In die aande het ’n kaalkop-bebaarde senior met ’n piksteel deur die gange gestap

Standard

Toe ek as eerstejaar by my universiteitskoshuis aangekom het, is my ouers met gul glimlagte begroet deur skyn-vriendelike huiskomiteelede (dertien verkose inwoners van die koshuis, meestal derde- en vierdejaars).

Diegene wat kon, het baarde oor die Desember-vakansie gegroei.  En die oomblik toe die ouers weg is, het hulle in nors karakters verander wat die eerstejaars laat afkyk, rondmasjeer en vir lang ure in die son staan.

Ons moes elke HK-lid “Meneer” noem, met ‘n rympie wat soms gegroei het tot “Meneer Gees-en-Deelname Van den Bergh” of “Meneer Beheer, Ons Onderprimarius, Meneer Olivier”, ens.  Ons is op ons beurt afgejak as “jarre” en moes onsinnige takies verrig tot die HK se plesier.

Soos die oriënteringsweek verbygesloer het, het die HK ons emosioneel en fisies afgebreek en strategies dag-vir-dag weer psigies opgebou.  Lateraan het die eerstejaars perfek geslow-march oor die quad en netjies in gelid gemasjeer en luid geroep “Alles vir die Huis” terwyl ons met ons vuiste teen ons borskaste slaan.

Daar is geskakel met die een vrouekoshuis ná die ander, in ‘n haarfyn-uitgewerkte program waarvan die jarre net-net betyds ingelig is om betyds te kon spoedstap na die volgende ontmoetingsplek wat uitgestip was.  Ons het danspassies en krete geoefen vir JOOL-aktiwiteite; ons het langs die atletiekbaan en swembad geskree.  Trots.

In die aande het ‘n kaalkop-bebaarde senior met ‘n piksteel deur die gange gestap.  Op die boonste vloer het hulle groot klippe gerol wat druisend weergalm het bo ons koppe.  Ons moes met oop deure slaap en in koue water stort.  Elke dag “dagdrag” dra: langbroeke en netjiese hemde in ‘n snikhete son.  Die gange het geruik na stink sokkies.

Heen-en-weer het twee dooplieutenante geloop en vir ure aaneen geprewel dat ons “karakter, styl en trots” moes hê.  Dat ons die gentlemen-koshuis is.  Hoe die wasmasjiene werk.  Refreine wat herhaal terwyl die eerstejaars moeg afkyk.  Nou-en-dan het iemand flou geval van die hitte.

Toe die seniors terugkom, het hulle geskree: “Jar, jou lewer is myne!”

* * *

Die jaar daarop is ek self as HK-lid verkies; my hare is afgeskeer – en op die laaste dag van die HK-kamp het die prim en onderprim die res van die huiskomitee ingelyf: klere uitgetrek, met visaas bestrooi, knoffel laat eet, op ‘n verlate parkeerterrein afgelaai, met duct tape vasgebind aan mekaar, twaalf houe elk met ‘n stuk pyp toegedien, en in die yskoue reën gelos.

In die donker het ons terug gestrompel, met stroop klewend tussen ons bene, en eiers, meel, aas en modder oor ons lywe.

Karakter, styl en kots.

* * *

Die jaar daarop was ek weer in die HK, saam met drie behoudende oud-HK-lede wat besluit het dié HK-inlywing moes voort.  Teësinnig staan ek toe met ‘n tuinslangpyp voor bukkende, vuilgesmeerde HK-lede.  Waansin.

* * *

Eers in my derde termyn kon ek dié onsinnigheid stopsit – en heel naweek oop en gemoedelik met die nuwe HK-lede kamp, sonder intimidasie of magspel.  Ons het die junior HK-lede gelykwaardig behandel.  Ons was vriendelik.

Vir die eerstejaars het ons op die naam begin noem; hulle welkom laat voel, laat sit in die skadu op die gras terwyl ons hulle staaltjies vertel en aanmoedig om mekaar uit te daag en vir mekaar om te gee.

Met opset het ons die doopkaptein-idee laat vaar – en elke aspek wat herinner het aan weermagpraktyke geskrap.

* * *

Want, het ek gereken: ons wil nie fikse enersdenkende soldate of flukse onbevraagtekende slawe oplei nie, maar kritiese, kreatiewe individue by ons koshuis verwelkom – wat hulle sê kan sê en inisiatief kan neem.

* * *

Ek onthou ‘n mede-HK-lid van my eerste termyn wat my berispe het: Moenie vriende maak met die jarre nie, ou – hulle is nie ons speelmaats nie.  Hulle gaan oor jou lóóp.

Hulle het nie.

Inteendeel, die eerstejaars vir wie ons vriendelik en gasvry ontvang het, en medemenslik behandel het – hulle het veel langer in die koshuis gebly, méér vir kampus gedoen en beter vriende van my geword as diegene wat moes afkyk terwyl ‘n HK-lid met hulle praat.

Waar my mede-HK-lede “jarre met kersgat houdings” gesien het, het ek ons toekomstige kampusleiers gesien.

* * *

“Ons wil nie die beste koshuis op kampus wees nie,” het die HK begin sê, “maar die beste koshuis vir kampus”.

* * *

Gister het ek weer ingeloer by my oudkoshuis.

Die eerstejaars wat leiers geword het, is nou uit.  Dis reeds drie generasies later.

Die jarre staan weer in drie rye, roep luidkeels “Meneer dit en dat” vir elke senior wat verbykom; die HK-lede is bebaard en glimlag nie.

Die eerstejaars lyk onseker en loer af ondertoe, hulle langmouklere natgesweet.

* * *

Ons is terug in die 1990’s, dink ek.

En sug.

46 responses »

  1. Dis nogal hartseer om toe te kyk, wanneer jy waarlik iets ten goede verander het, hoe dinge weer verval in jou afwesigheid. Daardie outjies het natuurlik die voorbeeld van ander koshuise weer begin volg, omdat hulle niemand gehad het wat hulle kon aanmoedig om op die goeie pad te bly nie. Ten minste kan jy vertroosting vind in die enkelinge wat jy wel kon red.

    Jy bring gereeld die konsep van kontinuïteit na vore, maar het enigiemand al ‘n goeie strategie uitgedink om kontinuïteit te behou in enige gegewe situasie? Ek vermoed dat ‘n groot faktor is die mate waartoe mense inkoop in ‘n idee of idealisme. Dalk moet jy meer passievol wees in jou oortuiging, soos ‘n predikant. ;>

    Of meer prakties/sinvol: dalk moes dit opgeskryf geword het in die koshuis se grondwet (waarvoor almal dus doelbewus moes instem).

  2. Ek worstel self met hierdie een. En meer nog oor of daar institusionele inmenging moet wees.

    Uiteindelik wonder ek miskien die meeste oor of ‘n gasvrye benadering te min dwang en hierargie bevat om homself te kan aanhou voortplant. Entropie en al daai.

    Sug

  3. Ek vermoed ‘n koshuishoof is in ‘n posisie om kontinuïteit te bewerkstellig.

    Gister het my HK gewroeg omdat hulle eerstejaars, met wie hulle luidkeels saam lag, onbeskof begin raak het en billike versoeke botweg geïgnoreer het (soos om ‘n leë kospakkie behoorlik in ‘n vullisdrom weg te gooi).

    Die versoeking was daar om hulle gesag te begin afdwing; die hiërargie te beklemtoon. Luidkeels te gil.

    Dis toe dat ek die eerstejaars eenkant gevat het, in ‘n halfsirkel laat sit het, en oop en eerlik met hulle gepraat het.

    Vanuit my perspektief, is dit bloot menslik om ná drie dae se intense inspanning kriewelrig te raak (of jy nou ‘n HK-lid is, of ‘n eerstejaar). Op die derde dag staan jy moeiliker op in die oggend. Ná drie dae se saam lag, voel dit vir jou of jou insette ook van nut kan wees – en voer jy opdragte minder outomaties uit.

    Dis dán wat ‘n inwonende hoof almal kan moed in praat, konteks kan bied en kan uitdaag om te volhard.

    @kobuse: Ek glo die instelling moet ingryp. Studente is ons belangrikste bate; ons kan nie hulle laat verskree nie – die deur mede-studente óf dosente nie. Ook kan ons hulle nie stresvry laat float nie; ons moet hulle uitdaag.

    @Francois C: Die manier waarop leiers van ‘n omgewing, nuwelinge hanteer, moet inderdaad in ‘n etos vervat word, maar of die etos nagevolg word, moet gemonitor word. In te veel “normale” omgewings, selfs binne ‘n stabiele demokrasie, word daar verval in ‘n gesag-hiërargie: dikwels met die beste bedoelinge.

  4. Amen, en sug. (“,en eiers,”).

    Ek gee op – laat hulle maar aanploeter en verniel volgens hul hartsbegeerte. Dalk is daar weer ‘n Andre op ‘n HK iewers wat sin praat.

  5. En tog verstaan ek iets van die agteruitgang. Ek het die laaste tyd opnuut besef dat baie nuweling uit omgewings kom waar hul verwag om minderwaardig te voel, blindelings met hiërargie omgaan en selfs ‘n koning wil hê! Die oplossing hiervoor lê ongelukkig reeds tuis. Miskien neem dit ‘n hele generasie. Ten spyte van goeie vordering, bly dit steeds ‘n lang proses.

  6. Dit is wyer as net die koshuise. Die eerstejaars kom van hoërskole waar dieselfde mentaliteit in leerlingrade heers. Ek was in Stellenbosch op skool, en het selfs ‘n tipe dooptradisie as staderd 5 (graad sewe) moes meemaak.

    Ten spyte daarvan draai die meeste ouens okay uit. Ek wonder of daar ‘n merkbare verskil is tussen die mense wat uit deur ‘n dooptradisie is en die wat daarsonder gaan. Albei bevat suksesverhale en treurige verhale. Dis net soos die spreekwoordelike Shofar kerk wat (myns insiens) as “meme” totaal onsin bedryf, maar ten spyte daarvan vol sit met oulike individue. Sou die individue meer of minder oulik gewees het sonder die onsin wat deur die karakter voor op die verhoog elke week uitbasuin word? Miskien minder betrokke en oulik as daar nie ‘n instansie was wat hulle saamgebind het nie. Dis soms beter om saam iets sinloos te doen as om niks saam iets te doen nie.

    Maar hoor hoor! KONstruktiewe geesbou is myle en strate beter as nonsens pseudo-militere gedril. Ons veg nie meer teen die rooi gevaar nie – grow up. Die trick is seker om die regte plaasvervangers te kry. Die gees sonder die koevoet.

  7. Hmmm… ek wonder. Met gelowe kry mense die implementering van kontinuïteit baie goed reg. Groot gelowe bestaan immers al vir mellenia. Ek vermoed dus, dat as ons saamstem dat een metode beter as ‘n ander een is, dan kort ‘n mens dalk net ‘n konstante herinnering aan hoekom ons in die eerste plek so besluit het. Uit ‘n baie simplistiese perspektief, is dit omtrent soos wat die predikant elke week die mense herinner dat hulle hel to gaan as hulle sondig, sodat hulle die volgende week terugkom kerk toe om te hoor hoe hul sondes vergewe kan word.

    @FrancoisM: daar is waarheid in wat jy sê oor hoe mense die dooptradisies soms al op skool aanleer (maar ek dink dit hang ook baie van persoonlikhede af). Dit was vir my nogal uiters vreemd om in matriek te sien hoe my mede “senior” CSV kringleiers (van alle mense) skielik die nuwe kringleiers begin “doop”, met eiers en meel ens. Daardie dopers was nie die vorige jaar aan sulke praktyke onderwerp nie, en was maar skaars ‘n jaar ouer as die nuwelinge. Maar, ‘n groot groep van hulle het sopas ‘n leerlingraad-dopery beleef. Hulle was uit daarop om seker te maak dat iemand anders ook verneder word soos hulle was (al was dit onder die voorwendsel van “pret”). Ek is nou spyt dat ek nie harder daarteen geskop het nie, maar in daardie stadium was ek maar nog ‘n kind en het nie van veel beter geweet nie. Op die ou einde het ek maar toegekyk na watse nonsens hulle aanvang.

    Soos jy ook sê, is daar goeie en slegte gevolge van beide benaderings. Aan die eenkant, sal nuwelinge met “kersgat” houdings jou goedgierigheid dalk misbruik en alles ignoreer wat jy sê. Aan die anderkant kan mense maklik bedreig voel as hulle onregverdiglik beskuldig word van iets wat hulle doen wat nie noodwendig eens verkeerd is nie.

    Ek vermoed wel, dat dit makliker en meer menslik is om deur sosiale druk van ander nuwelinge, diegene met “kersgat” houdings vas te vat en reg te ruk, as wat dit is om ‘n beskadigde psige te herstel.

  8. @FrancoisC jy praat baie beredeneerd en gebalanseerd oor die situasie, en ek stem eintlik met jou saam. Ter wille van “devil’s advocate” speel wonder ek net hoeveel mense regtig ‘n “beskadigde psige” opdoen in die tipe oriëntering waarvan jy en MnrMuller hierbo praat. Ek dink by verre die meeste (>99%) eerstejaars is ervare en volwasse genoeg om te weet dat die hele affêre ‘n tradisie is, en sien dat die mense rondom hulle ook so behandel word, en dat dit dus nie persoonlik is nie.

    Die konsep van hierargië sit ook so deeglik in alles vas – in universiteite, in besighede, in families, ens. dat dit nie vreemd is dat dit ook in koshuise opduik nie. Die hele militêre tipe kultuur pas net nie lekker in ons samelewing in nie. Daar is sagter, vriendeliker, vrywillige maniere wat mense mekaar kan respekteer.

    Maar, om weer te beaam wat julle ook sê: dit beteken nie dat so ‘n tradisie enigsins goed of positief is nie. En selfs al is dit nie skadelik nie kan ‘n mens argumenteer dat die “geleentheidskoste” (oppotunity cost) te hoog is – ‘n mens kan baie beter dinge met daai tyd doen as om vir ‘n week lank op mense te skree. Daar is tog ander maniere om vriendskappe te maak as by ‘n “kamp staaldraad”?

    En so oor militarisme gepraat – ek was baie teleurgesteld en skaam toe ek my (Nederlandse) meisie in September vinnig deur Eendrag laat loop om vir haar te wys waar ek vir 4 jaar lank gewoon het, en in Swingel Singel te sien dat hulle die Nazi SS simbool op hul deure geplak het. Ja SwingelSingel het twee S’e, en Eendrag se embleem is ‘n arend, maar so ‘n keuse is in swak styl en ‘n public relations ramp – al is dit ‘n grappie! Sekerlik het die betrokke HK lid daarvan geweet? Waar is die karakter, styl en trots waaroor die HK so graag blêr?

    • Kyk, deur al my verskillende inlywings en afkykery, kan ek ook tereg sê ek het dit oorleef én ten tye nogals baie geniet.

      Sit ‘n klomp jongmense bymekaar en jy sal waarskynlik vriendskappe en respek kweek TEN SPYTE VAN die program wat jy aanbied. Te dikwels aanvaar ons dit gebeur AS GEVOLG VAN dít wat aangebied was.

      Ek dink nie studenteleiers besef regtig die taak wat hulle op hande het nie: hulle dink hulle is veronderstel om respek te kweek deur ‘n hiërargie te vestig, terwyl hulle eintlik moet aanvaar dat ‘n agtienjarige volwasse is en nie MEER of MINDER respek gaan hê ná ‘n week se breinspoel nie.

      (Trouens, ons kry al hoe ouer studente ook – en dít toon telkens die absurditeit van ‘n verwelkomingsprogram waar daar geskree/berispe word: waar 21-jariges vir 24-jariges probeer touwys maak hoe om “seniors” te respekteer…)

      Waarmee huiskomitees eintlik besig moet wees, is om studente te akklimatiseer tot universiteitslewe en die sosiale, akademiese, kulturele, finansiële en ander aanpassings wat dit vereis.

      Maar HK’s fokus só hard op JOOL dat hulle kwalik vir iets anders kans kry.

  9. @JohanSwarts: Niks fout (i.t.v. hierdie gesprek) met ‘n militêre akademie nie, maar dit beteken nie die hele kampus moet militêr wees nie. Ek wil ook ‘n kunsakademie hê sonder om geforseerd te gaan skilder.

  10. Dis nog ‘n somersaand–rustig soos net somersaande op Stellenbosch kan wees, met die briesie wat blaaivleis en varsgesnyde gras warrel. Om’t waarheid herinner dit nogals aan ‘n universiteitskampus. Ons tuur uit oor die pienk-en-blou laataand-wolkelandskap, maar dis dan wanneer die bruin kewertjie—kerplaks—in my gesig vasvlieg en ‘n wilde geswaai van arms en ‘n vingerklappery ontketen. Uiteindelik, met die vyand afgeweer en die kus skoon, soek en vind ek dit. Die kewertjie is maar klein, met beentjies en vlerkies wat senuweeagtig fladder; ek’s seker hy wonder ook waarheen hy dan vanaand verdwaal het.

    Nou toe, grootmanne van die HK, wat is julle so verskrik vir die kewertjies? Hulle gaan julle tog niks maak nie.

  11. @Francois M – Ek verskil nie van jou nie, maar let op: as daar niks fout is met ‘n militêre akademie nie, is daar ook niks inherent fout met militarisme nie. As daar niks inherent fout is met militarisme nie, maar daar skort volgens party iets met die militaristiese ondertoon van baie HK’s, dan is dit iets anders as bloot die militaristiese toon wat skort.

    Soos.

    Die eerstejaars weet nie dis alles mimese nie.

    Die eerstejaars weet nie dis net ‘n show nie, gerun deur kiddies wat eintlik maar dieselfde breinkapasiteit as hulle het nie.

    Die eerstejaars kry dit nie reg om deur die suspension of disbelief te breek nie.

    Niks hiermee het enigiets met militarisme te doen nie, en baie met hoe mense die wêreld om hulle interpreteer op grond van die aannames wat hulle oor daardie wêreld gemaak het.

    Dit spreek natuurlik nie die klipkoppe vry wat bloot militaristies is omdat almal voor hulle sodanig was nie. Inteendeel. Die soort optrede wat mnrmuller hierbo beskryf, is duidelik een waar die HK self nie besef dis veronderstel om ‘n show te wees nie. Waar ‘n HK dit egter kan regkry – daar gebeur iets spesiaal.

    Ironies genoeg weet ek genoeg van Helshoogte af om te besef dat laasgenoemde juis die geval was.

    Dis vir my jammer dat party, soos benullose eerstejaartjies, ook nie die vertoning kan sien vir wat dit is nie.

    • Yip, ek dink die truuk lê daarin vir die eerstejaar om te besef dat hierdie HK ook uit mense soos jy bestaan, en dan net saam inval met die “vertoning” soos Johan tereg daarna verwys… en bygesê, ek dink dit is die ander eerstejaars se werk om dit aan die mede-eerstejaars uit te wys wat dit nie so beleef nie.
      Dit is hartseer as daar soms oorboord gegaan word, en dit gebeur ja, maar as ek reg onthou uit my studentedae is dit die uitsondering op die reël. Die meeste van die tyd gaan dit oor die teer op die vrees vir die onbekende wat die eerstejaar beleef.

      • Dis juis die ding: Ek glo nie dit moet noodwendig daar wees nie, maar soos tradisie oorgedra word gaan dit baie lank neem om uit te sterf, so for the time being – Vat dit vir wat dit is.

    • @JohanSwarts ek’s nie met jou nie. ‘n Moderne weermag het ‘n plek in ‘n moderne republiek, soos Suid Afrika. En dis goed dat ons ‘n beroepsweermag het – nie een met diensplig nie. En dis goed dat die mense wat hoë posisies in die weermag beklee ook ‘n opleiding in militêre teorie kry. Soos ek verstaan is dit waarvoor die militêre akademie is.
      Daar is geen spill-over effek dat “as X goed is dan is Y ook goed” nie. Ek kan glad nie sien hoekom ek okay met algemene militarisme moet wees as ek sê dat daar ‘n plek vir ‘n militêre akademie is wat beroepsoffisiers oplei nie. Ek is ook ten gunste van ‘n polisie-akademie, maar heeltemaal teen ‘n “police state”.
      Ek verstaan ook nie jou kommentaar oor Helshoogte nie. Dat jy ‘n goeie tyd daar gehad het? Dat die dooppraktyke daar opbouend of pret was?

      • Dat dit goed bestuur word en uiters opbouend is.

        Jy’s natuurlik welkom om my nie te glo nie en eerder na ‘n monitor, wat ‘n fraksie van die hele proses waargeneem het, te luister.

        Ek kan glad nie sien hoekom ek okay met algemene militarisme moet wees as ek sê dat daar ‘n plek vir ‘n militêre akademie is wat beroepsoffisiers oplei nie. Ek is ook ten gunste van ‘n polisie-akademie, maar heeltemaal teen ‘n “police state”.

        Jy moet nie okay wees met algemene militarisme nie. Jy moet egter die vermoë hê om te onderskei tussen werklike militarisme en toneelspel.

      • @JohanSwarts miskien wissel dit van jaar tot jaar, maar ek onthou ‘n vy-en-kouelym-in-anus insident by Helshoogte – nie so heel lang gelede nie. En die strooi van glasskerwe op ander koshuise se grasperke. Dis nie gesonde koshuiskultuur nie. Dit was dalk geïsoleerde insidente, en dalk het jy ‘n goeie HK gehad wat dinge goed bestuur het. Maar dis die punt – Eendrag het ook, in André se tyd. En dis nou weer minder opbouend as toe. Ek sal bly wees as ons die slegte doopjare kan vermy. Hoe gaan ons dit probeer regkry? Deur te sê “c’est la vie” of deur sterker koshuis-grondwette op te stel? Of meer inmenging deur die universiteitsbestuur? Ek hoop nie laasgenoemde nie.

      • Wat jy moet besef van Helshoogte is dat elke vloer sy eie kulture en gebruike het (soos ek seker is elke seksie in Eendrag hulle s’n het). ‘n Vy en kouelym in die anus is nie ‘n amptelike dooppraktyk nie – as so iets gebeur het, sou dit geisoleerd wees tot ‘n betrokke vloer. (Selfs dan klink dit vir my in elk geval meer na ‘n HK-polish as ‘n eerstejaar doop.) Trust me: we don’t shove random shit into our first year’s asses. Its just not on.

        Frankly, though – indien daar wel vye in anusse opgeforseer word of bottels op grasperke gebreek word, is dit die toedoen van ‘n klein groepie idiote, dikwels sterk onder die invloed van alkohol. Om dit aan te haal as ‘n voorbeeld oor Helshoogte self, is ‘n power argument. Studente is dikwels idiote, al woon hulle waar. Ek kan jou net soveel afgryslike stories oor swetsende Eendragters, drunk out of their minds, en al die gemors wat hulle aanvang, vertel.

        Ek dink jy sal met my saamstem dat dit nie skielik beteken Eendrag is ‘n klomp barbare wat menseregte skend nie.

      • Die kwessie is nie soseer of dit “goed bestuur word en uiters opbouend is” nie. Sure, ‘n hele klomp van ons het hoofsaaklik ongeskond deur die doop gegaan, dele daarvan geniet en selfs heelwat nuut geleer. Die vraag is eerder of ‘n mens daardie positiewe aspekte kan behou sonder om eerstejaars deur ‘n mislike proses te stuur.

      • Gestel jou Zen-leermeester gee jou die opdrag om ‘n spyker deur jou voet te slaan (onder streng mediese toesig, natuurlik). Dit leer jou om jou vrees te oorkom, waar jou pyndrempel lê, en hoe om jouself toe te spits op ‘n minder aangename taak. ‘n Maand later is dit verby, en jy voel vreeslik bly dat jy soveel uit hierdie les geleer het.

        Doop is nie veel anders nie.

        Steeds het ‘n spyker deur die voet die geneigdheid om ‘n mens mislik te maak (ten minste so lank as wat die pyn duur).

      • @Stefan – is dit nie min of meer ook maar wat al daai lesings en eksamens vir die meeste studente inhou nie? Maar ek is seker jý kan nou jou strewe na ononderbroke hedonisme nastreef, noudat jy die lig gesien het.😉

      • @Francois Dis goed jy noem dit; klasgee/loop is baie soos doop! Ook in die leeromgewing is daar egter ‘n groeiend bewussyn dat spykers in voete nie optimaal is nie. Baie van die vrae wat rondom leerpraktyke gevra word is nét so toepaslik op doop. Dit is noodwendig effens pynvol om iets nuuts te leer, nes dit ‘n pyn is om aan te pas in ‘n nuwe plek, maar juis daarom moet ons verligting verskaf, eerder as om die situasie te vererger.

      • @JohanSwarts Soms gedra sommige mense in Eendrag hulself soos barbare en skend hulle menseregte. Soms doen mense in Helshoogte dit. Dit óók, is menslik, en ons gaan nie menslike natuur verander nie. Maar by sommige universiteite gebeur slegte dinge meer as by ander. Wat is die verskil? Die verskil lê in die riglyne en leierskap wat gegee word, en die (moontlike) strawwe en belonings wat uitgedeel word as reaksie op daardie soort gedrag.

        Ek is nie teen alle tradisies nie, maar dit pla my (net soos Mnr Müller) wanneer die leiers dink dis aanvaarbaar om mense te mishandel. Ek, persoonlik, sou bv. nie dink dat dit mishandeling is om eerstejaars te verbied om deur die quad te loop nie. Maar dit is so bietjie simpel en bereik bittermin, en belemmer dalk dat hulle vriende maar met die seniors op ‘n normale manier. Ek voel egter wel dat dit mishandeling is om mense te forseer om ure lank in die son te laat staan in te warm klere. Of om individue herhaaldelik te beledig en te verneder. My eie ervaring was meer eersgenoemde, maar ook bietjie laasgenoemde.

        Die afskaf van alle tradisies is ook sleg. Spanbou en gesamentlike projekte is belangrik daarvoor dat mense mekaar ontmoet en vriende maak. Maar die houding dat dit “okay” is om mense rond te skreeu is meer sleg as goed. Ek steun Mnr Müller se standpunt ten volle.

    • “Dis vir my jammer dat party, soos benullose eerstejaartjies, ook nie die vertoning kan sien vir wat dit is nie.”

      Glad nie verbasend nie, gegewe dat die “seniors” alles in hulle mag doen om dit so realisties as moontlik te laat voorkom.

  12. Uitstekend. Ek het hierdie gesprek baie geniet en die kommentaar is enlightening, dit gee breër perspektief.

    “Die eerstejaars weet nie dis net ‘n show nie, gerun deur kiddies wat eintlik maar dieselfde breinkapasiteit as hulle het nie.” -dit gebeur baie gereeld. In my eerstejaar was ek verbaas hoe hard van my mede-jarre probeer het om die HK te impress. Dit was so fake en ek het nie van die “show” gehou nie.

    Ek het te verstane toe eerder met die seniors gaan vriende maak.

  13. Pingback: Ope brief aan die primarius van my oud-James Bond koshuis « mnr.muller

  14. Ek sou graag wou sien dat ons fokus op ‘n sisteem waar “hoekom” belangriker is as geskiedenis. Waar ‘n monitor geglo kan word. Klink vir my helemal te veel asof net mooi niemand /rerig/ kan verstaan wat gebeur nie, en almal teen tradisie is. Sug.

    Ek’s bly ek was in Eendrag. As iemand my vra wat ek dink van Meta sing ek lieflik hul kreet saam. Dit is die toekoms, nie bebaarde wit generale nie. Of dit nou langs die sirkel gebeur of al die pad tot in Helderberg.

  15. Pingback: So, jy is klaar met skool en op pad universiteit toe – wat om te verwag « mnr.muller

  16. Pingback: Jou eerste dag op universiteit, en wat om te verwag « mnr.muller

  17. Mof Muller, wat ‘n piskriek is jy nie. Ekt nog nooit iemand so hoor moan oor sy koshuis, terwyl hy boonop ;n HK lid was nie. Wadde F#k het jy dan in ;n koshuis gaan bly voor? Om maaitjies te maak en al singend hand aan hand met hulle deur die wynlandgoed te hop, skip en jump? Miskien moes jy liewer net die drakensbergse seunskoor gejoin het want smaak my jou eiers het nog nie geval nie. Jyt ‘n tipiese dagstudent mentaliteit, maw, jou wereldjie is klein en om jouself gesentreerd. Point & fact, dis hoekom jy ‘n website het. Wat ‘n loser. Maar ek sien jys nie alleen in jou treurmaer nie. Nog ‘n paar damduikers sing saam aan jou hartseer saga. Boys, koshuis is nie vir pissies nie. julle pa’s moes julle dit voor die tyd gese het. Miskien het hulle gehoop julle sou ballas daar kry maar obviously, het net die teenoorgestelde gebeur. Koshuis tradisies is ouer as wat julle is en as dit goed genoeg vir 30 jaar terug se plaas seuns was, is dit goed genoeg vir vandag se blikore ook. FIFO, is waaroor dit gaan, numbnuts. Of jy man up, val in die pikorde in of pak jou goedjies en trek, Ferreira.

    • @KoshuisKoos: Ek dink ons moet ‘n meer genuanseerde idee begin ontwikkel van wat die doel/uitkomste behoort te wees van koshuisverblyf op universiteitskampusse.

      Dit is nie sonder meer aanvaarbaar om staatsgelde aan te wend om magshiërargieë in stand te hou nie; inteendeel, ons wil juis studente toerus om binne ‘n demokratiese bestel as verantwoordelike burgers die werksplek toe te tree. Dit sluit in om sinvolle gesprekke te kan voer in oop ruimtes soos dié, sonder om van ad hominem beledigings of homofobiese haatspraak gebruik te maak. Dit sluit ook in om konstruktiewe kritiek te kan lewer op die omgewing(s) waarvandaan jy kom – en te besef dat dit nie verraad is nie.

      Sekerlik het die wêreld drasties verander sedert 30 jaar terug se plaasseuns kampus toe gekom het? Sekerlik wil ons ook die plaasdogter en die stadseun verwelkom by ons koshuise?

      Ek dink dít is juis hoe jy jou lewe verruim, deur jou te omring met anderste denke en oop te wees vir gesprek. Tradisies bly hoeka net lewendig en relevant as jy krities daarmee omgaan en nie bang is om te vernuwe nie.

    • KoshuisKoos – you’re for real? Of is jy net ‘n karikatuur wat MnrMuller uitgedink het om die idee van die wil-nie-volwasse-wees-nie Boerseun uit te beeld? Dit sou nogal treurig wees as jy ‘n regte persoon is wat regtig dink wat jy skryf. Maar indien wel, what’s up met die pseudoniem? Is jy nie man genoeg om agter jou eie uitsprake te staan nie?

      • @François: Die kommentaar is eg; verrassend twee jaar ná die inskrywing, maar nietemin. Party mense lewe nog verder in die verlede as dít.

      • Ek kan maar net hoop dat KoshuisKoos nooit ‘n graad by Stellenbosch Universiteit bekom het nie, want dit sou my bitterlik skaam maak as dit wel die geval was; die universiteitsbelewenis is uiteraard daar om ons uitsig te verbreed, en nie hierargie-gedrewe ideologië soos dié aan te vuur nie.

      • Ek het ook nog nooit gehoor dat die universiteits- en gepaardgaande koshuisbelewenis bestaan om jou manlikheid te bekom, soos KoshuisKoos probeer voorgee, nie. Sy opmerkings laat hom klink soos ‘n anakronisme. Ek wonder nogal of hy dink dat die dames ook koshuis toe gaan om “ballas” te kry, of verkies hy nog om hulle oor die kop te slaan en na sy grot toe te sleep?

        Dis nogal ironies hoe iemand wat ‘n persoon beskuldig van selfgesentreerdheid dan soveel moeite doen om ‘n hele opstel vol kinderagtige beledigings van meer as 200 woorde te gebruik om vir daardie vreemdeling te probeer bewys dat hy ‘n meerderwaardige persoon is, bloot omdat hy sogenaamde “ballas” het. Ek kan goed glo dat hy “ballas” het, want dis omtrent *al* wat iemand met net twee breinselle het. Alhoewel, soos Francois M uitwys, het KoshuisKoos duidelik nie genoeg “ballas” nie. Hy sal seker ook nooit kan verstaan hoe sy opmerkings sy eie selfgesendreerdheid so duidelik opvallend maak nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s