Sukkel met sewe see cinquians

Standaard

Die digkuns is, volgens my, nie so gehul in die mistiek as wat ons dikwels dink dit is nie.  Almal kan dig; dis bloot ‘n vaardigheid wat jy moet slyp.  Of hoe?

Om gedigte makliker te skep, gebruik digters al eeue lank vaste digvorme om struktuur en vorm aan hulle gedagtes te gee.

Op skool leer ons van Engelse en Italiaanse sonnette, maar in Afrikaans is daar handiger digvorme, veral ontleen aan Oosterse digkuns, om ons woorde in te giet.  Prettige voorbeelde is die Haiku, Tanka en Pantoen, maar met hierdie inskrywing wil ek jou uitdaag om ‘n Cinquian te probeer skryf.

Speel ‘n bietjie rond; hierso is die patroon:

‘n Cinquian het vyf rymlose reëls, met altesaam sowat 11 woorde of 22 lettergrepe in die hele vers, wat soos volg in die reëls gegiet word:

  • Versreël 1: een woord (of 2 lettergrepe) wat die titel verskaf;
  • Versreël 2: twee woorde (of 4 lettergrepe) wat die eerste woord beskryf;
  • Versreël 3: drie woorde (of 6 lettergrepe) wat aksie weergee;
  • Versreël 4: vier woorde (of 8 lettergrepe) wat gevoel/emosie weergee;
  • Versreël 5: een woord (of 2 lettergrepe) wat ‘n ander woord vir die titel verskaf.

Hier volg my probeerslae – dis ‘n work in progress, so enige en alle kritiek is welkom!

SEWE  SEE  CINQUIANS

Lewensredder
Sonbruin kurwes;
Jy tuur deur skuimbrandings…
…langs lense wat jou lie(f)s beloer:
Lokaas-lyf

Vlieërs
Bont sterte
Wat swieg deur die winde –
Ons kyk oopmond na helder lig
Spieëlings

Kasteel
Hoë    torings
Opgestapel met sorg
En trots versier met wier en skulp –
Spoelsand

Kanoe
Rooi roeispane
Oor golwe deur bamboes
Roei ons rustig, ontspanne by
Onrus

Lyfplankryer
Jou lyf lenig
Teen die plank gedruk
In afwagting op die deining
Waaghalsseun

Visterman
Gehard en fris
Sirrrrrrits jy in ’n boog
Jou Weskushoek in die gety
Hardebaard

Nuwejaar
Lywe oral
’n gewoel en gelag
2008 vergaan in
Vuurwerke

Probeer gerus jou eie cinquian skryf, of help my met myne. 

Wat lekker aan dié digvorm is, is dat die cinquian jou help/forseer om jou woorde elegant onder mekaar te orden.

Advertisements

7 responses »

  1. Terug pieng: Wat maak ‘n goeie gedig goed? « mnr.muller

  2. mnr muller.. ek wou nog vir jou vra of jy al ‘n “akrostigon” geskryf het. (in Engels Acrostic). Vir kinders is dit ook groot pret, geen rym nodig nie. Op my gedigte-bladsy is een van my probeerslae “Nothingness”.

  3. mnr muller..baie maklik. Jy neem jou woord, skryf dit van bo na onder… en dan skryf jy ‘n sinnetjie wat begin met elke letter van die woord, dit hoef nie (ek wil dit beklemtoon) verband te hou met die tema (woord) nie, maar dis goed as dit kan. Laerskool kinders (juniors) sal natuurlik dit glad nie of te bind aan die tema nie, eers as hulle bietjie ouer is, maar weereens, dis nie te se hul moet nie. Dis nogal pret!

    My liewe Onderwyser!
    Nooit sal hy met my kwaai wees nie
    Raas ja, met sommige kinders!
    My wense vir hom is om altyd
    Uitegerus te wees sodat hy
    Lekker kan skoolhou en ons mooi
    Leer, maar ook elke dag gelukkig
    En tevrede sal wees en altyd sy
    Rooi aarbeie en room sal geniet!

    haha…dis sommer ‘n simpel voorbeeld,sommer net om te wys jy hoef nie elke “sin” ‘n losstaande sin te he nie, kan jy die “mnr muller” sien? van bo-na-onder

  4. ja, ek is eintlik op die spoor van lesplanne maar kan nie my lus inhou om ook ‘n eiertjie te le nie. Wat ‘n gedig anders maak as oulike rympies en ‘n tool om kinders taal te leer is dat die mense by nuwe insigte behoort te kan bring – nuwe perspektiewe, nuwe kyk na dinge as wat hulle gewoonlik daarin sien, ekstra wysheid. En dis presies waarom die meeste mense nie digters is nie maar rymers – waarmee niks fout is nie. Neem dit so: ek weet geneog van hout af dat ek ‘n lessenaar kon bou – het gegaan na ‘n houtplek, twee borde uitgekies, laat saag volgens die patroon, skroewe gekoop en sowaar my baie oulike lessenaar aanmekaar geskroef. Oulik, handig, en ek is tog te trots op myself. Maar het ek ‘n kunswerk geskep? ‘n Beeld wat mense roer tot dieper wysheid?

    Hmm … dalk … dalk is dit ‘n metafoor vir wysheid en kennis? Dalk is die diepste, grootste kuns van alle kuns die kuns om kinders te inspireer om hul verworwe kennis te transleer sodat hulle na hul beste self kan aspireer.
    Ag, ek het sommer bietjie pret … leer ons kindertjies mooi

  5. @noginsa: dankie vir jou kommentaar! Jammer – hierdie inskrywing is ongelukkig glad nie ‘n lesplan nie; dis maar net ‘n deurgee van reëls en ‘n bietjie rondspeel met ‘n digvorm. 😦

    Ek dink tog ‘n mens kan ‘n leerder begelei om tot die diepere insig/wysheid te kom waarvan jy praat; min mense word gepubliseerde digters, maar jy kan tog ‘n waardering vir die digkuns by leerders kweek.

    Ek vermoed iemand wat ‘n saag-en-lym lessenaar aanmekaar gehamer het, het groter waardering vir ‘n bolpoot-verniste prag-meublement as iemand wat bloot vertel is dat die ding kwansuis mooi is.

    Met digkuns werk dit ook so: as jy probeer om woorde en beelde in versreëls te pas – maar dit nie heeltemal regkry nie – het jy ‘n groter waardering vir ‘n gedig waarin al die elemente netjies bymekaarkom. Juis omdat jy self gesukkel het.

    Gedigskryflesse moet egter nooit begin met (1) Hierso is ‘n voorbeeldgedig (2) Hierso is die reëls en (3) Skryf nou self ‘n gedig vir huiswerk nie.

    As onderwyser moet jy begin op die vlak waar die leerders is en eers (1) Hulle rustig kry en uit die klasloop-lesing-ontvang mentaliteit (met musiek en voorlees in die agtergrond, fyn motoriese opdragte (woorde uitknip, mandala’s inkleur), (2) Hulle toelaat om eers vir ‘n rukkie met free writing te ontlaai, dan (3) hulle genoeg stimulasie (woorde, visuele beelde, emosies, ens) gee om hulle aan te help, (4) hulle ‘n digvorm gee om hulle gedagtes mee te orden en te rig, (5) hulle te laat skryf en gedagtes met mekaar uitruil, en (6) reflekteer/nadink oor die proses, waarna jy (7) hulle mekaar se werke kan laat lees en konstruktief kritiseer en (8) vanuit hulle eie gedigte identifiseer watter dig-elemente (alliterasie, metafoor, ens) suksesvol ingespan is en dan (9) ‘n “goeie” gedig voorhou waarná leerders (10) geïnspireerd die klas verlaat met ‘n ontsag en lus vir gedigskryf.

    Ek moet nog meer moeite doen om nietemin wel lesplanne op hierdie blog te laai; kan jy my dalk help? Het jy ‘n paar wen-lesse wat jy met onderwysers wil deel?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s