Lesse uit ‘n klompie outentieke opsommings

Standaard

Ek het onlangs vir BEd- en NOS-studente gevra om opsommings van sprokies te skryf.  Hulle kon enige sprokie kies – en geen voorskrifte is gegee oor hoe so ‘n opsomming moes lyk nie.

As onderwyser sou jy sulke outentieke (egte/ware/regte-wêreld) tekste kon gebruik as materiaal vir letterkunde-, skryf- en taalbesprekings en -lesse in die klaskamer.  Hierso is ‘n paar les-idees wat jy sou kon laat voortvloei uit die lees van die opsommings:

Historiese teenwoordige tyd (en die gebruik van verlede tyd-vertellinge in die algemeen)

Min onderwysers onderrig die “historiese teenwoordige tyd” as taalverskynsel in Afrikaans.  Gewoonlik wanneer ‘n mens in Afrikaans iets in die verledetyd skryf, gebruik jy het ge-: Die groot aand het aangebreek (comment 39).  Dit kan egter baie belemmerend wees vir ‘n mooi, vloeiende skryfstyl – vandaar die historiese teenwoordige tyd, gewoonlik ingelei deur toe: Gouelokkies [was] baie nuuskierig en toe sy geen antwoord hoor nie, toe besluit sy om by die huisie in te stap en te kyk hoe dit lyk (comment 34).  Let op hoe die sin steeds in die verledetyd (historiese tyd) afspeel, maar terselfdertyd sonder het ge-‘s vertel word (in die teenwoordige tyd).

In die sprokie-opsommings sukkel die studente met hul gebruik van verlede- en teenwoordige tyd -konstruksies: Nadat die varkie geweier het om dit te doen, blaas die wolf so hard as wat hy kan en blaas die huisie om (comment 37) – “kan” moet “kon” wees.  Talle voorbeelde is te vinde.

Die identifisering van tema’s

Leerders sukkel gewoonlik in letterkunde-besprekings om die hoof- en subtema’s van tekste te identifiseer.  In sommige van die sprokie-opsommings is dit maklik om die hooftema raak te sien; in ander opsommings is dit minder duidelik.  Vergelyk byvoorbeeld die twee Goue Gans-opsommings (comments 17 en 36).  In laasgenoemde kan ‘n mens baie makliker Stommerik se deugde herken en die tema oor die belangrikheid van mededeelsaamheid (wat belangriker is as verstand) uitken.

Kreatiewe gebruik van leestekens: ; – en …, sowel as die akuut (‘) vs gravis(`)

‘n Kommapunt (;) kan baie effektief gebruik word i.p.v. ‘n voegwoord (soos en/maar/omdat/want): Magie vol; ogies toe (comment 34).  Leerders kan beredeneer of die komma in die volgende sin gepas is: By die eindpunt van die rank kom hy toe by ‘n kasteel waar ‘n reus en sy vrou bly, hy vra die reuse-vrou… (comment 32).  Watter ander leesteken moet eerder gebruik word?  ‘n Punt en ‘n nuwe sin?  ‘n aandagteken; ‘n kommapunt?

Die kleinste bed was net reg (comment 34) sou kon doen met ‘n akuut: nét reg.  En Gouelokkies skrik toe wakker en skrik groot dat sy net een pad kies…  Daarteenoor word met ‘n gravis geskryf.

Kreatiewe idiomatiese taalgebruik

Van die opsommings het oulike gesegdes, sêdinge en idiome wat vir leerders gegee sou kon word om uit te ken, korrek te gebruik en/of te verdraai in hul verdere kreatiewe skryfwerk: Sprokies te kies en te keur (comment 7)  – terloops “kies” moet “kus” wees…  Leerders kan ook geleenthede in hul eie opsommings soek om méér met taal en idiome te speel: soos Jan met sy kop in die wolke nadat hy die boontjierank uitgeklim het…

Die korrekte gebruik van hul vs hulle

“hul” dui besitting aan: “Hulle het hul bagasie verloor.”  (Jy sou ook kon sê: “Hulle het hulle bagasie verloor”.)  “Hul” kan egter nie in plek van die voornaamwoord “Hulle” gebruik word nie; die volgende sin is dus verkeerd: ‘n dominees kom op hul af, probeer die meisies keer om nie so agter ‘n mansmens aan te stap nie en toe sit hy ook aan hul vas. (comment 36)

Die skryf van karakters se name en die gebruik van hoofletters en koppeltekens

Hoe skryf ‘n mens Mamma-Beer en Baba beer en pappa Beer?  Leerders sou hieroor kon besin ten einde by die spelreël uit te kom.

Die gebruik van ‘n komma tussen twee werkwoorde

Toe die lente uiteindelik aanbreek, sien hy weer twee van die mooi voëls.  (comment 23)

Die gebruik van is/was en wat/wie

‘n Man het drie seuns gehad en die jongste was Stommerik genoem, wie natuurlik, soos sy naam aandui, deur almal gespot was.  (comment 17)

Die skryf van opsommings

Soos reeds in ‘n vorige post bespreek.  Leerders kan besin oor die gebruik van die direkte en indirekte rede, leidende en bedrywende vorm, en byvoeglike naamwoorde en bywoorde.

* * *

Volgens die konstruktivistiese leerteorieë is dit goeie praktyk om outentieke tekste in te span vir lesse.  Ons moet leerders onderrig dat redigering ‘n groot deel van die skryfproses vorm en hulle die vrymoedigheid leer om hul tekste met mekaar te deel en konstruktief te kritiseer.

Advertisements

2 responses »

  1. Aaah… outentieke tekste! Dis nou een woord waarvan ek nie genoeg kan kry nie. En dis so ‘n mooi woord! Ek het vir die eerste keer met “outentieke tekste” kennisgemaak in my tweedejaar en vanaf daardie oomblik gebruik ek dit woord graag. Ek dink dit is wonderlik om oorspronklike tekste in die klaskamer in te bring, want so word die leerders blootgestel aan die werklike tekste waarmee hulle eendag in die samelewing te doen gaan kry. Met outentieke tekste moet jy egter leerders help of begelei om krities daaroor te dink of reflekteer, sodat hulle voorbereid is wanneer hulle eendag met sulke tekste gekonfronteer te word.

    Ons moet dus let daarop dat ons nie net “outentieke tekste” gebruik omdat almal dit gebruik of net om een of ander assesseringstandaard te bereik nie. Outentieke tekste moet binne konteks gebruik word om leerders aan te moedig om eie afleidings, menings en idees te gee en dan krities daaroor te dink. Die vlak van die denke sal natuurlik afhang van die ouderdom.

    Ons, as opvoeders, sal ‘n groot fasiliteringsrol speel m.b.t. die tekste en ons moet nooit uit die oog verloor dat ons lewenslange leerders onderrig nie.

  2. Marelize, ek stem 100% saam met jou. Ek probeer regtig om so veel as moontlik gebruik te maak van outentieke tekste in my klaskamer. Dit help ook om die vraag wat leerders gewoonlik aan die onderwyser vra nl. “Juffrou, hoekom moet ons dit doen/ken/leer?” te beantwoord, want sodra outentieke tekste in die klaskamer gebruik word (wat natuurlik binne die konteks moet plaasvind), word die belangrikheid van die verskillende leerareas sowel as die inhoud wat aangebied word, aan hulle beklemtoon en sien hulle daardie werk ook as belangrik. Ek is ook veral ‘n groot voorstaander van koerante in die klaskamer, want daar is elke liewe dag iets nuuts daarin en dit is een van die min dinge wat jy meer gaan weet as die meeste leerders in jou klaskamer, d.w.s as jy elke oggend ‘n nuwe koerant klas toe neem en van daardie nuwe nuus in jou lesse gebruik. Sodoende kan daardie leerder(s) wat nie in staat is om daagliks die nuus te luister, kyk of lees nie, ook ‘n beter begrip kry oor dit wat daagliks om hulle gebeur.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s