Daily Archives: Julie 22, 2008

Lang hare en ‘n skooluniform

Standaard

Volgens die sienswyses waaruit ons kom, moes kinders gesien, maar nie gehoor word nie.  Tjoepstil in die klas sit en luister.  Hemp ingesteek en netjies.

Netheid en reëls

Want netheid is die hoeksteen van (self)dissipline.  Van gentlemanskap of jongdame-wees.  Van toekomstige sukses.  Daarom dra almal swartgepolitoerde skoene, hoog-opgetrekte kouse, langbroeke/langrompe, ‘n ingesteekte wit hemp, skooldas en -baadjie.  Kort hare as jy ‘n seun is; ponytail as jy ‘n meisie is – met knippies.

In vervloeë dae is reëls voorgehou (en toegesnou) aan leerders.  En straf toegedeel as jy dit nie gehoorsaam nie.  (Want gehoorsaamheid is ‘n deug – die jeug moet kan luister en opdragte uitvoer.)  As jy wit sokkies by ‘n skoolbroek gedra het, sou hulle jou uitken in die oggend-inspeksie; jou hare is gemeet met ‘n liniaal om jou ore.

In ‘n reëlgedrewe stelsel besluit die mense met mag (skoolhoof, onderwysers) watter waardes hulle voorop stel, en dan pas hulle dit nougeset toe volgens ononderhandelbare reëls.

Vryheid en waardes

Deesdae sukkel dinge ‘n bietjie.  Die lat is uit die onderwyser se hand, meer en meer surfer kids se hare hang in hul oë.  Hemde hang uit, skoene is vuilgeskop, sokkies sit op die enkels, das is verkeerd geknoop.  Die oumense prewel hoe die skole agteruitgaan.

Maar waarmee deal ons hier?

In ‘n demokratiese opset, is die mag verdeel tussen leerder en onderwyser.  Reëlgedrewe stelsels is uitgedien en word vervang met waardegebaseerde beginsels.  D.w.s. die leerders het onderhandelingsbevoegdheid – ‘n sê in wat die skoolreëls is en ‘n inkoop in die nastreef van ‘n gedeelde etos (stel etiese beginsels).

Die skoolgee-opset het ook verander vanaf ‘n onderwysergerigte klaskamer (waar die onderwyser die magshebber is), tot ‘n leerdergesentreerde opset waar die klem verskuif vanaf wat die gerieflikste en maklikste manier is van klasgee, tot wat die voordeligste en mees treffende manier is van leer vir die leerders (meer interaktief en konstuktivisties).

Tussenin trouble

Die probleem is egter dat bittermin skole hierdie transformasieproses erken, of begin implementeer het.  Ouer onderwysers stoom nog voort op die haarreëlswette; nuwe onderwysers dikwels ook, en die leerders rebelleer met stille verset.

Wat nodig is, is om die leerders aktief te betrek by ‘n skoolwye gesprek oor die waarde wat hulle wil heg aan die onderskeie tradisies van die verlede.  Die onderwysers en leerders moet saamgesels oor netheid vs. vryheid.  Wat word as belangrik geag?

Deesdae in skole, met die wetenskaplike backing dat leer eintlik ‘n bietjie messy is, en nie vanaf een alleswetensde onderwyser oorgegiet kan word in die oop-koppe van die korthaarkinders voor hom/haar nie, is netheid dalk nié so waardevol soos die leerder se rég tot vryheid van keuse nie.  Uit affektiewe onderrig wéét ons dat jou emosies ‘n reuse rol speel t.o.v. leer – waarom wil ons dus leerders forseer om sleg te voel oor hulle voorkoms deur hulle kuif af te laat skeer?

Versoening

Snaaks genoeg is min waardes mutually exclusive.  In die skoolgesprek oor netheid en skooluniforms en haarreëls waarmee daar weggedoen moet word, sal leerders tog ook noem dat skooluniforms tot ‘n mate lekker is, omdat almal gelyk is, en niemand hoef te worry oor wat hy/sy môre hoef aan te trek nie.  Wat nie kwl is nie, is die hemde wat ingesteek moet word nie, en die onpraktiese grysbroek en swartskoene in die somer, ens.

Dalk dan, as die onderwysers, leerders, ouers en almal gesels het, sal hulle besluit op ‘n nuwe skooluniform: jeans en ‘n wit gholfhemp met die skoollogo daarop.  En leerders wat hulle hare kan lank of kort dra, solank hulle hare uit hul oë uit gevee word wanneer ‘n onderwyser klasgee.

Of dalk besluit die leerders nee, basta, ons wil nog meer fancy klere dra, en dan kom die onderwysers met toga’s klas toe.

Die punt is, die mense moet praat.

En die wêreld verander.