Skooluniforms in die Afrikason

Standard

Aha, die imperialisme.  Die wonder van die Britse Ryk.  Oral dra skoolleerders in Afrika, Australië en Indië uniforms as ‘n teken van onderdanigheid en eenheid.  Hare kortgeknip, hemde ingesteek, skoene gepolitoer.  En almal leer Engels.

Maar van hoeveel sin is swart skoene en ‘n langbroek in die Afrika-son?

Ons hier in Afrika het verval in ‘n klakkelose tradisie van Britse-styl skooldrag na-apery, alhoewel baadjies en dasse weinig nut vir leerders het – ook wat netheid betref.  Maak Eendrag mag?  Of is daar Eenheid in diversiteit?

Toe ek in matriek was, het ons skoolmeisies ‘n veldtog gevoer om grys meisieslangbroeke te mag dra.  Hulle argument was dat hulle bene koudkry en die kouse maklik en gereeld leer (skeur).  Die beheerliggaam (wat uit heelwat ma’s bestaan het) het geluister, en die skooldrag is gewysig.  (Vader behoede!)

Skuins teen die berg in Kaapstad dra die leerders blou jeans en ‘n wit T-hemp as skooldrag – die Duitse skool se leerders lyk netjies, hulle hare inkluis – al is die seuns s’n dikwels oor hulle ore tot by hul skouers.  Dit pas by die jeans-look.

In Melkbosstrand is daar tans ‘n privaatskool vanaf voorskool tot hoërskool wat vir die kleintjies laat gumboots dra in die winter.  Hulle kan dus rondplas en droog bly op die plaas waar die skool geleë is.

Maar by die meeste skole in Suid-Afrika word daar nie twee keer gedink oor skooldrag of haarreëls nie.  Dit is so, want dit was so en daarom moet dit so bly.

In my vorige post Lang hare en ‘n skooluniform moedig ek skole aan om gesprekke rondom netheidsreëls te begin voer sodat daar oorbeweeg kan word na ‘n waardegedrewe sisteem waarby leerders en onderwysers en ouers inkoop.

Die groot probleem tans in skole, voer ek aan, is die afwesigheid van so ‘n gesprek.  Niemand besin of bevraagteken die geldigheid van kort hare en knippies en uithanghemde nie.  Alhoewel daar nie meer tyd of mannekrag is om inspeksie te hou t.o.v. die netheid van kinders se voorkoms nie, word dit steeds halfhartig vereis en halfhartig afgedwing.

Volgens my ondervinding berispe onderwysers egter net die ongehoorsame kinders, ongeag of hulle lang hare het of nie, en laat begaan hulle die ordentlike leergieriges – ook ongeag of hulle lang hare het of nie.  My hare het regdeur my hele skoolloopbaan om my ore gekrul, maar ek’t opgelet in klas en is selde aangespreek.

So, tans in skole pas ons verouderde reëls sonder die gewensde effek halstarrig toe.  In die leerplan moet ons kritiese denke en probleemoplossingsvaardigheide vir leerders aanleer met die oog op verantwoordelike burgerskap binne ‘n demokratiese opset, maar ons vermy debatte wat enigsins outokratiese, uitgediende konstrukte binne hulle onmiddellike skoolomgewing aanspreek …want dalk kan dit moontlike verandering teweegbring.

En verandering is sleg.  As ‘n mens moet verander, dan beteken dit tog wat jy tans doen, is ongewens…?  Ai, ai, ai.  Wat ‘n mens in berekening moet bring, is die feit dat die wêreld ingrypend verander het… Juis daarom moet ons herbesin oor hoe ons dieselfde uitkomste in ‘n nuwe milieu kan bewerkstellig…  en/of ons dalk ander uitkomste moet oorweeg.  Want in ‘n veranderde wêreld is vantevore se nyd vandag se deug.  Dit is goed om krities te wees.  Om anders te wees.  Skaaptrop-mentaliteit is deesdae ongewens.

* * *

Demokrasie is nie majority rules nie.  Demokrasie beteken almal het ‘n sê: almal word verteenwoordig, en almal het mag.  As ‘n mens dus kinders laat deelneem aan gesprek, sal die enkele leerder in die skoolbeheerliggaam op die ou end die leerders se standpunt moet meedeel en die res van die SBL oortuig.  Die SBL bestaan uit sowat drie onderwysers, een administratiewe personeellid, die verteenwoordiger van die oudleerlingbond, ‘n hele spul ouers, en een leerder.  In ‘n demokrasie het almal, soos destyds in my matriekjaar die kouebeen meisiekinders, ‘n sê.

Die punt is, die mense moet praat.

En die wêreld verander.

* * *

Maar intussen dok ouers op vir dasse en gestreepte baadjies, en werk skoolwapens teen wit hempsakke vas.

16 responses »

  1. Jou praat van verandering het my nou bietjie aan die dink gesit. Ons sal tog in elk geval mos eendag almal (insl. ons skoolkinders) dieselfde Startrek-spandex klere, gemaak van koolstofnanobuisies, dra wat outomaties ons liggaamstemperatuur kan reguleer op grond van veranderinge in die eksterne omgewing, terwyl dit ook al ons lewensfunksies monitor om seker te maak ons bly gesond. So, een of ander tyd sal ons moet verandering bewerkstellig. Hoekom nie nou alreeds nie?

    Ek hou van die idee dat skooluniforms se styl aangepas word volgens hoe dit sin maak binne die omstandighede. En dalk is dit ook nie so sleg as ‘n skool se “uniform” diverse style toelaat nie. Die belangrikste is dat sulke besluite gemaak word op grond van die belange van alle leerders en nie noodwendig omdat sommige bloot dink dis cool nie. Die uniformheid in uniforms help mos darem om onverdraagsaamheid/intoleransie tussen verskillende sosiale groepe te beperk?

  2. Ag ek weet nie meer wat om te se nie, dalk voel ons skool net anders oor skooldrag…ek weet nie

    Ek gooi my arms op in die lug…die gesprek ding pla my nogsteeds

  3. @aventer: wat anders was jou comments op dié blog as ‘n “gesprek” oor die onderwerp van skooluniforms?

    ‘n Mens hoef nie ‘n saalperiode af te staan om ‘n skoolgesprek te voer nie.

    Uit jou comments was dit duidelik dat jy ‘n trots in jou skooldrag het en dit geensins bevraagteken nie. Dit maak egter nie die onderwerp onbevraagtekenbaar nie.

    Om kritiese te kan dink, ‘n argument te formuleer en in gesprek te tree, is vaardighede wat noodsaaklik is vir leerders om aan te leer.

    En as hulle met hierdie leer-oefening bemagtig kan voel, omdat hulle ook ‘n sê het in die skooldrag, des te beter.

    Die idee is om die waarde van skooluniforms te herontdek, eerder as om teen reëls te verset.

  4. @francois c: sulke skooldrag-debatte sal die normale skoolbeheerliggaam-roete vat waar alle leerders, hoofsaaklik deur hul ouers, verteenwoordig word, indien daar besluit word op ‘n ingrypende wysigingsmosie.

    …startrek-modes sal dalk nog ‘n rukkie vat om gewild te word.

  5. Ek dink nie noodwendig dis sleg om skooluniforms te dra nie. Met dieselfde logika wat jy hier toepas, kan jy ook redeneer dis onkrities om die Springbokke te gaan ondersteun as een nasie, of jou gesig te verf vir ‘n Orlando Pirates game.

    Ook dink ek laat jy die sielkundige effek van ‘n skooluniform buite rekening. As jy in jou skooluniform is, is jy in “skoolmode” – dan draf jy klas en skryf jy toetse en leer jy. As jy by die huis kom, trek jy dit uit, en jy’s daaruit. Onthou jy die sogenaamde “civvie”-dae? Wanneer almal gewone klere kon aantrek? Dit was gewoonlik soos ‘n klein vakansietjie, waarop mense baie minder gewerk het.

    Jy het gelyk dat ‘n klakkelose toepassing van regulasies onkrities is. Dit beteken egter nie skooldrag is sleg om mee te begin nie. Versigtig ook vir jou retoriek aan die begin aangaande Britse Emperialisme. Die einste Emperialiste het die skryfkuns na hierdie punt van Afrika gebring, wat jy tans besig. Net omdat iets dit van nasie af kom wat in die verlede baie kolonies gehad het, beteken dit nie dis hondslegverby nie. On the contrary.

  6. @johan swarts: Ek dink die kwessie van Springbokke en gesigverf gaan oor trots, nie skooldrag nie.

    Ek is skugter om “trots” te probeer definiëer (nes lojaliteit is daar baie emotiewe waardes gekoppel daaraan), maar ek dink trots-wees kom neer op ‘n sense of belonging in ‘n opset waarin jy gemaklik voel: Jy is trots op jou koshuis se Jool-poging, omdat jy aandadig is tot die sukses en die mense wat gewerk het daaraan, ken; jy kan dus deel in die sukses.

    Seersekerlik kan skooldrag ‘n mens laat trots voel, maar daar is nie, voel ek, noodwendig ‘n kousale verband nie. Die mense voel nie trots omdat hulle hul gesigte verf nie; hulle verf hulle gesigte omdat hulle trots voel.

    Ek sê ook nie dis SLEG om soms onkrities te wees nie, maar neem asseblief kennis dat kritiese denke ‘n kritieke uitkoms is in die UGO-leerplan – dit is dus juis iets wat ons aan leerders moet onderrig (en wat voorheen nie as ‘n waarde gesien is nie).

    Wanneer vind “leer” plaas? Hoekom moet ‘n leerder ‘n skool-modus hê en dan soos superman verklee tot ‘n kind? Ek dink sulke dualistiese boksies is moontlik ongesond en verwarrend. En ek dink (veral met die onblotende effek van facebook en blogs) dat daai onderskeid definitief geblur raak.

    Ek probeer glad nie voorhou dat skooldrag SLEG is nie. Ek blameer ook nie als op die Britse Ryk nie (en Jan van Riebeeck (handelsmense, nie Imperialiste nie) het geskryf laank voor die Engelse aan wal gekom het).

    Swartskoene, gryslangbroeke en dasse IS onprakties in Afrika – as jou uitkoms is om leerders teen die felle son te beskerm, dan is daar sekerlik effektiewer drag – al is dit dan ook maar net ligter kleure.

  7. Skooldrag is dalk duur, maar hoeveel Levi 501’s kan jy koop met die geld wat jy gebruik om al die nodighede te bekom? Kyk na die kinders vandag- in my dae ook- alles moet die nuutste en beste wees. Dink net aan die sosiale stigma wat Sannie gaan beleef as sy met ‘n Jet of MrPrice denim opdaag as al die ander Levi’s en Guess jeans dra! Wat kos ‘n wit Nike t-hemp?

  8. Weet jy hoe trots voel jy om jou skoolbaadjie te dra as die eerste span opdraf vir hulle eerste game vir die jaar. Dis net eenvoudig ‘n awesome feeling wat ek vir niks in die wereld sal veruil nie

  9. @blixer: die Deutsche Internationale Schule Kapstadt het nog steeds skooldrag; dis net nie geskoei op die Britse skooldrag-tradisie nie en is meer geskik vir die Kaapse weer: http://www.dsk.co.za/schulkleidung_e.html

    @aventer: dis goed dat jy trots is op jou skoolbaadjie – ek probeer jou nie daarvan ontneem nie. Onthou, ‘n gesprek beteken nie dat baadjies wegval nie – jy kry bloot die geleentheid om ook te hoor wat die nie-eerstespan spelers sê.

    (Baie leerders verag die militaristiese etos wat met uniforms gepaardgaan: die oorbeklemtoning van netheid en die blindelingse navolg van haarreëls.)

    Deur krities hieroor te praat, kan ‘n mens verteenwoordiging vanuit die verskillende groepe kry en herbesin oor en/of inkoop in die waardes wat tans d.m.v. reëls afgedwing word.

    Onderwysers en leerders kort ‘n effektiewer wyse waarop netheidsreëls toegepas kan word: ná ‘n gesprek waarby leerders inkoop in iets, dink ek leerders sal meer geneigd wees om mekaar oor hul netheid aan te spreek, eerder as wat onderwysers met mag en liniaal moet ingryp, soos tans die geval.

  10. Ek hou van skooluniforms, nie oor skooltrots of netheid nie, maar net want dis maklik om in die oggend aan te trek. Ek wil net iets generic uit my kas uit gryp en aantrek in plaas daarvan om enige fashion decisions te maak. Skoolunifroms is net vir my meer gemaklik as sivvies.

  11. Reguit gese hendrik

    Uniforms is weird goed. Ek’s mal oor my skool uniform, maar verpes my koor uniform (meerendeels oor dit my soos ‘n krismisboom uit seisoen uit laat voorkom).

    Dit gaan eintlik maar meer oor persoonlike smaak. Miskien moet ons ‘n ander tipe vraag vra…wat is volgens jou STRENG skoolreels?

  12. Mnr Muller – Agter daardie trots sit dieselfde irrasionele geloof dat daar iets is om op trots te wees. Enige groepsaktiwiteit kan weggedink word.

    Ek dink die uitdaging is om nie die tradisies te vat en hulle af te slag nie. Miskien moet ‘n mens eerder dink HOEKOM skooluniforms in die eerste plek in Brittanje (of elders) neerslag gevind het en daardie rasioneel beredeneer. Dit help nie om die gevolge daarvan krities te ondersoek nie.

    Dis soos ons…ahem…vriende by Admin-A wat my nie meer koshuisplek wil gee nie omdat ek nagraads is en koshuiskultuur glo vrek sleg is. Niemand wil dink hoekom die koshuiskultuur daar is om mee te begin nie. Maar dis van ‘n os op ‘n jas.

  13. Juistement, Johan! Juistement! Dis roekeloos om bloot tradisies (gebruike wat oor tyd heen gevestig geraak het) bloot te skrap en nie te besin oor wat die aanvanklike uitkomste daarvoor was nie.

    Om die IDEE van ‘n tradisie te ontleed moet ‘n mens egter dit naslaan én daaroor praat – want vir verskillende mense hou ‘n tradisie verskillende waardes in.

    Omdat tradisies aanvanklik ook oogmerke gehad het, beteken egter ook nie ons moet dit net klakkeloos voortsit nie, want dan gaan die doel dikwels juis verlore – i.p.v. die uitkoms, raak mense verstrengel in praktyke wat dikwels juis die teenoorgestelde uitwerkings in ‘n nuwe millennium oplewer.

    Dus, ja! Laat ons hieroor praat.

    Koshuiskultuur is daar vir belonging, om tuis te voel, om mense saam te bind en interaksie tussen nuwelinge en seniors te verseker. In ‘n menseregte-omgewing moet ‘n mens dus op kampusse nuwe, nie-doop maniere vind, om steeds ‘n positiewe kultuur oral te kweek.

    Sela.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s