Pietertjie volstoom pannekoek toe!

Standard

Tannie Martha en oom Javel is getroue OOV-ouers van die Laerskool Kleinkammieskloof; seker omdat hulle huis reg oorkant die skoolhek is én hulle so baie kinders (vier seuns) vir dié skool, met sy trotse rugbyspannetjies, opgelewer het.

So moet tannie Martha pannekoek bak langs die atletiekveld vir die laerskool se kleuresport, juis op die tydstip dat haar jongste, Pietertjie (blouspan), sy eerste wedloop in graad 1 moet hardloop.  (Pa Javel staan duskant met sy kamera, reg by die eindstreep; hy het al vir Pieterman gesien hol; hy hardloop glad vir Diederik (ouer boetie) weg.)

Die jong atletiekkindertjies word opgelyn, en Oom Javel miss call sy vrou sodat sy moet opkyk van haar stalletjie af – die wegspring gaan begin.

“Op julle merke…  Gereed…”

So moet die pannekoekkopers maar wag, want tannie Martha hou die afsetter dop.  En toe die geweerskoot klap, gil mamma Martha en swaai die pannekoekpan soos Pietertjie hol.

Pietertjie doen sy genetiese afkoms gestand (al die boeties het lang bene) en trek vinnig weg.  By die draai is Pietertjie  loshande voor, met ‘n trop kindertjies op ‘n bondel agterna wat dit uitspook om tweede plek.

“Hol, Pietertjieeee, hol!  Hardloooooop!” jil mamma Martha.

Maar die son blink so op dié pannekoekpan, en sy ma skree so hard, dat Pietertjie skoon die draai in die atletiekbaan mis en reguit na mamma toe voorthardloop.  Pa Javel swaai sy arms verwoed by die eindstreep, maar tevergeefs.  Daar skiet Pietertjie, met intense konsentrasie en volwang asemhaling, pylreguit op Mamma af!  …én die hele kaboedel mede-wedlopers volg hom kiertsreguit agterna!

* * *

Die volgende jaar is tannie Martha gevra om eerder by die koeldrankstalletjie – duskant die eindstreep – diens te doen.

6 responses »

  1. Pannekoek, as daar nou een ding is wat ek NIE kan regkry NIE, is dit om so pannekoek in die lug te gooi en die ding weer netjies in die pan te vang, NEE die ding val keer op keer op die grond!!

  2. Mnr Muller,

    Meneer, gee u nie die, uhm, punchline bietjie weg in die titel nie?

    Wat van “Pietertjie hol dat dit klap”?

    (Of vervang met “hardloop” as “hol” te suggestief is vir u teikenmark.)

    Nogtans, dis ‘n heel gawe storie – ek is seker Pietertjie begin reeds by baie mense se harte inkruip…

  3. Wat ‘n pragtige storie.. Ek voel nou sommer warm van binne en lus pannekoek op hierdie godverlate, yskoue Krugersdorp.

  4. aai jinne, dit was nou ‘n lekker gelag. Jy spot so, maar ek kan jou verseker hierdie staaltjie gebeur baie gereeld …. Ek self is, voor in die koor op die atletiek baan, ‘n koers in en al die maters agterna … so dat die ouers skoon agter die maters aan is … en die hele trop mense toe op die einde van die dag 400m gehardloop het in plaas van die 80m wat ons moes …. Memories … is dit nie ‘n wonderlike ding nie??

  5. @merriemuis: ek moet bieg, ek het hierdie storie so effens gesteel by ‘n kollega wat dit in die teekamer vertel het. ‘n Mens sou dit lekker verder kon verdraai sodat arme Pietetjie-hulle reg om die veld draf!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s