Parodie in drie dele: redigeer (3)

Standard

Kreatiwiteit kan, volgens my, geleer en -onderrig word.  So ook kreatiewe skryf.

In my parodie-opdrag word leerders (in hierdie geval opvoedkunde-studente) begelei deur ‘n omskeppingsproses van ‘n sprokie tot ‘n eie verhaaltjie:  Eers som hulle die oorspronklike teks op, en dan torring hulle aan die verskillende verhaalelemente (karakters, tyd, gebeure, ruimte, tema en vertelinstansie) om die hele affêre snaaks te maak.

Hierdie benadering berus sterk op die konstruktivistiese leerteorieë wat nie net aanvaar dat leerders “kreatief” is of outomaties snap wat met die konsepte “opsomming”, “parodie” of “verhaalelemente” bedoel word nie, maar konstant hulle eie verstaan skep, en begelei moet word om – deur self te doen en te sukkel – geleer te kry.

Lees gerus hoe ek die studente se eie opsommings ingespan het om hulle te laat dink oor hoe hulle eendag précis (die taalkundige term vir opsommings-skryf) kan onderrig.  Die idee is kortliks om hulle éérs opsommings te laat skryf, dan mekaar se pogings krities te laat lees en dán hulle konstrukte (hulle verstáán van “opsommings”) aan te pas/uit te brei om die taalreëls met mekaar te onderhandel …en dan uiteindelik dit te internaliseer (oftewel te “leer”).

Op die ou manier sou onderwysers eers die taalreëls vanuit die niet (of die handboek uit) afgerammel het en ‘n paar oefeninge uit die handboek laat uitskryf het.  (Gevolglik onthou niemand ooit enige précis-reëls nie!)

Interessant ook hoe die brein werk: volgens konstruktivistiese leerteorieë kan taal en skryf en lees (en die inhoude van ander leerareas) effektief met mekaar geïntegreer/versoen word tydens één les; in ‘n positivistiese klaskamer sou jy bloot besig gewees het met taal óf skryf óf lees (en definitief net met een leerarea se vakinhoud).

Op die ou manier stel onderwysers portefeuljes vir leerders saam om te bewys dat die nodige werk gedoen is en dat hulle korrek bepunt word vir elke opdrag; op die nuwe manier stel leerders portefeuljes saam om track te hou met wát hulle al geleer het en hoe om op hulle eie leer voort te bou.

Om jou eie werk te verbeter

In die opvolgles ná die parodieë as comments gepost is, het ek vir die BEd- en NOS-studente mekaar se parodieë uitgedeel – nie om te bepunt nie, maar om krities daarna te kyk: wat wérk en wat flop.  Nie of ‘n spesifieke parodie 80% of 72% werd is nie, maar hóé verskillende studente die opdrag geïnterpreteer het; wat in elke parodie gewerk het, en watter taal- of storie-elemente die storie se vloei belemmer.

Só het ons gepraat oor paragrawe, direkte rede, idiomatiese taalgebruik, stereotipes, dialekte, waaghalsiger leestekengebruik, woordskaarsheid en dies meer.

Die derde stap dus, in hierdie opdrag, is om dadelik dít wat jy geleer het uit jou klasmaats se skryfwerk, toe te pas op jou eie storie en daaraan te skaaf voordat jy dit finaal ingee.  Baie hedendaagse pedagoë heg hoë waarde aan leer-deur-te-reflekteer (ek ook!) – maar ons moet dit omskakel in aksie ook, sodat ons Bloom se taksonomie (kennis, begrip, toepassing, analise, sintese, evaluering) op sy kop kan keer en eindig in die middel – om dít wat jy deur jou besinnings wyser geraak het, ywerig toe te pas!

3 responses »

  1. Ek stem saam dat dit geleer kan word en kreatiewe skryfwerk ook…jy kort net ‘n goeie kreatiewe onnie!🙂

    Ek is mal oor hierdie grappie! Ek gaan hom op my blog gebruik, sal hom teruglink na jou, as jy nie omgee nie. Ek het net nou die dag die Internet deurgesoek vir hierdie soort grappies – van SA natuurlik…het ook gehoop om iets te kry van Ben/Bapsie…slegs in ou vorige vraestelle op die Dept se website!🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s