Op voetsoolvlak sonder ’n taal met ’n krieketbal in die wolke

Standard

Sondag in die natsand wandel ek toe voetsoolvlak langs die see. Alleen tussen skares strandsambreel-baaikostuum mense.

Begin somer.

Ek mis ‘n tennisbal in my hand en my ouer broers en suster hardlopend op die strand. Só sou ons balgooi en -vang en aspris-aspris mekaar injaag met tergende gooie kniedieper die see in. Destyds.

Sug. En dis hoeka laaggety: Hardloopspasie so wyd soos ‘n kind se bravade.

* * *

Maar toe, terwyl ek nog terugverlang, en asof in ‘n droom, stap ek wragtig verby ‘n kind met wicket keeping gloves aan en twee dieprooi krieketballe! EN niemand om dit vir hom te gooi nie!

Die kind is raadop, maar ek is voorop en skimp-wink vir ‘n bal; hy gee albei. Ek draai na sy ma en hou ‘n bal vraend in die lug; sy knik, al te verlig.  (Sy speel met twee jonger kinders in die vlak water.  Pa dobber in die diepsee.)

En só begin dit toe!

Ek beduie bietjie terug; hy draf agtertoe. Ek wys opwaarts; hy knak sy knieë. Ek slinger die bal met ‘n boog in die lug, en hy steier flink en doelgerig terug.

So hoog het hy waarskynlik nog nooit ‘n bal moes vang nie – onthou, ek het ‘n goed-geoefende rocket launch aksie.  Die rooi spikkel verdwyn oor ‘n seemeeu se rug bokant die son en val soos ‘n meteoriet vuurwarm uit die hemellug.

Sy oë op die bal; my oë op sy hande. Vasgenael. Kaplaks!

Ek klap my hande gelukwensend; hy glimlag breed en rol die bal terug. Skud sy hande.

Heen en weer hardloop hy; sy ma loer soms om en cheer hom aan as hy naby kom. Dán ‘n paar vinnige inskieters wat – ek weet – selfs deur die handskoene brand, gevolg deur ‘n paar hoë catches, en ene waarvoor jy moet omdraai, hardloop en oor jou kop moet vang; dan op die sagte sand sodat jy kan duik.

Uiteindelik groet ons; albei glimlaggend moeg.

En sonder ‘n enkele woord gewissel, sê ons totsiens.

13 responses »

  1. Laat my dink aan my laasweek se gewonder…. oor hoe jy somtyds, sonder besef, iemand se “Beginning of the month Salticrax” kan wees. Jy het verseker daardie kind se dag gemaak, en hy gaan dit vir lank onthou. Onvoorwaardelik gee, bly die beste gee.

  2. Wow, mnr muller, ek is sprakeloos. Het pas “Die stoetmeester” van Etienne van Heerden klaar gelees, en dit voel of jy naas hom kan staan. Jou waarneming en beskrywing weergaloos.

  3. Ok, “sonder weerga” is seker bietjie oordrewe😉 – dit terwyl ek jou wel met ‘n meester vergelyk!
    Ek het dadelik in die woordeboek gaan kyk en het toe besef ek weerspreek myself met my Oubasiaanse argaïese uitdrukking.
    Nietemin en desnieteenstaande dink ek jy kan hierdie skrywe van jou onderteken en dit aan EvH oorhandig volgende keer as daar prysuitdeling is – dalk moet ons bietjie vroeër gaan en ‘n paar pleknaamkaartjies omruil sodat ons saam met hom aan die tafel sit as hy die prys vir “30 nagte in Amsterdam” kry.
    Ja🙂

  4. Hel, ek is seker ek het vroeër gecomment❓
    Dalk lê ek in die modderpoel…..

    Elk geval, ek glo die outjie gaan dit vir lank onthou. Ek het laas week in ‘n post oor die ding gewonder…. oor hoe lekker dit is om sonder enige voorwaardes iemand se “Beginning of the month salticrax” te kan wees.

  5. Moet sê my rug is seer vanmôre, hehe, en my skouer styf.

    Dankie @estelleke vir jou kompliment🙂 en @demoerin: ek weet nie hoekom WordPress nie jou eerste comment gegryp het nie; dis vreemd.

    Hm, ek weet darem nie of hy my sal onthou nie – maar ek wéét hy het lekker moeg gaan slaap daai aand, hehe.

  6. Pingback: Die pa wys na my en sê: “Kyk die snaakse oom! Kyk, hy is ook bang vir die water.” « mnr.muller

  7. Dis baie sweet van jou om dit te gedoen het! Ek dink daardie kind sal jou onthou en die ma is jou seker ewig dankbaar. Ek kan net dink wat aan die pa vertel is toe sy pa weer by hom kom. ‘n Baie goeie beskrywing, slegs die gebeure en dan boonop het jy my laat terugverlang toe my een oom altyd met ons “krieket” op die plaas – sommer in die geploegde lande! – gespeel het en hy kon juis ‘n bal so ver weg slaan dat jy sommer in die lang grasse (wat die lande geskei het) soms moes gaan soek het. En, boonop laat jy verlang na die strand – in hierdie grou weer diekant!🙂

  8. Halfpad deur jou storie het ek ‘n ruggraatrilling ervaar soos ek in afwagting, met skeefgetrekte gesig, myself voorberei het vir die deel waar die rotsharde krieketbal, na een van daai wolk-raak hoë gooie, op die borrelende, niksvermoedende kind se kop neerplons! Tranedal en ouers wat aangehardloop kom.

    …en jy dan onverpoos troosting en afleiding moet uitdeel met nargesigte, heh

    hey, dalk kan jy daai deel inwerk?
    onthou dat die waarheid nooit in die pad moet staan van ‘n goeie storie nie -g-

    Maar ja, mooi storie – soos in ander comment genoem, jy benodig nog 100 van hulle en dan kan jy gerus dit publiseer🙂

    @ Sonkind – tipies kind sou hy waarskynlik amper vergeet het later die aand, net na sy ma vir hom ‘n draairoomys gekoop het😛

    @ Xena Phoenix – dit is omdat mnr.muller gereeld ter harte eintlik nog self ‘n kind is, ten spyte van die bles😛

    @ tannie estelleke – hmmm Stoetmeester is nog in my boekrak, onoopgemaak:/ Maar al ken ek hom nie op die tip van my tong nie, klink dit voorwaar na ‘n groot kompliment… tensy jy eintlik net bedoel hy het by LitNet vir 2 sekondes langs hom gestaan?😛

    @ Nikita – Nou laat jy my ook sommer terug dink na kinderdae… laat mnr.muller jou vertel hoe baie ons al krieket(tennis)balle moes soek tussen lang ru gras en kaktusse!
    (hmmm of wag, was dit meestal ek wat skrape opgedoen het terwyl hy net gekyk het)

  9. errr oops

    R-za = R/L

    (mens raak deurmekaar as mens verskillende vreemde kriptiese afkortings as pseudoniem op verskillende plekke gebruik)

  10. (sjoe, terug gekry in my browser cache – te lui om dit weer te moes tik)

    Halfpad deur jou storie het ek ‘n ruggraatrilling ervaar soos ek in afwagting, met skeefgetrekte gesig, myself voorberei het vir die deel waar die rotsharde krieketbal, na een van daai wolk-raak hoë gooie, op die borrelende, niksvermoedende kind se kop neerplons! Tranedal en ouers wat aangehardloop kom.

    …en jy dan onverpoos troosting en afleiding moet uitdeel met nargesigte, heh

    hey, dalk kan jy daai deel inwerk?
    onthou dat die waarheid nooit in die pad moet staan van ‘n goeie storie nie -g-

    Maar ja, mooi storie – soos in ander comment genoem, jy benodig nog 100 van hulle en dan kan jy gerus dit publiseer🙂

    @ Sonkind – tipies kind sou hy waarskynlik amper vergeet het later die aand, net na sy ma vir hom ‘n draairoomys gekoop het😛

    @ Xena Phoenix – dit is omdat mnr.muller gereeld ter harte eintlik nog self ‘n kind is, ten spyte van die bles😛

    @ tannie estelleke – hmmm Stoetmeester is nog in my boekrak, onoopgemaak:/ Maar al ken ek hom nie op die tip van my tong nie, klink dit voorwaar na ‘n groot kompliment… tensy jy eintlik net bedoel hy het by LitNet vir 2 sekondes langs hom gestaan?😛

    @ Nikita – Nou laat jy my ook sommer terug dink na kinderdae… laat mnr.muller jou vertel hoe baie ons al krieket(tennis)balle moes soek tussen lang ru gras en kaktusse!
    (hmmm of wag, was dit meestal ek wat skrape opgedoen het terwyl hy net gekyk het)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s