Konstruktivisme #6 – spanning oor uitkomste

Standard

Skoolgee is moeilik.

In my onlangse post oor die gebruik van outentieke tekste in taalonderrig, comment twee studente die volgende:

Wie se verantwoordelikheid is dit om ons studente se foute te identifiseer of uit te wys? Wie gaan bepaal of ons taalgebruik “swak” is? Ekself?

en

Ek sal graag net hier kommentaar wil lewer,nadat ek baie lank nagedink het oor hierdie “leemte” wat onderwys studente besit. Dit voel vir my partykeer (en ek sit klem op voel vir my) dat dosente en baie maal opvoeders net verwag dat ‘n student/leerder iets moet weet, omdat hy dit moes leer by ‘n ander plek, hetsy die vorige graad of ekstra take of eie leeswerk. Maar dis nie altyd so nie, ek dink mense maak te vinnig aannames oor die kennis wat iemand op ‘n sekere ouderdom behoort te he. En ek dink nie altyd dit is regverdig nie.

Dit volg ná hulle daarop gewys is dat hul sprokie-opsommings nie précis-taalreëls gehoorsaam nie.  D.w.s. hulle het nie op skool geleer hoe om opsommings te maak nie, alhoewel hulle dit definitief onderrig is.

* * *

Bogenoemde scenario speel hom veral in graad 8 (waar nuwelinge van verskeie voederskole in een hoërskoolklas bymekaarkom) af – en op universiteit (waar nuwelinge van regoor die land in dieselfde lesinglokaal sit).  Leerders/studente sit in dieselfde klaskamer alhoewel hulle vermoëns, vaardighede en vooraf-kennis verskil.  Nou hoe maak jy nou?

Hoe haal jy agterstande in én berei jy jou leerders betyds voor op die eksamensamenvraestel wat reeds ‘n maand tevore opgestel is?

Voordele van positivistiese taalonderrig was dat jy vinnig taalreëls en -feite kon deurgee; leerders moes dit maar net memoriseer, kopiëer en in die toets reproduseer.  Jy kon hulle die inhoud gee; die struktuur; die reëls.  Dit was “genoeg”.  (Soos met précis-reëls net voor ‘n toets.)  Leerders wat agter is, val maar bloot uit die bus.

Daarteenoor besef ons met die Konstruktivistiese leerteorieë dat jy nie leerders se behoeftes en agterstande en taalgebruik kan verwaarloos nie – jy moet juis fokus op hulle taalgebruik en hoe hulle nuwe kennis daarmee kan integreer.

En dis nou maar die trade-off, veral wanneer jy onder tydsdruk is en moet teach to the test: fokus jy op die inhoud en struktuur van die taal of op die behoeftes en taalgebruik van die leerders?  Wat dink jy?  Watter intervensies sal jy gebruik?

5 responses »

  1. Daar is dele van die werk wat bloot gememoriseer kan word. Ek dink taalreels is ‘n voorbeeld daarvan. Hoe verder ‘n leerder/student vorder in die skool of universiteit hoe meer word dit die leerder/student se eie verantwoordelikheid om sulke memoriseer werk self te doen sonder dat die dosent of onderwyser hoef in te gryp.

  2. Ek stem ongelukkig nie saam met flippiefanus se mening oor taalreels wat bloot memorisering vereis nie. Om taalreels toe te kan pas, is dit nodig om dit te verstaan, so vir my is taalreels verstaning en toepassing. D.w.s dat ‘n student/leerder wat hom/haar op skool/enige tersiere instelling bevind, verantwoordelik moet wees om taalreels wat hy/sy nie verstaan nie, of self op te ‘swot’ of by die onderwyser/dosent (wat veronderstel is om oor meer kennis te beskik as die leerder/student) navrae te doen daaroor. Ek dink dit is ook een van die redes hoekom daar onderwysers/dosente is – om leerders/studente te help en/of te lei (as hulle in staat is) om meer sekerheid te kry oor dinge wat vir hulle onduidelik/vaag is. So flippiefanus, indien jy ‘n onderwyser/dosent is sal ek nogals graag wil sien hoe jou leerders/studente se TOEPASSING van taalreels is as hulle dit bloot memoriseer en jy nie ‘ingrypwerk’ doen nie, want as’t ware se jy nou dat dit nie jou verantwoordelikheid is om taalreels aan leerders/studente te leer/te verduidelik nie…

  3. Bernadette, ek kan sien die saak le jou naby aan die hart. Wel ek doen nie taalonderrig nie so ek sal dit dan aanvaar as jy vir my se dat taalreels nie iets is wat mens bloot kan memoriseer nie. Ek sou tog gedog het dat aspekte daarvan wel gememoriseer kan word.

    Goed, maar dan sou ek die situasie soos volg verduidelik. As jy ‘n dosent op universiteit is wat een of ander taalvak aanbied, maar die inhoud van jou vak sluit nie taalreels in nie. Dan is dit nie jou verantwoordelikheid om taalreels aan die studente te verduidelik nie. Nou miskien verg die inhoud van jou vak wel dat die studente oor die nodige taalvaardighede, insluitend taalreels, beskik sodat hulle die inhoud in jou vak kan toepas. Hoe nou gemaak? Gestel nou maar al hierdie taalreels moes reeds op skool gedoen gewees het. Wie se verantwoodelikheid is dit dan as die studente nog steeds daarmee sukkel? Dis inderdaad dan die student se verantwoordelikheid en nie die dosent se verantwoordelikheid nie. Baie dosente spandeer nogtans tyd daaraan om te studente te probeer help, maar dis bloot ‘n vergunning en nie hulle verantwoordelikheid nie.

  4. Sjoe, wel bogenoemde is ‘n teer sakie, en mens wonder soms wie die “skuld” gegee moet word wanneer leerders in Gr6 steeds nie kan lees nie… Soveel opvoeders word gekonfronteer met sulke scenarious binne die klaskamer en met die druk om al die inhoude in die silabus te bereik raak sekere leerders net eenvoudig agter en kom net nooit weer by nie en namate die jare verbygaan word daar net al meer van leerders verwag om op ‘n spesifieke “standaard” te wees wat net bloot nie die geval is nie.
    Persoonlik dink ek die sillabus moet aangepas word sodat daar meer gefokus word op vaardighede, want dit is wat leerders op die einde van die dag wanneer hul skool verlaat met hul saamneem. Wat het ek nouweer oor die amoeba in gr12 geleer???

  5. Hokaai.

    Laat ‘n amateurlinguis gou hier inkap.

    Ek eggo graag vir flippiefanus: taalreëls is soos tafels. Dit moét gememoriseer word. Rede #1 – ‘n Groot klomp taalreëls is op niks meer as konvensie gebaseer nie. Afrikaans het byvoorbeeld die dubbel-nie, nie omdat daar ‘n logiese rede daarvoor is nie, maar omdat die taal toevallig maar net so ontwikkel het. Dit kan nie verstaan word nie – net gememoriseer word.

    Rede#2 – Om baie taalreëls vir skoolkinders te verduidelik (en ek meen regtig verduidelik), sal vereis dat hulle werk ver bo hul vuurmaakplek moet aanleer. En as jy vir ‘n tiener morfonologie moet staan en verduidelik, kan jy hom netsowel calculus gaan staan en aanleer. Dis pointless.

    Leer die goed en kry klaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s