Lang hare en ‘n skooluniform

Standard

Volgens die sienswyses waaruit ons kom, moes kinders gesien, maar nie gehoor word nie.  Tjoepstil in die klas sit en luister.  Hemp ingesteek en netjies.

Netheid en reëls

Want netheid is die hoeksteen van (self)dissipline.  Van gentlemanskap of jongdame-wees.  Van toekomstige sukses.  Daarom dra almal swartgepolitoerde skoene, hoog-opgetrekte kouse, langbroeke/langrompe, ‘n ingesteekte wit hemp, skooldas en -baadjie.  Kort hare as jy ‘n seun is; ponytail as jy ‘n meisie is – met knippies.

In vervloeë dae is reëls voorgehou (en toegesnou) aan leerders.  En straf toegedeel as jy dit nie gehoorsaam nie.  (Want gehoorsaamheid is ‘n deug – die jeug moet kan luister en opdragte uitvoer.)  As jy wit sokkies by ‘n skoolbroek gedra het, sou hulle jou uitken in die oggend-inspeksie; jou hare is gemeet met ‘n liniaal om jou ore.

In ‘n reëlgedrewe stelsel besluit die mense met mag (skoolhoof, onderwysers) watter waardes hulle voorop stel, en dan pas hulle dit nougeset toe volgens ononderhandelbare reëls.

Vryheid en waardes

Deesdae sukkel dinge ‘n bietjie.  Die lat is uit die onderwyser se hand, meer en meer surfer kids se hare hang in hul oë.  Hemde hang uit, skoene is vuilgeskop, sokkies sit op die enkels, das is verkeerd geknoop.  Die oumense prewel hoe die skole agteruitgaan.

Maar waarmee deal ons hier?

In ‘n demokratiese opset, is die mag verdeel tussen leerder en onderwyser.  Reëlgedrewe stelsels is uitgedien en word vervang met waardegebaseerde beginsels.  D.w.s. die leerders het onderhandelingsbevoegdheid – ‘n sê in wat die skoolreëls is en ‘n inkoop in die nastreef van ‘n gedeelde etos (stel etiese beginsels).

Die skoolgee-opset het ook verander vanaf ‘n onderwysergerigte klaskamer (waar die onderwyser die magshebber is), tot ‘n leerdergesentreerde opset waar die klem verskuif vanaf wat die gerieflikste en maklikste manier is van klasgee, tot wat die voordeligste en mees treffende manier is van leer vir die leerders (meer interaktief en konstuktivisties).

Tussenin trouble

Die probleem is egter dat bittermin skole hierdie transformasieproses erken, of begin implementeer het.  Ouer onderwysers stoom nog voort op die haarreëlswette; nuwe onderwysers dikwels ook, en die leerders rebelleer met stille verset.

Wat nodig is, is om die leerders aktief te betrek by ‘n skoolwye gesprek oor die waarde wat hulle wil heg aan die onderskeie tradisies van die verlede.  Die onderwysers en leerders moet saamgesels oor netheid vs. vryheid.  Wat word as belangrik geag?

Deesdae in skole, met die wetenskaplike backing dat leer eintlik ‘n bietjie messy is, en nie vanaf een alleswetensde onderwyser oorgegiet kan word in die oop-koppe van die korthaarkinders voor hom/haar nie, is netheid dalk nié so waardevol soos die leerder se rég tot vryheid van keuse nie.  Uit affektiewe onderrig wéét ons dat jou emosies ‘n reuse rol speel t.o.v. leer – waarom wil ons dus leerders forseer om sleg te voel oor hulle voorkoms deur hulle kuif af te laat skeer?

Versoening

Snaaks genoeg is min waardes mutually exclusive.  In die skoolgesprek oor netheid en skooluniforms en haarreëls waarmee daar weggedoen moet word, sal leerders tog ook noem dat skooluniforms tot ‘n mate lekker is, omdat almal gelyk is, en niemand hoef te worry oor wat hy/sy môre hoef aan te trek nie.  Wat nie kwl is nie, is die hemde wat ingesteek moet word nie, en die onpraktiese grysbroek en swartskoene in die somer, ens.

Dalk dan, as die onderwysers, leerders, ouers en almal gesels het, sal hulle besluit op ‘n nuwe skooluniform: jeans en ‘n wit gholfhemp met die skoollogo daarop.  En leerders wat hulle hare kan lank of kort dra, solank hulle hare uit hul oë uit gevee word wanneer ‘n onderwyser klasgee.

Of dalk besluit die leerders nee, basta, ons wil nog meer fancy klere dra, en dan kom die onderwysers met toga’s klas toe.

Die punt is, die mense moet praat.

En die wêreld verander.

33 responses »

  1. Gesprek tussen leerders en onderwysers omtrent hare? Dit sal lei tot rasionale argumente, wat sal wys dat hare-reëls onnodig en simpel is. Dit moet ten alle kostes vermy word.

  2. Jy herdefinieër bloot die proses as ‘n uitkoms in ‘n ironiese twist op UBO. In sommige gevalle (sou ek voorhou) is daar inherente deugde wat nie-rasioneel is nie, maar steeds nuttig.

    Ek sal byvoorbeeld moeilik ‘n persoon vir ‘n pos oorweeg (selfs in ‘n “kreatiewe” veld) sy/haar CV vol spelfoute is of hul ‘n uur laat arriveer. Daar is ook redelikerwys argumente wat gevoer kan word oor die inherente of emotiewe waarde wat aan ‘n uniform gekoppel word.

    Kortom dink ek dat dit laf is om kinders se hare met ‘n lineaal te gaan meet, maar terselfdertyd bevraagteken ek hoe sinvol ‘n gesprek oor skooldrag is. Natuurlik moedig ek enige tipe gesprekvoering en diskoers aan, maar dan moet ons tog om hemelsnaam dink oor wat ons gaan doen met die antwoorde wat ons kry op die vrae wat ons vra. Anders mors jy net almal se tyd.

  3. hey Kobus, ek sê nie netheid is NIE waardevol NIE, ek dink net sy relatiewe waarde moet onderhandel en bespreek word.

    As jy sulke “rasionele” gesprekke fasiliteer en leerders, ouers en onderwysers krities laat dink oor hul skooluniforms, dan sal jy agterkom dat die mense meer committed sal wees t.o.v. wat daar ook al op die ou end besluit word.

    Dit is laf om hare te meet. Dit is laf om uniform te dra met onnet hare, of ‘n oningesteekte hemp. Maar dit is tans die geval.

    Deesdae doen ons als halstarrig: ons kry nie dit reg om leerders trots te laat wees op mekaar se ordentlike voorkoms nie; ons kry ook nie reg om kinders se hare enigsins te reguleer nie. Daar is ‘n konstante stryd in skole, en geen besef dat die spanning tussen die relatiewe waardes van netheid teenoor vryheid, dit onderlê nie.

    Sekere skole sal miskien wegdoen met uniforms; party sal dalk dit net effens aanpas; ander sal voorstel dat die tradisie net so behou word. Hoe dit ook al sy, dit help nie die SBL bekragtig elke ses jaar die skooldrag, met slegs enkele wysigings aan die netbaluniform, sonder om die algemene drag uitvoerig te bespreek nie.

    Netheid, stiptelikheid en taalversorging is belangrik. Maar tans, a.g.v. “sinlose” reëls wat toegepas word, word daardie waardes juis belaglik gemaak. In ‘n rasionele gesprek, sal die waarde wat bogenoemde inhou, juis weer ondervang en uitgelig word.

    In die versoeningsgesprek sal ook die minder-rasionele gevoelens ter tafel gelê word, bv. die vrese dat die leerders minder selfdissipline sal hê a.g.v. hulle meer deurmekaar voorkoms… Dalk word daar wel rasionele redes vir dié vrese verskaf.

    Die uitkoms van die gesprek, is om kritiese denke te bevorder en konsensus tussen onderwysers en leerders te kry oor hoe hulle die behoefte aan netheid gaan aanspreek EN die behoeftes van die surfer kids.

    M.a.w. ‘n gedeelde etiek rondom netheid.

    Nie dat ek met jou saamstem, Kobus, dat elke diskoers tot ‘n stel aanbevelings in ‘n notule moet lei nie. Inteendeel, soms is die feit dat leerders ‘n sê het, genoeg om hulle nie ontmagtig te laat voel en te dryf tot rebellie nie.

    Hm, Hendrik, jy sal moet uitbrei op jou comment. Sal jou skool slegter wees as die kiddies lang hare dra? Sal julle gesagstrukture sulke gesprekke kan fasiliteer? Of sal die skool tot in sy outokratiese fondament geruk word?

  4. Ek was lanklaas self direk by enige skool betrokke. So ek weet nie wat presies daar aangaan nie. Al wat ek wel sien is die resultate van die skoolgaan proses. Op grond daarvan lyk dit vir my of daar iets daar is wat nie lekker is nie. Nou as dit so is dat kinders insae het oor hoe ‘n skool bedryf word en self oor hoe klasgegee moet word kan dit dalk die oorsaak van die probleem wees. Miskien is dit sinvol om kinders te betrek by ‘n debat oor sekere aspekte van dissipline bloot as ‘n opvoedings proses of om hulle te laat inkoop in die besluite wat geneem word. Maar wanneer kinders kan stipuleer wat en hoe hulle geleer moet word, dan is daar ernstige probleme. Kinders het mos nie die bevoegtheid om oor so iets te besluit nie.

  5. Ek het altyd gevoel dat skoolreëls soos netheid, ens. met goeie rede bestaan en kon die logika daaragter insien. Dit leer jou tog sekerlik waardevolle sosiale vaardighede en gedrag, soos Kobus ook uitlig. Ek kon nooit verstaan hoekom die ander kinders so vreeslik daarteen geskop het (en nogsteeds doen) nie.

    Ek is heeltemal ten gunste van rasionale gesprekvoering om almal bewus te maak van die ander se standpunte, maar ek moet wonder oor die praktiese fasilitering van so ‘n gesprek tussen leerders en onderwysers. Sal elke liewe leerder se opinie in ag geneem word, of sal sommige maar altyd voel dat besluite nogsteeds namens hulle gemaak word? En, tot watter mate sal leerders die wyse insig van die ouer gades respekteer en tot watter mate sal onderwysers hulle steur aan die opninies van nat-agter-die-ore kindertjies? (*grappie* – ek weet dat in die algemeen is hoërskoolleerders en onderwysers eintlik heeltemal in staat tot volwasse gesprekvoering met mekaar).

  6. mnr muller

    Jou laaste opmerking “..die mens moet praat.” “En die wêreld verander.” sal alleen ‘n werklikheid word wanneer die menslik onwaarskynlike in 2011 gaan gebeur wanneer die Skepper God weer gaan praat en die wêreld verander.

    Die Bybel is egter kristalhelder daaroor dat dit alleenlik kan gebeur wanneer Hy die teenwoordige wêreld in 2011 op 21 Oktober met vuur gaan verteer, vyf maande nadat Hy Sy bruid op 21 Mei 2011 van hierdie wêreld in die wolke weggevoer het die Here tegemoet in die lug, en in die plek daarvan ‘n nuwe aarde en hemele te skep…!

    (2Pe 3:13) Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

    langhare of de nie…!

  7. Mnr Muller ek het so lanklaas hier gekuier, kom net eenvoudig nie by alles en al die blogs uit nie! Lekker dag vir jou!

  8. Jammer ek sal volgende keer probeer beter doen! Ek is mar so effe aandagafleibaar… haha ek hou van jou beeldspraak.

    Ek het ‘n sterk vermoede ou Simson sou dit ook nie in ons systems gemaak het nie, al sou hy loshande beter as daai langhaar flank Sébastien Chabal van Frankryk, sou gevaar het.

    Oeps dwaal ek weer af…!

  9. Okay…hier’s hoe ek dinge sien…

    Skoolreëls (hoe simpel party ook al mag wees) is daar vir ‘n rede. Dit dissiplineer kinders om netjies voor te kom. Gaan jy eendag iemand aanstel wat nie weet hoe om sy hemp in te steek nie?

    Dit gaan oor basiese beginsels van gesag. Die wêreld kan nie altyd na ons kinders se pype dans nie, die lewe werk nou maar eens net nie so nie. Wees eerder dankbaar oor die feit dat jy skool toe KAN gaan.

    Om te gaan sit en praat gaan nie werk nie. Wie gaan sit en wie gaan praat??

    Kyk dit werk so in my skool…ons het SVR (een seun en dogter in elke klas). Dit hulle verantwoordelikheid om in die oggende rokol te neem (verskoon spelling). As daar enige voorstelle is ten opsigte van skooldrag, word dit onder hulle aandag gelê en al die SVR-lede vergader dan en praat oor hierdie saak…maar steeds word 90% van hierdie voorstelle afgeskiet.

    Om te leer gaan nie oor die klere wat jy aantrek nie, so wat is nou eintlik fout met skoolklere? Dit bind elke leerder in die skool tot ‘n eenheid. Dit lyk netjies en net plein awesom😀

    Kyk mre-aand TRIP op MK (kanaal 324). Ons skool is daar op, die hele skool waar hulle ‘n kreet sing. Dit kinders lyk netjies.

    Skoolklere is deel van die trots van jou skool.

  10. @flippiefanus: Skole het juis nog nie begin deal met die veranderende bestel nie.

    Leerders het tans steeds GEEN seggenskap nie – dit is, volgens my, juis die probleem.

    Ons gee nog klas soos destyds, met klein soldaatjies wat gehoorsaam moet wees… maar ons het juis NIE klein soldaatjies in die klas NIE. Ons het skateboarders vir wie ons met die reëls wysmaak dat hulle minderwaardig en verkeerd is.

    Ook is die idee NIE dat leerders moet seggenskap hê oor die kurrikulum-inhoud NIE – dit is vasgestel landwyd.

    Dus is my voorstel dat leerders en onderwysers moet praat oor hoekom hulle skooldrag afdwing – met ‘n oop gemoed oor wat die gesprek sal oplewer – ten einde almal te kan inkoop in ‘n drag waarop almal kan trots wees.

    In die weermag word diegene wat nie konformeer nie, uitgedryf. In vorige skoolsisteme ook. Maar deesdae besef ons die waarde van individualiteit – en dit staan reglynig teenoor afgeforseerde reëls wat gebaseer is op uitgediende waardes.

  11. Mense…wanneer laas was julle in die skool? As jy nie hou van die skooldrag nie, wat soek jy dan daar? Dit gaan nie oor die drag nie, dit gaan oor wat jy in die klaskamer leer. As jy nie wil skoolklere dra nie moet jy home schooling gaan doen.

    Reëls is deesdae baie meer loslit as wat dit was. Meeste skole hou by met modes ens ens ens…

  12. Ek dink tieners behoort te rebelleer om onafhanklike, denkende volwassenes te kan word.
    Dalk moet daar ‘n dapper skool wees met reëls wat lang, slordige hare voorskryf sodat tieners daarteen kan rebelleer, dan kry ons kort hare as resultaat.
    Dit sou interessant wees om ‘n vinnige studie te doen oor die koste van skoolklere teenoor soortgelyke (eenvormige) blou jannas en t-hemde van goedkoper kettingwinkels. En ek kan nie help om te wonder wat die reaksie van tieners se rebellie dan is as die reëls jeans voorskryf nie…?
    Hoe hou ‘n skool rekening met modes?
    Hoekom moet skoolklere nou juis lyk soos uniforms in die weermag / of soos die Britte dit begin het ‘n eeu gelede?
    Ek onthou dat ‘n student in ons universiteitsjare navorsing gedoen het oor die oorsprong van dasse en dit was lagwekkend en nie hier herhaalbaar nie!

  13. @ aventer

    “Dit gaan oor basiese beginsels van gesag. Die wêreld kan nie altyd na ons kinders se pype dans nie, die lewe werk nou maar eens net nie so nie. Wees eerder dankbaar oor die feit dat jy skool toe KAN gaan.”

    Jy het twee koeie. Ek vat een weg vir geen rede. Moet nie kla nie en wees dankbaar vir die een wat jy wel het.

    “Om te leer gaan nie oor die klere wat jy aantrek nie, so wat is nou eintlik fout met skoolklere?”

    So wat is nou eintlik fout met lang hare?

  14. Pingback: Skooluniforms in die Afrikason « mnr.muller

  15. Is dit werklik die moeite werd om hieroor te praat?

    Kyk, ek weet ek praat baie dubbelsinnig maar ek hou van my skoolklere…dis gemaklik, en warm en lyk mooi.

    Gaan jy eendag iemand aanstel met lang, onversorgde hare? Skooldrag, wil ek sê, leer kinders om netjies voor te kom. Wat is beskaaf in die publiek en wat is nie. Dis half deel van ‘n lewensles…

    • ek gaan juis iemand eendag aanstel – dalk met lang hare en uithanghemp as hy baie goed, innoverend, kreatief en waardegedrewe is. Hy gaan ‘n aanwins vir my maatskappy wees! Ek gaan dalk nie die onkreatiewe, gatkruiperige, konsentrasiekamp-haartsyl en deel van die pakbrigade aanstel nie – omdat hy nie vir homself kan dink nie, dink hy is beter as die ander, inherent dalk net een wat op ander se rug ry of ander (of sy voorkoms om sy baas tevrede te stel) gebruik om sy trappies te klim nie. En dan sit en skinder oor my ander werknemers. SA se mense moet besef, waarde is nie die uiterlike nie en DIT is die groot probleem!

  16. @ aventer: Ek is seker baie leerders hou van ‘n skoolbaadjie en -uniform. Heelwat sal dus met jou saamstem.

    En, tydens die skoolgesprek wat ek voorstel, sal julle pro-uniform standpunt hoog geag word; daar is dus geen bedreiging nie – die pratery gaan niks slegs oplewer nie.

    Gesprek is nodig. Selfs al is die meerderheid gelukkig met iets, moet jy bereid wees om te luister na die minderheidsopinies en, sover moontlik, dit probeer akkomodeer.

    En wat netheid betref – ek sal maklik iemand aanstel met lang, onversorgde hare: dikwels is jou beste programmeerders nie te ingestel op netheid nie – dit maak hulle nie minder briljant nie. En hoeveel “netjiese” kunstenaars ken jy?

    Onthou, die skoolgesprek kan baie nuttige voorstelle oplewer – dalk ‘n ander snit vir die meisies se skoolhemde, sodat dit nie ingesteek hoef te word nie, maar netjies oor jou romp hang.

    Netheid is belangrik; dit is ‘n lewensles, maar dit is ‘n waarde wat op laerskool aangeleer word, en nie deur die dra van ‘n uniform, en die toepas van haarreëls, in die hoërskool verseker word nie.

  17. Dankie vir die informasie. Nou is ek bietjie meer ingelig oor hoe dit tans is op skool.

    Terloops die probleem in skoolopvoeding is ‘n wereldwye probleem. Ek het nou die dag ‘n professor van ‘n Engelse universiteit in my kantoor gehad wat vir my breedvoerig vertel het van die afname in kennisvlak wat hulle daar ervaar. So miskien het die probleem niks te doen met dissipline en of kinders uniform dra of nie. Dis dalk eerder die oorvloedige media. ‘n Vriendin van my praat van vandag se kinders as die “play station generation”

  18. Playstation is lankal al uit die mode…so 2 jaar terug al.

    Deesdae is die XBox 360 blykbaar asemrowend “cool” (ek sal nie weet nie, ek’s te arm om een te bekostig😉 )

  19. Dog dis die Wii wat nou voor in die koor is. Bottomline is vandag se kinders word al hoe meer gewoond aan stimulasie. Miskien is dit hoekom hulle sukkel met konsentrasie.

  20. Hallo – voor ek begin moet ek erken dat ek nie ALLES in die comments gelees het nie (te moeg nou daarvoor), ek gooi egter elk geval my 2c in die hoed (of skoolskoen)…

    Ek weet nie wie jy is nie Aventer, maar ek hou van jou😉
    (of eerder, van jou volgehoue siening dat sekere “sinlose” reëls goed is vir ‘n kind se opvoedingsproses)

    Ek is onseker of Mnr. Müller net moedswillig is ten bate van debat en of hy dalk te min met “probleemkinders” te doen gehad het tydens sy paar jaar.

    Die skool se rol in ‘n kind se opvoeding strek verder as slegs sy akademiese ontwikkeling – selfs verder as die die ontvlamming van sy denkvermoëns.

    Aan die een kant is dit soms nodig om waardes te probeer aankweek wat eintlik reeds aanwesig moes wees, maar by skrikwekkend baie kinders afwesig is, hetsy weens tragiese en gebroke familie omstandighede of dalk te wyte aan ouers wat onbekwaam is of soms selfs doodgewoon net nie omgee nie.

    Hierdie waardes sluit in dinge soos dissipline, respek, eerlikheid, betroubaarheid, lojaliteit, deursettingsvermoëns, ens.

    Aan die ander kant word dit ook van die skool verwag om die kind voor te berei vir die “wêreld daar buite” – regte lewe omstandighede – om suksesvol die toekoms te kan binnegaan in verdere studies, loopbaan, sowel as sosiale omstandighede.

    Dit alles terwyl ook akademiese “vak verband” inligting aan hulle bekend gestel word en intellektuele denkprosesse gestimuleer en ontwikkel word.

    Beslis nie altyd ‘n maklike taak vir selfs die toegewydste en groothartigste persone in die onderwys nie.

    Is die reël om jou hare perfek netjies en kort op skool te hê, gesien buite konteks van die groter prentjie, ‘n sinlose ding?

    Waarskynlik ja.
    Maar gesien in die groter prentjie, het dit ‘n beslisde doel in die geheelmensontwikkeling van die leerder.

    Netheid is gereeld ‘n subjektiewe konsep.
    Wat ‘n aanvaarbare of netjiese haarstyl is, uiteraard ook.

    Maar dit is juis deel van die punt wat ek nou wil maak.

    Onderdanigheid, gehoorsaamheid en dissipline het nie altyd die “luxery” van logika of sinvolheid nie – dit maak staat op dinge wat gedoen word, bloot vir die onthalwe om dit te doen.

    ‘n Ekstreme voorbeeld sal wees die weermag of lugmag – waar die eerste jare amper alleenlik daaroor gaan om te doen sonder om te dink of te stry.

    Ontwikkel dit die mens se uniekheid of denkvermoëns?

    Nee, waarskynlik nie – maar dit leer (en oefen/dril as 2de natuur) noodsaaklike eienskappe by die jong voetsoldaat in, wat kardinaal is vir die suksesvolle werking (en oorlewing) van ‘n instansie soos ‘n weermag in ‘n stresvolle, lewe en dood, oorlog situasie.

    Op minder ekstreme vlak en meer waarskynlike toekomsgerigte uitkoms is ‘n eenvoudige voorbeeld die voorskrifte wat gelewer mag word by ‘n werksplek. Meestal is dit NIE wys om met die baas te stry oor wat hy voorskryf nie, hetsy kleredrag of haarstyl of enige iets anders. Dit word verwag dat jy die beleid van die instansie of jou baas sal volg, sonder om daaroor te debatteer.

    Dit is wonderlik om te idealiseer en te sê dat die werknemer behoort met die baas te kan gaan praat en debatteer as hy nie saamstem met die waardes of standaarde wat die baas vereis nie, maar realiteit is dat dit nie is hoe dinge werk nie. Die persoon gaan, meer kere as nie, sy kans om afgedank te word verhoog.

    Die beginsel is dus eenvoudig – die meerderheid van kinders gaan na skool, iewers in hul toekoms in omstandighede wees waar hulle dinge moet doen wat voorgeskryf word en gevolg moet word, sonder die “luxery” om daaroor te debatteer of te onderhandel.

    Vir iemand wat nog nooit in so ‘n situasie geplaas is van kleins af nie, mag dit ‘n amper ondoenbare aanpassing wees.

    Al sou daar dus geen ander sinvolle redes wees vir streng haar- en klerevoorskrifte nie, sou bogenoemde alleen waarskynlik genoeg rede wees (na my beskeie mening).

    Ek vind dit reeds aardig dat sommige skole baie tegemoedkomend is met dinge soos haarvoorskrifte – langerige hare wat ge-jel word en “spikey hare” word bv. wel toegelaat – solank dit darem TEN MINSTE nie oor die oë, ore of kraag hang nie.

    Het ek iets teen lang hare? Gewis nie, ek het self lang hare, maar op skool het ek darem meestal by die voorskrifte gebly – of ten minste die kere wat ek aangespreek is gou gesorg dat my ma met die skêr snipper, al is dit net om die ore en by die kraag.

    Waarom? Want dit is wat verwag is en dit was nie my plek om daarteen te stry nie.

    Een ding wat my op tye vies maak, in die skool opset – is dat kinders kwansuis TE VEEL regte het en op tye TE VEEL in ag geneem word.

    ‘n Kind is ‘n kind.
    Ja, steeds ‘n mens en moet sodanig menswaardig behandel word, maar die standaard kind beskik NIE oor die kwaliteite, oordeel en vermoëns om te kan aanspraak maak op dieselfde regte/geriewe/vertroue as die standaard volwassene nie (ok, daar is dalk baie screwed up volwassenes, so kom ek sê dan “as die standaard onderwyser”)

    Is hierdie die beste of enigste manier om genoemde waardes en kwaliteite by ‘n kind te laat posvat?

    Verseker nie, maar dit is een van die prakties eenvoudigste – en as ‘t ware die “platform” waar dinge behoort te begin.

    Die punt wat jy maak dat JY gereeld oorgesien is oor jou hare, bevestig juis die punt dat die personeel geweet het JY is iemand wat andersins ordentlik is, maniere het, opdragte kan uitvoer, ens.

    Maar daar is kinders wat NIE so voorbeeldig is nie en vir hulle is die basiese beginpunt om sulke kwaliteite te probeer aanleer om te begin by ‘n “sinlose” ding, soos netjiese hare en regte skooldrag aan te trek.

    So ook is die kinders wat juis die MEESTE teenkanting wys en probleme ondervind met sulke voorskrifte, JUIS genoemde “probleem kinders” – die waarskynlikheid is dus dat watter politieke korrekte of sinvolle manier jy dus uitdink om genoemde kwaliteite te ontwikkel dus teenkanting gaan kry, bloot uit hul rebelsheid en disrespek vir die samelewing.

    Ek eindig eers my ‘post’ hierso, want ek kry die idee dit raak baie lank en dat min mense dit gaan lees – maar dalk was dit eerder terapeuties van aard vir myself as wat dit noodwendig interessante leesstof vir ander sal wees🙂

    Wel – daar is my 2c in die swart skoolskoen… met opgetrekte sokkies😛

  21. @johannes coetzee – jinne jy’t ‘n cool weergawe van die bybel wat datums van verdoemenis so presies weergee!

    ek wil nou nie skepties klink nie (ok, jy’t my utigevang, ek wil) – maar kan ek jou uitdaag oor daardie vuurvreet episode?

    as jy verkeerd is, kry ek al jou geld en aardse besittings…

    en as jy reg is… hmmm… dan brand ek seker liederlik in die hel oordat ek jou presiese datum voorspelling as verspot bestempel het😛

  22. Shut up en sny jou hare. Hoekom? Want ek sê so. Jy moet leer om jou individualitiet te verloor en ‘n groep blindelings te volg sonder vraag. Stem jy nie saam nie? Dan fok jou. Jy is net ‘n dom kind en ek sal sê wat is die beste vir jou.

    Ignorance is Strength. Sieg Heil.

  23. R/L…interessante beredenering.

    Ek skiet nie Muller se idee af nie…dalk moet mens dit net van ‘n ander perspektief af sien…

    Ek weet nie van ander skole nie, maar ons netheidsreels is redelik loslit. Hare mag nie in jou oe hang nie, meisies mag hul hare kleur solank dit natuurlik lyk. En jou hare mag nie in jou oe hang nie. Dis redelik ek dink.

    Ek glo dat as jy jou gebonde hou aan die skoolreels dan sal die skool iets vir jou terug gee…

  24. heh, ek is verbaas oor die (vinnige) reaksie wat Mnr. Müller se blog uitlok en dat my post actually gelees is😛

    @ aventer – ek skiet ook nie Mnr. Müller se idees totaal en al af nie, in fact, in ‘n idealistiese en filosofiese wêreld stem ek ten volle saam met hom…

    …ek verskil bloot met die konsep oor die praktiese implikasies en realiteit!

    Ek dink dat meeste mense hierso reageer uit hul eie subjektiewe ervaring en persepsies van skool en interpreteer dit met hul huidige stand van “mens wees” (en intellektuele gewaarwording).

    Soos seker meeste wat hierso post, was ek self ook in die “slim soet klasse” op skool en sou ek kon dink dat die konsep om kinders met alle besluite te betrek ens. ‘n vrugbare een kon wees. Maar die realiteit is dat selfs in beste van skole, maak ‘ons’ tipe kinders skaars 20% van die skool se demografie uit. In ‘n skool waar al die kinders van uitsonderlike intellektuele en emosionele volwassenheid is, sou dit kon werk – maar wys my eers so ‘n skool voor ek kan ophou skepties wees🙂

    As ‘n praktiese voorbeeld…

    Grimering (make up) was heeltemal verbied vir meisies, tog het besonder baie meisies ‘skelm’ grimering gedra – iets wat moeilik is om konstant aan te spreek. Of in sommige gevalle waar daar ‘n meisie met baie slegte vel is, te regverdig hoekom sy nie maar ligte grimering kan dra nie.

    Toe word die tegemoedkomende, moderne benadering gevolg en daar word besluit dat meisies mag wel grimering dra, solank dit tot ‘n minimum beperk word. MAW dit kon gebruik word om slegte vel toe te maak, maar moenie lyk soos ‘n poppie wat oppad na ‘n nagklub is nie.

    Lang storie kort, die gevolg was dat die benadering nie gewerk het nie en te veel meisies het dit uitgebuit en wel soos nagklub slette begin lyk.

    Die probleem is dat “te veel grimering” ‘n subjektiewe konsep is – en die meisies wat aangespreek is sou vanselfsprekend daarop aandring dat hulle nie hul eie grimering as “te veel” beskou nie.

    Gee ‘n kind die pinkie en hul vat die hand.

    Ten spyte van die goeie modernistiese beginsel moes dit toe terug getrek word en die reël van “GEEN grimering” weer implimenteer word. Met die idee dat “ignoreer maar” die meisie wat ligte grimering dra of wat ‘n slegte vel probeer beter laat lyk, maar spreek wel die aan wat dit oorboord neem.

    Dit kom dus eintlik daarop neer dat die meerderheid van skoolkinders nog nie ontwikkel en volwasse genoeg is om goeie oordeel te gebruik wanneer daar tegemoedkomings aan hulle toegestaan word nie.

    So die punt wat ek aangespreek het oor dinge soos skooldrag, hare, grimering, netheid ensovoorts is uit ‘n praktiese oogpunt, gebasseer op realiteit.

    (Oor hoekom ‘n skool wil hê dat sy leerders moet ‘n goeie beeld uitstraal aan die buitewêreld is nog ‘n onderwerp op sy eie met baie geldige punte en kwellings.)

    So die lesers hierso moet probeer onthou dat die deursnee skoolkind nie gemeet kan word aan hul huidige vlak van ontwikkeling nie – en meeste ook nie eens aan die vlak wat jul self op skool was nie.

    …as dit dalk sinmaak🙂

  25. @ Mnr.Müller

    net so terloops, ek weet nie of jy bewus is nie, maar minstens 2 skole op Stellenbosch het reeds “nuwe moderne skoolklere” vir meisies, wat juis soos jy voorstel, moderne snit hemde en rompe insluit waar hemde nie ingesteek word nie maar los bo oor die romp hang…

    …my opinie daaroor… ek weet nog nie…

    …sommige meisies dra dit baie mooi en dit lyk goed

    …ander meisies lyk egter nie so goed nie
    (sommige lyk bietjie sletterig en aan ander (die oorgewig tipe) lyk dit bloot onvleiend)

    MAAR die punt is, daar is wel skole wat dapper genoeg is om sulke dinge te probeer en wel as deel van hul opset die kinders se behoeftes in ag neem…

    …die vraag is net, hoeveel vryheid en tegemoedkomendheid teenoor kinders is prakties beheerbaar binne ‘n skoolopset?

  26. @R/L:
    Dankie vir jou goeie insette. Ek waardeer dit, en lyk my daar’s lekker gedebatteer tussen jou (jy wat ‘n onderwyser is) en aventer en hendrik (albei leerders van twee hoërskole) terwyl ek lustig naweek gehou het. Jy bring voorwaar ‘n paar nuwe punte in wat vanuit die oogpunt van ‘n onderwyser belangrik is.

    Dit is inderdaad so dat leerders in graad 8 (standerd 6) vanuit verskillende skole getrek word, en elke leerder het ander waardes op laerskool en by hul huise geleer. Onderwysers het dikwels ‘n opvoedingstaak, veral wat “probleemkinders” betref. Dit is ‘n uitdaging.

    Jy noem die waardes: dissipline, respek, eerlikheid, betroubaarheid, lojaliteit en deursettingsvermoë. Ek sien egter nie hoe dit aansluit by kleredrag of haarlengte nie?

    Uit my ondervinding is dit makliker om saggies met ‘n slordige kind te praat en hom/haar te laat inkoop in die waarde van netheid, as om op hulle te skree dat hulle hul hemde moet insteek. Eerder as om hulle sleg te sê en ‘n reël af te dwing, onderhandel jy met hulle oor hoe hulle netjieser kan lyk, deur ‘n verwagting by hulle te kweek.

    Ook noem jy dat leerders moet leer om onderdanig en gehoorsaam te wees t.w.v oorlewing in die “regte [beroeps]wêreld”. Ek dink egter die tyd is verby dat ons stilbly-leerders grootmaak wat niks sê as ‘n onreg gepleeg word nie. Ek sou eerder wou hê dat ons hulle juis onderrig hoe magsisteme werk en hoe hulle met ‘n kritiese standpunt ‘n kwessie kan aanspreek (mits hulle ander rolspelers ook kan oortuig). Ons moet hulle takt leer.

    Takt kan slegs geleer word deur te debatteer en soms oor die lyn te trap (wat hulle argument dan sal laat skade ly). Debat- en redeneringsvermoë is nie deesdae meer ‘n luuksheid nie; dit is ‘n noodsaaklikheid, oftewel ‘n kritieke uitkoms.

    Oor die lug-/weermag het ek onlangs ‘n interessante eksperiment gehoor waar hulle twee soldaatgroepe as oefening teen mekaar afgepaar het: een onder streng, outokratiese heerskappy, en een groep met ‘n demokratiese, gedesentraliseerde bevelvoerder wat aan hulle die stel uitkomste gekommunikeer het. Laasgenoemde groep het gewen, ten spyte van minder hulpbronne wat aan hulle toegeken is. (Hier kort ‘n verwysing – ek sal dit naslaan.)

    Ek dink eerlikwaar die tyd van outokrasie is verby. Blindelingse vertroue in reëls en/of opdragte kan nie meer geëis word nie. Dit behoort tot ‘n verbygane era.

    Jy sê “die standaard kind beskik NIE oor die kwaliteite, oordeel en vermoëns om te kan aanspraak maak op dieselfde regte/geriewe/vertroue as die standaard volwassene nie”. Sjoe. Ek stem (tentatief) saam, maar ek dink dit is slegs so, omdat ons hulle nie onderrig hoe om korrek en verantwoordelik met hulle regte om te gaan nie.

    * * *

    Ek besef ‘n skool wil goed lyk. Leerders in die dorp word (letterlik) op hul baadjie getakseer. Tog is daar deesdae ook ander verwagtinge – al hoe meer begin die gemeenskap skole beoordeel nie op grond van die leerders se drag nie, maar hulle uitsprake, hulle kritiek in koerantkolomme, en hulle gemeenskapsinteraskieprojekte.

    Wat ‘n mens moet begin besef, is dat ons vanaf die een stel verwagtinge (netheid bo alles), besig is om te beweeg na ‘n nuwe stel verwagtinge (kritiese, uitgesproke leerders) en dat ons onsself tans te midde van beide hierdie twee stelle verwagtinge bevind.

    * * *

    Leerders wat geen waarde heg aan netheid nie, loop buite rond met uithanghemde en baadjies wat hulle sleep op die vloer van elke shopping mall. As ‘n skool inklusief wil wees, help dit nie om sulke leerders as “probleemkinders” te etiketteer nie.

    Hiermee probeer ek nie sê dat jy nie ‘n sletterige makeup-gesig kind badkamer toe moet stuur nie. Maar die punt is, sy sal verontreg voel en elke keer weer die limits probeer push. Wat sy kort, is nie ‘n pakslae of uitskryfwerk nie; sy kort ‘n les oor hoe om grimmering korrek te gebruik: die verskil tussen dag- en nag-grimering. (Onthou, sy wil ook maar net mooi lyk; beslis nie belaglik nie!) En waar/wanneer/hoe moet sy van grimmering leer as niemand tuis met haar daaroor praat nie? En as die onderwysers haar net konstant berispe.

    * * *

    Al wat ek sê, is: Kom ons (die skoolgemeenskap) praat (al is dit via blogs) oor die redes (rasioneel en irrasioneel) agter die reëls (prakties toepasbaar of onprakties) met die oog op ‘n gedeelde etos (al verskil ons hier en daar) vir ‘n nuwe era (wat menseregte in ag neem). Sela.

    • Sjoe, noudie dag loop ‘n troppie van 4 leerders van hierdie sogenaamde spog seunsskool op Stellenbosch, voor my. En dit is net ‘P#%S en F&K’ voor en agter.

      En ek dink by myself, dit is ‘n donirse skande. Hulle hemde kon eerder uithang, maar om so vieslik verbaal op straat in jou skool uniform tekere te gaan, is vir my darem te dik om te sluk!

      Ek reken respek vir die SELF en die SAMELEWING is in sy duiwel. As mense respek gehad het, sou hulle kinders nie so loop en praat het in die openbaar nie. En nog minder in hulle skooldrag.

      Oor die skooldrag van die meisieskool: die diamant vorm is nou mode, maar oor 10 jaar is dit die koek drag. Gaan dit dan weer verander om die kinders te pas?

  27. -R/L: Ek moet erken dat ek nogal met jou kan saamstem oor heelwat van jou argumente, maar die manier waarop jy sekeres verwoord het, het my so ‘n bietjie laat terugstaan en alles herbesin.

    Ek is (of was) ook van mening dat skoolreëls kan help om goeie sosiale vaardighede soos netheid te kweek. Maar, die idee dat ons onderdanig moet wees aan ons werkgewers en blindelings doen wat hulle van ons verwag, stink vir my ‘n bietjie te veel na slawerny waar gewone werkers deur magsbehepte morone tot in hul grafte gedryf word. Dankie tog ek het nog nooit vir so ‘n baas gewerk nie.

    As ek die prentjie nou met ‘n nuwe bril beskou, dan voel dit vir my of skoolreëls eintlik maar net help om gehoorsame kinders meer gehoorsaam te maak, terwyl dit aan die anderkant ook help om ongehoorsame kinders meer ongehoorsaam te maak. Ek dink die idee dat skoolreëls enige rol speel in ‘n jongmens se netjiese voorkoms by ‘n eerste werksonderhoud is dalk heeltemal ‘n wanpersepsie.

    Mense neig om dinge te doen op grond van hul behoeftes. Sover ek weet is nie een van ons los van hierdie konsep nie. Dus, as ‘n jong volwassene sy/haar skool verlaat, sal ‘n behoefte aan geld tog in meeste gevalle maak dat daar gesoek word na werk. En ‘n behoefte aan werk sal tog sorg dat ‘n netjiese voorkoms geskep word (gegee dat die persoon bewus is van die netheidpersepsie van potensiële werkgewers). Netso sal ‘n behoefte om jou werk te behou maak dat jy enige reëls gehoorsaam. Of, in sekere beroepe sal ‘n behoefte om jou *lewe* te behou maak dat jy die reëls gehoorsaam.

    Jy meen dat skoolreëls nie noodwendig die beste oplossing is nie, maar wel die “prakties eenvoudigste”. Ek wonder of dit hoegenaamd enige effek het (of ten miste die gewensde effek)? Op skool is daar geen behoefte wat aangespreek word met skoolreëls nie, behalwe vir die “gehoorsame” kinders wat ‘n (dalk onbewuste) behoefte daaraan het om hul onderwysers of ouers of mede leerders te beïndruk, of dalk bloot konflik te vermy. Sou skoolreëls nie van nature gehoorsaam word as almal kon voel dat hulle *nodig* het om dit te gehoorsaam nie?

    Dit klink vir my ook of jy dink dat die deursnee onderwyser *beter* is as die deursnee skoolkind. Ja, hulle het dalk nie soveel ervaring of kennis of insig nie, maar maak dit hulle enigsins minder mens? Daar is immers ook heelwat “screwed up” onderwysers. Hoekom voel jy dat dit nodig is om jou opinies, idees of waardes op ‘n ander persoon af te dwing? Is daar nie meer effektiewe maniere om dit met hom/haar te deel sodat julle ablei daarby kan baatvind nie? Dalk moet skole eerder probeer kennis en waardes oordra op soortgelyke maniere as wat binne besighede/organisasies gebeur, bv.:

    http://en.wikipedia.org/wiki/Tacit_knowledge
    http://www.tlainc.com/articl139.htm

    Ek hou ook nie van die “probleemkind” etiket nie. Hoekom is hulle ‘n “probleem”? Hoekom is ons waardes beter as hulle waardes? Is dit dalk omdat ons waardes die sosiale norm is? Kyk ‘n bietjie rondom jou. Is ons “goeie” waardes wel die norm? Selfs al is ons waardes beter, dink ek ook (nes Mnr. Muller) dat waardes nie afgedwing kan word nie, maar eerder gekweek moet word – met sagte woorde, as dit die beste werk.

    Daar’s hy: nou’t ek ‘n hele paradigmaskuif ondergaan met betrekking tot skoolreëls, en dit voel verfrissend. Dankie Mnr.Muller en -R/L.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s