Roadtrip #4 – ‘n dorpie steeds (s)onder water: Laingsburg

Standaard

Teetyd, dag een, stop ons vir toebroodjies op Laingsburg, reg langs die vloedlynbordjie, naby die mooi siersteenkerk.  Ons gesels met ‘n ouerige vrou wat langtand na ons padkos staar.  “Die dorp issie meer wat dit wassie,” hoor ons.  Sy het self twee kinders in die vloed verloor.

‘n Ander man, ‘n plaaswerker, wil hê ek en my vriend moet die skaapplaas net buitekant die dorp opkoop; “die witmense is uit die dorp uit,” sê hy.

Ek het geweet van Laingsburg se vloed, soos ek al gehoor het van Tulbach se aardbewing.  Maar eers nou het ek begin verstáán watse ramp dit regtig was – en steeds is.  Laingsburg is verslae.  Hulle wonde rou.  Hulle moed laag.

Ek het op die volgende argiefberig van Die Burger afgekom, geskryf deur Wilmer Müller (nie familie nie):

Laingsburg-vloed ná 21 j. onthou
Mev. Racheltjie Nel (88), een van die oudste oorlewendes in die Laingsburg-vloed van 1981. Haar lewe is gespaar toe sy teen ‘n boom vasgespoel is en daarin geslaag het om in die boom te klim. Op vrae oor die vloed het sy gesê: “Dit was sleg”, en begin huil toe sy aan die gebeure dink. Sy het haar dogter in die vloed verloor.
WILMER MÜLLER
LAINGSBURG. Die stoel langs die rolstoel van die 88-jarige Ouma Racheltjie, soos sy onder haar mense bekend staan, is leeg en die hartseer oor die vernietigende vloed van Sondag 25 Januarie 1981 is vlak in haar oë. Sy het op dié dag ‘n dogter in die vloed verloor en byna haar eie lewe ook. ‘n Boom waarteen die vloedwater haar vasgesleur het, het haar lewe gered.

Sy prewel skaars hoorbaar terwyl die trane oor haar wange vloei: “Dit was sleg, baie sleg.”

Dié storie van Ouma Racheltjie, oftewel mev. Rachel Nel, een van Laingsburg se oudste inwoners, is ook die storie van baie Laingsburgers.

Altesame 104 mense het op dié dag in die Moordenaarskaroo gesterf, van wie 72 se lyke nooit gevind is nie.

Die ou inwoners sê die Buffelsrivier het dié dag net teruggeneem wat syne was.

‘n Groot deel van die oorspronklike dorp het in ‘n kom gelê. Boonop vloei die Buffels-, Baviaans- en Wilgenhoutrivier hier ineen. Verskeie redes kan vir die vloed aangevoer word, maar volgens die inwoners is die verklaring eenvoudig: Daar was op dié Swart Sondag net te veel water.

Daar is baie staaltjies oor heldedade tydens die vloedramp. Daar is onder meer die bekende verhaal van ds. Malan Jacobs, die plaaslike NG leraar, wat verskeie bejaardes van die Jan Vorster-ouetehuis help red het. Die ramp het uiteindelik ook sy lewe geëis en sy lyk is nooit gevind nie.

Die vloed het ook talle ander helde opgelewer. Een van hulle is mnr. Elliot George (44). Hy het die betrokke naweek saam met ‘n vriend en twee vriendinne by die Floriskraaldam deurgebring. Die Sondag het hulle besef daar is groot fout toe yskaste en meubelstukke in die dam uitgespoel het.

“Kort voor lank het gillende mense met die rivier afgekom,” vertel hy. “ ‘n Man, mnr. Lawrence Hart, het naby ons in die water gespartel en ons het hom met ‘n plank uitgehelp. Hy was geskok en het net gesê die hele dorp is weg.”

George en sy vriend het tien mense uit die vloedwater gered, onder wie Hart se suster mev. Brenda Pool. Hy is beskeie en sê enigiemand sou dieselfde gedoen het.

Pool het aanvanklik by die ouetehuis gehelp om die bejaardes na veiligheid te bring. Die watervlak het egter ongelooflik vinnig gestyg en kort voor lank het hulle die bejaardes deur die plafon op die dak gehelp.

Hulle was egter nie baie lank veilig op die dak nie, want die water het net meer geword en uiteindelik het die watermassa die bejaardes en hul helpers meegesleur.

Volgens Pool het ‘n drywende stomp wat sy beetgekry het, waarskynlik haar lewe gered. Sy is omstreeks 5 nm. onder die treinbrug deurgespoel en George het haar byna ‘n uur later en 22 km verder uit die water gered. Pool het gesê die water het soos koffie gelyk en dit het ‘n allemintige krag gehad.

“Ek was oorgelaat aan die Here se genade, maar dit was nie my tyd om te gaan nie.”

Volgens haar het die vloed Laingsburg sy karakter ontneem en baie van die pragtige ou huise en geboue het in die slag gebly.

“Laingsburg was voor daardie dag ‘n pragtige dorpie en was net so mooi soos die nabygeleë Prins Albert.”

Talle kinders is ook in die vloed wees gelaat. Mnr. Christo Serfontein, ‘n plaaslike sakeman, vertel hoe sy vennoot mnr. Johan Nortier en dié se vrou, Hester, albei in die vloed gesterf het en hul drie seuns wees gelaat is.

“Johan se lyk is nooit gevind nie en Hester se oorskot eers twee jaar ná die vloed.”

Mev. Anna Human was twee jaar oud toe haar ma, mev. Linda van der Westhuizen, in die vloed gesterf het. Haar ma het soos elke Sondag gewerk in die ouetehuis, waar sy ‘n skoonmaker was, en sy het ook die inwoners na veiligheid gehelp.

Die siedende watermassa het haar oorweldig en haar lyk is nooit gevind nie.

Die vloed het baie families uitmekaar geskeur of selfs uitgewis. Só het mnr. Frans Diko (55) nege familielede, onder wie sy vrou en twee kinders, in die vloed verloor. Nie een se lyk is ooit gevind nie. Hy en sy pa, mnr. Sollie Diko, wat onlangs gesterf het, was drie dae in ‘n boom vasgekeer voordat hulle gered is. Die water het ook so te sê al hul klere van hul lyf gestroop.

“Al wat my pa die heeltyd vir my gesê het, is dat ons moet bid,” vertel hy. Ondanks sy groot hartseer en verlies, het Diko op Laingsburg bly woon.

– – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – – –

 

Ná die gesels en toebroodjies, neem ons ‘n paar foto’s, klim in die kar en ry voort Colesberg toe.  Op die foto hierbo staan ek – arms gestrek – steeds ‘n halfmeter onder die vloedlyn.  ‘n Herinnering aan die ramp waarvan Laingsburg, 27 jaar later, nog moet herstel.

Advertisements

6 responses »

  1. Terug pieng: Roadtrip #7 - Drie susters « mnr.muller

  2. Terug pieng: Roadtrip #10 - karoobossiegeur en laventellig « mnr.muller

  3. Ek was toe net 8 jaar oud,maar onthou die vloed baie goed.Ek het nie die vloed beleef nie ,maar het baie respek vir al die dapper liewe mense wat daardie tragiese dag gesterf het.Ek het baie skoolvakansies op Laingsburg deurgebring.Die klein pragtige dorpie le naby aan my hart,,ek verlang baie!!

  4. Beste Mnr. Muller,

    Het u geweet dat Laingsburg al die slagoffers van die vloed vereer en elke dag van hulle ervaringe vertel by die “Vloed Museum” waar volledige dokumentasie en visuele inligting van die vloed beskikbaar is. Ons het ‘n
    verkorte DVD wat die gebeure weergee wat begin met die drama van verwoes-ting, ‘n verduideliking van hoekom dit gebeur het, die instansies wat gehelp het met die heropbou en hoe die dorp vandag lyk. Dit verkoop ons om ons inkomste aan te vul, vir R100.

    Vir verdere inligting kan u ons web besoek nl. http://www.laingsburgtourism.co.za waar al die relevante inligting bekikbaar is. Het u dalk familie hier gehad,
    indien wie of was u pa dalk ‘n Wilmer Muller wat hier skool gehou het ?
    Groete Francis van Wyk, Museum kurator, en vloedslagoffer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s