Life Skills #13 – Het die mens ’n siel?

Standaard

Het die mens ‘n siel?

Samelewings oor die eeue heen het al in verwondering gepeins (nagedink) oor die verganklikheid (sterflikheid) van die mens.

Stof tot stof…

Van die vrae is: Wat bly oor van ‘n persoon wat in vlees en bloed – liggaamlik – sterf?  Wat bly “lewendig” nadat jy jou laaste asem uitblaas?  Het jy ‘n siel?

As tot as…

Wetenskaplik kan ons nie bewys dat ‘n “siel” bestaan nie.  Ons kan wel sê dat jou persoonlikheid gedeeltelik ingebed is in jou DNA en dat jou denke uit neuronverbindings bestaan.

Ook kan geestelike leiers dikwels nie presies opnoem wat hulle, buiten vir denke en/of persoonlikheid, met die konsep “siel” bedoel nie, en hoe dit van “liggaam” en “gees” geskei is, of tot watter mate die drie met mekaar geïntegreer is al dan nie.

Tog is dit gerieflik om van ‘n “liggaam”, “siel” en “gees” te praat; ons sien dit op Oprah en lees daarvan in populêre tydskrifte.  Duidelik het die mens ‘n spirituele/geestelike behoefte.  En is dit taalgewys handig om ‘n (unieke) “siel” binne die vae parameters van ‘n geestelike dimensie te definieer.

Die behoefte om te glo

Die mens het so ‘n geweldige vermoë om lief te hê, dat ons dit moeilik kan aanvaar dat die volle rykheid van ‘n individu se lewe net eensklaps kan verdwyn.  Ophou bestaan.  Ophou wees.

Daarenteen bied dit ons ‘n vertroosting dat ‘n siel kan voortbestaan, hetsy om gereïnkarneer te word, of om op te vaar hemel/af te daal hel toe, of om deel van die kosmiese niet te word.

Ook, omdat die mens se brein die vermoë het tot verbeelding, voel jou denke dikwels so ver verwyderd van jou liggaamlike, dat jy maklik genoeg kan indink dat daar ‘n geestelike dimensie is wat nog wyer as jou gedagtes strek.

Om te glo is beter as om nie te glo nie

Alhoewel ons nie kan bewys dat daar enige goddelike wesens is nie, het daar baie religieë oor die eeue ontstaan wat juis dít as uitgangspunt neem.

Oral om ons, sal hulle aanvoer, kan ‘n mens die skeppingsprag van ‘n godheid sien.  Dit wil voorkom asof lewe hier op aarde op ‘n intelligente manier ontwerp is, en nie net toevallig gebeur – of ontwikkel het nie.

Ons kan ook na vele spesies hier op aarde kyk, en indink dat daar ‘n wese groter as ons is.  Kyk jy byvoorbeeld na ‘n rondskarrelende mier, kan jy maklik veronderstel dat ons, as mense, maar soos miere vanuit ‘n goddelike wese se perspektief is: salig-rondskarrelend onbewus van die grotere heelal rondom ons.

In geloof is jy gebore…

Voordat ons kan dink of praat, word ons alreeds in ‘n gesin, en dikwels in ‘n geloofspesifieke kultuur gebore.  Soos ons leer kruip en praat, word ons alreeds gedoop of besny, moskee toe gesleep of van hare krishna vertel.

Ons het weinig invloed in ons ouers se keuse oor hoe ons opgevoed word en na watter skole of kerke/moskees/tempels ons gestuur word.  Ons word met Bybelverhale en Liewe Jesus groot, of woon Bar Mitzvahs by of neem deel aan Ramadan.  Of word volledig sekulêr (nie-godsdienstig) groot.

Demokrasie en facebook-opsies

Daar is ‘n magdom verskillende religieë en gelowe in die wêreld.  In die nuwe (matriek)vak, Lewensoriëntering, gaan jy te make kry met die grootste gelowe: Hinduïsme, Boeddhisme, Jodedom, Christendom en Islam, maar daar is nog ‘n verskeidenheid ander religieë (en denominasies) en gelowe/filosofieë wat jou ‘n leeftyd lank kan besig hou.

Kyk maar net na al die opsies wat jy onder jou facebook profile kan lys, vanaf sekulêre humanis tot vriendelike ateïs.

Binne ‘n demokratiese opset hanteer die Grondwet alle gelowe gelyk.

Om te glo, is oneerlik

Wanneer jy tiener word en besig is om volwasse te raak, begin jy om oor baie sekerhede van jou kinderjare te twyfel.  Jy begin besef dat jou ouers ook feilbaar is, dat die Bybel, Qu’ran en heilige geskrifte deur mense geskryf is, en dat daar debatteerbare issues is in die geloof wat jy aanhang.

Skielik is baie van die sekerhede skoonveld.  En om nou nog boonop met soveel ander moontlike religieë oorweldig te word, kan jou laat voel dat dit bitterlik oneerlik is om jou kindertyd-god blindelings te aanbid.

Inderwaarheid is ‘n geloofskrisis ‘n teken van volwassewording.

Wedywering om jou siel

In dié fase van jou menswees, sal jy dan ook oplet dat verskillende kerke en godsdienste om jou “siel” begin wedywer: elkeen stop hulle pamflet in jou hand en belowe antwoorde op al jou vrae.

Veral fundamentalistiese kerke beloof dikwels om ál die regte/verkeerde dinge namens jou te onderskei, met ‘n dogma wat Sonde en Waarheid uitspel en van mekaar onderskei.

Wees veral bedag op omgewings wat verdoemenisse uitloof; die geskiedenis is vol sektes wat mense opsweep deur op die sondes van die samelewing te hamer.  ‘n Goeie dosis common sense is nodig om ‘n opswepery deur dweeppredikers te kan uitken vir wat dit is.

Om die dood toe

Wees gerus.  Jy het ‘n leeftyd om salige rus vir jou “siel” te vind.  Maak jouself intussen oop om met belangstelling en deernis na ander mense se geloofsoortuigings te luister – jy sal dit gerusstellend vind hoe baie ooreenkomste daar tussen verskillende gelowe en godsdienste is.

Die eerste vraag bly staan: Het die mens ‘n siel?  En dis ‘n moeilike vraag om met sekerheid te antwoord.

‘n Geldige antwoord – miskien die mees logiese antwoord op dié vraag – is “Nee, die mens het nie ‘n siel nie”.  Maar dan is dit nog steeds belangrik om ander mense se “ja”-antwoorde en -sieninge te probeer verstaan.

Dieselfde geld natuurlik ook as jy “Ja, die mens het ‘n siel” antwoord; dit gee jou nie die reg om diegene wat nie in ‘n siel glo, se menings te verontagsaam nie.

Trouens, as jy glo jy het nét één lewe in die híér en nóú, dan het jy waarskynlik ‘n meer intense waardering vir die lewe as iemand wat in ‘n nadoodse nirvana glo.

O ja, “Dalk” is ook ‘n antwoord.

Advertisements

11 responses »

  1. “Dit wil voorkom asof lewe hier op aarde op ‘n intelligente manier ontwerp is, en nie net toevallig gebeur – of ontwikkel het nie.”

    Nee, dit is verkeerd, bestudeer die evolusie en jy sal sien daar is geen ontwerp nie. Die einste mier wat jy van praat is miljoene jare langer as ons hier. Die ware studie van evolusie van die Kambriese ontploffing tot vandag sal jou die volle verhaal gee.

  2. Dankie, rosalindfranklin, ek het ‘n skakel bo-aan daardie deel na http://www.oulitnet.co.za/senet/senet.asp?id=7938 ingesit.

    Ek probeer nie soseer Intelligente Ontwerp (IO) as ‘n feit afmaak nie, maar probeer eerder mense soos Paul (na wie die skakel wys) se opinie verwoord.

    Sien asseblief ook die tweede skakel na http://www.oulitnet.co.za/senet/senet.asp?id=8173. Dáár vat Godzilla vir Paul aan oor sy skrywe.

    Albei dié skakels vorm deel van ‘n laaang god-debat wat op Litnet gevoer is in 2002. Eindelik is albei dié stories opgevat as die eerste twee inskrywings in die boek Die omstrede GOD, wat deur Litnet uitgegee is.

    Ek probeer geensins evolusie teëstaan nie.

  3. Oja ek onthou die debat wat toe uiteindelik ‘n boek geword het. Die vraag na die bestaan van ‘n siel is baie, baie lekker en die inskrywing wat jy gemaak het ook. Daniel Dennette se boek is lekker in die opsig, dalk ken jy sy werk?
    En dan ook die verhouding tussen siel en bewussyn. Indien ‘n mens se brein nie werk nie = dood, hoe kom jy bewus wees van iets, want uiteindelik is jy net ‘n bondel neurone wat vuur.

  4. Persoonlik vind ek saligheid in die idee dat daar geen antwoorde vir al hierdie vrae is nie. Ek geniet dit ook wanneer ek mense raakloop wat dieselfde voel, eerder as mense wat hul oningeligde (of aangeleerde) opinies aan my probeer afsmeer.

    As jy op ‘n punt staan waar jy wonder watter geloof om aan te hang, moet jy dalk ook vir jouself vra: waarom wil ek enigsins glo in ‘n god of God?

    Is dit dalk om ‘n goeie mens te kan word, of om antwoorde vir my vrae te vind, of is dit bloot omdat ek bang is vir die dood? Vir sulke vrae moet jy dan sekerlik ook vra: het jy werklik godsdiens nodig om jou ‘n beter mens te maak, of hoeveel waarheid is daar in ander se antwoorde (smokkel hulle dalk met my kop?), of is daar werklik rede om bang te wees vir die dood?

    Jy mag dalk vind dat godsdiens geensins nodig is nie, en dan is jy vrygemaak van so ‘n denkbeeldige noodsaaklikheid, en kan jy sonder kommer besluit of jy nog wil glo of nie.

    Sommige mense mag dalk aanvoer dat “om te glo, is oneerlik”, en daar is wel ‘n mate van waarheid daarin. Maar, ons as mense het juis ‘n ingebore vermoë ontwikkel om te kan glo, en selfs om outomaties net te glo. So, hoe oneerlik is dit werklik as jy besluit om wel te glo?

  5. Aha, ek sien jou blog fokus ook op hierdie soort waardes… 🙂

    Mmm, ek wonder nog steeds hoe jy daarby uitgekom het dat dit (wat jy hierbo bespreek) vir jou waardevol ge-word het:
    * het jy nog altyd so gedink/gevoel?
    * het jy ook (as ondermaanse)geworstel met twyfel (soos Francois C)?
    * wie of wat het dit vir jou vertel (vgl. Herman van Veen se liedjie “Wie vertelt het mij)?

    Doe zo voort!

  6. Terug pieng: Life Skills #14 - is gay-wees sonde? « mnr.muller

  7. Estelleke: met “hierdie soort waardes” neem ek aan jy verwys na bv. om ander mense se menings in ag te neem en te respekteer, siende dat Mnr. Muller se “Life skills” inskrywings (hierdie een ingeslote) tipies op grond van hierdie beginsel die onderwerpe in ‘n suiwer intellektuele perspektief en vanaf alle moontlike oogpunte probeer bespreek.

    Ek dink dit is ‘n baie goeie menslike waarde wat jy sekerlik aanleer soos jy grootword, alhoewel verskillende mense dit op verskillende tye van hul lewens ontdek of aanneem (indien ooit), a.g.v. verskillende lewenservaringe.

    Met my opmerkings het ek ook probeer om hierdie intellektuele perspektief voort te sit en vanuit my eie ervaringe raad te offer (dis nou, dat jy krities oor die saak moet dink) aan enigiemand wat potensieël daarby kan baatvind. Ek self het nog nooit getwyfel oor watter geloof ek wil volg nie, alhoewel ek nie tyfelinge oor sekere kwessies van my geloof heeltemal vrygespring het nie.

  8. WIE VERTELT HET MIJ

    Wie vertelt het mij,
    hoe men uit graniet
    een hart zou kunnen winnen,
    wie vertelt het mij,
    wie vertelt het mij?

    Mensen vechten om de kruimels
    van genadebrood,
    miljoenen leven als de bliksem,
    broeders van de dood.
    Door valse schijn
    en oppervlakkigheid,
    een prachtige knoch out.
    Lege leegte, lege tijd.

    Wie vertelt het mij,
    hoe je van een optelsom
    een lied zou kunnen maken,
    wie vertelt het mij?

    Kan een ideologie
    ons ooit de scherven geven
    van wat gebroken is
    van wat liefde was, en leven?

    Alleen een standbeeld, dat kan stil zijn
    zonder haast en tijd.
    Alleen de dood leeft eeuwig;
    geen mens die hem misleidt,
    Jezus hangt verbitterd aan het kruis.
    Vader is op stap en moeder schuilt in huis.

    Heel de schepping wankelt koortsig
    tussen hoop en vrees.
    Je kunt bidden, maar je ziet jezelf:
    je ziet alleen een pokerface.
    Je ziet de dag niet,
    die niet weet wat hij doet.
    Zijn spiegelbeeld in het water.
    Zijn licht. Zijn eb en vloed.

    Ik vertel het jou.
    Jij vertelt het mij

    Ik vertel het jou.
    Jij vertelt het mij

    HERMAN VAN VEEN

  9. Ag ja, daardie goeie ou storm en drang jare darem… ek klink so seuriejeus…

    Voel so lank lank gelede…

    Vriendelike ateïstiese, sekulêre humanistiese & liberale xten-groetes,

    GZ.

  10. As Christus vir ons sonde gesterf het en weer opgestaan het, hoe kan jy dan nog twyfel? Ons verstand is so klein en ons mensdom bestaan al eeue en steeds soek ons antwoorde. Glo en word gered

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s