Konstruktivisme #2 – monkey puzzle

Standaard

Multiple choice monkey puzzle (for behavioural constructivists)

Beantwoord die volgende vrae deur elke keer die nommer van die antwoord langs die letter van die vraag te skryf.

(a)  Wat is leer?

  1. Die onthou en weergee van feite.
  2. Die foutlose naboots van ‘n aksie wat gedemonstreer is.
  3. Die vermoë om “nuwe” inligting te interpreteer/verwerk.
  4. Kennis, Begrip, Toepassing, Analise, Sintese, Evaluering.

(b)  Waar leer ‘n mens?

  1. In ‘n beheersde omgewing, ‘n klaskamer met rye banke, gerig na die skryfbord.
  2. In ‘n opset waar diegene wat onderrig word, stilbly en luister na die onderwyser.
  3. In ‘n verskeidenheid groeperings en rangskikkings afhangende van die aktiwiteit.
  4. Orals waar ‘n mens se denke (meervoudige intelligensies) uitgedaag/geprikkel word.

(c)  Wanneer leer ‘n mens?

  1. In die klaskamer wanneer die onderwyser nuwe werk behandel.
  2. Net voor ‘n toets, deur die herhaalde deurlees en opsom van feite.
  3. Kennis word die heeltyd geskep en bou voort op bestaande kennis.
  4. Wanneer jou waninterpretasie (verkeerd-verstaan van iets) uitgedaag word.

(d)  Hoe leer ‘n mens?

  1. Sistematies en georden volgens ‘n logiese patroon.
  2. Jy leer deur waar te neem en na te boots.
  3. Deur assosiasies en “logiese” verbande te trek (soms verkeerdelik) tussen nuwe kennis en bestaande kennis.
  4. Deur krities te reflekteer oor nuwe inligting en bewerings.

(e)  Wat leer ‘n mens?

  1. Die inhoud van ‘n sillabus.
  2. Die werk wat bepunt word vir ‘n toets.
  3. Slegs dit wat voldoen aan die leerder se behoeftes (en volgens hom/haar relevant is).
  4. Allerande vermydingsgedrag om onaangename onderrigleersituasies te probeer vermy.

(f)  Wat beinvloed leer?

  1. Jou denke (vlak van kognitiewe ontwikkeling) en wakkerheid in die klas.
  2. Die sorgvuldigheid, netheid en selfdissipline van die leerder, tesame met die georganiseerdheid, struktuur en aanbieding van die leerstof deur die onderwyser.
  3. Jou gemoedstoestand, emosies, selfvertroue, wilskrag, en motivering.
  4. Die klasatmosfeer en openlike interaksie en uitruil van idees met mede-leerders.

(g)  Wie onderrig ‘n mens?

  1. ‘n Onderwyser wat ‘n passie vir ‘n spesifieke vak het.
  2. ‘n Kenner wat ‘n lesing aanbied oor ‘n betrokke onderwerp.
  3. Jy is meestal jou eie leermeester en verantwoordelik vir jou eie leerproses.
  4. ‘n Fasiliteerder wat leergesentreerd fokus op die leerders se behoeftes.

(h)  Waarmee word ‘n mens onderrig?

  1. Transparant, handboek, swartbord.
  2. Die nuwe werk (stellings) word gegee, verduidelik (bewys) en oefeninge (wat spesifiek ontwerp is om die nuwe werk vas te lê) word as huiswerk gegee, en gemerk.
  3. Als en nog wat word ingespan om leerders se aandag te wek en belangstelling te prikkel – leergeleenthede word rondom take geskep.
  4. Interaktiewe leerstof, rekenaarprogramme, flieks, artikels, koerantberigte en enigiets uit die regte wêreld word nader getrek; verbeeldingryke stories en grapperigheid.

(i)  Hoe word onderrigleer gemeet?

  1. Die opvoeder toets die leerder se vordering met die nasien van huiswerk en die merk van toetse.
  2. Die leerder kry terugvoer op sy/haar rapport met ‘n summatiewe punt.
  3. Leerders identifiseer eie sterk- en swakpunte en bou ‘n portefeulje op van vordering.
  4. Die onderwyser maak merendeels gebruik van formatiewe assessering (ook d.m.v. self- en eweknie-assesserings) wat beteken dat leerders terugvoer kry oor hoe hulle hul werk kan verbeter.

(j)  Wie is ‘n goeie onderwyser?

  1. Iemand wat respek kan afdwing by die leerders.  Die leerders mag dit nie waag om in sy/haar klas te praat nie.
  2. Iemand wie se lesinhoud logies opeenvolgend uiteengesit is en slim leerders laat uitstyg.
  3. Iemand wat leerders krities kan laat dink en die werk wat gedoen word, aktief te bevraagteken.
  4. Iemand wat die hele klas se vordering in ag neem en leerstrategieë vir swak en sterk leerders ontwikkel.
Advertisements

16 responses »

  1. Skuus, my eerste reaksie was bietjie dom. Ek was nie seker of jy wou hê dat ons die vrae actually moet beantwoord nie. Daar het ook soveel vreemde konsepte oor my kop gevlieg dat ek eers nie lekker kon sin uitmaak nie. Dalk omdat ek nie ‘n onderwyser is nie? 😉

    Elk geval, laat ek my tweede reaksie ‘n bietjie meer insiggewender maak:

    Ek dink jou vraag (i) vermis ‘n opsie:

    5. Meervoudige keusevrae moet beantwoord word, ongeag of die opsies so beperk is dat geen verdere insig toegelaat word om na vore te tree nie.

    Ek gaan ‘n bietjie meer tyd nodig hê om ‘n behoorlike reaksie op jou keusevraaglysie te formuleer op grond hiervan. 🙂

  2. Meneer
    1. Wat van foute?
    Dit lyk vir my of daar meer as een antwoord is, en dit maak my benoud, want ek’s bang ek maak foute.
    2.Kry ons punte hiervoor?
    Waar pas memorisering in? Dis hoe ek altyd my punte gekry het.
    3. En voorkennis of kultuur? Ek het ‘n spesmaas dit beïnvloed ook leer.
    4. Watter rol speel dissipline?
    Lyk vir my of baie van hierdie moontlikhede goed is, maar ek is bang dit veroorsaak chaos in klasse.
    5. Ek wonder skielik of al die reëls en lysies woordeskat (ens.) wat ons moes leer (in taalonderrig) nie ook maar my lus om te leer weggevat het nie.
    6. En skielik is ek onseker oor wat ‘n mens dan moet doen? Wat is reg en wat is verkeerd?

  3. Jammer, hierdie is ‘n lang antwoord, maar ek dink jy’t daarvoor gevra. ;> Jy kry in elk geval nie normaalweg sulke langes nie, so ek skat hierdie uitsondering is seker ok.

    Een wenk: as jy ‘n meervoudige keusevraaglysie saamstel, probeer om die opsies darem onderling uitsluitend te maak.

    (a) Wat is leer? My antwoord: 1, 2, en 3 (miskien ook 4)
    My redes:

    1. Sonder kennis (feite), vind leer nie plaas nie (en nog minder so as jy niks kan onthou nie)
    2. (i) Hoe sou ‘n ambagsman sy vaardigheid aanleer/bemeester as hy nie eerste sy mentor naboots nie? (ii) Natuurlik is dit ook goed om soms alternatiewe metodes te ondersoek.
    3. Die vermoë om nuwe inligting te interpreteer/verwerk is nuttig as jy aanpasbaar wil bly, maar is slegs een van vele vaardighede wat ‘n persoon kan aanleer.
    4. Ek kan nie sê dat ek hierdie opsie behoorlik verstaan nie (alhoewel ek weet waar dit vandaan kom)

    (b) Waar leer ‘n mens? My antwoord: 1, 2, 3, en 4
    My redes:

    1. Hoe anders gaan een persoon groot hoeveelhede kennis+insig op ‘n praktiese wyse aan ‘n hele klas vol leerders oordra?
    2. Hoe sal enige kennis/insig oorgedra kan word as daar gereelde onderbrekings en oproerigheid is?
    3. Aanpasbaarheid kan die leerproses meer interessant maak (en dus ‘n groter indruk maak) as dit prakties toegepas kan word.
    4. Dit is goed om alle geleenthede vir leer te benut.

    (c) Wanneer leer ‘n mens? My antwoord: 1 (soms), 2 (gedeeltelik), dalk 3, en 4, plus 5
    My redes:

    1. Ek onthou dat ek baie hierdeur geleer het, selfs oor werk waarvan ek nie gehou het nie. Soms was dit wel nutteloos.
    2. Voor ‘n toets verfris jy net jou geheue. Herhaling is nuttig om kennis (intellektueel of motories) vas te lê.
    3. Praat jy hier van navorsing?
    4. Dit help baie male deurdat ‘n sterk indruk geskep word.
    5. Ek vind dat ek baie makliker kennis opdoen en onthou as ek ‘n spesifieke praktiese doel in oog het (soos hoe werk ‘n rekenaar se binnegoed, sodat ek kan weet hoe om een te bou of reg te maak, of fantastiese sagteware te skep; selfde vir ‘n mediese dokter wat mense wil gesond maak). Hiermee saam is dit ook belangrik dat ek my eie ontdekkingsreis stuur, maar dat die toepaslike inligting beskikbaar is wanneer ek dit benodig (sluit dalk aan by jou punt 3?).

    (d) Hoe leer ‘n mens? My antwoord: 2, 3, en soms 4
    My redes:

    1. Ek het nie genoeg kennis/insig oor die voor- en nadele van hierdie proses nie.
    2. Sien my kommentaar by opsie 2 van vraag (a).
    3. Dis baie nuttig om self assosiasies te ontdek (sien my punt 5 by vraag (c)), en wanneer jy dan verkeerd bewys word, kan ‘n sterk, blywende indruk geskep word deur die gepaardgaande emosionele reaksie.
    4. Wanneer jou brein genoeg ontwikkel het om krities te kan dink oor jou eie kennis/opvattings kan dit ook ‘n nuttige stukkie gereedskap wees vir leer.

    (e) Wat leer ‘n mens? My antwoord: 1
    My redes:

    1. Uit ‘n sekere perspektief mag dit dalk onproduktief lyk, maar blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid kennis (en dus idees) is nooit ‘n slegte ding nie. Wat meer belangrik is, is die metode waarop daardie kennis aangebied/oorgedra word.
    2. duh!
    3. Ek dink nie dis ‘n goeie idee om leerders se ontwikkeling so te beperk nie, selfs al hou hulle nie van alles nie.
    4. Wat?!

    (f) Wat beinvloed leer? My antwoord: 1, 3 en dalk 4
    My redes:

    1. absoluut, ongetwyfeld, ja (wel, ek is nie eintlik ‘n kenner op hierdie gebied nie)
    2. Sorgvuldigheid, netheid en selfdissipline is nie iets wat leer beïnvloed nie (alhoewel dit dalk tog ‘n mate van invloed kan hê), maar is eerder nog (sosiale) “vaardighede” wat aangeleer kan word. Ek dink dit help jou om ‘n beter mens te word, nie vir die feit dat jy dan mooi “prim-en-proper” is nie, maar omdat jy krities na jou eie gedrag kyk en probeer streef na iets beter, eerder as om tevrede te wees met “goed genoeg”.
    3. Hierdie dinge speel ‘n definitiewe rol. Veral emosies kan sterk en blywende indrukke laat (dink net hoe skerp jy dinge kan onthou wanneer daar ‘n bietjie adrenalien deur jou are pomp).
    4. Uitruil van idees tussen eweknië is nuttig wanneer verskillende vlakke van kennis/insig tussen hulle bestaan.

    (g) Wie onderrig ‘n mens? My antwoord: 1, en 3
    My redes:

    1. As die onderwyser nie passievol is oor sy/haar vak nie, kan daar nie verwag word van die leerders om belangstelling te toon nie. Passie is egter nie genoeg om te verseker dat leer effektief plaasvind nie.
    2. Uit my ervaring is sulke lesings nie gewoonlik van baie praktiese nut, tensy die gehoor genoegsame kennis het nie. Maar, selfs dan word die onderwerp baie male nie in genoeg diepte gedek tydens een lesing nie.
    3. Jy is jou eie leermeester in die sin dat jy kies wat jy wil leer, maar jy moet nogsteeds die kennis van iewers ontvang (dit is tog teen-produktief as almal oor-en-oor die wiel moet herontwerp). My beste leerervarings was waar ek self ‘n onderwerp ondersoek het omdat ek spesifiek daarin belangestel het. Dit maak egter nie ander leermetodes nutteloos nie.
    4. Ek verstaan nie hoe hierdie proses sou werk nie.

    (h) Waarmee word ‘n mens onderrig? My antwoord: 2 (tot ‘n mate), en 4
    My redes:

    1. Dis ok, maar nie genoeg nie.
    2. Oefening is belangrik vir sekere vakrigtings. Insig (verduideliking) help ook dat leerders die werk beter verstaan.
    3. Ek dink dis oppervlakkig om bloot te probeer belangstelling prikkel en aandag te trek. Take is ook nie na my mening altyd sinvol of nuttig nie.
    4. Hoe meer ‘n verskeidenheid van materiale beskikbaar is, hoe groter is die kans dat elke leerder iets nuttig uit die onderrigproses sal ontvang. Dit keer ook dat onderrig vervelig word (wat leer kan laat afneem). Dis egter belangrik om daarop te let dat dit nie sekere (bv. minderbevoorregde) leerders sal uitsluit nie (materiale moet aan leerders beskikbaar gemaak word eerder as om te verwag dat hulle dit self opspoor/aanskaf).

    (i) Hoe word onderrigleer gemeet? My antwoord: 1, en 3
    My redes:

    1. Dit is tog die ideaal om op ‘n konkrete wyse te bepaal hoeveel ‘n persoon geleer het (of is dit eintlik irrelevant?). Toetse en huiswerk is miskien nie die perfekte oplossing nie, maar sover ek weet die naaste (indien reg toegepas).
    2. ‘n Enkele punt gee nie veel insig nie.
    3. Dis belangrik dat leerders leer waar hul sterk- en swakpunte is sodat hulle kan weet waar om meer aandag te gee.
    4. Huh? Help my asb. om hierdie sin te verstaan. Ek sou voorgestel het om vir jou ‘n woordeboek te koop sodat jy mooier Afrikaanse woorde kon gebruik, maar toe onthou ek dat jou boekrak alreeds oorloop van hulle. ;> Ek dink wel (soos met opsie 3) dat dit goed is vir leerders om terugvoer te kry oor hoe hulle hul werk kan verbeter.

    (j) Wie is ‘n goeie onderwyser? My antwoord: 2 (soms), 3, en dalk 4, plus 5
    My redes:

    1. Bah! Dit mag voordelig wees, maar dit beteken nie jy kan klasgee nie.
    2. Logies-opeenvolgendheid is belangrik in sekere vakrigtings. Ek het al klasse bygewoon waar onsamehangedheid my ervaring in die klas amper heeltemal nutteloos gemaak het. Sulke logiese lesse is egter nie slegs vir slim leerders nuttig nie, is dit?
    3. Dis belangrik vir leerders om te leer krities dink, maar dis ook nie genoeg nie.
    4. Dis nodig om almal se behoeftes in ag te neem, maar sonder om sekere groepe te benadeel.
    5. Nie enige van die gegewe opsies definieer werklik in sigself ‘n goeie onderwyser nie. Daar is verskeie faktore wat saam ‘n goeie onderwyser definieer; dinge soos kundigheid, entosiasme, ervaring, ens. (selfs soms ook voorkoms).

  4. Uitstekend! wordpress het nie my html kode verstaan wat die genommerde lyste moes maak nie. Mnr Muller, delete asb. my vorige comment dat ek liewer weer probeer. Dit lees nie so lekker sonder die nommers nie.

  5. @Ywerige Student: Moenie bekommerd wees oor foute maak nie; dis deel van die proses (al is dit effens intimiderend!). Dankie vir jou belangrike bydrae: memorisering, kultuur en dissipline. Ek hoor graag wat is die ander se opinie rondom die drie (tov die onderrigleerproses).

    @Francois C: Ekt nommers ingesit soos ek vermoed jy dit wou hê; kyk asb of dit reg is 😛 Dankie vir jou kommentaar én veral jou bykomende punte.

    Dié bloginskrywing is hoofsaaklik gemik op die onderwysstudente wat ek volgende kwartaal onderrig oor kreatiwiteit, konstruktivisme en humor in die taalonderrig; dit is goed dat jy die terme wat onduidelik is, uitlig – ek sal daarop let.

  6. Dankie Mnr Muller, die nommers lyk nou reg.

    Ek het ‘n voorstel i.v.m. jou keusevraagformaat: dalk wil jy oorweeg om eerder jou gehoor te vra om ‘n rangorde vir elke opsie toe te ken (‘n rang van 0 (nul) beteken die opsie is nie van toepassing nie, en 5 beteken dis belangriker as opsies met rang 4, 3, 2 en 1). Op hierdie manier kan jy nogsteeds ‘n goeie (of selfs beter) indruk kry van die gehoor se menings sonder om hulle te beperk in hul opsies. Dit vermy ook die probleem van onderling uitsluitendheid. Aan die ander kant, as die antwoorde nie werklik geëvalueer gaan word nie, dan maak dit seker ook nie saak nie.

    estelleke: my opsie 5 by (j) is eintlik wat ek daar geskryf het (“geen van bogenoemde” en “‘n kombinasie van faktore”), maar as ek ‘n kort opsomming moet gee van wat ek dink ‘n goeie onderwyser is, is dit iemand vir wie die behoorlike opvoeding van leerders belangrik genoeg is dat hy/sy streef daarna om korrekte kennis met volledige begrip, sowel as nuttige vaardighede, op ‘n effektiewe wyse aan hulle oor te dra. Dit kan doelbewus of onbewustelik (met natuurlike talent) gebeur. Of so dink ek.

  7. Terug pieng: Konstruktivisme #3 - Vrae vra sonder antwoorde « mnr.muller

  8. Ek kan nie sê dat ek rêrig ‘n goeie begrip van postmodernisme het nie, maar met “korrekte kennis” het ek bedoel dat jy nie gefabriseerde onwaarhede (leuens) of selfs net onsekerhede aan iemand leer sonder om uit te lig dat dit bloot onsekerhede of opgemaakte stories is nie. Daar is bv. geen fout daarmee om kindertjies se verbeeldings te stimuleer met stories van fantasiewêrelde nie, maar hulle moet tog sekerlik daarvan bewus gemaak word dat dit nie ware verhale is nie. Of is ek verkeerd en is dit dalk juis beter as hulle dink dis die waarheid? Dalk is die voorbeeld te eenvoudig (of te gekompliseerd), want om sootgelyke (wel, meer gesofistikeerde) stories aan ouer kinders (tieners) te verkoop is geheel en al immoreel. Dit grens aan “mind-control”.

    Ek dink egter wel dat hierdie idee onafhanklik staan van enige paradigmaklassifikasie.

  9. Volgens ‘n modernistiese benadering is daar een universele waarheid (objektief waarneembaar) wat ontdek kan word.

    Volgens ‘n postmodernistiese benadering is daar baie “waarhede” wat individue konstrueer, en hoogstens intersubjektiewe sienings wat met mekaar vergelyk kan word. (There are as many French Revolutions as there are people in the world.)

    Was alle Skeinat op skool nie juis nét halwe-waarhede nie? Lieg jy nie vir ‘n kind as jy sê die vierkantswortel van -9 bestaan nie? Is die grondslag van die wetenskap nie juis dat geen teorie bewysbaar is nie, net falsifiable (Popper)?

    Ek stem saam dat kinders (en grootmense!) se verbeelding gestimuleer moet word – maar nie noodwendig net deur fantasiewêrelde nie.

    Is die ideale onderwyser bloot iemand wat kennis oordra of ‘n vaardigheid demonstreer? En die ideale leerder iemand wat net die “korrekte” kennis kan weergee en die vaardigheid herhaal?

    Hm.

  10. Ai, eers moet ek net sê dat hierdie debat vir my tintelend lekker is! Dankie mnr.muller.

    En ek wonder of die woord “lieg” nie ook ‘n vreeslike judgement is nie. Ek sms vir my volwasse kind (wat in Switserland is) as sy verjaar dat ek saam met haar tee drink en vir haar kaaskoek bestel. En ons altwee geniet hierdie leuen.

    Verder stem ek saam met die volgende aanhaling:

    “Any dinosaurian beliefs that ‘creative’ and ‘analytical’ are contradictory and incompatible modes are standing in the path of a meteor; they are doomed for extinction.” (Richardson & St. Pierre, 2005).

    Dalk is die harde feite (korrekte kennis of waarheid) en verbeelding (fantasie, idees, sogenaamde onwaarhede) vir te lank as aparte dinge gesien, terwyl dit dalk twee kante van dieselfde munt is.

  11. Mnr. Muller: met “kennis oordra” het ek juis nie die meganisme van oordrag vasgepen nie, maar eerder die wyse van oordrag probeer beklemtoon. Die onderwyser het natuurlik nie die wêreld se kennis in sy/haar kop nie, maar selfs as leerders slegs sy/haar beperkte kennis kan tap, dan is hulle al ‘n hele ent beter af in terme van wat hulle weet oor die wêreld/lewe. Die vaardighede waarna ek verwys kan natuurlik insluit die vermoë om self kennis (en vaardighede) van ander bronne te tap en sodoende selfs dinge leer wat die onderwyser dalk nie eens weet (of kan doen) nie.

    Estelleke: die woord “lieg” of “leuen” is mos nie ‘n judgement nie. Dis bloot ‘n label – vir ‘n feit wat nie werklik ‘n feit is nie. Jy en jou dogter kan juis daardie leuen geniet omdat julle albei implisiet bewus is daarvan dat dit nie die werklikheid weerspieël nie (maar eerder ‘n wens is).

    In ‘n leeromgewing is sulke implisiete bewustheid normaalweg nie teenwoordig nie en behoort leerders dus bewus gemaak te word daarvan dat sekere feite nie werklik feite is nie – soos in die Skeinatklas waar hulle leer van wetenskaplike teorië en modelle, wat bloot beskrywings (stories) is van hoe die natuur hom-/haarself gedra en dat atome nie werklik piepklein balletjies is nie of dat ligstrale nie werklik golwe is nie. Die “korrekte kennis” wat dan oorgedra moet word is die model wat eksplisiet voorgehou word as ‘n model (‘n storie / fabrikasie, en niks meer nie), eerder as die indruk dat die werklike essensie van die onderwerp wel bekend is en verstaan word. Sluit dit nie goed aan by daardie konsep van een munt met twee kante nie?

    Ek het ongelukkig nie enige oulike aanhalings vir julle nie, net my eie idees. 🙂

  12. Oor die leuen – in ons werklikheid is dit nie net ‘n wens nie, maar ‘n verwysing na ‘n (vorige) geskiedkundige feit!

    Ek hou van die uitpak van voorbeelde in die Skeinatklas wat stories, modelle en twee kante van die munt uitbeeld. Dit oortuig my vir eers, geen verdere äanhalings nodig nie.

    Oor die vrae in die geskiedenisklas wonder ek nog. Ek sou in elk geval begin by elke leerder se eie storie en vra hoe dit verband hou met die ander lede van sy/haar gesin se stories oor dieselfde gebeure. Lekker navorsingsprojek.

  13. Whoa, ek het sopas ‘n artikel gelees wat hierdie inskrywing van jou soos ‘n handskoen pas:

    Students Who Use ‘Clickers’ Score Better On Physics Tests
    http://www.sciencedaily.com/releases/2008/07/080717092033.htm

    Dis ‘n bietjie van ‘n lang artikel, so ek gaan ‘n opsomming probeer:

    ‘n Clicker is ‘n klein koordlose handtoestel waarmee jy meervoudige keusevrae kan beantwoord (onthou jy dalk America’s funniest home videos?). Baie gepas hier, né? Direk nadat die dosent ‘n gegewe onderwerp behandel het, kry studente geleentheid om hul begrip te toets m.b.v. meervoudige keusevrae wat op ‘n vertoonskerm gewys word. Die resultate van die hele klas is dan onmiddelik beskikbaar, en almal kry geleentheid om hul eie konstrukte te korrigeer indien nodig. Die visuele terugvoer help waarskynlik ook met die vaslegging van begrip. Die dosent kan dan ook op grond van die resultate propeer help dat die studente op ‘n ander manier oor die onderwerp dink, soos met gesprek onder mekaar. Boonop help dit dat studente meer aandag gee in klas.

    Ek wou ‘n lysie maak van al die opsies in jou keusevraaglysie wat deur hierdie tegniek aangespreek word, maar daar is te veel. Hoop julle kan dit raaksien.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s