Life Skills #10 – wat jy wil word as jy eendag groot is

Standaard

Die nuwe matriekvak, Lewensoriëntering, het vier hooftemas waarvolgens die lesse aangebied word.  Sover het ek in my bloglesse hoofsaaklik gefokus op die eerste tema, Persoonlike Welsyn, en het ek gepraat oor leefstylkwessies van hedendaagse skoolleerders: hoe jy sosiaal rook, jouself nie moertoe drink nie, in matigheid vloek, en verantwoordelik vry.

Die laaste twee lesse was oor integriteit en onafhanklikheid.

Die voorafgaande lesse lei my na vandag se onderwerp oor Beroepsvoorligting:  Wat wil jy word as jy eendag groot is?

Dis eintlik ironies dat ek enigsins hierdie onderwerp aanpak, want self het ek nie ‘n clue wat ek eendag wil word wanneer ek groot is nie (en ek is nou al vinnig op pad 30 toe).

Tog weet ek hoe dit is om te sukkel met dié vraag, en in my worsteling, het ek al hoe méér vrae opgespoor wat ek sukkel om te beantwoord:

1.  Wat is my pokèmon specialities?

Ek noem die unieke kombinasie van talente, karaktertrekke en vaardighede: jou pokèmon specialities.  Dit waarin jy regtig goed is.

Vir my is dit makliker om ander se pokèmon specialities raak te sien as my eie, maar gelukkig bestaan daar verskeie psigometriese toetse wat vir jou sê wat jou aanleg, persoonlikheid en vaardighede is.  Die Myers/Briggs-toets onderskei of jy introvert/ekstrovert is, of jy met jou sintuie/intuisie inligting inwin, of jy jou besluite eerder op grond van jou denke/gevoelens maak, en of jy eerder situasies beoordeel/bekyk.

IK-toetse van ouds (wat fokus op linguistiese en wiskundige vaardighede) sal uitwys of jy ‘n rocket scientist kan word of nie.  Bykomend hiertoe kan meervoudige intelligensie-toetse jou help uitpluis wat jou voorkeur-denkstyl is (hoe jy die maklikste inligting aanleer).  Ook is daar linker- en regterbreintoetse.

Anyway, om jou pokèmon specialities agter te kom, is eintlik ‘n lewenslange soektog; dit help om te luister wat toetse, en wat jou ouers en vriende van jou sê, maar op die ou end moet ‘n mens in verskillende werksituasies ook maar agterkom wat jou laat tick en watter goed jy kan regkry waarmee ander mense soms sukkel.

2.  Watter werk sal die meeste fun wees?

Almal hou van ander tipe dinge.  (Vir my is “pret” eintlik overrated.  Ek is nie per se ‘n happy mens nie, so om uit te figure watter werk die meeste fun sal wees, is vir my besonder moeilik.)  Nietemin, ek het oor die jare agtergekom dis vir my lekker om onmiddellik te sien hoe dit wat ek doen ander mense help.  Dis vir my lekker om met jongmense te werk.  Dis vir my fun om mense te help om onmoontlike dinge aan te pak en dit dan amper-amper reg te kry.  Ek geniet dit om gesag uit te daag.  Ek hou van woordspelings, Nederlandse gedigte en spelfoute regmaak.  Ek geniet krieket en tafeltennis en skaak.  So, alhoewel ek nie alles waarvan ek hou in één werk noodwendig sal kan doen nie, is dit tog goed om te weet waarvan ek min/meer hou en watter tipe dinge ek regtig verpes.  Ek haat spitstyd verkeer, so ek sal eerder iewers werk waar ek binne stapafstand kan bly.

3.  Watter werk sal my moerse ryk maak en baie status gee?

Op die ou end werk ‘n mens om geld te kry om van te lewe.  Moenie dit vergeet nie.  Daar is beroepe in die wêreld waarvoor ‘n mens min geld kry, en daar is beroepe in die wêreld waarvoor ‘n mens baie geld kry.  Die doktors, ingenieurs en prokureurs word nou maar as die leiers van die samelewing beskou; die rekenmeesters, ouditeurs en aktuarisse gaan geld maak; dis hoe dit tans is.

Besef dus vooraf dat as jy kies om ‘n swakker-betaalde beroep te kies, jy baie sorgvuldiger moet lewe – veral aanvanklik.  Ongeag watter beroep jy doen – jy moet minder uitgee elke maand as wat jy verdien, jy moet geld spaar en soveel as moontlik belê in bates wat onafhanklik van jou insette, kan groei en vermeerder.

Moenie net op grond van inkomste kies watter beroep om te doen nie, maar as jy twee opsies het, straatveër of onderwyser, kies dan maar eerder die beroep waar jy effens meer geld en aansien gaan verdien (straatveër dus).  En moet jouself nie verknies aan jou tekort aan status nie.  Wat kan jy uit die lewe uit kry?

4.  Watse werk sal my die minste worries en meeste sekerheid gee?

Baie ouens wil weet dat hulle môre en oormôre steeds ‘n inkomste sal hê, ongeag van wat gebeur.  Sulke ouens sal dalk nie vir ‘n upstart-onderneming wil werk nie, maar eerder vir ‘n groot, gevestigde maatskappy met ‘n mediese fonds en ‘n aftreeplan.  Hierdie voorkeure sal ook verander hoe ouer jy word; aanvanklik kan jy dit moontlik bekostig om ‘n hoë-risiko beroep te betree, maar namate jy meer afhanklikes (soos kinders) het, sal jy dalk voel jy moet meer stabiliteit en sekerheid in jou beroepslewe hê.

5.  In watter job sal ek voel asof ek iets rêrig betekenisvoel doen?

Nie alle beroepe laat jou soos ‘n goeie mens voel nie.  Selfs nie eens ‘n doktor wat by die noodeenheid werk, voel elke dag asof sy/haar werk nuttig is nie (dis maar lastig om dieselfde meswond-pasiënt elke tweede week toe te werk).  Dalk vind jy dit nuttig om by ‘n koerant te werk – maar vir iemand anders kan dit totaal onsinnig wees om hom/haarself af te sloof vir ‘n publikasie wat slegs vir een dag gelees word.  Wat is vir jou sinvol om te doen?  Wat kan jy heeldag doen, sonder om moeg te word?  Wat laat tyd vir jou verbygaan sonder dat jy honger word?  Wat kan jy tot die lewe voeg?

6.  Watter tipe werk sal my die meeste vrye tyd gee?

Dalk is jy een van daai ouens wat net wil werk en bloot belangstel in status en mag.  Dis great, dan is vrye tyd nie noodwendig vir jou so belangrik nie.  Andersins, miskien is jy regtig iemand wat hou van movies kyk en kuier met vriende en eendag nie oor naweke wil werk nie, want jy sal dan eerder monopoly met jou kinders wil speel.  Gaaf – oorweeg dan eerder beroepe met vaste werksdagure en geen verpligtinge oor naweke nie.  Dalk wil jy vir ‘n ruk lank baie hard werk sodat jy vroeg kan aftree.  Probeer uitwerk van watter scenario jy die meeste van hou.

Wat wil jy word as jy eendag groot is?

Op dié vraag het ek self nog geen antwoord nie.  Dalk is dit omdat ek nog nie juis wil groot word nie.  Ek weet nie.  Maar ten spyte van my tekort aan rus of rigting, gun ek myself die tyd en vryheid om stadig deur die bogenoemde ses vrae te werk.

Ek het in graad 10 en op universiteit vakke gekies wat vir my so veel as moontlik opsies oopmaak, juis omdat ek toe nog nie ‘n spesifieke rigting kon vind wat my interesseer nie.

En nou, in die verskillende werksomgewings waarin ek myself bevind, vra ek voortdurend vir myself hierdie vrae hierbo af: is die werk fun, gee dit vir my geld en mag, laat dit my toe om nie te worry nie, het ek genoeg vrye-tyd, en is dit wat ek met my tyd doen sinvol?  So leer ek myself beter ken en kan ek my pokèmon specialities voortdurend slyp om vir myself ‘n prettiger, sinvoller en meer lonende beroep uit te kerf.

Sterkte!

Advertisements

8 responses »

  1. Dis vanselfsprekend: ek wil eendag ‘n planeethoppertjie word! 😉

    Iets wat ek wil bylas by jou heel laaste paragraaf: wanneer jy al daardie vrae vra, hoef jy nie slegs na bestaande beroepe te kyk nie. Die moontlikheid is altyd daar om vir jouself ‘n beroep te skep wat al daardie vrae na jou bevrediging beantwoord. Dis natuurlik net nie altyd so voor-die-hand-liggend hoe om dit te doen nie.

    Jy raak ook by punt 3 ‘n ander onderwerp wat jy dalk in ‘n ander inskrywing kan bespreek: die idee van geld spaar. Na my mening is dit nie goed genoeg om te sê dat jy moet spaar, sonder om ook te sê hoekom dit nodig is nie. Ek dink die rede vir spaar word goed uitgebeeld in die Bybelse verhaal van die sewe swaar jare. Jou aftrede is die mees “obvious” voorbeeld van “swaar” jare waarvoor jy moet spaar, maar daar kan natuurlik enige ramp in jou lewe plaasvind waaraan jy nooit gedink het nie, en geld in die spaarvarkie kan jou in sulke situasies ook uithelp. Daar is ook nog ander redes (soos dinge wat jy wil koop, plekke wat jy wil sien, ens.), maar dalk kan jy dit mooi vasvang in ‘n les?

  2. Terug pieng: Life Skills #11 - Beroepe, vakkeuses en 40 jaar « mnr.muller

  3. Terug pieng: eish, wanneer virtual vriende en werklikes collide « mnr.muller

  4. Terug pieng: Life Skills #14 - is gay-wees sonde? « mnr.muller

  5. My bek het behoorlik oopgehang van skok – goeie skok! – toe ek op jou blog afkom en begin lees… Ek kan nie glo daar is onderwysers soos jy nie en ek wens ek kon jou clone en die wereld se skole met jou spesie bevolk!
    Onderwysers soos jy wat “gewone mense taal” praat en nie ‘n afrikaans besig wat Genl. Andries Brink mee vertroud was nie – wat kinders obviously verstaan en werklik hul beste belange op die hart het!
    As ‘n ma met ‘n 13 jarige seun wat ADHD is en sy gat afsukkel in die skool het ek al gesien watter verskil ‘n onderwyser wat die regte benadering het, in my kind se lewe kan maak, wil ek net vir jou se: hou so aan! Jy is ‘n besonderse mens en jy maak ‘n moerse verskil!
    Dalk moet jy daaraan dink om ‘n boek te skryf…?

    Groete
    Ma-sonder-vrese.

  6. Dankie, Denley. Dis altyd bemoedigend as iemand hou van wat jy doen 🙂

    Ek sal vir eers nog voortwerk aan dié bloginskrywings; ek weet nie of ek al genoeg wyshede het vir ‘n boek nie! 😉

    Wat Lewensoriëntering betref – ek dink daar’s ongelooflik baie potensiaal in die vak, maar dan moet onderwysers oop en eerlik met leerders gesels, en hulle aanhelp om te dink en redeneer oor moeilike grootmenskwessies.

    Te dikwels word ‘n ouderwetse onderwyser die vak lukraak (randomly) toegedeel en dan ontaard dit in bybelstudie-preekperiodes van ouds i.p.v. lewendige debatsessies.

  7. Terug pieng: So, jy is klaar met skool en op pad universiteit toe – wat om te verwag « mnr.muller

  8. Terug pieng: Jou eerste dag op universiteit, en wat om te verwag « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s