Monthly Archives: Augustus 2009

Kriteria vir studenteleierskapsontwikkelingsprogramme

Standaard

As deel van lastige werkgroep waarin ek is, moet ons kriteria ontwikkel vir die evaluering van bestaande studenteleierskapsontwikkelingsprogramme.  Help my asseblief om hieroor te dink.

Dis moeilik om kriteria daar te stel, omdat daar:

  1. verskillende opvattinge oor (die vorme van) leierskap (-style) en leierskapsontwikkeling bestaan;
  2. unieke behoeftes ten opsigte van studenteleierskap by ’n universiteit van Afrika-, Suid-Afrika en Stellenbosch is;
  3. verskillende verwagtinge is t.o.v. onderrigmetodiek en –beginsels;
  4. dikwels ‘n tekort aan kontinuïteit is wat veroorsaak dat programme eenmalig en ongekoördineerd aangebied word;
  5. ‘n diskripansie is tussen studenteleierskapsaktiwiteite en die akademiese omgewing waarin studente hulleself bevind.

Hierso is die vertrekpunte waaraan ek sover gedink het:

T.o.v. leierskap (en -vorme/-style) , voorsien die werkgroep dat onwikkelingsprogramme daarop gemik moet wees om:

  1. Waardegedrewe (teenoor reëlgedrewe) stelsels uit te bou,
  2. Intellektuele, refleksiewe (teenoor operasionele) leierskapsdenke uit te bou,
  3. Transformasionele, vernuwingsingestelde (teenoor behoudende, tradisievaste) denke te bevorder,
  4. Deelnemende, verteenwoordigende demokratiese (teenoor outokratiese) leierskap daar te stel, m.d.v. dat daar gefokus moet word op kiesersopleiding, en die op- en afwenteling van idees en gesprek;
  5. Diversiteit (insluitend gender) as ’n bate te ag en te integreer in leierskapstrukture (Eenheid deur diversiteit teenoor Eendrag maak mag),
  6. Ondanks big picture denke (soos visie/missie) ook praktiese, operasionele vaardighede te ontwikkel,
  7. Strategiese probleemoplossingsvaardighede, kreatiwiteit en laterale denke, tydsbestuur, vergaderingsprosedures, en takt deurlopend te ontwikkel, nie net in posisionele leierskapskontekste nie,
  8. Volhoubaarheid en “groen”-praktyke te bevorder,
  9. Etiese norme en standaarde daar te stel,
  10. Gesonde studentepret te bevorder;

T.o.v. die Stellenbosch en die groter Afrika-konteks, voorsien die werkgroep dat ontwikkelingsprogramme daarop gemik moet wees om:

  1. Aansluiting te vind by die huidige universiteitsdoelwitte (Oorhoofse Strategiese Plan), asook diversiteitsmikpunte en uitdagings rondom taal en fasiliteite, en cluster-inisiatiewe en mikpunte rondom akademiese sukseskoerse,
  2. Studente te bemagtig om verteenwoordigend deel te neem aan gesprekke op verskillende vlakke (universiteits-, munisipale- (bv polisiegemeenskapsforum), nasionale- en internasionale komitees),
  3. Leiers toe te rus met die kennis, vaardighede en waardes om uit te bou op die huidige (unieke) sterkpunte van Universiteit Stellenbosch (soos Sêr en Vensters) en dit as voertuig te gebruik om die Universiteit mee te bemark,
  4. Studente bloot te stel aan ander leierskapstelsels buite Stellenbosch, nasionaal en internasionaal;

T.o.v. onderrigmetodiek en –beginsels, ondersteun die werkgroep die huidige wetenskaplik-aanvaarde pedagogie van:

  1. Sosiaal-konstruktivistiese en konnektivistiese leerteorieë  (Learning is seen as the process by which individuals are introduced to a culture by more skilled members”(Driver et al., 1994).  The teacher acts as a facilitator who encourages students to discover principles for themselves and to construct knowledge by working to solve realistic problems. Aspects of constructivism can be found in self-directed learning, transformational learning,experiential learning, situated cognition, and reflective practice.),
  2. Die formulering van kritieke en spesifieke uitkomste,
  3. Ervaring- en taakgerigte leer, refleksie en fasilitering van gesprekke tussen eweknieë (teenoor die magskennis wat by een lektor gesetel is wat in lesingformaat inligting oordra aan die minderwetende studente),
  4. ’n  Fokus op die volle spektrum van “leer”, by name – volgens Bloom se taksonomie: Kennis, Begrip, Toepassing, Analise, Sintese en Evaluering, en volgens die uitkomste-formulerings van kennis, vaardighede en waardes (teenoor slegs die oordrag van kennis),
  5. Heelbrein onderrig (wat meervoudige intelligensies, persoonlikheidstipes, unieke behoeftes (bv. gesig- of gehoorgestremdheid) e.d.m.) in ag neem met die opstel van (’n verskeidenheid van) leermateriaal,
  6. Modulêre aanbieding van leierskapsinhoud, hoofsaaklik in kleingroep-besprekings, met verdure inligting beskikbaar op ’n web 2.0 platform;

T.o.v. gehalteversekering, is dit nodig dat:

  1. Stelsels vir selfevaluering en benchmarking in plek gestel is/word om te verseker dat ontwikkelingsprogramme volhoubaar, gekoördineerd en aanvullend aangebied word;
  2. Voortdurende vernuwing en navorsing oor die onderwerp gedoen word, t.o.v. die leerprogram as losstaande entiteit, maar ook in samehang met ander bestaande programme om vas te stel of die spesifieke en generiese uitkomstes bereik word,
  3. Studente- en Fasiliteerder-terugvoer ingewin en verwerk word vir elke formele opleidingsgeleentheid,
  4. Wetenskaplike verslagdoening oor allerlei leierskapsaktiwiteite gedoen word, sowel as ’n evaluering/nabetragting van die effek van die leierskapsprogramme, maar ook die leiding wat geneem is, posisioneel en nie-posisioneel,
  5. Deelnemers aan die leierskapsontwikkelingsprogramme getrack word ná hulle universiteitstudies, enersyds om latere terugvoer in te win, en/of andersyds om hulle in te span as fasiliteerders in die toekoms,
  6. Volhoubaarheid, kontinuïteit en wetenskaplike verslagdoening aktief ingebou word in elke leierskapsontwikkelingprogram op só ’n manier dat dit oop en deursigtig is vir befondsers,  fasiliteerders en deelnemers,
  7. Finansiële volhoubaarheid en begrotingsmodelle duidelik uiteengesit word, sowel as die personeel om dit te monitor en te bestuur,
  8. Leierskapsontwikkelingsprogramme sover as moontlik gesertifiseerd moet wees.

* * *

Help my asseblief deur verder hieroor na te dink.  Watter kriteria sou jy daarstel om die sukses/tekort aan sukses van bestaande studenteleierskapsprogramme mee te evalueer?

Advertisements