Wat maak ’n goeie gedig goed?

Standard

Hoe meer ek met pantoene en cinquiane rondspeel, hoe meer wonder ek of digkuns ‘n ambag is wat aangeleer en ingeoefen moet word, of nie.  Kan jy dit aanleer of is dit ‘n ingebore talent wat slegs aan enkelinge beskore is?

Op skool word poësie dikwels as ‘n mistieke entiteit aangebied.  Ons word agterstevoor onderrig: eers die meesterstuk, dan definisies en voorbeelde van die elemente van goeie poësie (rym, ritme, ens.).  En dan, eers nadat als bespreek en opgesom is, moet jy ‘n gedig oor ‘n lukrake onderwerp produseer as huiswerk vir die volgende dag.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hoe om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is.

Wat hulle nie vir ons onderrig nie is hóé om ‘n cliché te herken of rymwoorde só in te span dat dit nie soos ‘n Kurt Darren song klink nie.

Die tricky ding is, goeie digters flans verskeie emosionele assosiasies saam in nuwe beelde, logies-georden met ‘n klankrykheid en -ritme.  Hulle span hulle kreatiewe en logiese denke afwisselend in.  Onderwysers moet dus éérstens ‘n emosionele respons by leerders wek, tweedens vir hulle begelei om dit kreatief te verwoord en derdens krities te verfyn.

Ongelukkig is daar nog ‘n bykomende stap: leerders moet eers hulle vrees vir foute-maak verleer.  Poësie moet dalk nét formatief (met opbouende kommentaar) geassesseer word, en nie vir ‘n rapportpunt gemerk word nie.

Leerders moet die vrymoedigheid hê om onklaar gedigte klas toe te bring en saam-saam mekaar te kritiseer en raad te gee.  Hulle moet gesels oor wát hulle wou bereik, sê hoe hulle dit probeer doen het, en vertel waarmee hulle nog sukkel.  Só ontmoet die onderwyser hulle op hulle vlak.

Wat die onderwyser wél kan bepunt, is leerders se refleksies oor die skryfproses.  As jy kan agterkom dat ‘n leerder gewroeg het met aspekte van sy/haar gedig(te), dan is dit goed.

Bogenoemde is ‘n heel anderste proses as wat ons tans in skole pleeg.  In skole ontleed ons poësie van die meesters en bepunt die rymelary van die leerders.  Die illusie word geskep dat digters ‘n ander spesie is; gebore met ‘n goue pen in die hand – nêrens op skool sien ons dat selfs die groot name met woorde wroeg/gewroeg het nie.

Beide die cinquian en die pantoen is nuttige digvorme om leerders te begelei om te waag, speel, probeer, kritiseer, aanpas en weer te probeer.

Maar eers moet jy die gevoel/emosie aanwakker – dit is die eerste stap.

5 responses »

  1. Onderwysers moet poësie vir leerders lekker maak, hulle moet dit geniet. Nou praat ek van beide Laer/Hoërskool. My dae van poësie was heeltemal te formeel en ek kan nie onthou of ek dit regtig geniet het nie. Ek voel dat leerders (wat nog eers net geleer word om dit te geniet en geniet om uitdrukking aan gevoelens te gee) nie in ‘n vorm gegiet moet word en daar voorgeskryf moet word dat dit die manier is en geen ander manier “reg” is nie. Die wyse waarop dit “hierdie kant van die poel” gedoen word, is vir my baie meer hoe ek dit sou wou gehad het as kind op skool. Ek dink daar word ‘n demper op kinders se skryfvermoë geplaas – wel, nou praat ek van die dae toe ek op skool was. Ons was ‘n jaar hier en toe terug in SA voordat ons weer gekom het. Daardie tydperk in SA het ek poësie aangebied soos ek dit hier gedoen het, dit was baie meer pret en die kinders het hul gate uit geniet en wou bladsye vol skryf…groot verskil tussen my vorige skoolhou in SA en daardie jaar. Ek stem volkome saam, daar moenie ‘n punt gegee word nie en hulle moet daardie “vrees” oorkom en hulle kan dit slegs oorkom met die leiding van die Onderwyser. Sommige Onderwysers – my opinie – het self nie ‘n “aanvoeling” nie en is self onseker. Ek dink meer Afrikaanse dosente moet soos jy wees, hierdie riglyne/idees vir Onderwysstudente gee om kinders te laat voel hulle “kan”. Ek stem ook saam, enige persoon kan ‘n digter wees, hulle word nie gebore nie, maar sommige het meer aanvoeling met die speel van woorde en ander nie. Dis soos klavier speel, enige ou kan dit doen. Jy kan enige persoon neem vir klavierlesse, maar sommige het ‘n natuurlike talent wat speel sonder die lesse. -dit is my ma, bv. – ek weer het gegaan vir lesse!🙂

  2. “om rou emosie in woorde om te sit, dit krities te beskou, stelselmatig te redigeer en te wéét wanneer dit klaar/goed is” – ek hou daarvan.

    Ek neem aan jy het Loftus Marais se bundel gelees – ek reken die eerste stappie, die rou emosie, kry hy goed reg. Dink jy hy slaag heeltemal met die krities beskou en redigeer?

  3. Pingback: Staan in die algemeen nader aan vensters – Loftus Marais « My Kop Op ‘n Blok!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s