Monthly Archives: November 2009

mnr.muller op Litnet, sien ek

Standaard

Ek sien ek pryk op ‘n foto by LitNet: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=68462&cat_id=254

Kyk of jy my kan vind tussen al die hooggeplaasdes en edele profete!

Advertisements

Die ou oom wat rokerig sit in die hoek van die kroeg

Standaard

ardbeg whiskyBy die onlangse whiskyfees in Kaapstad het ek weer oudergewoonte whiskies van regoor die wêreld geproe.

Dit was heerlik.

My gunsteling tipe whisky is dié wat rokerig proe, soos iemand een keer beskryf het: Weighty and pungent. Big, dark peat notes and creosote. Almost like a burning tire, extinguished with powerful sea spray.

Ek hou daarvan om te sê dat jy die “ou oom in die hoek van die kroeg” moet kan proe.

Die mees rokerige, oftewel peaty whisky op die mark is Ardbeg.  Dis my gunsteling.

Ander whiskies kan heuningrige, blommerige, neuterige, medisynerige of kruierige smake hê, maar ek hou van my verbrande modder.

Drink jy whisky?  En indien wel, watter is jou gunsteling?

Die pa wys na my en sê: “Kyk die snaakse oom! Kyk, hy is ook bang vir die water.”

Standaard

Ek dink om ‘n goeie onderwyser te wees, moet jy kan connect met ‘n kind op sy/haar vlak.

So stap ek nog op die strand, moeg en warm van balgooi vir ‘n paaltjiewagterknaap, verby ‘n pa met ‘n peuter wat skree.  Hy probeer sy bes.  Paai sy dogtertjie wat om die dood toe nie met haar voete aan die watermassa wil raak nie.

Laat los hy; laat spaander sy: hulle mossel aan mekaar vas.

Ek kyk en besluit hier moet ek help!

* * *

Stadig sluipvoet ek oordrewe nader aan die terugtrekkende brander, sodat sy nie anders kan as om na my te kyk nie.

Nes die volgende brandertjie beginne breek, draai ek beangs om en hardloop met slow motion trekke op my gesig wég van die dreigende gevaar!

Die dogtertjie lag!

Ek frons en loer wantrouig die brander agterna.  Sy kyk hom ook, stip.

Soos die skuimerige waterslym slu terugtrek, mimiekvoet ek wéér sluip-sluip agterna, nuuskierig…

Maar die oomblik toe die volgende spoegbrander breek, rukbewe ek, vries verskrik botstil – en draai weer volspoed bitterstadig om, met hoë knieë en bang treë stadig volspoed sagtesand se kant toe.  Sjoe!

Die dogtertjie skater!

Reg, ek het geconnect.  Nou vir die les.

Ek frommel my gesig in ‘n duisend plooie.  Asem ‘n mond vol Wolraad Woltemade in.  Stap met reghoekige elmboë swaaiend bo my ken.  Dawerend die noodlot trompop tegemoet!  Basta met bangwees!

Dapper kyk sy agterna hoe ek dapper haar vrees invaar, en klou dapper aan haar dapper pappa se hand.

Haar pa hou sy asem op.

Sy kyk my na.

Selfs omstanders staan stil.

En soos die witskuim rol, draai ek amper-amper om – ek weet sy weet ek wil weg, maar ek weet sy weet ek moet in – en wrik waagmoedig terug.  (Pot)sierlik – net-net vroegbetyds enkelhoog op SPRING ek – met ‘n glimlag breed soos dié van ‘n nar – …en land pabloems! in die water, mond waterwyd oop!

Sy is verstom!

En tóé begin ek dáns soos ‘n watermakranka en spat-spot rond-en-grond in die water.  Haai, haai, joegaai!  Luidrugtig gaan ek tekere sonder om ‘n klank te maak. 

Sy is oorstelp!  In haar -g-a-n-s-e- lewe het sy nog nooit so iets gesien nie.  Maar die punt is, sy glo die leuen.  Sy glo die les.  Van oor-tot-oor glo sy my.  As hierdie snaakse omie kan…

Ek glimlag breed en groet gul, sonder ‘n woord.

* * *

En ná ‘n paar treë se aanstap, netmooi ver genoeg dat ek weet hulle my nie meer sou nástaar nie, loerkyk ek vir ‘n oomblik om:

Die krulletjieskopkind los haar pa se hand…  beur braaf-braaf branders toe… en spring pabloems! die bangmaakwater plat!

Pappa voel-soek in sy sakke, kry sy selfoon en neem ‘n klinkklare kiekie van sy klein waternimf: hoe sy verspot, met hoë harlekynknieë, in die water dans!

Hy skud sy kop.

Sy lag.

En ek stap rustig aan.

Op voetsoolvlak sonder ’n taal met ’n krieketbal in die wolke

Standaard

Sondag in die natsand wandel ek toe voetsoolvlak langs die see. Alleen tussen skares strandsambreel-baaikostuum mense.

Begin somer.

Ek mis ‘n tennisbal in my hand en my ouer broers en suster hardlopend op die strand. Só sou ons balgooi en -vang en aspris-aspris mekaar injaag met tergende gooie kniedieper die see in. Destyds.

Sug. En dis hoeka laaggety: Hardloopspasie so wyd soos ‘n kind se bravade.

* * *

Maar toe, terwyl ek nog terugverlang, en asof in ‘n droom, stap ek wragtig verby ‘n kind met wicket keeping gloves aan en twee dieprooi krieketballe! EN niemand om dit vir hom te gooi nie!

Die kind is raadop, maar ek is voorop en skimp-wink vir ‘n bal; hy gee albei. Ek draai na sy ma en hou ‘n bal vraend in die lug; sy knik, al te verlig.  (Sy speel met twee jonger kinders in die vlak water.  Pa dobber in die diepsee.)

En só begin dit toe!

Ek beduie bietjie terug; hy draf agtertoe. Ek wys opwaarts; hy knak sy knieë. Ek slinger die bal met ‘n boog in die lug, en hy steier flink en doelgerig terug.

So hoog het hy waarskynlik nog nooit ‘n bal moes vang nie – onthou, ek het ‘n goed-geoefende rocket launch aksie.  Die rooi spikkel verdwyn oor ‘n seemeeu se rug bokant die son en val soos ‘n meteoriet vuurwarm uit die hemellug.

Sy oë op die bal; my oë op sy hande. Vasgenael. Kaplaks!

Ek klap my hande gelukwensend; hy glimlag breed en rol die bal terug. Skud sy hande.

Heen en weer hardloop hy; sy ma loer soms om en cheer hom aan as hy naby kom. Dán ‘n paar vinnige inskieters wat – ek weet – selfs deur die handskoene brand, gevolg deur ‘n paar hoë catches, en ene waarvoor jy moet omdraai, hardloop en oor jou kop moet vang; dan op die sagte sand sodat jy kan duik.

Uiteindelik groet ons; albei glimlaggend moeg.

En sonder ‘n enkele woord gewissel, sê ons totsiens.