Skeinat in die kombuis en ’n foolproof resep

Standard

Ek het onlangs begin bak.

Sover het ek drie volgraanbrode en een joghurt-en-kondensmelk-tert in my dinky-toy oondjie gebak, en een minder-suksesvolle malvapoeding in my mikrogolf.

Dis pret.

Vir die malvapoeding-resep moes ek asyn by koeksoda voeg.  Bruisend.

Dit was heerlike vermaak terwyl ek snotneus by die huis moes sit en griepmedisyne drink.

* * *

Joghurt-en-kondensmelk-tert

Die maklikste van die drie resepte wat ek tot dusver probeer het, is die joghurt-en-kondensmelk-tert wat ek gemaak het.  Dit gaan tjoef-tjaf: jy meng een liter joghurt met een blikkie kondensmelk, sit dit in die oond vir 20 minute, haal uit, koel af, en smul.  Vir mede-beginners volg die resep stapsgewys:

Wat jy in jou kombuis nodig het:

  1. ‘n eetlepel
  2. ‘n oond waarin jy jou tert kan sit
  3. ‘n mengbak (groot genoeg vir ‘n liter-en-‘n-half se bestanddele)
  4. ‘n tertbak (ook groot genoeg vir ‘n liter-en-‘n-half se bestanddele)
  5. ‘n horlosie of alarm sodat jy kan sien dat die tert slegs vir 20 minute in die oond bak
  6. ‘n vadoek (of oondhandskoene) om die warm tertbak uit die oond te haal

Bestanddele:

  1. een liter joghurt (jou gunsteling soort) wat as vulsel dien
  2. een blikkie kondensmelk (die standaardblikkie, 375 ml) – die hitte gaan die suiker laat karameliseer en só jou vulsel stol (…as jy nie ‘n blik-oopmaker het nie, koop ‘n met-die-vinger-ooptrek blikkie)
  3. een pakkie tennisbeskuitjies om te verkrummel en te plak teen die rant van die tertbak as kors, en ‘n paar los krummels om te strooi as versiering bo-op jou tert
  4. sowat twee eetlepels gesmelte botter om met die beskuitjiekrummels te meng sodat dit klam raak, aan mekaar vassit en teen die rant van die tertbak kan plak om die kors te vorm

Hoe lank dit neem:

  1. 5 minute voorbereidingstyd; 20 minute baktyd; heelnag wag-dat-dit-afkoel tyd.

Stap-vir-stap resep:

  1. Loer in jou oond en sorg dat dit, behalwe vir die oondrak, leeg is.  Maak die oondflap digtoe.  Draai jou oondknop na 180°C.  Die liggie gloei totdat die oond klaar opgewarm het.
  2. Smelt solank jou twee eetlepels botter op welke manier ook al.  Ek het myne in ‘n mikrogolfbakkie op laag vir ‘n paar sekondes gesit.
  3. Verkrummel amper al jou tennisbeskuitjies in jou mengbak (sit so twee of drie opsy).  Druk die beskuitjies een-vir-een fyn met jou hande en voeg die gesmelte botter so bietjies-bietjies by sodat die krummeltjies aan mekaar vassit.  Smeer dié sticky krummels teen die bodem van jou tertbak.  As jou botter opraak, smelt nog ‘n bietjie en voeg dit by die tennisbeskuitjiekrummels, en plak verder.
  4. Lek jou vingers af en vee jou krummelbak skoon.  Was jou hande vlugtig.  En droog af met jou vadoek.
  5. Maak die joghurthouer oop en gooi al die joghurt in jou krummelskoon mengbak.  Krap die laaste bietjie uit die joghurthouer met jou eetlepel.
  6. Maak die kondensmelkblikkie oop en gooi alles in die mengbak by die joghurt.
  7. Roer die joghurt-en-kondensmelk mengsel met jou eetlepel om en gooi dit dan uit in die tertbak op jou tennisbeskuitjiebotter-krummelkors.
  8. Breek nog ‘n laaste tennisbeskuitjie of twee (sonder botter) met jou vingers en sprinkel dit plek-plek bo-op jou joghurt-kondensmelk vulsel.
  9. Loer of die oond se warmteliggie al af is; maak die oond oop en sit jou tertbak vinnig daarbinne.  Flap die oonddeur toe en kyk op jou horlosie (of stel ‘n alarm) – dit moet net vir 20 minute bak.
  10. Ruim solank op: skep al die orige joghurt en kondensmelk uit en lek dit af, en pik tennisbeskuitjiekrummels vanaf jou werksoppervlakte met jou vinger op.  Spoel jou lepel af en mengbak uit, gooi die leë kondensmelkblikkie, joghurthouer en tennisbeskuitjiepakkie-plastiek weg.
  11. Ná twintig minute in die oond, maak die oondflap oop en haal, met jou vadoek om jou hande, die tertbak uit.  Sit dit op jou oond se plaat en laat dit oornag afkoel.  Moenie bekommerd wees as dit nog loperig is nie, die tert stol vinnig-vinnig soos dit afkoel.
  12. As die tert afgekoel het, kan jy dit in die yskas bêre as jy wil.  Sny jou tert met ‘n koekskepper en smul aan jou heerlike baksel.  Bedien met varsgemaalde koffie of jou gunsteling tee.

* * *

Terug by die onderwys:

As jy die resep hierbo stapsgewys navolg en ‘n heerlike joghurt-en-kondensmelk tert bak, die resep memoriseer en herhaaldelik foutloos uitvoer – het jy dan iets geléér?

Hm.

Ja, jy het tog nuwe kennis opgedoen wat jy kan toepas (instrumentele kennis), maar verstáán jy wát kondensmelk is, waar dit vandaan kom, hoekom dit saam met die joghurt stol as jy dit verhit/verkoel?

Kan jy afwyk van die resep en nuwe terte skep met appelliefies en eierwit-opgeklits bo-op?  Kan jy die resep vergelyk met ander en analiseer hoe dit van mekaar verskil en hoe om dit te verbeter?  Verstaan jy die chemie agter die karamelisering van suikerstroop?

Hm.

Uiteraard kan ‘n mens nie álles weet of onderrig nie, maar wat jy wel by hoërskoolleerders – en jouself – moet probeer kweek, is die nuuskierigheid om ‘n indiepte relasionele verstaan van vakinhoude te kry: om die raakpunte van huishoudkunde en natuurwetenskap/chemie te kan insien.

Te dikwels dualiseer ons ons werklikheidsbestaan van ons skoollewens; ons kook in die kombuis en doen chemie in die klaskamer – maar ons bring nooit die kloutjie by die oor nie.  Leerders slaag matriek sonder om te besef dat die twee iets met mekaar te doen het.

Onderwysers fokus ook só op hul vakinhoud dat hulle nie die leerders op hulle leef-en-begripsvlak ontmoet nie.  Huiswerk word eksamenvraagbeantwoording-resepte wat slaafs nagevolg en herhaaldelik ingeoefen word…  Op die ou end kry jy perfekte tertjies waaraan jy heerlik kan smul.  Maar jy wakker nie die eksperimenteringslus, die skeppingsdrang by leerders aan nie.

Wat ons eintlik wil hê, is leerders wat nuwe baksels kan skep en rondspeel en mors.

* * *

Daar is plek vir beide instrumentele (resep-) leer en relasionele (verstaan-) leer in die klaskamer.  Soms moet leerders flink en effektief ‘n balansstaat kan balanseer binne ‘n gegewe tydperk.  Maar kom ons gun leerders die geleentheid om na hartelus te kan bak en brou en skep en eksperimenteer in klaskamers, ingerig soos ‘n goed-toegeruste kombuis.

‘n Ruimte waar hulle kan leer deur fisies iets te dóén.  Waar hulle hulle eerstehandse ervaringsvelde kan laat strook met die nuwe kennis wat aan hulle onderrig word.  ‘n Klaskamer as ‘n wetenskapslaboratorium/kombuis.  Waar die les nie net as resep voorgehou word nie, maar waar die hoekom-vrae gevra word sodat leerders wíl wikipedia.

* * *

In ‘n kombuis het jy ‘n beperkte aantal veranderlikes (bestanddele, mengery, oondhitte, tyd) waarmee jy ‘n gewensde produk probeer verkry.  Die léér lê nie in die navolg van ‘n resep nie – dit lê in die rondspeel en flops, oplees en uitvra, en die weer probeer daarna.

Die assesseringsvraag is nie “Skryf die gememoriseerde resep stapsgewys neer” nie, maar “Bespreek watter resepte jy alles uitprobeer het en vertel hoekom dit gewerk/geflop het”.

Met die eerste vraag toets jy kennis; met die tweede vraag insig.

12 responses »

  1. “Lek jou vingers af en vee jou krummelbak skoon…”

    Hahahaha, ek hou van daai resep!

    Terloops: hoe was dit dan moontlik dat jy vir my kon aanbied om die laaste bietjie jogurt uit jou jogurtbak te eet as jou resep dan beveel: “Krap die laaste bietjie uit die joghurthouer met jou eetlepel.”😉

    Het jy nou al bietjie opgelees oor kondensmelk?

  2. hmm… jy moenie “kondensmelk” so hard hier noem nie! Hierdie resep klink heeeerlik! Ek koop so nou en dan vir my “squeezy” kondensmelk (amper soos Dirkie-kondensmelk)http://i30.twenga.com/3/tp/08/56/2458769352959980856.png
    Resepte werk ook goed as die kleintjies moet leer om instruksies te kan neerskryf (ahhh…hier’s nou net roomys voor my neergesit! yum!)in die regte volgorde. My Gr3’s in SA het altyd heerlike toebroodjies gemaak…alles van die huis afgebring, ek moet sê, party s’n wou ek liewer nie probeer proe nie, moes maar oë toeknyp en hoop ek lewe daarna nog!😆

  3. mnrmuller! as jy wil, probeer hierdie volgende yskastert..ongelukkig het ek nie die afmetings nie, jy moet maar dit uitprobeer om dit vas te stel, ‘n resep wat my een sus jare terug gemaak het vir my verjaarsdag, maar dis vrek! lekker!

    Gemmerkoekies
    Vanilla roomys (baie belangrik dat dit slegs vanilla is!)
    Sout grondboontjies…baie belangrik dat dit die gesoute grondboontjies moet wees
    Karamelkondensmelk
    botter/margarien

    1.Die gemmerkoekies word fynerig gemaak en dan smelt jy bietjie botter in ‘n kastrol en meng die krummels daarmee saam, druk dit in ‘n tertpan vir ‘n kors.
    2. “Smeer” karamelkondensmelk oor die kors – nie te dun lagie nie, na smaak, maar genoeg
    3. Roomys dan oor die kondensmelk – redelike dik lagie
    4. Strooi gesoute grondboontjies – na smaak – oor die roomys
    5. Plaas in vrieskas vir ‘n geruime tyd om te set… roomys mag dalk sag wees
    6. Plaas daarna in yskas…natuurlik gaan so ‘n tert feitlik dadelik opgeëet word. Jy sal nie glo hoe lekker hierdie tert is nie!
    7. LEKKER EET!!

  4. @Jo-Ann: ja-nee, ek moet miskien waarsku – dit is inderdaad stroopsoet; nooi dus genoeg mense dat elkeen net een stukkie hoef te geniet😉

    @Nikita: dankie, ja, my griep is beter. Ek’s ongelukkig allergies vir grondboontjies, maar sal amandelvlokkies in die plek probeer?

    @Francois: jip, ek het toe ‘n bietjie opgelees oor kondensmelk; dis fantasties dat jy ‘n geskiedenisles-staaltjie met ‘n tertresep en ‘n chemieles kan integreer. En ek vermoed ‘n onderwyser moet juis só klasgee; dan gebruik leerders verskillende sfere van hulle brein (en sintuie) om met ál hulle meervoudige intelligensies die nuwe goeta te onthou.

    @Nikita: dankie vir die websites!

  5. mnr muller, ek weet nie so mooi van die amandelvlokkies nie, probeer maar, dis jammer dat jy allergies is vir die soutgronboontjies. Laat weet hoe dit smaak. Ek sal ook nogal dit so wil probeer en dit wil vergelyk. Daardie laaste website is een van die links wat vir ons met ‘n “inligtingsessie” (wat hulle hier “opleiding” genoem het) gegee tydens die sessie oor filosofie-onderrig.

  6. Klink goed!
    (Toe my broer in die kleuterskool was, het hy eenkeer ‘n vorderingsverslag huis toe gebring met die woorde: “Hugo geniet bak en brou. Veral die resultate!”)

  7. daai tert resep werk net so goed as jy die oond skip en dit in die mikrogolf vir 5min op hoog insit! dis vreeslik lekker! verruklik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s