Monthly Archives: Julie 2009

Gister se rommelstrate was oranje van al die nartjieskille

Standard

Gister het munisipale werkers regdeur Suid-Afrika gestaak.

Duskant Merrimanstraat is die rommeltrommels omgekeer en was die strate besaai met plastieksakke, leë bottels, en veral lemoen- en nartjieskille.

Terwyl ek probeer het om in niks té morsigs te trap nie, het ek gewonder of enigiemand nog komposhouers in hul agterjaart het. 

* * *

Ook het ek gewonder hoeveel elke werk werklik werd is: Klink my die vullisverwyderaars verdien R5 000 per maand en soek nog R800.  (As beginner-onderwyser in 2006 het ek ook maar R6 000 per maand verdien.)  Hm.

* * *

En toe ek vanoggend ‘n nartjie afskil, en die oranje skille argeloos in die drom laat val, verlang ek skielik na ‘n huis, of meer spesifiek, ‘n komposhoop – êrens waar ek my kwistigheid kan laat verrot tot lewegewende kompos vir ‘n tuin.

* * *

Ook het ek gedink: die internet, onse inligtingsnelweg, blogruimtes – dalk lê daar óók te veel oranje rond.  ‘n Mens moet kyk waar jy wandel.

Oornag het my Facebook in ’n boer verander, en vandag praat my WordPress ook Afrikaans

Standard

Dis amazing.  Ek reken taalimperialisme het uiteindelik ‘n stille dood gesterf.

Want ons besef: elke tongval verskaf ekstra betekenis aan dít wie ons is – waaroor ons kan redeneer en dink en wonder; dit help skep aan ons realiteitsbesef.  Die klanke klink op na die hemel.

Soos die Xhosa-eufemisme vir doodgaan: -swekile [om te versuiker, oftewel soos suiker op te los en te verdwyn].  Pragtig, nie waar nie?  Vanaf ‘n taal wat kwalik tuishoort in die moderne eeu; nog nie ‘n noemenswaardige geskrewe literatuur opgebou het nie.

Daar is diegene wat nog wil laer trek met ‘n vergane leuse van “eendrag maak mag” en wil korrel na al wat ‘n kakie is.  Ons vir jou, Suid-Afrika.  Ons vir jou, Afrikaans.

Dít sonder enige strydbyl in sig.

Ek dink die wêreld het die “eenheid in diversiteit” aangegryp: ons glo en hoop en weet eintlik tog tereg dat dít wat anders is, nie ons hoef te bedreig nie, maar kan verryk.

Netmooi die anderdag het my Facebook in ‘n boer verander, die woorde daarso is oorvertaal (soms minder goed, maar nietemin) in Afrikaans.  Vandag merk ek op my WordPress dashboard noem haarself nou ‘n “instrumentpaneel”.

Ja-nee, die strydbyl is verroes en lankal begrawe.

Die vredesvlag is opgehys.

Dit wapper oor die hele wêreld heen.

Afrikaans: no lesser place.

Handskrif en shorthand

Standard

Ons leer vir skoolkinders hoe om te skryf.  Ons leer hulle hoe om te teken.  Maar selde leer ons hulle hoe om met prentjies en skrif saam-saam nota’s te maak en/of probleme uit te werk.

handskrif_1  handskrif_2

Hierbo is voorbeelde van shorthand wat ek tydens vergaderings gebruik.  En nee, dis nie uit verveling dat ek hoenders of vlagskepe teken nie – dit het telkens te make met die spesifieke uitdrukkings of sêgoed wat mense tydens die vergadering gebruik.

Deur prentjies met woorde en getalle op te mix, vind ek, kan ek makliker die spesifieke gesprekvoering en lines of argumentation herroep as ek lateraan weer deur my nota’s blaai.

* * *

Miskien moet hulle, behalwe vir skrif, leerders ook onderrig om scrapbooking te doen.  Die mix en match van kleure en teksture en foto’s, herinneringe, gedigte, tale, opsommings, resepte, ens. is ‘n heerlike meersintuiglike ervaring.  En leer jou om te reflekteer en dít wat jy als beleef, te waardeer.

Heel gelate terwyl dit buite giet

Standard

Gister reën dit heeldag:

Heel gelate hou ek sabbat onder my dubbeldoordonskombers tot laatoggend, staan gekamerjas op vir brunch, snoes terug tot vroegskemer, pantoffelstap kombuis toe vir ‘n aandetetjie of tee, span ‘n ruk uit voor die TV en kruip luiwarm terug onder my komberse in voor tien, ná ‘n stomende skuimbad.

Salig sou ‘n mens dink.

Maar die reën dreun aanhoudend.  In Xhosa is daar ‘n beter woord, kanabom, soos in: Imvula iyana kanabom.  [Die reën reën onophoudelik.]  Kanabom.  Hoor jy die hael teen ‘n sinkplaatdak?

Onrustig rol ek om in my helwarm bed.  Die reën hou nie op nie, skep nie asem nie, fel bloot voort.  Kanabom.  Elders klou rageltjies styf teen mekaar vir ‘n bietjie liggaamshitte.  Die water lê enkelhoog in shacks.  As die imvula (afgelei van -vula [oopmaak], soos die sluise van die hemel) maar net kan bedaar; rustig kan stuif en dan met net ‘n laaste plomp druppel plotselings kan stop!

Maar nee, gisteraand reën dit.

Heelnag.

Kanabom.

Skeinat in die kombuis en ’n foolproof resep

Standard

Ek het onlangs begin bak.

Sover het ek drie volgraanbrode en een joghurt-en-kondensmelk-tert in my dinky-toy oondjie gebak, en een minder-suksesvolle malvapoeding in my mikrogolf.

Dis pret.

Vir die malvapoeding-resep moes ek asyn by koeksoda voeg.  Bruisend.

Dit was heerlike vermaak terwyl ek snotneus by die huis moes sit en griepmedisyne drink.

* * *

Joghurt-en-kondensmelk-tert

Die maklikste van die drie resepte wat ek tot dusver probeer het, is die joghurt-en-kondensmelk-tert wat ek gemaak het.  Dit gaan tjoef-tjaf: jy meng een liter joghurt met een blikkie kondensmelk, sit dit in die oond vir 20 minute, haal uit, koel af, en smul.  Vir mede-beginners volg die resep stapsgewys:

Wat jy in jou kombuis nodig het:

  1. ‘n eetlepel
  2. ‘n oond waarin jy jou tert kan sit
  3. ‘n mengbak (groot genoeg vir ‘n liter-en-‘n-half se bestanddele)
  4. ‘n tertbak (ook groot genoeg vir ‘n liter-en-‘n-half se bestanddele)
  5. ‘n horlosie of alarm sodat jy kan sien dat die tert slegs vir 20 minute in die oond bak
  6. ‘n vadoek (of oondhandskoene) om die warm tertbak uit die oond te haal

Bestanddele:

  1. een liter joghurt (jou gunsteling soort) wat as vulsel dien
  2. een blikkie kondensmelk (die standaardblikkie, 375 ml) – die hitte gaan die suiker laat karameliseer en só jou vulsel stol (…as jy nie ‘n blik-oopmaker het nie, koop ‘n met-die-vinger-ooptrek blikkie)
  3. een pakkie tennisbeskuitjies om te verkrummel en te plak teen die rant van die tertbak as kors, en ‘n paar los krummels om te strooi as versiering bo-op jou tert
  4. sowat twee eetlepels gesmelte botter om met die beskuitjiekrummels te meng sodat dit klam raak, aan mekaar vassit en teen die rant van die tertbak kan plak om die kors te vorm

Hoe lank dit neem:

  1. 5 minute voorbereidingstyd; 20 minute baktyd; heelnag wag-dat-dit-afkoel tyd.

Stap-vir-stap resep:

  1. Loer in jou oond en sorg dat dit, behalwe vir die oondrak, leeg is.  Maak die oondflap digtoe.  Draai jou oondknop na 180°C.  Die liggie gloei totdat die oond klaar opgewarm het.
  2. Smelt solank jou twee eetlepels botter op welke manier ook al.  Ek het myne in ‘n mikrogolfbakkie op laag vir ‘n paar sekondes gesit.
  3. Verkrummel amper al jou tennisbeskuitjies in jou mengbak (sit so twee of drie opsy).  Druk die beskuitjies een-vir-een fyn met jou hande en voeg die gesmelte botter so bietjies-bietjies by sodat die krummeltjies aan mekaar vassit.  Smeer dié sticky krummels teen die bodem van jou tertbak.  As jou botter opraak, smelt nog ‘n bietjie en voeg dit by die tennisbeskuitjiekrummels, en plak verder.
  4. Lek jou vingers af en vee jou krummelbak skoon.  Was jou hande vlugtig.  En droog af met jou vadoek.
  5. Maak die joghurthouer oop en gooi al die joghurt in jou krummelskoon mengbak.  Krap die laaste bietjie uit die joghurthouer met jou eetlepel.
  6. Maak die kondensmelkblikkie oop en gooi alles in die mengbak by die joghurt.
  7. Roer die joghurt-en-kondensmelk mengsel met jou eetlepel om en gooi dit dan uit in die tertbak op jou tennisbeskuitjiebotter-krummelkors.
  8. Breek nog ‘n laaste tennisbeskuitjie of twee (sonder botter) met jou vingers en sprinkel dit plek-plek bo-op jou joghurt-kondensmelk vulsel.
  9. Loer of die oond se warmteliggie al af is; maak die oond oop en sit jou tertbak vinnig daarbinne.  Flap die oonddeur toe en kyk op jou horlosie (of stel ‘n alarm) – dit moet net vir 20 minute bak.
  10. Ruim solank op: skep al die orige joghurt en kondensmelk uit en lek dit af, en pik tennisbeskuitjiekrummels vanaf jou werksoppervlakte met jou vinger op.  Spoel jou lepel af en mengbak uit, gooi die leë kondensmelkblikkie, joghurthouer en tennisbeskuitjiepakkie-plastiek weg.
  11. Ná twintig minute in die oond, maak die oondflap oop en haal, met jou vadoek om jou hande, die tertbak uit.  Sit dit op jou oond se plaat en laat dit oornag afkoel.  Moenie bekommerd wees as dit nog loperig is nie, die tert stol vinnig-vinnig soos dit afkoel.
  12. As die tert afgekoel het, kan jy dit in die yskas bêre as jy wil.  Sny jou tert met ‘n koekskepper en smul aan jou heerlike baksel.  Bedien met varsgemaalde koffie of jou gunsteling tee.

* * *

Terug by die onderwys:

As jy die resep hierbo stapsgewys navolg en ‘n heerlike joghurt-en-kondensmelk tert bak, die resep memoriseer en herhaaldelik foutloos uitvoer – het jy dan iets geléér?

Hm.

Ja, jy het tog nuwe kennis opgedoen wat jy kan toepas (instrumentele kennis), maar verstáán jy wát kondensmelk is, waar dit vandaan kom, hoekom dit saam met die joghurt stol as jy dit verhit/verkoel?

Kan jy afwyk van die resep en nuwe terte skep met appelliefies en eierwit-opgeklits bo-op?  Kan jy die resep vergelyk met ander en analiseer hoe dit van mekaar verskil en hoe om dit te verbeter?  Verstaan jy die chemie agter die karamelisering van suikerstroop?

Hm.

Uiteraard kan ‘n mens nie álles weet of onderrig nie, maar wat jy wel by hoërskoolleerders – en jouself – moet probeer kweek, is die nuuskierigheid om ‘n indiepte relasionele verstaan van vakinhoude te kry: om die raakpunte van huishoudkunde en natuurwetenskap/chemie te kan insien.

Te dikwels dualiseer ons ons werklikheidsbestaan van ons skoollewens; ons kook in die kombuis en doen chemie in die klaskamer – maar ons bring nooit die kloutjie by die oor nie.  Leerders slaag matriek sonder om te besef dat die twee iets met mekaar te doen het.

Onderwysers fokus ook só op hul vakinhoud dat hulle nie die leerders op hulle leef-en-begripsvlak ontmoet nie.  Huiswerk word eksamenvraagbeantwoording-resepte wat slaafs nagevolg en herhaaldelik ingeoefen word…  Op die ou end kry jy perfekte tertjies waaraan jy heerlik kan smul.  Maar jy wakker nie die eksperimenteringslus, die skeppingsdrang by leerders aan nie.

Wat ons eintlik wil hê, is leerders wat nuwe baksels kan skep en rondspeel en mors.

* * *

Daar is plek vir beide instrumentele (resep-) leer en relasionele (verstaan-) leer in die klaskamer.  Soms moet leerders flink en effektief ‘n balansstaat kan balanseer binne ‘n gegewe tydperk.  Maar kom ons gun leerders die geleentheid om na hartelus te kan bak en brou en skep en eksperimenteer in klaskamers, ingerig soos ‘n goed-toegeruste kombuis.

‘n Ruimte waar hulle kan leer deur fisies iets te dóén.  Waar hulle hulle eerstehandse ervaringsvelde kan laat strook met die nuwe kennis wat aan hulle onderrig word.  ‘n Klaskamer as ‘n wetenskapslaboratorium/kombuis.  Waar die les nie net as resep voorgehou word nie, maar waar die hoekom-vrae gevra word sodat leerders wíl wikipedia.

* * *

In ‘n kombuis het jy ‘n beperkte aantal veranderlikes (bestanddele, mengery, oondhitte, tyd) waarmee jy ‘n gewensde produk probeer verkry.  Die léér lê nie in die navolg van ‘n resep nie – dit lê in die rondspeel en flops, oplees en uitvra, en die weer probeer daarna.

Die assesseringsvraag is nie “Skryf die gememoriseerde resep stapsgewys neer” nie, maar “Bespreek watter resepte jy alles uitprobeer het en vertel hoekom dit gewerk/geflop het”.

Met die eerste vraag toets jy kennis; met die tweede vraag insig.