Konvergente, divergente en laterale denke: in en uit die boks

Standard

As beginner-onderwyser het ek gou agtergekom dat leerders nie altyd lekker snap hoe om te dink of hoe om te leer nie.

Wanneer hulle veronderstel is om krities te wees, is hulle nie; wanneer hulle kreatief/oorspronklik moet wees, dan gebruik hulle net helder papier om hulle mieliestronk-plagiaat te verbloem.  Omdat onderwysers meestal net op Kennis en Begrip fokus, leer die leerders weinig van probleemoplossing of kritiese denke wat Toepassing, Analise, Sintese en Evaluering (hoëvlak-denke) vereis (volgens Bloom se taksonomie).

Ons leer hulle copy en paste – nie dink en skep nie.  Ons onderrig leerders om oplosbare probleme netjies op te los; nie onoplosbare situasies (waaruit die lewe meestal bestaan) verantwoordelik te bestuur nie.  Ons sê vir hulle om kreatief te wees, maar vertel nie vir hulle hoe nie.

Hulle vang ook nie altyd hoe hulle geassesseer gaan word of hoe hulle bepunt word nie.  Dus kry hulle soms per ongeluk ‘n goeie punt in sommige opdragte/take, en soms per ongeluk ‘n swak punt.

Vir kreatiewe opdragte/take/opstelle is daar verskillende tipe denkstrategieë nodig: jy moet eers wyd dink, assosiasies oproep, leemtes raaksien, nuwe moontlikhede opdiep, en dan gestruktureerd en logieser te werk gaan met die proses vorentoe.

Die leerproses is so ‘n kreatiewe, konstruktivistiese affêre, dat dit regtig moeilik in ‘n boks geplaas kan word.  Tog is dit juis wat die samelewewing verwag moet gebeur.  Ons soek rapporte.  Ons soek simbole.  Ons soek sertifikate.  Punte.  “Leer” en “onderrig” moet konstant ge-oudit en gemeet word aan die hand van gehalteversekeringstandaarde.  Andersins kan ons nie “bewys” dat “leer” plaasgevind het nie.

Watse tricks of the trade is daar om leerders te help leer?  Leer hulle werklik, of leer hulle slegs hoe die onderwyssisteem werk (of hoe om onderwysers te manipuleer)?

Op universiteit moes ek al telkens bontstaan om studente te help om behoorlik te leer vir ‘n toets – en nie net die handboek ad infinitum deur te lees nie, maar om die inhoudsopgawe (wat eintlik ‘n opsomming opsigself is) te gebruik.  ‘n Mens kom die leemtes veral agter op nagraadse vlak wanneer studente eintlik moet begin navorsing doen, maar slegs vaardig is in naslaanwerk pleeg.

Suksesvolle studente leer nie noodwendig dink nie; hulle bemeester bloot die vaardigheid om feite klakkeloos te memoriseer en tydens ‘n toets/eksamen te regurditeer.

* * *

As opdrag het ek my vakdidaktiek Afrikaans-studente gevra om ‘n bietjie De Bono na te slaan en te reflekteer oor hoe jy sy thinking skills met heelbrein-meervoudige intelligensie-onderrig kan integreer.  Veral t.o.v. kreatiewe skryf.

Kom ons kyk wat hulle navorsing (of gaan dit blote naslanery wees?) oplewer!  Praat gerus saam al is jy nie ‘n Afrikaansonderwyser-student nie :P  Hoe onderrig jy iemand om kreatief te wees?

6 responses »

  1. Ek lees in ‘n interessante artikel oor die onderwyser as kunstenaar die volgende:

    “Edward Lee Thorndike (1925) … defined the art of teaching as: … The art of giving and withholding stimuli with the result of producing or preventing certain responses. In this definition the term stimulus is used widely for any event which influences a person, – for a word spoken to him, a look, a sentence which he reads, the air he breathes, etc., etc. The term response is used for any reaction made by him, – a new thought, a feeling of interest, a bodily act, any mental or bodily condition resulting from the stimulus…”

    Bron: Parks, M.E. 1992. The art of pedagogy: Artistic behavior as a model for teaching. In: Art Education (45):51-57.

  2. De Bono se leerteorie is gebaseer op laterale denke. Leer vind plaas wanneer ‘n individu kreatief dink om probleme op te los. Kreatiewe denke word gestimuleer wanneer daar na alternatiewe oplossings gekyk word eerder as om net vas te kyk in die gewone of alledaagse. De Bono gee ‘n samevatting van wat kreatiwiteit behels: “Hoekom kan ons nie speel met idees, al is dit ook hoe absurd nie? Dit is amper ‘n tipe van gesels-breinstorm. So ontdek jy self dalk iets nuuts!” Dit is wonderlik om te weet dat onderwysers, leerders of enige ander persoon kan leer deur met idees te speel of na alternatiewes te kyk. Ek dink De Bono se leerteorie moedig leerderdeelname aan, omdat daar nie ‘n regte of verkeerde antwoord is as dit kom by kreatiwiteit nie. Kreatiwiteit beteken oorspronklikheid of ontdekking. Effektiewe leer vind juis plaas wanneer leerders self oplossings vir probleme ontdek en kennis konstrueer. Kreatiwiteit maak ‘n klaskamer opwindend! Stem julle saam?

  3. Eerstens wil ek net sê dat ek slegs my eerlike opinie deurgee en ek probeer nie op enige iemand se tone trap nie. Maar wat is die doel van hierdie bespreking? As ons punte in jou Afrikaanse module wil opbou, moet ons gereeld “comments post”, sodat jy kan kyk of ons “deelneem”. In so baie van ons vakke kry ons dooie inhoud (notas, artikels, ens.) wat ons moet opsom en krities moet reflekteer oor. Wat van praktiese demonstrasie? Hoekom kan ons nie De Bono se denkstyle in die klas toepas en dan die verband daarmee met meervoudige intelligensies probeer bepaal nie? Is dit omdat daar nie tyd is nie?

    Ek dink mense soos De Bono was baie slim en natuurlik ‘n kundige op sy gebied. Hy het basiese name gegee vir denkstyle wat reeds bestaan, ons was net nie bewus daarvan nie – aangesien daar van alle leerders verwag is om op dieselfde manier te leer. Met die nuwe kurrikulum en die skole wat meer divers raak, word ons gedwing om verskillende leer- en denkstyle te akkommodeer. Maar om net daaroor kommentaar te lewer gaan ons nie veel help nie.

    My opinie oor De Bono se denkstyle:

    Dis teoreties wonderlik en ek glo onderwysers pas dit toe sonder dat hulle dit besef. Ek dink dit kan as ‘n goeie basis dien wanneer daar van jou verwag word om ‘n ander tipe denkstyl te onderrig.

    Toe ek deur ‘n paar voorbeelde gegaan het, kon ek dadelik agterkom watter ek meestal gebruik.

    C & S = ? Gevolge van aksies. Dis vir my baie belangrik om te weet waarnatoe ek oppad is of waarvoor ek werk. Mens kan dit ook “resultaat-gedrewe” noem. Dis belangrik dat leerders bewus sal wees van die gevolge wat hulle aksies sal hê.

    OPV – Wat ander mense sê. Kinders is baie gevoelig vir hulle maats se houdings en reageer dikwels op ‘n manier wat hulle dink hulle vriende sal beïndruk. Daarom moet ons hulle leer om te kyk na hoe hulle aksies wel ander sal beïnvloed.

    CAF – Neem alles faktore in ag. Dit is BAIE belangrik! Elke kind kom uit ‘n ander huis met ander probleme en ander omstandighede. Jy, as opvoeder moet dit in ag kan neem. As die leerder nie geld het om kleur papier te koop nie, kan jy nie van hom verwag om dit te koop nie. Maak ‘n plan en stel iets anders voor, dalk koerantpapier?

    Daarom sê ek weer, om na die verskillende denkstyle te kyk en daaroor te lees, is interessant, maar wat help dit ons? Sal ek weet hoe om dit eendag toe te pas? Sal ek dit eendag by my leerders kan optel?

    Ek dink egter ons pas die denkstyle outomaties toe, sonder om daaroor te dink. Jy sal bewyse van hierdie denkstyle in ons almal se lesse sien, sonder dat ons dit op papier (lesvorm) neerskryf. Die denkstyle kan dien as ‘n goeie naslaanmiddel vir elke onderwyser – solank jy weet hoe om dit effektief toe te pas.

  4. Oor kreatiwiteit: Ek het op skool ‘n baie eng idee oor kreatiwiteit gehad en ek dink ek het dit nogsteeds. Vir my was kreatiwiteit iets abstrak, iets waaraan jy gekyk het en nie verstaan het nie. Of iets waaraan jy gekyk het en gedink het ek sal dit nooit so kan doen nie. Kreatiwiteit het my bedruk gelaat, want ek het gevoel ek sal nooit so kreatief soos ander kan wees nie. Ek het dus altyd dinge geteken wat nie vir my sin gemaak het nie of wat ek gedink het die juffrou sal van hou.

    Daarom sal ek in my klas eendag ‘n hele ander benadering hê. Kreatiwiteit gaan in my klas handel oor die individu. Dit sal nie ‘n vooropgestelde idee of assesseringstandaard wees nie, dit moet natuurlik vanuit die leerder se gedagtes ontwikkel. Dit klink seker idealisties, maar ek gaan regtig probeer om elke leerder aan te moedig om hulleself te wees en te teken en te skryf wat hulle wil (na aanleiding van die onderwerp of tema), en nie volgens ‘n vooropgestelde idee van kreatiwiteit nie. Ek sal die hulpmiddels tot die leerder se beskikking in ag neem, ek sal die leerder se ervaring in ag neem, ek sal die leerder se gemoedstoestand in ag neem en ek sal die leerder as geheel probeer in ag neem.

    Dit klink seker baie onrealisties, maar ek glo as ek in daardie situasie kom, sal ek weet hoe om die leerders gemaklik met die taak en ook met hulle eindproduk, te maak. Ek moenie my idees op hulle probeer afdwing en verwag dat hulle soos ek moet dink nie.

  5. Leerders kan gestimuleer word om kreatief te wees. Speel byvoorbeeld musiek, wys prente of objekte en laat leerders neerskryf watter gedagteS opkom wanneer hulle die musiek hoor of die prente en objekte sien. Leerders kan ook gevra word om die emosies wat hulle ervaar neer te skryf en te teken. So word kreatiwiteit ‘n proses. Beklemtoon dat enige skepping of idees moontlik is as dit by kreatiwiteit kom. Leerders moenie bang wees om te dink soos niemand vantevore al gedink het nie. Prys leerders vir oorspronklikheid en moedig hulle aan om dit te geniet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s