Monthly Archives: Junie 2008

Sleep jou skool hof toe en sue hulle!

Standard

Ek weet ons is nie in Amerika nie, maar ek’t gewonder of ons ons skole/kolleges/universiteite, of dalk spesifieke onderwysers/dosente, mag dagvaar vir swak onderrig?  Is goeie onderrigleer nie ‘n eksplisiete diens wat in die skoolfondsbetaal-kontrak onderneem word nie?  Is dit nie iets waarop kinders/studente geregtig is nie?

Ek onthou ‘n paar briljante onderwysers en dosente by wie ek al klas gehad het, maar ek weet van heelwat meer pedagoge wat allermins ‘n passie vir onderwys of die onderrigproses laat deurskemer het.  Veral naskools is daar instansies wat kwansuis in ‘n wetenskaplike milieu onderrig, maar duidelik geen kennis dra van die mees resente artikels oor goeie onderrigleerpraktyk nie.

Universiteite word mos soos besighede/sakeondernemings bestuur deesdae.  Teaching and Learning bly die core activity, maar daar is groter klem op financial sustainability en gehalteversekering van die geykte prosesse.

Pick ‘n’ Pay het die beleid dat as daar ‘n produk op hul rakke is waarvan die sell-by-date al verval het, dan sal hulle die produk van die rak afhaal en vir die een wat dit opgemerk het, ‘n soortegelyke (maar vars!) produk vanuit hulle stoorkamers gee – verniet.  Die kliënt is per slot van sake geregtig op vars produkte en die winkel is liable indien hy vrot produce per ongeluk verkoop.

Hoekom geld dieselfde nie vir die onderwyspraktyk nie?

As die wetenskap al van voor 1980 duidelik gewys het wat goeie onderrigleer is (leer(der)gesentreerde onderrig, gegrond op konstruktivistiese leerteorieë) en hoe om effektief die didaktiek in verskillende klaskamersituasies toe te pas – hoe kan skole wie se primêre doel dit is om leerders te onderrig, bloot geen notisie (ge)neem (het) daarvan nie?

Hoe kan dit wees dat kolleges voortploeter in lesingformaat-lesse?  Hoe kan dit wees dat studente klaskamertake ontvang wat totally outdated is?

Hiermee probeer ek nie uitkomsgebaseerde onderwys kritiseer nie; inteendeel, die nuwe skoolkurrikulum vind juis aansluiting by die laaste 50 jaar se navorsing.  Ek lewer kritiek oor al daai nikswerd onderwysers en dosente wat elke greintjie passie uit ‘n vak gepers het en jou verveel het met hul monotoon voortlees van werk uit die handboek.

Ek eis my en my ouers se geld terug!  Want daai produk was well beyond its sell-by date!

Ek gaan ‘n bietjie uitwerk hoeveel uur van my lewe met saalperiodes vermors is…

imaginary vs memory

Standard

Verbeelding en werklikheid vervleg soms as jy sopas uit ‘n droom wakker word, verboureerd tussen die onthou en die verbrou.

(Of as jou gedagtestroom wegvloei van vervelige waters, dan swaai jy skielik aan die kerk se kandelare in jou kop.)

(Of as jy geboei word deur ‘n boek of ‘n fliek; die intrige so intens dat jy dit integreer met jou geheue. )

(‘n Ou foto met staaltjies; later sweer jy jy was daar.)

Enkele oomblikke, waarvan almal allermins gebeur het.

* * *

In ‘n koffiewinkel sit ons: kleindogtertjie, dogter, ouma, vriendin en ek.  Eet kaaskoek en steel die stoom se asem.  Teug met ons oë op die see.  Maar nie vir lank nie.

Die blondekop dogtertjie wil telefoontjie speel, en fluister ‘n woord in haar ma se oor, en die boodskap volg die pad tot my, aspris verdraai.  Sy lag.  Weer en weer en weer.

Volgende game.

Vrae.  Oor seemeeue, Robbeneiland, allerande dinge.

En soos ek vertel van enkele hees drake wat nog op Robbeneiland ronddwaal, en hoe ‘n mens seemeeue aan mekaar kan vasbind om soontoe te vlieg, en hoe die mense heeltyd sandkastele daarso bou en skulpe plattrap – so roep sy my tot stilte.

Nuwe game!  Imaginary vs memory.

En soos wat sy dit sê, dink ek sjoe, dis nogals skerp vir ‘n sesjarige.  Hier dink sy sommer balderdash in ‘n oogwink uit.

En toe speel ons ‘n spel wat ek vermoed, sy haar hele lewe lank sal moet volhou.

eish, wanneer virtual vriende en werklikes collide

Standard

Ek het self nog nie lekker my eie pokèmon specialities agtergekom nie, maar iets wat ek al van lankal besef, is dat ‘n mens se sterkpunte dikwels ook jou swakpunte is.

So het ek dalk die pokèmon ability om kreatief en lateraal te dink, maar is ek nogals vrotsig met liniêre denke of eenvoudige (alledaagse) onthou-goed; ek gryp eerder na assossiasies as feite.

In elk geval, dit bied ek as verskoning aan – ook vrotsig, ek weet – vir die ongemaklike posisie waarin ek my telkens (deesdae al hoe meer) bevind wanneer ek dinge vergeet wat mense meestal as vanselfsprekend aanvaar, of bloot outomaties onthou.  Terwyl ander doelgerig voortstu, leef ek konstant in ‘n dwaal.  Met obvious konneksies wat ek glad net nie maak nie.

Soos die logiese verband tussen ‘n virtuele Johan en ‘n werklike Johan wat my altwee op die naam groet.

Die virtuele Johan ken ek van sy blogskeppinge en meningsrubrieke.  Hy is ‘n mede-geselsgenoot vir wie ek al virtueel genooi het vir koffie saam met Bertus! (want oopkop-denke is ‘n skaars noodsaaklikheid in onze studentedorp – dis dus goed om sulke mense in lewende lywe te ken).

Maar die werklike Johan groet ek toe anderdag met ‘n kopknik-en-wuif beweging, onwetend presies wat sy naam is (dalk ‘n Jaco of Etienne?).  Sy gesig, waar hy bly en verdere assosiasies – dié “onthou” ek, maar wié hy is, besef ek bloot nie.  Ook “hoor” ek nie dat hy na “mnr.muller” roep van oorkant die pad nie, en sy skielike verwysings na my blog, vang my heel onkant – want tog sekerlik ken ons nie mekaar (hy vir wie ek vyf of ses jaar terug moes ontmoet het) so goed nie…

Altemit.

Vreemd moes dit dus vir hom wees toe ek hom – naby aan ‘n skielike einde tot ons gesprek – vra om die virtuele Johan (wat ek toevallig lateraal onthou in dieselfde koshuis bly as hy) saam te nooi vir ‘n koppie tee eendag…

Eish!

Maar wereens, in my defense, sy blog-avatar het ‘n sonbril op – hoe moes ek weet?

So, ek wil ‘n beroep doen op al julle boggers: is dit nie tyd – ter wille van mense soos ek – dat ons alle anonimiteit in web-omgewings laat vaar nie?  Kan almal nie net hulle virtuele sy met hul werklike jy integreer nie?

Andersins, as ek weer ‘n blog-maatjie in lewende lywe ontmoet, vra ek solank by voorbaat om verskoning as ek jou per ongeluk dualiseer in my gemoed.

Sorry, Johan.  Goed om jou te ken 😉  Bring jouself enige tyd saam vir ‘n koppie tee!