Kom ons pleeg plagiaat!

Standaard

In ‘n vorige post het ek uitgewys hoe sinlose skooltake grens aan kindermishandeling.

In ‘n poging om kop bo water te hou, val ouers egter vir die slegste idee denkbaar – hulle help hulle kinders om plagiaat te pleeg:

Welkom by Afrikaanse Skoolprojekte, die unieke CD-Rom met Afrikaanse take.  Hierdie uiters gewilde CD is gemik op besige kinders (en pa’s en ma’s) wat altyd inligting vir skoolprojekte en huiswerk moet bekom.  Die CD is maklik om te gebruik en die inligting baie leersaam.  Geen internet koppeling word benodig nie.  Al die projekte is in Afrikaans – dus is geen vertaling nodig nie.

Die projekte is in “MS Word” gedoen.  Al die projekte het indelings met paragraaf opskrifte – dus maklik om vinnig die inligting van ‘n spesifieke onderwerp te soek.  Elke taak is propvol foto’s en baie kleurvol – net wat kinders nuuskierig maak om meer te leer.  Die foto’s en opskrifte kan maklik vergroot word as ‘n plakkaat vir ‘n skoolprojek ingegee moet word (of verklein word vir die skrif).

Afrikaanse Skoolprojekte op CD help jou dus om meer kwaliteit tyd saam met jou kind deur te bring en minder op die Internet na Afrikaanse inligting te soek.  Nou met ‘n versameling van 600+ take en meer as 2500 foto’s/sketse.

Wat kan nou makliker wees?  Al wat jy as ouer hoef te doen, is koop die CD, soek die onderwerp, en druk print.  Ouers is gaande daaroor:

Dit is chaos hier in ons Staatskole en ons is nou genoodsaak om albei ons kinders volgende jaar na ‘n Privaat skool te stuur. Dit is ‘n Afrikaanse skool wat dieselfde sillabus volg as die Wes-Kaap. En ek weet hulle doen ongelooflik baie projekte, so ek is so dankbaar toe ek gisteraand jul advertensie sien, want ek het al beginne nip oor hoe ek 2 kinders se take “alleen” gaan doen!!! My seuntjie gaan volgende jaar Gr 1 toe en Ma sien swarigheid met die huiswerk!

Basta met leergeleenthede!  Nooit weer hoef ‘n kind self ‘n taak uit te werk nie.

Hulle dek die ganse spektrum: http://www.afrikaanseskoolprojekte.co.za/subjects.htm

* * *

Net om enige verwarring te voorkom, wil ek dit ondubbelsinnig stel dat só ‘n CD ‘n slegte idee is.

Print eerder ‘n handleiding van hoe om ‘n taak te maak, neem jou kind biblioteek toe, en leer hom/haar om van kleins af selfstandig te dink.

Advertisements

11 responses »

  1. Hmmm.

    Sal ek maar die eerste een wees om my nek uit te steek? 😉

    Skooltake suck. Dis die ouers wat met die werk sit, en enige hulp is welkom. Wanneer gaan onderwysers/onderwysdepartement die lig sien en besef dat al daardie pragstukke ouers se handewerk is?

  2. Nee nie almal nie! Baie, maar nie almal nie! My arme ma en pa moes laat in hulle loopbaan as ouers besef dat hulle van die min ouers op die ou dorpie was wat gedink het kinders moet al hulle werk self doen… ek wil liewers nie begin raai wat die langtermyn effek is van jou kind se take doen nie…

  3. @boendoe: Laat ons eerlik wees – hoe dinge nou gebeur, werk nie.

    Die rede hiervoor is dat onderwysers nog steeds op hulle pre-UGO wyses klasgee. UGO-take word bo-en-behalwe “normale” skoolwerk uitgedeel om te voltooi ter wille van leerders se portefeuljes.

    As ‘n sinlose taak-opdrag uitgedeel word, dan leer ‘n kind niks. As ouers die naslaanwerk namens hulle kinders doen, leer ‘n kind niks. Oftewel, jou kind leer hoe om verantwoordelikhede te ontduik, plagiaat te pleeg en skaamteloos te bedrieg.

    Ek kry ouers jammer, want op die ou end, as die kinders te veel werk het, kom alles wel op hulle neer. MAAR onderwysers is veronderstel om leerders sistematies deur ‘n navorsingsproses te lei.

    Sien my vorige posts hieroor wat ek aan dié inskrywing gelink het.

  4. @cobus: as ouers aanvanklik die eerste klompie take SAAM met hulle kinders doen, maar nie VIR hulle doen nie, dan is dit die beste.

    Jy moet eerstens weet wanneer watse take ingegee moet word. En tweedens jou kind help om groot take in kleiner, maklik-doenbare opdraggies te verdeel. Derdens moet jy jou kind help hoe om (betroubare) bronne te vind en vierdens hoe om deur groot hoeveelhede inligting te sif en in jou eie woorde op te som.

    Aanvanklik sal jou bystand dus heelwat tyd in beslag neem (méér as om vinnig-vinnig die taak namens jou kind te doen), maar teen die derde/vierde taak behoort jou kind alreeds die roetine te ken, en meer en meer selfstandig te kan werk en beplan.

    In ‘n ander post het ek ‘n handleiding vrygestel wat ouers en leerders kan help met bogenoemde proses. Eintlik is ons besig om kinders te leer hoe om wetenskaplik te dink en verantwoordelik na te slaan en skeppend na te vors.

  5. Wow!
    Ek kan nie glo dat daar so CD beskikbaar is nie!
    As ek net dink aan die take wat ek op skool moes doen en met hoeveel geduld my pa my altyd gehelp het. Hy het beslis nie my take gedoen nie, maar moes dreig en raas en my heen en weer na die dorp se bib sleep.
    Sy gunsteling sê-ding was “Hoeveel het ONS gekry?” gevolg deur “Waar het JY al die punte weg gegooi?”
    En dit als voor die dae van die internet, met groot swaar “Kennis” boeke, World Books wat ek skaars kon optel en “Fanie en Melanie Ontdek” uit die Huisgenoot.

  6. Haha!
    Dieselfde era… Jy laat dit klink asof ons dateer uit die dae van die Charlston! En eintlik is dit glad nie so lank gelede wat ons deur daardie groot wynrooi Kennis-boeke geblaai het nie.

  7. Wel, as ek dit reg het, is ons albei generasie X’ers. Maar ná 2000 het ons alreeds ‘n Y generasie en Z gehad én sit ons tans met die millenniërs op hande – ‘n era is lankal nie meer ‘n halfeeu lank nie! 😛

  8. Hulle het ook eksamen vraestelle met memo’s op CD. Baie eenvoudig om te gebruik, myne is Gr.4-7. Elderie is een van die girls daar wat flik en vinnig my CD gestuur het.

  9. @boervrou: natuurlik kan sulke CD-hulpbronne van waarde wees; dit wil net vir my voorkom asof hulle dit adverteer as ‘n maklike cut&paste job wat take met kroekery klaarkry.

    Dit kan nuttig wees om deur ‘n voorbeeld-vraestel en memorandum te werk, ek gee toe. Trouens, ek sou graag wou sien dat onderwysers hulle vorige vraestelle vrystel, juis sodat leerders insig kan kry t.o.v. wat van hulle verwag word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s