Monthly Archives: April 2009

Moenie stem nie!

Standaard

Moenie stem tensy jy ingelig is oor verskillende politieke partye se manifesto’s nie.

Om ‘n oningeligte stem uit te bring, is ‘n groter onreg as om nie te stem nie.

Wie weet, net-nou stem jy per ongeluk vir/teen die doodstraf…

Gaan toets ‘n bietjie jou oplossings vir die probleme van ons land by Mail & Guardian se poll predictor: http://elections.mg.co.za/pollpredictor.  Dalk word jy net-mooi verras.

Happy met Zuma

Standaard

Ek is happy met Zuma as president van ons land.

‘n President moet:

  1. ‘n handelaar van hoop wees,
  2. ‘n  goeie kabinet aanstel, en
  3. lekker kan gesels met buitelandse mense.

Nou, ek besef dat vir heelwat opgevoede middelklas-burgers is Zuma miskien nie die ideale rolmodel nie, maar vir die meeste Suid-Afrikaners is die rural boy wat met vuiste sy pad tot heelbo oopgeveg het, tóg ‘n teken van hoop.

Jy kan heelwat sê oor die integriteit van die ANC-leierskorps, maar wat politici betref, is hulle nie ‘n té slegte spul nie.  En die opposisie sal die vrottes onder hulle laat klippe kou; dis gewis.

En, soos wat ons al telkemale gesien het, kan Zuma net so lekker kuier om ‘n tradisionele Zulu-braaivleisvuur as met Steve Hofmeyr of die manne van die VF+.  En vir enigiemand wat dít kan regkry, is geselsies aanknoop met wêreldleiers mos kinderspeletjies.

Bowenal Zuma laat my lag.  En hy kom met sy eie catchy theme song!

corruption

Leierskap #5 – om leiers op te lei

Standaard

Studenteleierskap is ‘n tawwe toffie.  Veral op ‘n kampus met weinig kontinuïteit.

Nietemin, gestel dit is moontlik om opleiding aan voornemende of pasverkose leiers, te verskaf – watter generiese- en spesifieke vaardighede het studenteleiers nodig?

Studentegesentreerde inhoud en aanbieding

Vantevore het die Studentesake-omgewings wel opleidingslesings aangebied oor onder meer alkohol- en studietydbeleide in koshuise.  Maar sulke fokusse is ver verwyderd van studentleiers se alledaagse organisatoriese uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Dit sou goed wees as ‘n mens, as vertrekpunt, kan vasstel wat die uitkomstes van ‘n leierskapsopleidingprogram moet wees.  Help my asseblief met só ‘n lys.

Hierso is my lys tot dusver:

Generiese leiersvaardighede

Studenteleiers moet:

  • die pligte en verantwoordelikhede van die verskillende kampus-leierskapstrukture begryp en weet waar hulle, binne hulle onmiddellike komitees/strukture, inpas
  • die oorhoofse uitdagings en fokusareas van die Universiteit kan identifiseer en relativeer tot hul eie omgewings
  • algemene kommunikasievaardighede, -metodes en -tegnieke kan inspan om idees op- en af te wentel binne hulle omgewings
  • ‘n komitee(s) uit verteenwoordigende lede kan saamstel, hulle motiveer en die werk sinvol delegeer
  • tipiese risiko’s kan identifiseer en krisisbestuur in verskillende nood-scenario’s toepas
  • gesprek binne hul omgewings fasiliteer en konflik oplos
  • dagboek kan hou van gebeure, datums, afsprake, tydlyne, en genoeg tyd inruim vir persoonlike welsyn en akademie
  • hulle aktiwiteite/projekte/prosesse krities kan evalueer en verslag kan doen daarvan
  • met die nodige etiket en takt e-posse beantwoord en vergaderings bywoon

Spesifieke leiersvaardighede

In die verskillende portefeuljes wat studenteleiers beklee, is daar onder meer die volgende spesifieke vaardighede wat hulle moet bemeester.

Studenteleiers moet:

  • omsien na alumni-behoeftes (oud-studente, argief, reünies en kommunikasie aan oud-studente)
  • beleide interpreteer, skryf en herformuleer
  • borge inwin, met die nodige vooraf- en agterna-dokumentasie (borg en dankbriewe)
  • omsien na die welwees van medestudente (wat akademie en leef-en-leer omgewings betref, maar ook aktuele kwessies rondom middele-misbruik, ens.)
  • gemeenskapsinteraksie bevorder, hetsy deur opheffingsprojekte te reël of deelname aan gemeenskapsbou-aktiwiteite aan te moedig
  • funksies (soos danse en prysuitdelingseremonies) met die nodige omsigtigheid – aandag aan detail – kan reël
  • ontspanningsaktiwiteite fasiliteer wat verskillende tipe mense in kontak met mekaar kan bring, ten einde ‘n gemoedelike atmosfeer van wedersydse respek te skep
  • verhoudings met verskillende instansies (koshuise/wyke/verenigings) opbou om gesamentlike (multikulturele) aktiwiteite aan te pak
  • kreatiewe idees kan genereer, kommunikeer en fasiliteer
  • notule kan hou, agenda’s opstel en begrotings kan bestuur
  • sportspanne se wedstryde en -afrigting koördineer
  • verwagte items en publikasies betyds kan uitbring

As jy ‘n studenteleier was, of ene wil wees – kyk bietjie krities of daar nie nog tot hierdie lysie gevoeg kan word nie.

En, as jy nie soseer ‘n leier was nie, maar wel verskillende termyne sien kom- en gaan het, watter vaardighede kan jy identifiseer wat tipies nodig is op studentevlak?

Life Skills #14 – is gay-wees sonde?

Standaard

lewensorientering-logoDikwels voel dit vir leerders asof die vak Lewensoriëntering (LO) slegs oor Apartheid, sokker en VIGS gaan, maar ek glo darem ons het hierso (onder Life Skills) al ‘n paar ander onderwerpe ook gedek: van rook,  drink, vloek, vry, seks, tot werkgeloofintegriteit en ontspanning.

In vandag se blogpost werk ons met ‘n raakvlak tussen religieuse studie en seksvoorligting – soos dikwels die geval in alledaagse gesprekke.  Die besprekingsvraag is: Is gay-wees sonde? 

Hoe beantwoord ‘n mens so ‘n gelaaide vraag?

Op ‘n blogruimte, of in ‘n klaskamerbespreking, of om ‘n braaivleisvuur, is dit belangrik om seker te maak wat bedoel word met ‘n vraag.

Ons is gewoond daaraan om vinnig antwoorde te moet gee op vrae: “Ja!” of “Nee!” of “Dalk.” of “Whatever.”  Meeste vrae in klastyd toets slegs kennis, en vriendekring-vrae is selde bedoel om kritiese besprekings uit te lok; dit toets eerder of jy en jou pelle op dieselfde golflengte is.

Tog is dit sinvol om, as jy ‘n kritiese gesprek wil voer, eers seker te maak wat presies met ‘n vraag bedoel word. 

Breek ‘n vraag op in dele

In die vraag “Is gay-wees sonde?” is daar twee gelaaide terme: “gay-wees” en “sonde”. 

Los eers gay-wees uit die vraag, en vra: Wat bedoel ons met “sonde”?  En los dan daarna die sonde-deel, en vra weer: Wat verstaan ons onder “gay-wees?”.

Problematisering van die konstruk “sonde”

Uiteraard, soos ons in ons vorige gesprek oor gelowe en siele gepraat het, is die meeste woorde wat te make het met godsdienste, ‘n bietjie vaag en moeilik om te definiëer.

Een van hierdie godsdiens-tameletjies is die idee van “sonde”, met sy gepaardgaande afleidings t.o.v. “hel” en “satan” en ‘n “veroordelende godheid”.

Dus, as jy ‘n vraag vra oor “Is … sonde?” dan moet jy eers seker maak wat met “sonde” bedoel word.  En as jy van die definisie verskil, dan moet jy eers dít uitklaar voordat jy die specifics van die vraag kan beantwoord.

Hoekom word die vraag gevra?

Gestel jy en jou maters praat oor sonde.  Waarom praat julle daaroor?  Is julle besig om te wonder of iets (gay-wees, voorhuwelikse seks, videospeletjies, ‘n wit leuen vertel, moord pleeg, pornografie kyk) reg/verkeerd is volgens jou religieuse tekste?

Of is julle besig om ‘n saak uit te maak om iemand anders te spot en/of te veroordeel/uitkryt as ‘n sondaar?  (Dalk wil jy dan jouself eerder uit die gesprek onttrek?)

Indien jy werklikwaar wonder oor die vraag vanuit ‘n geloofs- of morele oogpunt, dan maak dit waarskynlik sin om wat jy onder “sonde” verstaan, nog verder te verfyn.

Verfyning van die konstruk “sonde”

Probeer so duidelik en ondubbelsinnig uitklaar wat julle met “sonde” bedoel.  Vra jy eintlik of dit moreel regverdigbaar is, d.w.s. of daar iets “verkeerd” is met die aksie, of wil jy weet of dit spesifiek volgens die Torah of Qu’ran of Bybel en Veda verdoem word?

Wees ook duidelik ten opsigte van watter denominasionele beskouïnge jy as vertrekpunt gebruik al dan nie.  D.w.s. as julle almal Grieks Ortodoks Christelik is, dan kan julle vanuit daardie oogpunt die saak bespreek, maar as een outjie Rooms-Katoliek en die ander ou agnosties en die ander ene NGK is, dan sal julle waarskynlik met ‘n meer algemene (d.w.s. ‘n minder geloofspesifieke) definisie vorendag moet kom, sodat julle van dieselfde idee van “sonde” kan praat.

Problematisering van die konstrukte “gay” vs “straight”

Daar is baie stereotipes oor gay mans wat met flappende handjies hare sny.  As jy wil praat oor gay-wees in die breë, moet jy seker wees hoe jy dié groep definiëer: sluit dit mans en vroue in?  Praat jy van anale penetrasie of bloot verlief wees op iemand van dieselfde geslag?

Beskou jy gay- en straight-wees as twee diskrete opsies wat jy t.o.v. seksualiteit het, of lê jou oriëntasie op ‘n kontinuum tussen twee uiterstes vanaf baie verfynd tot baie butch?

Beskou jy gay- en straight-wees as ‘n keuse of van genetiese oorsprong, of as ‘n kombinasie van die twee (genetiese predisposisie met ‘n mate van besluitneming)?

Verfyning van die konstrukte “gay” en “straight”

Voor jy kan debatteer of gay-wees sonde is of nie, moet jy eers kan ooreenkom t.o.v. van wat gay-wees is.

Weereens, as jy heelwat verskillende mense het wat deelneem aan die gesprek, sal jy dalk op ‘n meer algemene definisie ooreenkom, soos: mense wat dit verkies om in ‘n intieme verhouding met ‘n persoon van dieselfde geslag te wees.

Voor jy ‘n opinie waag, oorweeg eers die teenoorgestelde

Is gay-wees heilig?  Is straight-wees sonde?

Probeer om argumente vír en téén dié vrae te skep.  Ja, gay-wees is heilig, want in die Griekse tydperk het filosowe soos Plato en Sokrates mansliefde as die hoogste vorm van liefde aangeprys.  Verder is en was van ons mees beroemde kunstenaars gay, of dit nou Michelangelo of Leondardo da Vinci was, of Freddy Mercury en Elton John.

Nee, gay-wees is nie heilig nie – ‘n mens kan nie heiligheid aan seksualiteit koppel nie.  Inteendeel, in vele gelowe moet monnike selibaat bly – enige intimiteit, hetsy met ‘n man of ‘n vrou, is dus taboe as dit by heiligheid kom.

Ja, straight-wees is sonde: mans wat roekeloos by vroue slaap soos die media dit alledaags voorstel, veroorsaak ongewensde swangerskappe en versprei VIGS in Afrika en lei tot seksuele diskriminasie in die werksplek.  Die tipiese mans- en vrouerolle is barbaars en ongekultiveerd en boos.

Of nee, straight-wees is nie sonde nie: dit is die natuurlike wyse van voortplanting by die mens en dier.  Daarom kan jy hom/haar nie a.g.v. sy/haar straight-wees oriëntasie veroordeel nie.

seunssoen-teen-n-glasruit

Ná dié denkoefening, waag jou opinie – en dink aan ‘n voorbeeld, maar wees oop vir teenargumente

Dalk wil jy sê: Ja, gay-wees is onnatuurlik.  Die vagina en penis vul mekaar logies aan en kan lei tot die voortplanting van die mens.

Maar dan moet jy bereid wees om te luister na biologiese teenargumente.  ‘n Man het ‘n g-spot via sy anus.  In die diereryk het jy talryke voorbeelde van homoseksuele gedrag by diere.  Seks by die mens (en sekere ape, dolfyne) is nie net vir voortplanting nie.

Jy kan slegs ‘n religie-spesifieke standpunt aanvoer as almal daarop ooreengekom het, bv. dalk voel jy: Die Bybel sê homoseksualiteit is ‘n sonde.

Omdat julle dan vooraf bepaal het dat die Bybel ‘n geloofwaardige bron is, sal iemand anders miskien die betrokke verwysings kontekstualiseer: Destyds is vroue se rol t.o.v. voortplanting anders gesien as vandag.  Tóé het hulle aanvaar ‘n kind word gebore uit die “saad” van die vader, geplant in die “vrugbare grond” van die moeder.  Enige semen wat dus vermors is, is as ‘n vermorsing van lewe gesien, en dus as sonde.  Ook, wanneer daar van homoseksualiteit gepraat is, het dit gepaardgegaan met sodomie en promiskuïteit.  Nêrens word ‘n liefdevolle selfde-geslag verhouding soos vandag algemeen voorkom, in die Bybel verdoem nie.

Identifiseer tekorte aan kennis/inligting/begrip

Net omdat almal in ‘n groep saamstem oor iets, beteken nie dis waar nie.  Dis goed om te debatteer, maar wees altyd bedag daarop dat jou konstruk van iets (sê-nou-maar gay-wees) bloot nog nie breed genoeg uitgebrei is nie.

As jy byvoorbeeld geen doktors of prokureurs ken wat gay is nie, maar net hair dressers en waitors in die Kaap, dan kan jy onmoontlik nie tot ‘n baie wyse gevolgtrekking kom van wie en wat en hoe gay-mense is nie.  Want dan het jy geen betroubare ervaring van of insig in gay-wees nie.

Netso kan jy vind dat jy dalk te min weet van wat sielkundiges, teoloë of bioloë hieroor te sê het, en agterkom dat jy dalk eers ‘n bietjie leeswerk moet gaan doen.

Die Grondwet en antwoorde op moeilike vrae

Die wêreld is vol stereotipies en vooroordele.  Veral organisasies wat voorgee om te weet wat “Reg” en “Verkeerd” is, sal dikwels stereotipes bevorder en sekere mense verwerp.

In die era van demokrasie, waar vryheid en die reg op lewe as fundamentele regte in grondwette wêreldwyd vasgepen is, beantwoord ons dikwels moeilike vrae deur aan die individu die vryheid te gee om self oor die uitleef van sy/haar seksuele oriëntasie/geloof/kultuur te besluit.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet skryf derhalwe nie vir ons voor watter geloof “waar” is, of watter seksuele oriëntasie “reg” is nie.  Ook is een ras of kultuur nie “beter” as ‘n ander nie.

Regte kom met verantwoordelikhede.  Jou vryheid om te sê gay-wees is reg en Boeddhisme is goed en Heiligabend moet gevier word, is afhanklik van medemense wat jou dié keuses onverhinderd gun.  (Mag jy ook die nodige respek, verdraagsaamheid en empatie hê om dié verantwoordelikheid na te kom.)