ADT, Brakkies en dapper Pietertjie onder die boks

Standard

Johan moes mos vir Pietertjie oppas, maar dié vergeet skoon van sy slapende boetie (5), gryp die voordeursleutel en switch die huisalarm aan terwyl hy nog sms, trek die deur toe en klim op sy bromponie na Michelle toe.  (Hormone = sy verstand is elders.)

(Die res van die gesin is mall toe en gaan kuier dan by ouma: Pietertjie is snotneus en slaap, en Johan moet swot vir matriek en is vol nukke; so dié twee moes na mekaar omsien terwyl die ander vier weg is.)

Ai.

So word klein Pieter toe alleen wakker in die groot, leë huis.  En moet toilet toe.  Hy klim stil-stil uit sy vicks-bedjie en wonder hoe laat dit is; als is donker en niemand maak ‘n geluid nie, maar ‘n flou sonstrepie loer tog tussen sy Batman gordyne deur.

Brakkies (maltesertjie) volg hom uit sy kamer, gang-af badkamer toe.

Maat gits!  Skielik is dit net sirenes en ‘n geraas, want die beweegmetertjie tel die wandeling in die gang af, op.  Die alarm skree verwoed.

En Pietertjie vries.  Doodbang in die gang.

Na ‘n kort rukkie stop die alarm.  Maar nes Pietertjie wil nael badkamer toe, loei dit weer!

Hy knyp, en gryp vir Brakkies vas en klouter onder die kombuistoonbank in.  Hy loer oor ‘n leë mikrogolfoondboks onder die toonbank uit en sien skaduwees van mans buite die huis.  Hy trek vir Brakkies tot teenaan sy bors op, dop die boks oor sy kop en fluister saggies-saggies vir Brakkies dat hy nie moet bang wees nie, die boewe sal nou-nou weg wees.

Intussen stap die ADT-mans om die huis, vroetel-vroetel aan die ruite, klop aan die deur, forseer ‘n venster oop en deursoek die hele huis, maar sien niks.

* * *

Later die aand, toe Ma vir Pietertjie bed toe vat, praat Mamma mooi saggies met hom, want sy probeer hom troos omdat hy sekerlik bang was.

“Nee,” ontken Pieterman egter, “hy was ginniks bang nie.”

O.  En Brakkies, wil Ma weet, wat het Brakkies oor dié hele wegkruip-petalje gedink?

“Nee,” antwoord Pietertjie… “Brakkies het heeltyd so ‘n bietjie gehuil,” sê hy.

* * *

3 responses »

  1. die arme kind, ek het al meer as een keer my gatsometer weg geskrik as daai alarm van ADT so aan die gil en skreeu gaan, en is nogal geneig om te vergeet die ding is aan, ek het eendag ampertjies reg agter oor gemoer soos ek geskrik het! Gelukkig tel hierdie alarms nie diere op wat in die huis loop nie! Moet die goed so vreeslik skreeu in mens se ore?? Een ding van ADT is en bly maar blitsvinnig!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s