Om werk te merk

Standard

Onderwysers word oorlaai met merkwerk.  Een opstel x 35 leerders x 4 klasse per graad = baie rooi ink.  Veral taalonderwysers het ontsaglike hoeveelheidjies merkwerk (lees, luister, praat, skryf) vir elke kind se portefeulje.

So moes ek ook onlangs 22 parodieë bepunt.

Maar hoe nou gemaak as jy wil fokus op die leerders se groei en ontwikkeling?  …as jou lesplan uitloop op die redigering van tekste en jy leerders/studente wil kry om selfvertroue te ontwikkel in hul eie kreatiewe vermoëns…?  Maak jy dit nie als ongedaan met die merkery ter wille van ‘n punt nie?  …want of jy nou 18 of 47 uit 50 kry – albei punte ontmoedig verdere léér!  ‘n Punt veronderstel dat die proses afgehandel is: klaar, finis, afgemerk.  Punt.

Gmpf.  So… kom ons red wat daar te redde is deur die kriteria waarvolgens ek gemerk het, te bespreek.  My aanvanklike opdrag was:

Gebruik nou jou sprokie-opsomming (maak seker dat dit korrek en volledig is) en speel ‘n bietjie rond daarmee.  Verander eers ‘n karakter effens – kyk watse idees maak dit in jou kop los; speel met die tyd – moderniseer die verhaal (wat MXit die Wolf vir die drie varkies?), of laat dit in die ruimtetyd of oertyd afspeel; speel ‘n bietjie rond met van die gebeure – dalk kan die Wolf wél by die baksteenhuisie inkom en spek skiet; dalk kan jy jou parodie in Stellenbosch laat afspeel, of Koekenaap; inverteer ‘n bietjie die tema en kyk wat gebeur dan; ensovoorts. 

In my verduideliking van hoe ‘n mens ‘n parodie skryf, het ek ook ander verhaalelemente soos “ruimte” en “vertelinstansie” genoem.  Daarom het ek ‘n parodie-merkskema-matriks gegryp wat 10 punte elk aan die volgende kriteria toeken (altesaam uit 50):

  1. vertelstyl en tema (10)
  2. tyd en ruimte (10)
  3. karakter (10)
  4. gebeure (10)
  5. taal en styl (10)

1 is swak; 10 uitstekend.  ‘n Paar vrae om te oorweeg oor elk:

VERTELINSTANSIE  Is die gekose vertelinstansie (ek- /alwetende verteller) funksioneel?  Rig die verteller die persepsie van die leser?  Word die leser se verwagting geskep?  Is daar dubbele perspektiewe (meer as een fokalisator)?  Word daar met die vertelstyl/-genre gespot?  Word die verteltyd slim ingespan (om soms baie woorde te gebruik om iets te beskryf; soms min)?
  
TYD & RUIMTE  Is daar sinvolle plasing van tyd/ruimte?  Skep/ondersteun  tyd en ruimte die verhaalatmosfeer?  Ondersteun die tyd en ruimte die gebeure/karakterisering?  Dra die tyd en ruimte-beelding by tot ‘n sinvolle geheel van die verhaal?  Beeld die ruimtebeelding die kultuur uit waarmee gespot word?  Is die verband met die oer- of intertekste duidelik?  Is die omgewing waarin die verhaal afspeel geloofwaardig?
  
KARAKTER  Is karakterbeelding realisties as karikatuur?  Dra naamgewing by tot die humor (of word arbitrêre name gekies)?  Is daar ‘n logiese verhouding tussen karakteropenbarende handeling en gebeure?  Is die verskil tussen hoof- en newekarakters duidelik?  Is die newekarakters funksioneel al dan nie?
  
GEBEURE  Het die verhaal ‘n logiese verloop, m.a.w. is daar ‘n narratiewe struktuur/verhaallyn?  Is daar sprake van eksposisie, ontwikkeling, klimaks en afloop (spanningslyn)?  Is daar wisselwerking tussen handeling en gebeurtenisse (oorsaak en gevolg)?  Dra die gebeure by tot ‘n sinvolle geheel van die verhaal?  Is daar ‘n duidelike motoriese moment?
  
TAAL & STYL  Dra taal en styl by tot die verhaal se leesbaarheid?  Is die taalgebruik nuut, opwindend, beeldryk en/of humoristies?  Is daar idiomatiese taalgebruik?  Is daar ironie?  Is daar verskillende vorme van humor?

* * *

Hoe hou jy van dié kriteria?  Wat het ek uitgelos?   Wat sou jy anders bepunt?

En hoe kry ons leerders aangemoedig om te wil verbeter – nie om te kom kerm vir ekstra punte nie, maar om aktief te wérk aan hulle kreatiwiteit?

Ongelukkig kan ‘n onderwyser nie redigering, verbetering en hermerk ad infinitum toelaat nie – die admininstratiewe las van so ‘n stelsel raak net té veeleisend.  Nietemin.

* * *

Nota aan my studente: Vaarwel! …as jy jou parodie wil redigeer en verbeter – doen dit!  Kom drink rooibostee en laat ons daaroor gesels.  Onthou, léér is ‘n lewenslange proses; om briljant te skryf, kan aangeleer word; om kreatief te wees sit in elkeen se broek/rok.  …sterkte met die konstruktivisme-vrae in die eksamen!  En begin self ‘n blog – netwerke vir en van onderwysers is belangrik.

8 responses »

  1. Ek het ‘n paar kwelvrae:
    * Wat maak ‘n mens met jou eie subjektiwiteit wanneer jy humoristiese tekste bepunt?
    * Is ‘n sin vir humor nie iets wat persoonlik is nie?
    * Kan ‘n mens leer om “snaaks” te wees?
    * Wat doen jy as ‘n leerder se humor aanstootlik is (vir ander lesers)?
    * Hoe lank kan ‘n mens oor humor praat sonder dat die “snaaks” opraak?

  2. Jy kan “gebeure” vervang met “narratologie”😉

    Nee wat, ek dink nie daar skort enigiets met jou kriteria nie. En ek dink jy maak dalk die fout om te dink ‘n punt beteken “klaar, finis, afgemerk. Punt.”

    Dit beteken net dit as die leerder nog nie reeds GELEER IS dat hy sy eie brein moet gebruik nie – dat hy na die nasiener se kommentaar sowel as redigering gaan kyk en vir hom- of haarself gaan staan en uitfigure hoe dit beter kan wees.

    Dis eintlik nie so ‘n ingewikkelde saak nie. ‘n Slegte opstel kry ‘n slegte punt. ‘n Student / leerder skryf nog ‘n opstel en kry dan die geleentheid om die punt te verbeter, ie. te “leer”.

    (Ek het onlangs 70+ opstelle oor ‘n enkele gedig gemerk. I share your pain.)

  3. @Johan: die ideaal is dat leerders/studente ‘n punt as ‘n kommapunt in die leerproses beskou, maar ek vermoed dis tans selde die geval… Juis daarom, dink ek, moet ons 3. redigering altyd as ‘n laaste stap inbou in enige opdrag.

    @Estelleke: Goeie vrae! Dis juis omdat daar so baie verskillende opvattings rondom snaakswees is, dat merk-kriteria onderhandel moet word én leerders mekaar se tekste moet kan bespreek en kritiseer (en dalk selfs bepunt?).

    Ek kyk graag wat sê die ander mense oor jou vrae: dis veral tricky as leerders/studente iets “snaaks” skryf wat regtig aanstootlik is!

  4. As ek nou uit my eie oogpunt ‘n opinie kan lug (ek is nie ‘n onderwyser nie en probeer geensins maak of ek weet waarvan ek praat nie ! :)) Dis net…ek het met al die rooi ink, soms die indruk gekry dat die werk van ‘n swak gehalte is. So die sensitiewe siele en ook die outjies wat voorkom asof hulle nie werklik ‘n duit omgee nie, dink dalk dit was goeie werk en die nasiener nie. Ja julle het kriteria ens. maar my motivering was nie om ‘n beter opstel in te dien nie. Die rooi ink oral het my diep beduiweld gemaak! Miskien is dit ‘n idee om in plaas van die hele ding na te sien en ‘n klomp rooi merke te maak met taal en spelfoute, eerder die opstel met die leerder bespreek en voorstelle maak oor waar verbeteringe gemaak kan word. Ek besef daar is waarskynlik nie genoeg tyd in die klas opset daarvoor nie, maar ek sal veel meer geleer het as iemand ‘n hupstoot kon gee en nie ‘n rooi gekrapte opstel teruggegee het nie! Die leerder kan dan die opstel indien met verbeteringe. Dan het hy ten minste ‘n beter idee van wat die nasiener wil hê.

  5. “narratologie” – dit klink te erg na ‘n anglisisme..🙂

    oor rooi penne: hier in die “vyand” se skole word 99% van die tyd groen/blou penne gebruik, selde kry jy dat rooi gebruik word juis oor die rede wat hier genoem word. Meeste skole gebruik groen. In die Laerskole waar kinders nog met potlood skryf (eers wanneer hulle lopende skrif bemeester het mag hulle in die laerskool met pen skryf), word daar soms blou pen gebruik.

    • ek wil graag weet in watter land groen en blou penne gebruik word om boeke ens van skoliere te merk. Ons doen ‘n mondelik oor die rooi pen wat selfs magtiger is as die swaard en wil graag die land aanhaal as ‘n bewys

      • Ek is hier in die UK – ons – en heelwat ander skole – merk met pienk en skryf positiewe kommentaar met pienk. Enige kommentaar wat die leerder gaan help om te ‘verbeter’ vir volgende keer – word in groen geskryf. ‘Green for growth.’ soos ons by ons skool se [kappie op ‘e’] Ek hou nogal meer van die pienk pen-merkery ook. Dis minder ‘harsh’ op die oog om na te kyk. Rooi is een van my gunsteling kleure, maar vir ‘n ‘display’ of enige iets waarna jy moet kyk as dit kom by leer [soos in lees vir agtergrond ens. -PPT slides ook], hou ek nie van nie, dit maak my oe [deelteken] ‘seer’.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s