Konstruktivisme #4 – Outentieke tekste

Standard

Volgens konstruktivistiese leerteorieë kan onderwysers nie net kennis-konsepte klinkklaar met eenrigting-gesprekke oordra nie.  Leerders skep kennis op grond van hulle huidige verstaan van die wêreld.  Om iets nuuts te leer, moet leerders torring aan hul bestaande konstrukte.

Ideas and thoughts cannot be communicated in the sense that meaning is packaged into words and “sent” to another who unpacks the meaning from the sentences. That is, as much as we would like to, we cannot put ideas in students’ heads, they will and must construct their own meanings. Our attempts at communication do not result in conveying meaning but rather our expression evoke meaning in another, different meanings for each person. – Grayson Wheatley (1991)

Onderrig in die skryf van opsommings  (‘n voorbeeld)

Dikwels, veral as onderwysers taal onderrig, gryp ons handboek-konsepte uit die lug en aanvaar dat leerders dit sonder moeite sal kan integreer en netso reproduseer (want die werk word mos “logies” uiteengesit).  Soos met opsommings: ons onderrig steeds précis aan die hand van taalreëls en -algoritmes (reeks opeenvolgende stappe).  Ons ignoreer die feit dat elke leerder ‘n vooraf-verstaan van “opsommings” het en van wat “opsommings” is/moet wees.  Ons ignoreer die feit dat hulle die behoefte het om hul verstaan van opsommings met mekaar te deel en die konsep van ‘n “goeie” opsomming met mekaar te onderhandel.

Ek het juis onlangs ‘n klompie vakdidaktiek Afrikaans-onderwysstudente gevra om ‘n sprokie van hul keuse op te som (dit dien as inleiding tot ‘n kreatiewe skryf-oefening) – dit was besonder interessant om te sien hoe min van die taalbeginsels (wat hulle op skool “geleer” het) hulle vanself navolg.

Het “leer” ooit by hulle plaasgevind toe hulle as matriekleerders précis-reëls vir die eindeksamen deurgelees het?

‘n Positivistiese benadering tot onderrigleer loop stapsgewys so:

  1. Stel die leerders bekend aan ‘n nuwe taalkonsep: die opsomming (précis)
  2. Wys vir hulle ‘n voorbeeld van ‘n opsomming en hoe om ‘n teks (spesifiek geskryf vir die doel van taalonderrig) stelselmatig te stroop tot die kerninligting
  3. Gee ‘n lys reëls wat gememoriseer en toegepas moet word
  4. Toets hul précis-kennis vir 10 punte in die eksamen (hoe nougeset hulle die taalreëls nakom)

Daarteenoor het ek die volgende stappe gevolg in my konstruktivistiese onderrigleerbenadering:

  1. Laat die leerders (in hierdie geval onderwysstudente) lukrake opsommings skryf
  2. Laat die leerders mekaar se opsommings lees en kritiseer (sê wat hulle voel goed/sleg is van elke opsomming)
  3. Laat die leerders mekaar afvra hoekom ‘n sekere (deel van ‘n) opsomming goed/sleg is en laat hulle kenmerke (patrone) probeer identifiseer wat hulle kan toepas om hul opsommings te verbeter
  4. Laat hulle debatteer oor hoe om opsommings te bepunt, maar hou die oefening sigself ‘n formatiewe een (d.w.s. nie vir puntegee-doeleindes nie, maar vir selfverbetering).

In ‘n konstruktivistiese klaskamer gebruik jy die leerders se outentieke (eie/ware/egte/regte) tekste en ontgin die onderrigleer-geleenthede daaruit.

To state a theorem and then to show examples of it is literally to teach backwards. – E. Kim Nebeuts

20 responses »

  1. Die mensdom kry nou al vir millenia opvoeding via een of ander skoolstelsel. Die mensdom het ontsettend baie vermag met hierdie meganisme. Nou skielik is daar soveel foute in hoe dit altyd gedoen is. Wel mynsinsiens moet mens kyk na die resultaat. Ek kyk spesifiek na die wiskundige vermoe van studente op universiteit. Vorige generasies het baie beter gevaar wat dit aan betref as die gemiddelde student wat mens vandag kry. My gevolgtrekking is dat al hierdie nuwe idees wat opgedis word deur die post-modernisme eenvoudig nie so wonderlik is as wat hulle dink nie. Die ou manier het beter resultate opgelewer.

  2. Aha, uitstekende comment, flippiefanus! Ek dink jy verwoord heelwat van die frustrasies wat onderwysstudente ervaar.

    Jy het dalk ‘n paar aannames:

    AANNAME 1: Vantevore is daar op een, vaste manier onderrig…
    Die kennis oor onderrigtegnieke verander konstant en is, veral in die vorige eeu, n.a.v. ontwikkelende teorieë (behaviorisme, suggestopeadia, ens) aangepas.

    AANNAME 2: Leerdergesentreerd- en taakgerig klasgee, is nuwe konsepte…
    Om op die behoeftes van die leerder te fokus, is nie ‘n nuwe idee nie – goeie onderwysers (en veral ouers) doen dit nog al die jare al. Die socratic method pas bv. perfek in by die “nuwe” didaktiek.

    AANNAME 3: Die ou manier van klasgee, het beter resultate opgelewer…
    Dit is so dat baie universiteitstudente swak agtergrondkennis het, maar die eerste nuwe kurrikulum-eerstejaars daag eers volgende jaar (in 2009) op – dis dus juis die “ou manier van klasgee” se skoolkinders wat volgens jou swak presteer.

    AANNAME 4: Matrikulante is onvoorbereid vir suksesvolle universiteitstudie…
    Die grootste persentasie van alle matrikulante was nog altyd “onvoorbereid” op universiteitstudie. Vantevore het ons egter net ons twee topstudente aangemoedig om te gaan swot; deesdae stuur ons die top 20%. Ons klasse is dus groter en bevat inderdaad minder “ware wetenskaplikes”. Kyk ons egter na ons toppresteerders, dan styg hulle akademies steeds hoër uit as vorige jare s’n.

    AANNAME 5: Vorige suksesse is behaal a.g.v. die vorige skolestelsels…
    Nie alle sukses is a.g.v. goeie skole nie; heelwat Einsteins is opgelewer juis ten spyte van die heersende skoolsisteme.

    AANNAME 6: My blog beveel aan dat klasgeëry heeltemal verander, omdat alles wat vantevore gedoen is, verkeerd was…
    Nee, als was nie sleg en moet nou verander nie; ek hou bloot ‘n stel leerteorieë voor waarmee jy wetenskaplik kan kwantifiseer en meet en verstaan hoekom goeie onderrigleertegnieke (wat vantevore aan ‘n spesifieke onderwyser se “menswees” toegeskryf is) inderdaad wérk.

  3. Mmm interessante manier van uiteensetting. Wonder waar het ek dit al gesien?😉

    Goeie punte wat jy aanraak en jy’s waarskynlik reg. Ek maak baie aannames uit blote onkunde. Maar goed dan het ek nogtans ‘n paar opmerkings. Ek probeer nie spesifiek op die detail kommentaar lewer nie (behalwe miskien een aspek wat ek nou-nou sal noem) maar bloot op die resultaat. Wat dit aan betref stem ek nie saam nie. As ek na die afgelope twee dekades kyk is daar nie ‘n noemenswaardige toename in aantal studente nie. Nogtans het die gemiddelde standaard (spesifiek wiskundige begrip) merkwaardig afgeneem. Dus kan mens dit nie verklaar in terme van ‘n toename in aantal leerders wat universiteit toe gaan nie.

    Ek gee toe die nuwe kurrikulum moet nog getoets word, maar soos jyself opmerk daar was daar al geruime tyd veranders aan die skoolstelsel gedoen wat nou reeds getoets is en waarop mens gevolgtrekkings kan maak.

    Terloops, mens kan nooit vir Einstein as ‘n voorbeeld gebruik nie. Dis baie onregverdig om gemiddelde leerders met Einstein te vergelyk.🙂

    O ja oor die detail. Die hele idee om leerders self te laat “ontdek” hoe om dinge te doen werk nie in wiskunde nie, want die gemiddelde leerder is nie daartoe instaat om die wiel oor uit te vind nie. Vir die top presteerder kan mens miskien so kans gun maar volgens my doen hulle dit in iedergeval ongeag van of hulle die geleentheid gegun word al dan nie.

  4. Pingback: lesse uit ‘n klompie outentieke opsommings « mnr.muller

  5. Nou praat ek namens die studente… (want ek voel bietjie in die gesig gevat deur Mnr. Muller se kommentaar)

    Wie sal ooit al hulle spelreëls van matriek onthou (of selfs vroëer)? Ons is meeste ongeveer drie uit die skool. Wanneer ons op universiteit take ingee, word daar altyd na die taalversorging gekyk. Jy kry egter net ‘n algemene punt vir jou taalversorging en geen verbeteringe word aangebring nie. Ek praat natuurlik nie nou van die Tale nie. Ons skryf dus al vir drie jaar op dieselfde manier, en daar word nie weer gefokus op sinne, woorde, paragrawe en “you name it” nie. Ek probeer nie die skuld op die universiteit plaas nie, maar waar trek jy dit streep? Hoe kan jy van iemand verwag om ‘n opstel of opsomming taalkundig korrek te skryf sonder dat sy/haar skryfstyl ooit geredigeer is. Ja natuurlik, ons kan na die skryf lab of wat mens dit ookal noem gaan, maar gaan dit regtig die probleem oplos? Gaan hulle vir ons die nodige reëls leer?

    Ons studente het dit met jou bespreek verlede Vrydag. Hoe moet ons eendag in ‘n Afrikaanse klas staan en ons ken nie al die “nodige” taalreëls nie? Nou maak jou nog bo ‘n stelling dat ons “min van die taalbeginsels” toegepas het in ons opsommings. Dit is skrikwekkend om te dink dat ons so rigied moet wees.

    PS: daar word vir ons geleer dat jy nie TAALSTRUKTUUR, TAALGEBRUIK en SPELLING mag assesseer as jy dit nie aandui in jou assesseringsrubriek nie. Jy kan die foute uitlig of uitwys, maar jy kan nie ‘n kind penaliseer nie. Jy moet spelling in jou kriteria aandui wanneer jy vir hulle ‘n opdrag gee. Interessant, nê?

  6. @Marelize: jammer, ek probeer nie die BEd- of NOS-studente beledig/beskuldig as ek sê dat julle min taalbeginsels navolg nie.

    Ek probeer net dié punt maak: Taalonderrig is onvoldoende as dit nie ná skool onthou – en gebruik – word nie. Waarom onderrig ons dit dan?

    * * *

    As onderwysstudente (en -dosente) werk ons op ‘n meta-vlak: ons besin krities oor die “leer” wat ons fasiliteer én die “onderrig” wat ons pleeg.

    Ook moet ook die inhoud/metodiek van die onderrigleer wat ons ontvang, kritiseer.

    D.w.s. wat taalleër aan universiteite betref: indien die kurrikula onvoldoende is, dan moet julle die programkoördineerder gaan sien en sorg dat dit aangepas word.

    * * *

    Die verantwoordelikheid vir suksesvolle onderrigleer berus egter nie net by die onderwyser/dosent nie; elke leerder/student moet self eienaarskap neem van sy/haar sterk- en swakpunte.

    As jy dus as derde/vierdejaarstudent besef jou taalgebruik is te “swak”, dan rus die onus op jóú om taalreëls te begin oplees en inoefen.

    Sodra jy begin skoolhou, het jy nie ‘n dosent (of noodwendig ‘n vakhoof) wat vir jou sê wat om te doen, hoe om dit te doen of hoekom om dit nie doen nie. Jy moet selfstandig naslaan en navors oor jou vakgebied(e).

    * * *

    Op die ou end word elke leerder sy/haar eie onderwyser. Dit is tog wat ons nastreef: om lewenslange leerders op te lei.

    * * *

    Terloops: dis nie “nê” nie, maar “nè”, interessant, nè😉

  7. @Flippiefanus: ek vergelyk nie soseer alle leerders met Einstein nie…🙂

    Jy sê: “Die mensdom het ontsettend baie vermag met hierdie [skoolgee]meganisme” en “Die ou manier het beter resultate opgelewer”.

    Ek sê: Die meeste van die suksesse waarna jy implisiet verwys, is juis nie opgelewer AS GEVOLG VAN goeie klasgeepraktyke nie, maar TEN SPYTE VAN slegte klasgeëry.

    Ek gebruik juis Einstein omdat hy ‘n paradigmaskuif in die moderne wetenskap veroorsaak het én telkens hom teen onderwyspraktyke uitgespreek het.

    * * *

    Wat gemiddelde leerders betref (die nie-Einsteins in die klas): vorige skoolgee-sisteme het net taal- en wisk/logiese leerders voorberei op verdere studie. Die res (die kreatiewe gemiddeldes) het bloot uit die bus geval.

  8. @Flippiefanus: wat ek wel toegee, is dat ‘n groot, logge sisteem soos die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel (boonop met al sy historiese probleme), baie-baie-baie moeilik en baie-baie-baie stadig verander/vernuwe.

    Nuweling-onderwysers gee meestal nog op die ou manier klas – en leerders pas ook nie sommer maklik by die kennis-self-konstrueer-idee aan nie. (Dit is immers makliker om ge-spoonfeed te word.)

    Vernuwing vat tyd – en tot tyd en wyl sal daar nog steeds, ongelukkig, van die pap op die grond val.

      • @Monique: Hi, help my asb om jou vraag beter te verstaan? Wil jy weet of beroepsvoorligters nou meer holisties kyk na mense (se intelligensie) as vantevore?

        Ek weet nie of beroepsvoorligters soseer kennis dra van leerteorieë nie, maar ek vermoed hulle kyk na ‘n groter verskeidenheid toetse (persoonlikheid, IK, belangstellings) se resultate – en gebruik dit bloot as ‘n riglyn vir verdere gesprek. Beroepsvoorligting is egter ‘n aparte dissipline waarvan ek nie baie kennis dra nie.

  9. Mnr. Muller:

    Wie se verantwoordelikheid is dit om ons studente se foute te identifiseer of uit te wys? Wie gaan bepaal of ons taalgebruik “swak” is? Ekself?

    PS: dit bring jou niks in die sak om na die programkoördineerder te gaan nie, want ons het al probeer.

    Maar soos jy sê:

  10. Skuus, sien daar is woorde uitgelaat.

    Maar soos jy sê: Ons moet self leer, dalk op die harde manier – swak punte of rooi hale oor die bladsy.

    Ek wil dan net byvoeg: sonder die nodige leiding van dosente, sal dit nie kan plaasvind nie. Dis hoekom ons na ‘n universiteit toe kom. Ons wil ons kennis verfris en opbou. Wat maak ons anders hier? Moet ons nogsteeds sonder leiding alles self uitvind en toepas?

  11. Marelize

    My vermoede is dat die dosent voel dat daar sekere vaardighede is wat die student reeds op skool onder die knie moes kry. Dit is daarom nie meer die dosent se verantwoordelikheid om daaraan aandag te gee nie. In so geval is dit die student se verantwoordelikheid om hierdie vaardighede aan te spreek.

  12. Ek sal graag net hier kommentaar wil lewer,nadat ek baie lank nagedink het oor hierdie “leemte” wat onderwys studente besit. Dit voel vir my partykeer (en ek sit klem op voel vir my) dat dosente en baie maal opvoeders net verwag dat ‘n student/leerder iets moet weet, omdat hy dit moes leer by ‘n ander plek, hetsy die vorige graad of ekstra take of eie leeswerk. Maar dis nie altyd so nie, ek dink mense maak te vinnig aannames oor die kennis wat iemand op ‘n sekere ouderdom behoort te he. En ek dink nie altyd dit is regverdig nie.

    Die vraag bly egter staan… wie is dan verantwoordelik om hierdie leemte te vul wat ‘n student of leerder besit.

    Ek wil graag net vir ‘n wyle wegbeweeg van die student en na die leerder kyk, met ‘n spesifieke voorbeeld. Kom ons stel jy is ‘n Graad 6 Juffrou/Meneer en jy bied ‘n Wiskunde les aan oor breuke en 6 uit die 30 leerders in jou klas kan nie die vermeningvuldiging van breuke verstaan nie, kan jy se dis die leerder se eie verantwoordelikheid om uit te vind hoe om dit te doen? Die vermenigvuldiging van breuke was dan volledig in Graad 5 gedoen en jy wil dan nou net hersiening doen en nog meer gekompliseerde somme doen, maar jy kan nie want nie al die leerders verstaan die vorige werk nie. Wie se skuld is dit nou,omdat die leerder nie op die aanvaarbare standaard is nie? Joune? Die UGO stelsel? Die vorige Juffrou? Die leerder?

    Net so wil ek weet wie se skuld is dit nou eintlik, omdat onderwys studente se taalgebruik en speling nie op standaard is nie. Is dit die dosente wat net verwag dat wanneer ‘n student op Stellenbosch kom hy/sy weet van akademiese skryfstukke? Die korrekte speling en taalgebruik? En dink dosente veral die wat onderwys studente onderrig hulle maak ‘n bydrae tot die verbetering van die akademiese styl van studente? En hier wil ek net ook suggereer dat ek nie die blaam probeer skuif nie, maar eerder deur te kyk waar die fout begin het, die fout probeer uitwis vir ander onderwys studente wat oor ‘n paar jaar derde jaar gaan wees. En dan nie dieselfde foute hoef te maak nie.

    Ons het in ons eerste jaar by die Afrikaans en Nedelands departement spel toetse geskryf en meeste van ons besit die AWS, sal dit nie voldoende wees wanneer ons opstelle merk nie?

    En dan amper laastens wil ek vra, wat is ‘n akademiese skryfstukke nou eintlik? Ek weet dis nie my opinie nie en daar word verwag van jou as student om eers iets na te vors voordat jy daaroor skryf, maar wat maak ‘n goeie skryfstuk?

    Opsommend wou ek eintlik net suggereer dat mens nie net kan aanvaar mense moet dinge weet nie, omdat hulle uit ‘n spesifieke agtergrond kom of spesifieke ouderdom is nie. Hoop nie ek het op enigiemand se tone getrap nie.

  13. Oh ja en net nog ‘n laaste kommentaar voordat iemand my kop afkap met ‘n byl. Ek weet daar word verwag van onderwys studente om baie “eie leeswerk en navorsing te doen”. Ons wiskunde dosent gebruik altyd die voorbeeld van ‘n “mechanic”, jy verwag wanneer jy jou kar na hom of haar neem, hy of sy gaan weet hoe om dit reg te maak volgens die nuutste tegnologie. Hierdie kennis het hy of sy natuurlik opgedoen deur die lees van boeke, of internet soektogte. So ook is ek omtrent honderd persent seker dat wanneer daar ‘n kind in jou klas sit, die ouer verwag dat jy volgens die nuuste metodes onderrig en dat jy weet wat in jou “mark” aan die gang is.

    Dit voel egter vir my nadat ek ‘n “light bulb” moment gehad het dat daar ‘n baie groot verskil is tussen wat die dosent met ons wil doen en wat ons wil he die dosent moet doen. En dalk is dit hierdie leemte wat baie frustrasie in terme van taalgebruik en speling veroorsaak.

  14. Suzanne moenie skaam wees om op tone te trap nie. Ek dink die meeste ouens kan dit vat.🙂

    Ek dink op skool dra die onderwyser ‘n groter verantwoordelikheid oor die kennis waaroor die leerders beskik as dosente op universiteit, bloot omdat jong kinders nie vanselfsprekend hul verantwoordelikheid besef nie. Op universiteit sal ‘n dosent miskien ekstra tyd aan voorafgaande werk spandeer as hy/sy agter kom dat ‘n groot deel van die klas daardie kennis ontbreek. Nogtans is dit die dosent se verantwoordelikheid om die kurrikulum van die betrokke kursus te voltooi en daar is ‘n beperkte aantal lesing om dit in te doen. Dus moet die student self die verantwoordelikheid aanneem om die gebrekkige agtergrond in te haal. Op die ou ent van die dag kan die student niemand anders blameer as hy/sy nie oor die nodige agtergrond kennis beskik het om ‘n betrokke vak te kon deurkom nie.

  15. Pingback: Konstruktivisme #6 - spanning oor uitkomste « mnr.muller

  16. Pingback: Parodie in drie dele: redigeer (3) « mnr.muller

  17. Hi Mnr Muller…ek het vandag ‘n stuk gelees oor “konstruktivisme”. Toe nou gewonder, watter metode is die beste…Konstruktivisme (Marlowe)of Kognitief (Vygotsky). Konstruktivisme is vir my meer asof (LW..asof) dit aan die leerder oorgelaat word – nou nie dat dit in werklikheid gebeur nie, want daar is tog leiding nodig. Wat is jou opinie. Ek verkies Vygotsky, maar in ‘n mate is daar ooreenkomste tussen die twee in die sin dat die leerders van mekaar leer.

    Oor die spelling wat hierbo “bespreek” is, ek stem saam dat daar veral vir Taalonnies ‘n duidelik handleiding gegee moet word met al die nodige reels, of ‘n boek moet saamgestel word, Taal-Onderwysers kan nie aan hul eie lot oorgelaat word en verwag hulle moet alles iewers gaan uitkrap nie…waar krap jy in elk geval alles uit op die ou end! Maar ek stem ook saam dat Ondwysers (en Studente) nooit moet ophou navors en “soek” nie. Dis deel van jouself verryk en jou ook op hoogte hou van wat aangaan in die Onderwys/gebeure. ‘n Onderwyser is altyd besig om te “leer”.

  18. Pingback: onder die roesoranje net-kombers van jou bed se voetenent « mnr.muller

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s