Konstruktivisme #3 – Vrae vra sonder antwoorde

Standard

Almal van ons onthou ‘n onderwyser voor in die klas wat ‘n les aanbied.  Hy/sy praat oor die onderwerp en vra elke nou en dan ‘n vraag – soms gerig aan ‘n spesifieke individu; soms skiet die hande op in die lug.  Vir die onderwyser is dit ‘n geleentheid om die les te stuur in ‘n rigting, of om leerders wie se gedagtes afdwaal, te laat wakkerskrik, of om te kyk of die leerders volg wat aangaan.

Ook ken ons van vraestelle met langvrae en kortvrae – langvrae wat meestal ‘n bietjie begrip toets en kortvrae wat basiese feitekennis bepunt.

Maar wat is die doel van vrae vra aan leerders?  Wil ons regtig net regte/verkeerde antwoorde hê wat ons kan merk en bepunt vir ‘n rapport?  Wil ons net hê leerders moet kiertsregop sit in ‘n klas?

Moet vrae mooi antwoorde hê?  (…en meervoudige keusevraelyse net antwoorde wat onderling uitsluitend is? :P)

In leergesentreerde klaskamers is die rede vir vrae eerstens om leerders te laat dink – krities en bevraagtekend oor die werk te laat reflekteer – en tweedens om hulle antwoorde/ redenasies/ bykomende vrae met mekaar te laat vergelyk en bespreek.  Die onderwyser fasiliteer dié onderhandeling van kennis en begrip, en begelei hulle tot hoër orde denke (toepassing van die inligting, sowel as die opbreek en bymekaarvoeg, of integrasie van verskillende insigte wat opgedoen is, en die uiteindelike nadink en refleksie oor dit wat geleer is en hoe die nuwe werk inpas by vooraf kennis).

Om soos vorige onderwysers klas te gee, is maklik (en soms nodig).  Dit is hoekom so baie onderwysers outomaties terugval op ‘n lesingformaat met vrae-en-antwoordsessies.  Jy as onderwyser is tog die draer van kennis, laat jy die leë koppe vul… 😉

Dis moeiliker om leerders te laat dink en redeneer, en om seker te wees dat hulle gedagtes en besprekings nie afdwaal nie.  (‘n Mens moet tricky vrae vra en take uitdink wat die leerders aan die dink sal kry.)

Hoe vra jy jou vrae in die klas?

Volg hierdie skakel http://www.teacherstoolbox.co.uk/constructivism.html vir meer info oor konstruktivisme.

11 responses »

  1. Ek wonder nogal hoe hierdie “leergesendreerde” onderrig toegepas word waar leerders moet kennis maak met honderde biologiese terme en begrippe, of geskiedkundige feite, of vele chemiese vergelykings wat gebasseer is op natuurwette. Is dit nodig dat leerders self daardie natuurwette ontdek, of padda’s dissekteer en dan leer dat die name wat hulle self aan die verskillende organe gegee het eintlik nie ooreenstem met algemene benamings wat dwarsoor die wêreld gebruik word nie? Is sulke onderrig nie dalk minder effektief nie? Ek kan egter wel indink dat geskiedenisklasse meer interessant kan wees as jy self die feite opsoek (gegee jy het die belangstelling) en kortverhale oor die gebeurtenisse lees ter aanvulling, of geromantiseerde flieks daarvan kyk en dan bespreek watter dele daarvan onsin is.

  2. Leerdergesentreerd staan teenoor onderwysergesentreerd, soos leergesentreerd teenoor onderriggesentreerd.

    As jy op ‘n leerdergesentreerde wyse biologieterme wil onderrig sodat die fokus val op hoe leerders die nuwe inligting moet internaliseer, dan sal jy heelbrein-onderrig toepas en die feite op veelvuldige wyses aanbied om die leerders se verskillende sintuie (en meervoudige intelligensies) te stimuleer (soos om ‘n padda oop te sny!), én vir hulle heuristieke aanleer om nuwe terme te onthou.

    As jy onderriggesentreerd klasgee en nét fokus op wat die maklikste manier is om feitekennis oor te dra, dan sal jy die nuwe biologieterme bloot noem en die leerders daaroor toets (dit is immers lastig om tientalle paddas oop te sny).

    T.o.v. vrae-vra sal ‘n onderwyser wat leergerig klasgee, eerder begin met ‘n disseksie en vra dat die leerders die organe in hulle groepies moet probeer identifiseer – in sulke klasse hoor jy dan ‘n gepraat en beredenasies oor wat is ‘n long en waar is die hart.

    Dit staan teenoor die onderrigbenadering waar leerders ‘n tekening moet kan oorskets en die byskrifte korrek onthou.

    T.o.v. natuurwette, sal jy eers leerders ‘n eksperiment laat doen en dan afleidings laat maak en met mekaar laat bespreek, en dan hulle begelei tot die natuurwet wat dan intuïtief vanuit die eerstehandse ervarings af volg.

    Vanuit ‘n onderriggesentreerde invalshoek sal ‘n onderwyser eers die natuurwet gee, dit met die eksperiment “bewys” en met die vergelykings en voorbeeld-probleme laat inoefen.

    To state a theorem and then to show examples of it is literally to teach backwards. -E. Kim Nebeuts

  3. As ek twee Saterdae gelede vir jou om 18:55 gaan oplaai het om saam by ‘n pel te gaan kuier, dan is dit ‘n geskiedkundige feit.

    Dankie vir die voorbeelde. Ek dink ek hou van leergesentreerd.🙂

  4. Haha, juis nie!😛 Die tyd en datum en aktiwiteit word anders deur jou en my (en ons DRIE vriende met wie ons gekuier het) onthou!

    Toegegee, daar is verifiëerbare inligting waaroor mense saamstem – dikwels is datums, plekke en dokumente kontrolleerbaar, maar die meeste “feite” van geskiedenis is oorvertelde stories vanuit ‘n spesifieke (gewoonlik manlike) oogpunt.

    Daar speel tans verskeie geskiedenisse af in Zimbabwe: party is verheug oor die vryheidsvegter wat herverkies is tot demokratiese leier.

    Ook in ons land, veral, was geskiedenis nog nooit ontkoppel/losstaande van ideologie nie.

    Geskiedenis, in die breë gesien, berus op onderhandelde interpretasies; nooit op objektiewe waarhede nie… of hoe dink jy?😛

  5. Jy gee my goeie skietgoed.🙂

    Wat jy sê oor interpretasies is wel waar – ‘n geskiedkundige feit in sigself.😉

    Die ding van geskiedkundige feite, is dat ons meganismes het om geskiedenis onafhanklik van interpretasie te kan opneem in rekords en dan ook so oop te lê.

    Ek dink nie dat interpretasie van geskiedenis ooit werklik voorgehou kan/mag word as die geskiedenis self nie, al is dit nou toevallig *wat* mense tot dusver nog doen. Daardie stelling wat jy oor Zim maak lig juis die feite in die geskiedenis uit – dat sommige mense verjeug was terwyl ander dalk bekommerd was. Dis wel waar dat al die feite nie altyd bekend is nie of mettertyd verlore raak, en dus is dit maklik om geskiedenis te omskep in verdraaide stories. Maar die stories kan sekerlik nogsteeds gesien word vir wat hulle is – bloot stories. Selfs daardie feite wat wel beskikbaar is, is nogsteeds feite. So, as mense mettertyd vergeet van die bekommerde Zimbabwiërs, dan moet jy nog kan sê: “ten minste sommige van hulle was verjeug”, want “almal was verjeug” kan tog nie geverifieer word nie. Ek dink jou taalgebruik speel ‘n belangrike rol wanneer jy oor die geskiedenis praat.

  6. Julle voorbeelde laat my wonder watter rol MAG (“power”) speel in sogenaamde feite. Wie het mag om gesaghebbend te praat, wie se “storie” word geglo en verkondig as feite terwyl die ander “bloot stories” is? Wie se waarheid is algemeen geldig, indien wel, hoekom?

    Terloops, mnr.muller, jy mag maar konstrueer, of konstruktivisme pleeg volgens my oordeel…

  7. …net om weer die thread te swaai tot die betrokke bloginskrywing: watse tipe vrae dink jy is dus relevant in ‘n geskiedenisklas? Wat is die uitkomste wat ‘n mens in daardie leerarea sou wou bereik? Watter vrae sou jy oor Zim vra? Net feitevrae? Net reg/verkeerd?

    Feite en kennis is belangrik, ja, maar van selfs groter belang is die denkvaardighede wat jy in die leerders d.m.v. geskiedenis aanwakker (die sogenaamde kritieke uitkomste): wanneer leerders onder mekaar kan sukkel met tricky take en vrae wat teenstydighede uitwys, word meer “leer” ontsluit, glo ek, as met blote memoriseringsvrae of vrae wat self deur die onderwyser beantwoord word.

    @geskiedenis-feite: ek dink dis ‘n bespreking op sy eie – of daar nog iets soos empiriese “feite” bestaan in onse narratiewe wêreld.

  8. Om uit te vind watter vrae relevant is in die geskiedenisklas, is dit wel nodig om eers te weet wat die uitkomste van geskiedenisonderrig is. Ek is nie ‘n geskiedenisonnie nie, so ek het nie werklik ‘n benul nie. Ek het ook geskiedenis net tot op st. 7 (gr. 9) geneem. Maar, ek kan ‘n bietjie my wetenskaplike en algemene sinne inspan en dink aan ‘n paar voorbeelde.

    Hiervolgens vermoed ek dat geskienenislesse (behoort te) poog om:
    1. jou kennis (feite) van die geskiedenis te vergroot (jy moet eers weet wat gebeur het)
    2. jou te leer hoe om stories te ontleed en losstaande feite daaruit te onttrek
    3. jou te leer onderskei tussen werklike feite en onbelangrike of ignoreerbare details wat nie noodwendig geverifieer kan word nie
    4. jou te laat dink oor die lesse wat uit ander se foute/mislukkings of suksesse geleer kan word

    Ek dink dus ook dat dit nuttig sal wees as, soos jy noem, leerders onder mekaar kan sukkel met tricky vrae wat teensdrydighede uitwys.

    Ter illustrasie van my uitkomstelysie, wil ek weer kyk na daardie eenvoudige gebeurtenis toe ek jou opgelaai het om by vriende te gaan kuier:

    My stelling was: “As ek twee Saterdae gelede vir jou om 18:55 gaan oplaai het om saam by ‘n pel te gaan kuier, dan is dit ‘n geskiedkundige feit.”

    Jy het ‘n paar probleme uitgewys met my stelling: “Die tyd en datum en aktiwiteit word anders deur jou en my (en ons DRIE vriende met wie ons gekuier het) onthou!”

    As ons alles mooi ontleed, dan kan ons die volgende kandidaat-feite onttrek:
    1. Datum: Saterdag 28 Junie 2008
    2. Tyd: 18:55 (SA tyd: UTC+02:00)
    3. Ek het die oplaai werk gedoen (iemand anders het jou nie opgelaai nie).
    4. Jy is opgelaai (ek het nie iemand anders opgelaai nie).
    5. Ons het by ‘n pel gaan kuier (dit was by sy huis, en daar sou nie noodwendig nog mense wees nie).
    6. Daar was ander pelle ook teenwoordig by die kuier.

    Ek en jy onthou verskillende aspekte van die gebeurtenis, en ook eenderse aspekte op verskillende maniere, maar ek dink ons kan saamstem (m.a.w. geen teensdrydighede vind nie) oor al hierdie kandidaat-feite behalwe miskien nommer 2. Ek sal egter nommer 2 kan verifieer aan die einde van die maand wanneer ek my selfoonrekening kry omdat ek ons pel gebel het om te sê dat ons ‘n bietjie later eers sou opdaag (dit is nog ‘n feit wat jy behoort te onthou).

    Daar is dan ook ander onbelangrike en ignoreerbare feite soos die klere wat ons aangehad het (wat nie een van ons seker nou meer kan onthou nie). ‘n Effens meer belangrike (implisiete) feit is dat ons wel klere gedra het.😉 Die pad wat ons gery het sal dalk ook as minder belangrik beskou word.

    ‘n Mens sou selfs die ontleding ‘n stappie verder kon neem en die (oplaai) gebeurtenis self sien as die feit, terwyl al die ander punte bloot eienskappe (detail) van daardie feit is. Al die betrokke partye sal die gebeurtenis kan onthou, maar miskien stry oor die detail. Die detail kan egter meestal geverifieer word, of andersins bloot gelos word as spekulasie.

    En die les wat geleer word: taalgebruik het ‘n sterk invloed op die interpretasie van stellings oor die geskiedenis. ‘n Mens kan maklik nie-korrekte kennis oordra as jou stellings nie presies al die spekulasies uitwys nie (en niemand praat ooit so presies nie). Dit is dus goed as leerders geleer word hoe om spekulasie punte raak te sien.

  9. Aha, maar weinig geskiedkundige feit word nagevors, opgeskryf of onderrig deur iemand wat die “werklike” gebeure met absolute sekerheid kan verifiëer.

    Gestel Pel nr.2 (ingenieur) en Pel nr.4 (forensiese patoloog) het iets kwytgeraak daai aand in ‘n terloopse gesprek met ons twee, wat eindelik uitloop op ‘n deurbraak in mediese nanotegnologie.

    Wie onthou wat? Wat is die “geskiedkundige feite” hieromtrent? Die aand sou al lankal weggekwyn het in vergetelheid, en ons aandeel, hoe ingrypend ook al, is verewig vergete, dalk selfs deur ons.

    ‘n Geskiedskrywer kan herkonstrueer en intersubjektiewe (individuele stories saamgeflans), verifiëerbare gebeure uitlig, maar sy/haar keuse van bronne, en seleksie van data het ‘n bepalende invloed op wat op die ou end in die handboek staan.

    Ek is ook nie ‘n Geskiedenis onderwyser nie, maar hierso is ‘n paar algemene leeruitkomste vir die vak:

    Leeruitkomste Geskiedenis

    1.Geskiedkundige Ondersoek: Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om die verlede en die hede te ondersoek.

    2.Geskiedkundige Kennis en Begrip: Die leerder is in staat om kennis en begrip van geskiedenis te toon.

    3.Geskiedkundige Interpretasie: Die leerder is in staat om aspekte van geskiedenis te interpreteer.

    Wees dus gerus, die kiddies word goed geleer – die lekker ding van die nuwe leerplan, is dat leerders nie NET getoets word op hoe goed hulle “geskiedenisfeite” memoriseer nie, maar ook hoe om bronne te interpreteer en die feitelikheid van inligting te ondersoek en te bevraagteken.

    D.w.s. hulle konstrukte – en skep van verstaan – word getoets. Hoera!

  10. Pingback: Om werk te merk « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s