Monthly Archives: Maart 2009

Life Skills #13 – Het die mens ’n siel?

Standaard

Het die mens ‘n siel?

Samelewings oor die eeue heen het al in verwondering gepeins (nagedink) oor die verganklikheid (sterflikheid) van die mens.

Stof tot stof…

Van die vrae is: Wat bly oor van ‘n persoon wat in vlees en bloed – liggaamlik – sterf?  Wat bly “lewendig” nadat jy jou laaste asem uitblaas?  Het jy ‘n siel?

As tot as…

Wetenskaplik kan ons nie bewys dat ‘n “siel” bestaan nie.  Ons kan wel sê dat jou persoonlikheid gedeeltelik ingebed is in jou DNA en dat jou denke uit neuronverbindings bestaan.

Ook kan geestelike leiers dikwels nie presies opnoem wat hulle, buiten vir denke en/of persoonlikheid, met die konsep “siel” bedoel nie, en hoe dit van “liggaam” en “gees” geskei is, of tot watter mate die drie met mekaar geïntegreer is al dan nie.

Tog is dit gerieflik om van ‘n “liggaam”, “siel” en “gees” te praat; ons sien dit op Oprah en lees daarvan in populêre tydskrifte.  Duidelik het die mens ‘n spirituele/geestelike behoefte.  En is dit taalgewys handig om ‘n (unieke) “siel” binne die vae parameters van ‘n geestelike dimensie te definieer.

Die behoefte om te glo

Die mens het so ‘n geweldige vermoë om lief te hê, dat ons dit moeilik kan aanvaar dat die volle rykheid van ‘n individu se lewe net eensklaps kan verdwyn.  Ophou bestaan.  Ophou wees.

Daarenteen bied dit ons ‘n vertroosting dat ‘n siel kan voortbestaan, hetsy om gereïnkarneer te word, of om op te vaar hemel/af te daal hel toe, of om deel van die kosmiese niet te word.

Ook, omdat die mens se brein die vermoë het tot verbeelding, voel jou denke dikwels so ver verwyderd van jou liggaamlike, dat jy maklik genoeg kan indink dat daar ‘n geestelike dimensie is wat nog wyer as jou gedagtes strek.

Om te glo is beter as om nie te glo nie

Alhoewel ons nie kan bewys dat daar enige goddelike wesens is nie, het daar baie religieë oor die eeue ontstaan wat juis dít as uitgangspunt neem.

Oral om ons, sal hulle aanvoer, kan ‘n mens die skeppingsprag van ‘n godheid sien.  Dit wil voorkom asof lewe hier op aarde op ‘n intelligente manier ontwerp is, en nie net toevallig gebeur – of ontwikkel het nie.

Ons kan ook na vele spesies hier op aarde kyk, en indink dat daar ‘n wese groter as ons is.  Kyk jy byvoorbeeld na ‘n rondskarrelende mier, kan jy maklik veronderstel dat ons, as mense, maar soos miere vanuit ‘n goddelike wese se perspektief is: salig-rondskarrelend onbewus van die grotere heelal rondom ons.

In geloof is jy gebore…

Voordat ons kan dink of praat, word ons alreeds in ‘n gesin, en dikwels in ‘n geloofspesifieke kultuur gebore.  Soos ons leer kruip en praat, word ons alreeds gedoop of besny, moskee toe gesleep of van hare krishna vertel.

Ons het weinig invloed in ons ouers se keuse oor hoe ons opgevoed word en na watter skole of kerke/moskees/tempels ons gestuur word.  Ons word met Bybelverhale en Liewe Jesus groot, of woon Bar Mitzvahs by of neem deel aan Ramadan.  Of word volledig sekulêr (nie-godsdienstig) groot.

Demokrasie en facebook-opsies

Daar is ‘n magdom verskillende religieë en gelowe in die wêreld.  In die nuwe (matriek)vak, Lewensoriëntering, gaan jy te make kry met die grootste gelowe: Hinduïsme, Boeddhisme, Jodedom, Christendom en Islam, maar daar is nog ‘n verskeidenheid ander religieë (en denominasies) en gelowe/filosofieë wat jou ‘n leeftyd lank kan besig hou.

Kyk maar net na al die opsies wat jy onder jou facebook profile kan lys, vanaf sekulêre humanis tot vriendelike ateïs.

Binne ‘n demokratiese opset hanteer die Grondwet alle gelowe gelyk.

Om te glo, is oneerlik

Wanneer jy tiener word en besig is om volwasse te raak, begin jy om oor baie sekerhede van jou kinderjare te twyfel.  Jy begin besef dat jou ouers ook feilbaar is, dat die Bybel, Qu’ran en heilige geskrifte deur mense geskryf is, en dat daar debatteerbare issues is in die geloof wat jy aanhang.

Skielik is baie van die sekerhede skoonveld.  En om nou nog boonop met soveel ander moontlike religieë oorweldig te word, kan jou laat voel dat dit bitterlik oneerlik is om jou kindertyd-god blindelings te aanbid.

Inderwaarheid is ‘n geloofskrisis ‘n teken van volwassewording.

Wedywering om jou siel

In dié fase van jou menswees, sal jy dan ook oplet dat verskillende kerke en godsdienste om jou “siel” begin wedywer: elkeen stop hulle pamflet in jou hand en belowe antwoorde op al jou vrae.

Veral fundamentalistiese kerke beloof dikwels om ál die regte/verkeerde dinge namens jou te onderskei, met ‘n dogma wat Sonde en Waarheid uitspel en van mekaar onderskei.

Wees veral bedag op omgewings wat verdoemenisse uitloof; die geskiedenis is vol sektes wat mense opsweep deur op die sondes van die samelewing te hamer.  ‘n Goeie dosis common sense is nodig om ‘n opswepery deur dweeppredikers te kan uitken vir wat dit is.

Om die dood toe

Wees gerus.  Jy het ‘n leeftyd om salige rus vir jou “siel” te vind.  Maak jouself intussen oop om met belangstelling en deernis na ander mense se geloofsoortuigings te luister – jy sal dit gerusstellend vind hoe baie ooreenkomste daar tussen verskillende gelowe en godsdienste is.

Die eerste vraag bly staan: Het die mens ‘n siel?  En dis ‘n moeilike vraag om met sekerheid te antwoord.

‘n Geldige antwoord – miskien die mees logiese antwoord op dié vraag – is “Nee, die mens het nie ‘n siel nie”.  Maar dan is dit nog steeds belangrik om ander mense se “ja”-antwoorde en -sieninge te probeer verstaan.

Dieselfde geld natuurlik ook as jy “Ja, die mens het ‘n siel” antwoord; dit gee jou nie die reg om diegene wat nie in ‘n siel glo, se menings te verontagsaam nie.

Trouens, as jy glo jy het nét één lewe in die híér en nóú, dan het jy waarskynlik ‘n meer intense waardering vir die lewe as iemand wat in ‘n nadoodse nirvana glo.

O ja, “Dalk” is ook ‘n antwoord.

Konnektivisme: ’n nuwe leerteorie

Standaard

Ek is besig om op te lees oor konnektivisme – ‘n leerteorie wat kortweg sê dat die skep van kennis as nodusse en netwerke voorgestel kan word.

Dit is dus ‘n verfyning van konstruktivisme, wat sê dat leerders self kenniskonstrukte skep.  Die nuwe -isme beskryf in verdere detail hoe die konstrukte (op neuronvlak) lyk – en beperk “leer” nie net tot lewende organismes nie.  Ook verreken hulle die uitwerking wat tegnologie op (informele) leerprosesse het.

(Die konstruktivistiese leerteorieë het op hulle beurt weer behaviorisme uitgebrei, wat leer d.m.v. kondisionering aangeprys het.)

Vanuit ‘n artikel deur George Siemens http://www.itdl.org/Journal/Jan_05/article01.htm is die volgende leertendense en -beskouïnge vandag relevant:

  • Many learners will move into a variety of different, possibly unrelated fields over the course of their lifetime.
  • Informal learning is a significant aspect of our learning experience. Formal education no longer comprises the majority of our learning. Learning now occurs in a variety of ways – through communities of practice, personal networks, and through completion of work-related tasks.
  • Learning is a continual process, lasting for a lifetime. Learning and work related activities are no longer separate. In many situations, they are the same.
  • Technology is altering (rewiring) our brains. The tools we use define and shape our thinking.
  • The organization and the individual are both learning organisms. Increased attention to knowledge management highlights the need for a theory that attempts to explain the link between individual and organizational learning.
  • Many of the processes previously handled by learning theories (especially in cognitive information processing) can now be off-loaded to, or supported by, technology.
  • Know-how and know-what is being supplemented with know-where (the understanding of where to find knowledge needed).

Die uitgangspunte van konnektivisme is:

  • Learning and knowledge rests in diversity of opinions.
  • Learning is a process of connecting specialized nodes or information sources.
  • Learning may reside in non-human appliances.
  • Capacity to know more is more critical than what is currently known
  • Nurturing and maintaining connections is needed to facilitate continual learning.
  • Ability to see connections between fields, ideas, and concepts is a core skill.
  • Currency (accurate, up-to-date knowledge) is the intent of all connectivist learning activities.
  • Decision-making is itself a learning process. Choosing what to learn and the meaning of incoming information is seen through the lens of a shifting reality. While there is a right answer now, it may be wrong tomorrow due to alterations in the information climate affecting the decision.

Ek hoor graag wat julle hieroor dink.  Veral my ingenieursvriende en ouens wat spesifiek met netwerke (en wiskundige modulasies daarvan) werk.  Intussen lees en wonder ek verder.

Miskien is ‘n beter vertaling: verbintenisme?

Tafeltennis as mantra

Standaard

Vir sommiges is ‘n stoomwarm bad met die flou lig van flakkerende kersies die salige rus wat hulle soek.  ‘n Ruimte waarin gedagtes kan verdamp en jou lyf ontspan.

Ander mense verkies die salige stilte tussen asemhalings, waar jy net fokus op jou ritmiese inaseming en uitaseming en inasem en uit en in.

In sekere gelowe rig jy jou gedagtes op ‘n godheid, of prewel jy jou langsamerhand in ‘n trans.

Dalk gaan sit jy onder ‘n boom en luister na die getjirp van voëltjies.

Dalk rol jy jouself in ‘n lotusposisie op ‘n oefenmat.

Dalk hou jy stiltetyd en lees ‘n heilige boek.

* * *

Ek speel tafeltennis.

Met ‘n dartelende arm ravot ek op die ritme van ‘n hoppende balletjie lug.  En my gemoed lig.

* * *

In watter sanskrit lees jy jou mantra?  Of anders gestel, wat bring vir jou rus?

Kom ons pleeg plagiaat!

Standaard

In ‘n vorige post het ek uitgewys hoe sinlose skooltake grens aan kindermishandeling.

In ‘n poging om kop bo water te hou, val ouers egter vir die slegste idee denkbaar – hulle help hulle kinders om plagiaat te pleeg:

Welkom by Afrikaanse Skoolprojekte, die unieke CD-Rom met Afrikaanse take.  Hierdie uiters gewilde CD is gemik op besige kinders (en pa’s en ma’s) wat altyd inligting vir skoolprojekte en huiswerk moet bekom.  Die CD is maklik om te gebruik en die inligting baie leersaam.  Geen internet koppeling word benodig nie.  Al die projekte is in Afrikaans – dus is geen vertaling nodig nie.

Die projekte is in “MS Word” gedoen.  Al die projekte het indelings met paragraaf opskrifte – dus maklik om vinnig die inligting van ‘n spesifieke onderwerp te soek.  Elke taak is propvol foto’s en baie kleurvol – net wat kinders nuuskierig maak om meer te leer.  Die foto’s en opskrifte kan maklik vergroot word as ‘n plakkaat vir ‘n skoolprojek ingegee moet word (of verklein word vir die skrif).

Afrikaanse Skoolprojekte op CD help jou dus om meer kwaliteit tyd saam met jou kind deur te bring en minder op die Internet na Afrikaanse inligting te soek.  Nou met ‘n versameling van 600+ take en meer as 2500 foto’s/sketse.

Wat kan nou makliker wees?  Al wat jy as ouer hoef te doen, is koop die CD, soek die onderwerp, en druk print.  Ouers is gaande daaroor:

Dit is chaos hier in ons Staatskole en ons is nou genoodsaak om albei ons kinders volgende jaar na ‘n Privaat skool te stuur. Dit is ‘n Afrikaanse skool wat dieselfde sillabus volg as die Wes-Kaap. En ek weet hulle doen ongelooflik baie projekte, so ek is so dankbaar toe ek gisteraand jul advertensie sien, want ek het al beginne nip oor hoe ek 2 kinders se take “alleen” gaan doen!!! My seuntjie gaan volgende jaar Gr 1 toe en Ma sien swarigheid met die huiswerk!

Basta met leergeleenthede!  Nooit weer hoef ‘n kind self ‘n taak uit te werk nie.

Hulle dek die ganse spektrum: http://www.afrikaanseskoolprojekte.co.za/subjects.htm

* * *

Net om enige verwarring te voorkom, wil ek dit ondubbelsinnig stel dat só ‘n CD ‘n slegte idee is.

Print eerder ‘n handleiding van hoe om ‘n taak te maak, neem jou kind biblioteek toe, en leer hom/haar om van kleins af selfstandig te dink.

Life skills #12 – om kwl te wees

Standaard

Om cool te lyk, raak skielik belangrik as jy ‘n tiener of jongmens is.

Waar jy as laerskoolkind enige hemp oor jou kop sou trek, kyk jy as jongmens éérs na die label voor jy ‘n kat in die sak koop.

Dit is veral opvallend hier op my studentedorp – die bruisende jongklomp pronk opmerklik in hulle kort rompies in die middel van die winter, en die bronstige opslaankraag-manne woed met knap moue agterna.

Grade 1 tot 6 was makliker

Voordat jou hormone ingeskop het, was die lewe waarskynlik makliker.  Jy’t stuff gedoen bloot omdat jy daarvan gehou het.  Jy het met vriende gespeel, omdat speel lekker is.  Jy’t jou huiswerk netjies gedoen, omdat dit lekker was om ‘n goue sterretjie te kry.  Netheid, stiptelikheid en dissipline is ingedril as waardes; pret en vriendskap het vanself ontwikkel.  Jou ouers, onderwysers en maatjies was almal cool.

Dan kom die wedywering en opweeg van waardes

Maar van graad 7 af begin die druk opbou.  Jy begin warm voel as daar ‘n mooi mens verby jou skuur.  Die media adverteer wie en wat en hoe mooiwees is.  Die rat race begin.  En pryse word uitgedeel vir sportsterre en slimkoppe en beauty queens.

Hoe ouer jy word, hoe moeiliker raak dit om waardes te manage, want skielik is daar nie meer genoeg tyd om al jou huiswerk netjies én betyds te doen nie.  Stiptelikheid en netheid wat destyds so maklik, afsonderlik, nagestreef kon word, speel nou teenoor mekaar af.  Jy moet begin kies.

En dié balancing act is ‘n moeilike game om te speel.  Is dit belangriker om handsome te lyk, of om fun te hê; om laid back te wees of hardwerkend?

Cool-wees hang van jou kliek se definisie af

Skop jy ‘n rugbybal sonder effort oor die pale, dan kuier jy met jou pelle, en vloek die nerds uit.  Want as die teenoorgestelde ouens uncool is, dan maak dit jou mos – per definisie – cool.

As jy slimmerig in die klas is, maar nie te hot op die sportveld nie, dan groepeer jy jouself saam met die skaakspelers – en koggel die jocks uit.

As jou bolyf geriffeld is en jy hou van surf, dan hang jy saam met die chicks op die strand uit en lag vir die losers wat te bang is om skool te bunk.

Maar wie is eintlik cool?

Eers later, as jy uitgeswel is van lyf en grinnik vir die wannabe’s, besef jy dat hulle almal ewe fake is.  ‘n Emo t-shirt maak jou nie cool nie, ook nie die Niké t-shirt nie, ook nie ‘n Diesel-ene nie.

Verskil tussen cool lyk, en cool wees

Om cool te lyk, is ‘n oppervlakkige game.  Om cool te wees, is ‘n leefstyl.

Wie dink jy is die cool ou – die een wat sy sakgeld spaar vir sy studies, of die een wat elke sent uitgee op ‘n duur sonbril, nuwe jeans…?

Een van die ontwikkelingstake van ‘n adolessent is om gemaklik te raak met jou jouselfwees. Om nie meer cool hoef te lyk vir ander nie, maar goed te kan voel oor jouself.

Soms moet ‘n mens juis vir ‘n ruk lank verstrengel raak in die probeer-inpas-by-wat-ander-dink-cool-is idee, sodat jy kan besef wie en wat werklik vir jou belangrik is.

Dan val die sonbrille een-vir-een af, en kan jy uiteindelik begin om jou medemens direk in die oë te kyk, sonder ‘n ego in die pad.