

Vir hulle onblusbare passie en onbaatsugtige opoffering, dra die Hoërskool JvR hierdie publikasie aan elkeen van hulle op.

In die besonder onthou ons al die onderwysers wat JvR die afgelope vyf jaar verlaat het; mag hulle paaie terugkronkel na dié spesiale plek:

Louise Bester, Rudi Bosman, Jeanne Botes, Hanlie Crous, Madelein du Toit, Johan Grobler, Emmarentia Groenewald, Riaan Hitge, Edna Horn, Rentia Klue, Christie Liebenberg, Danie Malan, Marlene Malan, Ryna Malherbe, Alet Mihalik, André Müller, François Niewoudt, Madeleine Niewoudt, Esté Oliphant, Annanette Olivier, René Olivier, Retha Olivier, Trevor Robertson, Annemarie Smit, Leroy Steenkamp, Elza Steyn, Stephanie van Schalkwyk, Carien Visser,  Comina Visser, Hilda Yssel.

Dit was nogals aspris van my.  Ek kan dink dat ‘n skoolhoof dalk nie sal hou van ‘n lys name van onderwysers wat sedert die begin van sy termyn bedank het nie.

Maar hieronder is daar nog ‘n tweede kontroversiële stuk wat ek ook aanhaal (bladsy 17), omdat ek weet dat almal nie noodwendig eers die jpg-prentjie save en dan oopmaak en inzoom om die teks te lees nie.

Die tweede stukkie teks wat ook aspris is, was my verslaggie oor die biblioteek se werkinge:

Biblioteek

ONZE geel bibliotekie is al vir jare lank knus genestel in die hartjie van die skool.  Alhoewel daar in die afgelope paar jaar dikwels daarna verwys is as ’n “mediasentrum”, bly dit in wese ’n lokaal omlyn met boekrakke vol boeke, ’n tydskrifrak, naslaanarea, gemaklike banke, seegroen werktafeltjies, en een Windows 98 rekenaar vir die uitreik van boeke.

Leerders gebruik die fasiliteit baie gereeld, veral omdat daar in die nuwe kurrikulum verpligte lees-tyd ingewerk is vir beide Afrikaans en Engels.  Ook benodig al die ander leerareas (veral  in grade 8 en 9) UGO-take wat ure se naslaanwerk vereis.

Met die vertrek van mev Adele Tillema in 2005, het daar ’n einde gekom aan die era van ’n bibliotekaris soos voorheen omskryf—iemand wie se hooftaak dit was om leesmateriaal aan te skaf en boeke uit te reik.  Bykomend daartoe is die pligstaat uitgebrei om o.a. ’n registerklas te administreer, Xhosa-lesse en Navorsingstegnologie-periodes aan te bied, as bemarker vir die skool op te tree, publikasies uit te lê, ’n bemarkingsvideo te redigeer, fotograaf te wees, die Jannewales op Kloof (in 2006) te reël, en al die kultuuraktiwiteite te organiseer (as sameroeper van die Kultuurkomitee).  Vir volgende jaar word die pos van mediabestuurder verder aangevul met voltydse akademiese klasgee-verpligtinge vir Lewensoriëntering (grade 10-12) en Afrikaans (graad 8).

Ook is die mediabegroting die afgelope twee jaar ingekort om die skool se finansies ’n bietjie te buffer—wat beteken dat ons nouliks nuwe boeke kon aankoop, en feitlik uitsluitlik op donasies staatgemaak het.  (Baie dankie aan oudleerder, Amanda Botha, wat gereeld nuwe lekkerleesboeke geskenk het.  Ook het mnr. Rayno Snyman ’n advertensie-agentskap gekry om ’n verskeidenheid nuwe tydskrifte maandeliks te borg.  En die JIP skenk elke dan en wan ’n boek in ruil vir ’n knap leerder-resensie daaroor.)

Ten spyte van hierdie tekorte aan tyd en geld, het die biblioteek nietemin gefloreer.    Dis ek, Anna; Breinbliksem; Nie vir kinders nie, en die Fritz Deelman– en Maasdorp-reekse is deur die leerders verslind, en die gewilde twee Spud-boeke is met boete– en fotostaatkaartgelde aangeskaf.  Afrikaanse vertalings van Nobelprys-skrywers soos Albert Camus en Thomas Mann is op kerkbazaars gekoop, en Afrikaanse, Engelse, en Vertalende woordeboeke is by die Kaapstadse Boekefees vir die onderskeie taal-onderwysers aangeskaf.

Baie dankie aan ’n baie behulpsame biblioteekkomitee o.l.v. Madelein Matthee en Joshua Bateman.  Hulle het die boeke ingevorder, oorgetrek en op die rakke gepak én in die reënweer leerders vasgevat wat die biblioteek as kuierplek en kafeteria wou besmet!

Dis my hoop dat die biblioteek sy plek sal behou as die hart en siel van die skool, en as ’n toevlug vir elke leesgierige leerder.

In die derde en vierde paragrawe rapporteer ek dat daar nie meer ‘n dedicated bibliotekaris-pos bestaan nie.  Maar ek kan dink dat die skoolhoof dit dalk as ‘n direkte aanval op hom kon beskou.  Sou jy, indien jy die skoolhoof was, 700 publikasies terughou oor dié berig?  Onthou, die skoolhoof het ‘n uitdruk (harde kopié) van die jaarblad gehad, sowel die elektroniese weergawe (waaraan nog ge-edit kon word) om te proeflees.  Hulle het dit laat druk; nie ek nie.

Maar is my biblioteekberiggie (gegewe dat die inhoud feitelik korrek is) ontaktvol genoeg om sensuur uit te lok?

   

Of wat dink jy?  Het die hoof sy hand oorspeel?

3 responses »

  1. Ek het gedink die opdrag aan die onderwysers was heel smaakvol gedoen en het nie uittartend voorgekom nie. Na my mening slaag dit in die doel om die leerders te herinner aan *al* hul onderwysers wat ‘n rol in hul opvoeding gehad het en nie slegs daardie wat andersins wel in die jaarblad verskyn nie.

    Ek dink wel dat die biblioteekverslag meer voorkom of dit gerig is aan die skoolhoof – dit spreek nie oral direk met die teikenmark (die leerders) nie. Hoeveel van daardie bykomende pligte was in die mediabestuurder se amptelike werksomskrywing, en hoeveel daarvan was vrywillig aangepak of aangepas tot die persoon se vaardighede? M.a.w. hoeveel van daardie pligte moet die volgende mediabestuurder amptelik aanneem? In enige geval, is dit mos nie werklik vir leerders (vir wie die jaarboek gemaak is) van belang watter verpligtinge hul mediabestuurder (gehad) het nie. Die res van die verslag wat aandui op leerder betrokkenheid en die toepaslikheid van die mediasentrum op leerders se opvoeding is egter wel waardevol.

  2. Dis waar wat jy sê – my biblioteek-verslag was dalk onvanpas.

    Tog het die biblioteek nog elke jaar ‘n verslaggie in die Jaarblad gehad – meer gemik seker op die ouers (wat ook deel van die teikenmark vorm) as op die leerders self – om die stand van sake tov die biblioteek weer te gee.

    Ek het gevoel dat die wysiging van die pos vanaf voltydse bibliotekaris tot voltydse LO- en Afrikaans onderwyser belangrik is om te rapporteer, juis omdat dit ‘n wesenlike impak op die werking van die biblioteek sal hê (en gehad het).

    So het ek ook die besteding van die biblioteek-begroting (wat in my geval vir twee jaar in ‘n ry teruggetrek is) verklaar (soos altyd gedoen word).

    Die pos van mediabestuurder het verval na my vertrek; twee mense is in my plek aangestel, die pligte is opverdeel, maar die nuwe persoon wat verantwoordelik is vir die biblioteek is wel ‘n LO- en Afrikaans-onderwyser, en die lokaal is tans ‘n klaskamer vir die grootste deel van die dag.

    Ek voel tog wat ek gesê het, was relevant. Miskien bietjie nydig, maar nietemin relevant.

    Geen posomskrywing van my is “vrywillig” aangepas nie. Ek is aangestel in ‘n strategiese nie-akademiese pos; die res het als bygekom, haha.

  3. Pingback: Jaarblad #4 - where is Wally? « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s