Woer jy op jou woek of post jy op jou blog? Wanneer transleer jy swak en wanneer assimileer jy twak? En is daar enige meriete in die Taaldebat?

Standard

In ‘n vorige post vat my lesers mekaar aan oor hulle woordgebruik.  Die een sê die woord “woer” moet in sy moer in vlieg.

Self voel ek ambivalent oor al die vertalings wat Jan Internet aanpak: Oornag het my Facebook in ‘n boer verander en vandag praat my WordPress ook Afrikaans.

Die ding is vertaalkuns is maar moeilik.

Elke Jan Rap en sy google kan nie sonder meer frases oorplaas in ‘n ander taal deur net losstaande woorde te wil vertaal nie; jy verg ‘n vaardige fundi wat ‘n idee soomloos kan vertolk.

* * *

Ook in die akademie sukkel mense met die skep van behoorlike vaktaal-terminologie.  Computer jargon klink weird en fake in Afrikaans: Dubbel-klik met jou regtermuisknoppie op die Vensters-ikoon.  Ugh.

So, hoe gemaak met internetjoernalistiekterminologie?  Skep jy nuwes of copy en paste jy die Engelse woord?  Tik jy dit in italics?  Hm.  My voorkeur is dat jy ‘n nuwe post pos op jou blog.

* * *

Wanneer ek langs die Strand se kuslyn wandel, grief dit my telkens as ek die nuwe woonstelblokke se name lees: Topaz, Hibernian Towers, ens.  Ek sou die groot blou-gebou so graag wou Bloublasie noem en die groene Khula Khaya (khula = groei/vry wees en khaya = huis/tuiste).  Tsk.

* * *

Ek dink die truuk is om ‘n bietjie nederlands te gaan oplees om waarlik briljante neologismes te kan skep.  Oerwoorde wat ons al vaagweg verloor het, opdiep en heraanwend.

* * *

Uiteraard is ek ‘n voorstaander van die T-opsie: ek glo meertaligheid bevorder begrip.

10 responses »

  1. Taal word die deur die taalkundiges ontwikkel nie. Dit word ontwikkel deur diegene wat dit praat. Dis met ander woorde deel van die kultuurmeganisme. As X ‘n nuwe woord begin gebruik en dit raak in algemene gebruik dan word dit uiteindlik deel van die taal. As Y ‘n ander woord gebruik maar niemand gebruik dit nie raak dit mettertyd vergete. Die taalkundes kan die ontwikkel bestudeer en hul woordeboeke aanpas daarby. Dis al.

  2. Ek is nou nie vreeslike taalkundige nie, en my een klas in Stellenbosch se Unv gaan my definitief nie ‘n doktorsgraad gee nie, maar is dit nie maar soos taal ontwikkel nie. Dit is tog lewendige ding. Laat my dink aan Belgiese vriendin van familie was as tiener uit Oostend na die destydse Belgiese Kongo getrek het saam met haar ouers en later na SA. Sy het so 10 jaat terug vir die eerste keer weer terug gekeer na Belgie om met skok te ontdek dat die Vlaams wat sy praat is so verouderd dat die mense vir haar gelag het. Dit is seker maar bewys dat tale wel leef en groei soos tye aanstap.

  3. Ek wonder dikwels hoe mense met net een taal oor die weg kan kom.

    Ek probeer se ver as moontlik in Afrikaans te skryf. As ek nie die regte Afrikaanse woord kan kry nie, gebruik ek eerder ‘n Engelse woord as om dit te probeer verafrikaans.

  4. flippiefanus en Rustig: Dis waar dat tale lewe en verander op grond van hoe mense dit gebruik. Sekere woorde klink egter net regtig sleg in die konteks wat sommige mense dit probeer gebruik. Dis veral wanneer mense neologismes van ander tale probeer forseer-vertaal volgens dieselfde reels waarmee die oorspronklike woord geskep is. Ek dink ook die woorde “woer” en “woek” is ‘n goeie voorbeelde hiervan.

    Dis ‘n natuurlike sprong vanaf “web log” tot “blog”, en die kern idee word behou. Dieselfde geld egter nie vir “web joernaal” na “woernaal” na “woer”, of vir “web logboek” / “web dagboek” na “woek” nie. Dis geforseer en klink gald nie reg of natuurlik nie en verloor die kern idee.

    Daar is juis verskeie kreatiewe metodes om nuwe woorde uit te dink sodat dit goed klink en pas en selfs onmiddelik verstaanbaar is, en fundi’s kan hier ‘n belangrike rol speel. Persoonlik dink ek Mnr. Muller is so ‘n fundi, want ek het al vele spitsvondige neologismes uit sy pen sien vloei. “Vonkpos” is een so ‘n woord waarvan ek baie hou. Dalk kan hy vir ons ‘n blogles gee oor die metodes wat hy inspan?

    Ek dink ook dis besonders moeilik om goeie Afrikaanse vertalings te vind/skep vir die menigdom Engelse neologismes. Juis daarom moet dit sekerlik met groot versigtigheid aangepak word.

    Vir blog-verwante woorde het ons natuurlik alreeds goeie Afrikaanse woorde waarvoor ons nie neologismes nodig het nie. Hier is ‘n lys van vertalings uit die woordeboek:

    “log” (noun):
    dagboek
    joernaal
    opgawe
    logboek

    “log” (verb):
    opskryf
    aanteken

    “post” (verb):
    plaas

    “entry” (noun):
    inskrywing
    aantekening

    Sonder nuutskeppings kan ons ‘n inskrywing/aantekening plaas/maak in ons web dagboeke of web joernale. Die woorde “dagboek” en “joernaal” is alreeds so lank, dat dit glad nie moeisaam is om ‘n kortetjie soos “web” by te voeg nie. Ek verkies dit eerder as om ‘n verkorting daarvoor te forseer en so die betekenis te verloor. Aangesien “logboek” alreeds aanvaarde Afrikaans is, dink ek dat “blog” ook natuurlik as leenwoord aangeneem kan/sal word. “Blogboek” werk nie, want dit is ‘n blog wat in boekvorm gedruk is.

  5. Ek hou van nuwe skeppings, maar anglisisme is ‘n pyn, dan verkies ek ‘n nuutgeskepte woord, maar dit moet sinvol wees en nie belaglik klink nie. In die 80’s en vroee 90’s (nie seker presies wanneer nie) was woorde soos engagement/pavement/important ens. uitgespreek in sy Afrikaanse vorm…duh…suiwer Afrikaans dan eerder as ‘n gek maak van jouself.

  6. oor afrikaanse rekenaar terminologie…

    aanvanklik was ek heeltemal onkant gevang toe ek sien die rekenaarhandboeke waaruit ek moes klasgee gebruik amper alleenlik afrikaanse terme – my hele lewe voor dit het ek rekenaars gepraat met engelse terminologie…

    SVE het net nie vir my sin gemaak as ek van die CPU wil praat nie, ens.

    maar ek was ingegooi in ‘n situasie waar daar van my verwag is om puristies, sover moontlik, suiwer afrikaans te gebruik en is as ‘t ware forseer om van die terme ‘teen my sin’ te begin gebruik…

    die verbasende ding is, paar jaar later, klink dit glad nie meer so vreemd nie

    nou kan die kinders maar “kopieer en plak” en op die “kruisie ikoon op die vertoonbalk klik”

    So al sal ek nog grootliks in engelse rekenaar terme dink en dit in persoonlike kapasiteit gebruik – is ek ook so deels beter instaat om die afrikaanse vreemde terme te benut waar benodig.

    Maar nou die dag was dit net een stap te ver gevat…

    …iemand roep my en vra om hulp met sy persoonlike laptop (hy spesifiek voel die term “skoothondjie” is van pas as vertaling vir laptop – korrek, nie skootrekenaar nie, maar hondjie)

    maar die ‘skoothondjie’ is nie nou die punt nie –
    dit wat my heeltemal van stryk gebring het, was dat toe ek by sy laptop kom, sien ek sy ‘Vensters’ is met die ‘Afrikaanse Vensters Taalpakket gelaai’.

    alles van Windows is in afrikaans… soos in ALLES…

    vir jare lank click ek instinktief en blitsig op control panel se settings as ek vinnig iets wil verstel of regmaak…

    ..maar o wee – dinge lyk omtrent _grieks_ as dit skielik alles in afrikaans is😛

    na so 2 minute het ek myself (kamma) vererg en gesê hy kan my weer roep om te help na hy sy windows terug op engels gestel het…

    dog dit is ‘n interessante staaltjie, gepas op die onderwerp🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s